Waarom die NUWE OPENBARING?

Waarom die NUWE OPENBARING?

Deur Albert Hoffmann

Om die Nuwe Openbaring in perspektief te plaas, wil ek net dit sê dat sedert die vroegste tye van die bestaan van die mensdom, was dit nog altyd so dat wanneer die Vader vir die mensdom ‘n nuwe boodskap laat toekom het, dat dit oor die algemeen verwerp was. Al die profete, tot op Johannes die doper getuig daarvan. Baie van die profete is selfs deur die amptelike geloofsinstansies vervolg en vermoor, terwyl daar altyd net ‘n klein minderheid was, was die nuwe boodskap aanvaar het. Maar daar was ook ‘n wesenlike deel van die bevolking wat by hulleself gesê het: "Ek weet nie of die man die waarheid praat of nie, ek bly liewers by my ou geloof, dan kan ek nie ‘n fout begaan nie." Dit is die draadsitters wat in werklikheid nie omgee wat geestelik met hulle gebeur nie, solank hulle net hulle aardse lewe op die mees gemaklike wyse moontlik kan voortsit. Die trant het tot vandag toe nog nie verander nie.

Die vraag wat hier onstaan is, waarom is dit nodig dat die Vader van tyd tot tyd vir die mensdom ‘n nuwe boodskap laat toekom? Wat is fout met die ou Testament en die wette van Moses, was dit regtig vir Jesus nodig om vir ons die nuwe Testament te bring? Vandag sal almal sê, natuurlik ja, maar dit was nie die gesindheid 2000 jaar gelede nie. In wese is daar niks verkeerd met die ou Testament nie en baie miljoene Israeliete het volgens die ou Testament ‘n salige ewige lewe behaal. Die probleem wat onstaan het was dat die inhoud van die ou Testament al hoe meer letterlik opgeneem is en die gees daarin verlore gegaan het, wat veroorsaak het dat die ou Testament deur die amptelike priesterskap gebruik was vir selfverryking en om die volk uit te buit en op die ou end niemand meer aan enige God geglo het nie. Wat het hier in werklikheid plaasgevind? Dit is die vermaterialisering van die woord van God en derhalwe was dit hoog tyd dat God Self kom ingryp het om dinge weer reg te stel, maar nie net vir die Israeliete nie maar vir die hele wêreld.

Dieselfde vraag vra ons vandag, hoekom ‘n nuwe openbaring? Omdat vandag presies dieselfde gebeur as 2000 jaar terug tot by die sondvloed. Die woord van God, die Bybel, het weereens oor die afgelope 2000 jaar vermaterialiseer geraak. Moet ek vir jou bewyse daarvoor aanhaal? Hier net ‘n paar: Die grootste geloofsgroep in die wêreld is die Katolieke. Die katolieke kerk is die rykste organisasie op aarde en duisende van sy aanhangers lewe onder die broodlyn. Kyk net na die vermaterialseerde seremoniële vorm van godsdiens beoefening. Kyk net na die mees krasse teenoorgestelde gesindheid binne dieselfde kerk wanneer dit kom by ‘n mens soos Moeder Teresa. Sy het niks besit nie en tog het sy miljoene mense gehelp, maar sy was ‘n streng katoliek. Dit is hoekom daar in openbaring na die groot hoer verwys word, ‘n gesaghebbende kerk wat die geestelike gawes met die materie vermeng - inderdaad ‘n hoer. Kyk vandag na die moderne Amerikaanse predikers wat die woord van God verkoop en self skat, skat ryk word. Dit wat hulle sê is nie noodwendig verkeerd nie, maar om die woord van God vir geld te verkoop is beslis nie in lyn met wat Jesus vir Sy dissipels gesê het, toe hy vir hulle verbied het om ‘n stok en sakke in hul klere te dra. Kyk dan verder hoe ekonomiese welstand wêreldwydd die enigste maatstaf van sukses geword het. Onsself maak ons kinders groot met die klem op skool- en sportprestasie, verkieslik ‘n goeie universiteitsopleiding om dan ‘n versekerde welgestelde lewe te kan voer. En godsdiens word in hierdie opset meestal net bygebring om die materiële doelwitte te bevorder. Genoeg daarvan, jy verstaan wat ek bedoel. Nou, dink jy nie dat dit tyd geword dat die Vader die mensdom weer vir ‘n slag in die bek moet ruk nie, om vir almal te laat verstaan wat ons werklike doel hier op aarde is? Watter geloofsorganisasie se doktrines/geskrifte ter wêreld het dit vir jou beter uitgespel as die Nuwe Openbaring? Natuurlik staan dit ook in die Bybel as jy verstaan om die Bybel geestelik te lees. Die inhoud van die Bybel is al hoe meer letterlik opgeneem en vermaterialiseer sodat niemand meer die geestelik betekenis daarvan verstaan nie. Dit geld ongelukkig ook vir jou Adriaan, want as jy sê dit staan geskrewe dat die wynwonder die eerste wonderwerk is, maar in die Nuwe Openbaring staan dat JaHshua vantevore nog ander wonderwerke gedurende sy jeug uitgevoer het, dan het jy die pad totaal byster geraak. Wat jy daar doen is letter ryery en ek neem aan dat jy weet dat dit geskrewe staan dat die letter dood maak.

As ons nou uit bogenoemde redenasie eensgesindheid bereik het, naamlik dat dit beslis nodig geword het vir ons hemelse Vader om weer Self in te gryp om dinge reg te stel, dan vra ek vir jou watter geskrifte of dan prediker op die hele aardbol gee vir jou/ons ‘n meer omvattende, duidelike uiteensetting van wat verkeerd geloop het met die mensdom oor die afgelope 2000 jaar en hoe dit weer reggestel kan word, as die Nuwe Openbaring!? Al die geloofsorganisasies op aarde, hetsy katoliek, protestant, moslem, hindu, ens., het daarin slaag of kan daarin slaag om die mensdom van sy materialistiese lewensuitkyk af te wend en op ‘n suiwer geestelike lewenspad te plaas? Want hierdie materialistiese lewensuitkyk van die grootste deel van die mensdom is die eintlike Antichris waarvan daar gepraat word en vir wie daar wêreldwyd met soveel offers en oorgawe gehuldig word. Dit is van hierdie Antichris waarvan die Vader die mensdom wil verlos. Maar nee, ons sien die woud van al die bome nie raak nie, ons wil ‘n Antichris in die een of ander bonatuurlike versinsel uitkrap, net sodat ons die Antichris nie by onsself moet gaan soek nie. Elke individu moet net die Antichris met die hulp van die Vader uit homself verwyder, dan sal die Antichris uit die wêreld verdwyn. En waar God met die mensdom besig is om dit reg te kry, haal jy ‘n artikel aan wat sy gelyke in strokiesprente soek? Nee Adriaan, daarvoor is jy ‘n veels te intelligente mens. Dat die’ Antichris of dan selfsugtigheid in die mens nie gaan stilsit nie as hy aangeval word nie, bewys al die negatiewe beriggewing oor die Nuwe Openbaring waarvan jy op die internet lees. Dat daar mense is wat besig is om die Nuwe Openbaring in ‘n nuwe kerk te omskep, of daarna verwys as New Age, of dit assosieer met allerhande uitskot wat op hierdie aarde voorkom, doen geen afbreuk aan die goddelik ware inhoud daarvan nie. Dit is die vrye wil van die mens wat toegelaat word om te doen wat hy wil met hetsy die goeie of die slegte. Dit is ook die vrye wil van die mens wat toevoegings en weglatings in die Bybel teweeg gebring het, en wat selfs God nie kan keer nie, omdat die vrye wil van die mens selfs vir God onaantasbaar heilig is. Maar al is daar hoe gepeuter met die uiterlike letter van die Bybel, kon die gees in Bybel nie ontheilig word nie. En daarom is dit so belangrik om die gees in die Bybel te soek.