29 MEI 2010 - Woord aan Nalize – Mei 2010 – 3

Woord aan Nalize – 20/5/2010

Jahshua spreek met dié wat van Goeie Wil is: Lewe in die orde waarin Ek julle verwelkom. Dit is verhewe bo die orde waarin Ek julle geskape het, maar volledig te vinde in die orde van My kruisiging en opstanding en julle sal die Hemelse Vreugde van diensbaarheid smaak. Hou nie vir jouself terug nie, staan terug dat Ek deur jou kan leef! Wees bereid om jou laaste goed af te lê en Goed op te neem, want Goed is heilig in My. Amein.

Wanneer jy jou naaste se swakheid beleef, staan terug uit die situasie en sien jou buite die verwantskap waarin jy jou bevind, sodat jy die Lig deur jou kan laat vloei. Só word jy ‘n werktuig van bo, nie ‘n mens nie, maar Mens, na My Beeld. Die Gees waarvan jy uitgegaan het leef dan in jou as die Krag in die situasie om Goed op te tree. Weerhou jou van impulsiewe reaksies en onthou om die kanaal te wees, nie die verdediger nie. Situasies ontvou as lering in die Leerskool waarin jy geplaas is, maar jy hoef nie op jou emosies staat te maak, soos die ander party, om iets te leer nie. Jy kan bloot op die krag let wat met Wysheid deur jou werk en leer. Maak die Wysheid dan jou eie en eer My daarin. Só hanteer jy jou naaste soos wat Ek sou – oorhandig die situasie oombliklik aan My en jou gewete en vind rus buite die orde waarin jy staan. Ek sal jou en die betrokke partye dan met Vrede en vordering kan seën. Amein.

Liefde is die offer van die eie ek aan die Maker wat in Liefde alles in stand hou. Amein.

Woord aan Nalize – 22/5/2010

Weereens kyk dié wat daaruit gekom het, op na Bo en die andere wat niks anders as hier as herkoms het nie, begryp nie die toewyding nie. Dit is reg, My Lieflinge, Een in My, Ek is julle hulp en wil ook die Hulp wees van die armsaliges, soos met My vorige aardse koms, maar helaas is daar min wat die deur van hulle harte open vir die Een wat aanhou klop. Die tyd daarvoor raak min en Ek sal dan weer voor begin met ander, ver oor julle seë. Amein.

Wees gereed om Liefde te ontvang wat uit jou binneste sal oopvou. Tyd gaan van kleed verwissel, ook voor My en Ek vra maar net bereidheid van elkeen op die Rots om dan die nuwe kleed met verwagting aan te neem. Ligglans sal dan jou kleed omring in My. Amein.

Offer op, word beGeesterd en verblyd, Jubel in My! Ek, jou Liefling, staan nou aan jou sy. Die asem van die skepping pols en bruis in My – voel jy dit, My Beminde?

Nee, jy staan nie voorbarig langs My of aangematig of uit verdere hoogmoedsredes nie. Jy staan langs My, omdat Ek jou genooi het, soos ‘n wurmpie uit die stof, om jou geestelike skoonheid te laat ontvou langs My. As ‘n Vriend sal Ek jou ondersteun en opbeur, as ‘n Maker sal Ek jou behoed, as ‘n tere Liefling sal EK jou bemin en as ‘n Koning oor jou lot besin. Wat vra Ek in ruil daarvoor? Dat jy jou begeerte na jou vlees en alles wat jou daarbuite omring, verloor. Sien jy kans om ook jouself te gee, dan beloon Ek jou met selfs skeppings meer. Amein.

Liefde is die Eenheid met die Wil en Orde van die Maker van Bestaan. Amein.

Woord aan Nalize – 27/5/2010

Jahshua spreek met die van Goeie Wil – julle oë is oop in die ruimte van geestelike oorlogvoering, julle hande is gereed vir raakvat-oorwinnings. Julle harte is bestand teen die verleiding wat om julle maal, maar julle voete is onseker oor die pad wat julle moet neem. Kyk om jou heen, volkie, geroepenes en Bruid, kyk of daar uitkoms is buite My. Kyk dan op en sien dat Ek, die Koning, die weg deur hierdie bloedsee sal baan. Hou vas in gebed en geloof, want dit is om te waak as wagter op die heil’ge mure. Waak, selfs terwyl die vyand slaap. Waak teen vermurwing, waak teen aggressie, waak teen wanhoop en oorgawe aan die noodlot. Hierdie stryd is nie net om vlees en bloed nie, maar om die harte van My heiliges. As die hart oorwin word, sterf My stem ‘n stille dood en sterf My Krag in die mens. Dit is die Krag wat tot Lewe roep en ‘n nageslag in die lewe roep. Ek bemin en verorden – Kyk op en aanskou die Lig waaruit Ek spreek. Lig bring oneindigheid naby en só bevind jy jou IN die skepping, nie daarbuite nie. Amein.

Weer spreek Ek oor Orde en Erns. Wetende sal dronkaards My Woord vertrap en dit lustig vir die varke voer, want enkeles het die Ligglans aangeneem. Wetende sal die eiesinniges die Krag misken, want dis ontasbaar en leweloos vir die vlees. Geestelike Waarheid is ewig, buite die erkenning van gebrekkige materialiste, maar onbetwisbaar gefundeerd op die innerlike.Waarom twyfel of jy dit ook deelagtig kan word en wees? Waarom opkyk na ander wat daaruit deel?

Week is weldade weg van Wys. Amein.

Woeste weë lê voor, ja. Wegskram is nie ‘n uitweg nie. Weer is die smeltkroes die taak van tyd. Tyd is ‘n wese, hoewel leweloos, want alles draai om tyd in ‘n geestesfeer, hoewel verwyderd van Gees. Hoekig, krom, rond of sferies is tyd daar. Lig, duister of Hemels is tyd onsigbaar. Waarheid word getoets aan tyd, tog het dit niks daarmee te doen nie. Is tyd geskape deur My? Ja. Is tyd mag gegee deur My? Nee. Slegs die Wil het mag bo tyd. Neem jy die boodskap aan? Neem jy die Wil aan om jou bo tyd te verhef IN My? Slegs die Skepper se wil is verhewe bo tyd – daarin lê ook Krag gesetel. As jy dan verenig met die bo-aardse Wil en jy neem tyd aan as ‘n wese om oor te heers soos enige ander heerskappy omsluit, kan jy dán die Waarheid van My Woord aanneem?

Ek, Jahshua, wil blindheid uitdoof en Lewe verwek vir die nageslag. Daarom vra Ek van elkeen wat die pad met My wil stap, word kundig ook in die terreine waarin Ek julle wil inlei. Fokus op My, stel die vrae in jou hart aan My en konsentreer op My Liefde om die antwoord te verneem. Amein.

Weeklaag en ween, geroeste verstotenes. Julle vermoëns het verstok en julle het nie omgegee tot nou nie. As julle geween deur murg en bloed deurgedring het, mag Ek dalk weer julle harte aanneem, maar haas, want die tyd is min. Amein.

Ag jouself by dié waar jou ywer lê en bid vir dié wie se ywer tekort skiet. Amein.

Woord aan Nalize – 28/5/2010

Luister, Dogter van Sion, hoor My stem. Bewe voor die aangesig van Jahweh Elohim. Keer julle rug op baälprofete en verdoemende ydelheid. Kom buig voor jul Maker en dank Hom vir genadetyd. Die uurglas is leeg, die sand het geval, maar Sy spoor loop deur die heelal. Amein.

Waarheen jaag jy? Waarheen vlug jy? Waarheen mik jy, hart vol angstigheid? Kén jou Skepper, kén Sy plan – wat jou lot ookal is, is bepaal deur jou ywer vir Sy Raadsplan. Die deure swaai op hulle skarniere en elk het ‘n les vir jou, maar slegs jou wil sal jou op die regte Weg hou. Amein.

Dogter van Sion, volk van die Suide, julle Geloftes is reukwerk voor My Aangesig en Ek sal gehoor gee en Verlossing bewerk. Waar sal die vyand soek vir die Oorwinnaar? Die Oorwinnaar sal buite hulle sig bly, want vir Goddelikheid, en dit by vele name, het hulle nie tyd. Julle wat My Naam ken sal aan My die eer gee en verward wonder waarom ander in hulle onkunde dieselfde lot beërf. Ek spreek – Ek ken die harte en net dié wat van Bo gebore is, sal ag slaan op My Naam. Ander sal wel groei in die Liefde en daarom die lot verkry, want Ek beloon regverdig. Watter regverdigheid is daar dan vir dié wat van Bo gebore is? Julle stap die nederige pad saam met die res en met ywer om met My te verenig is dit vir julle moontlik. Daarmee sal julle ander kan help om omhoog te vorder. Nêrens anders in die heelal staan hierdie deur oop nie, maar nou is die tyd om dit te betree. Amein.

Waarlikwaar, die son sal nie rooi raak voordat Myne met My verenig het nie. Die sterre sal nie val voordat My oes afgehaal is nie. Bring dit bymekaar, maaiers. Die nuwe saaityd sal ook spoedig begin. Amein.

Weerklink vol Liefde en verlange in die ewige musiekklanke, want dit roep My nader aan My Volk. Beskou alle swaarkry as edel, My geliefde Bruid, en stap daarmee die alleen-tyd vol verwagting af, na My. Amein.

Weersiens sal jou die Krag gee om alle laste saam te dra, want daarin lê die Majesteit van die Ewige Elohim. Amein.