Woord aan Estelle 30 Aug tot Sept 2010

 

Sewe Dae van Stilte afgekondig

op 26 Augustus 2010

 Daar kom `n nuwe seisoen, daarom wil ek julle vrymaak. Ek wil My bruid oprig, want sy moet die oes inbring. Die Gees en die Bruid sê kom ... Julle is lank nie meer slagoffers nie, maar onthou dat My vyand My waarheid in julle wil afbreek omdat dit dan tog Ek is wat julle in julle dra. Laat julle enigste motivering in die lewe My Liefde En Waarheid wees. Omhels elke seisoen wat ek bring.

Seisoene bring lewe en groei Kom rus in my winter en word sterk en wees gereed met hernude krag: Eseg. 37 Die vallei van dooie bene - profeteer My Lewe en My Woord in al my Bruid se doodsbeendere en beveel haar in My Heilige Naam om te LEEF. Dooie bene, hoor My Woord en Leef. Dra die klank van My Almag in stilte vir 7 dae en laat My Ramshoring in die Gees die vestings vernietig, sodat My bruid uit die dood kan opstaan. Stel my hemelse klank vry, sodat mure kan val wat nie deur die swaard afgebreek kan word nie. Hou goeie moed, Ek het reeds die vyand oorwin.....

 Aan My Volk se Dogters

30 Aug 2010

My Dogter,

Die sagtheid van jou wese maak heel en versprei so die lieflike geur van My Liefde. Ek het jou beklee met teerheid en deursettingsvermoë omdat jy die moeder van My volk is wat met bereidwilligheid kaalvoet oor die berge sal trek terwille van My Naam, moedig en dapper, tog, steeds vrou.

Dieselfde ywer waarmee julle vir My Koninkryk werk, moet jy ook aan jou man betoon, wat Ek oor jou gee as aardse beskermer en voorsiener. Is jy bereid om die kroon te dra onder die ontferming en liefde van jou man?

Ek maan jou om voorbeeldig te lewe. Wees onberispelik in gedrag en terselfdertyd slim en sag. Omdat jy meer ontvanklik is vir My Gees is jou ingesteldheid op die sintuie waarmee Ek jou geseën het baie skerper as die van die meeste Adams wat ‘n geneigdheid het om meer op die vleeslike ingestel te wees.

Ek open jou geestesoog sodat jy fyn kan sien en hoor watter hindernisse en allerlei doodsbeendere in die pad van jou en jou gesin mag lê sodat julle nie daaroor hoef te strompel nie, maar trots, hoogmoed en kleingelowigheid verhoed jou om My Stem te hoor.

Waak teen ydelheid. Waak teen die onbeheerste begeerte wat onder sommige vroue heers om die manlike rol in My Orde te wil oorneem. Waarom wil My sagte dogters so graag die broek in jou huis dra?

Jy voel so beswaard omdat jou man jou nie beskerm en laat veilig voel nie – maar jy wil hom oorheers – buite My bepaalde orde uit…!

Behandel jou man soos jy My sou behandel, indien Ek ‘n gas in jou huis sou wees. Behandel hom soos ‘n koning en hy SAL jou behandel soos MY bruid – ‘n koningin wat die kroon van My skepping dra.

Ek het jou kunstig verweef om My sagte liefde uit te straal as koningin en bruid, edel tog vors – maar nederig soos ‘n lam en sag soos ‘n duif.

My Liefde kry gestalte in jou sodat jy My sagtere toegeneentheid tot My kleintjies en My manne kan verstaan en hulle dit deur jou kan leer ken en verstaan.

In sy aard is ‘n man tog ‘n beskermer, versorger en ‘n paraat soldaat vir My Koninkryk en hy het wel begrip van My Liefde, maar jy My dogter – verstaan daardie Liefde die beste omdat Ek dit met sorg, kunstig in jou verweef het. Julle moet, deur mekaar te help en te ondersteun, doodsbeendere herken om te groei tot julle wedergebaar word.

Die eienskappe wat elk van My ontvang het verskil – aangesien julle My Grootheid nie kan kategoriseer en etiketteer nie en julle My omvang nie nou kan begryp nie het Ek verskillende van My eienskappe aan verskillende mense gegee. Daarom is julle tog almal deel van My Een Liggaam. As julle dit verstaan in die vleeslike sal julle dit eers werklik kan begryp in die geestelike.

Wanneer jy jou man wil oorheers, verkrag jy My sagtheid wreed. Alles in My ganse skepping is in fyn balans. Vergelyk balans met ‘n skaal of die begrip van teenoorgesteldes soos julle kleintyd in die skool geleer het. Dit is ‘n begrip wat Ek gemaak het sodat julle kan verstaan, maar julle is soms te vol van julself om dit raak te sien.

Jy weet dat alles in die materie tog ‘n voor en ‘n agterkant het. Of, ‘n bokant en ‘n onderkant. Teenoor die Suidpool lê tog sekerlik die Noordpool. Soos ‘n wiel wat draai, op en af, in en uit soos die werking van die see. Hard en sag – binne buite – Winter en Somer… So is die teenoorgestelde van die Waarheid tog die leuen… Waarom glo julle so graag die leuen?

MAN teenoor VROU – omdat julle nie die teenoorgesteldes van My Raadsplan verstaan nie, sien julle hierdie as ‘n rede tot magstryd tussen man en vrou. Daarom word hierdie teenoorgesteldes in julle openbaar gemaak in mekaar se lewens sodat julle vinniger kan groei tot wasdom in My Almag en dat julle des te vinniger wedergebaar kan word.

Aanvaar hierdie Orde want dit is tot jou voordeel. Ek het dit so gewil sodat julle vinniger kan groei. As Ek almal dieselfde geskape het, sou dit julle eons langer geneem het om My in al My fasette te leer ken. Weliswaar is dit ook so dat Ek te omvattend groot is dat julle My in hierdie lewe, selfs na julle in die gees gewederbaar is, ten volle sal kan verstaan.

In alles is ‘n Heilige Orde. Jy is nie jou man se slaaf nie, en ook mag hy jou nie so behandel nie, want julle is beide gelykmatige erfgename van My Koninkryk. Beide is tog My kind en ook My bruid. Slegs deur jou vrye keuse word jy ‘n slaaf van die teenstander.

Die doel van hierdie vleeslike orde is sodat julle My Heilige Hemelse Orde kan verstaan en vinniger wasdom kan bereik en nie om mekaar te beheer en te onderdruk nie.

Julle moet mekaar se ander helfte (leemtes) aanvul en leer verstaan – daardie sogenaamde teenoorgesteldes – die pole wat mekaar aantrek en die eenheid aanmekaar hou.

Jou lewensmaat is tog jou teenoorgestelde - Jy vra maar wat van jou wat alleen is – Ek Is, is jou Maker en jou Man… Soek maar slegs om My te ken en te verstaan –

Beide man en vrou moet My soek in en bo alles.

Wees gasvry My bruid. Behandel almal asof dit Ek is wat jy ontvang. Buitendien, jy weet nie wanneer jy ‘n engel in jou huis ontvang nie.

Julle gebede maak My manne en My kindertjies sterk. Wees ‘n vriendin en ‘n raadgewer wanneer hy dit nodig het. Wees sy minnares en beminde, sag en liefdevol tog ook vrolik en dra My lig. Maar wees ook standvastig in die geloof en jou liefde vir My.

Die geheim van huweliksgeluk wil Ek met julle deel. Daar is verskillende fasette van My Almag wat julle op hierdie aarde nooit sal kan begryp nie, maar van My geheimenisse kan jy vind in My Adam. (net soos hy die geheimenisse van My in jou moet vind).

Kyk na ‘n diamant, elke blinkende deeltjie weerspieël ‘n baie klein deeltjie van My wese in jou Adam. Ek wil geloof en aanbid word in al die glorie van elke skitterende deeltjie. Jou Adam is na My Beeld geskape en so ook begeer hy in wese om deur sy wederhelfte geprys te word.

Jou Adam is ‘n jagter in murg en been – en Ek gee jou die sleutel om die rustelose jagter se gees te versadig.

Wees vir hom die teenoorgesteldes waarna sy siel hunker en hy sal jou nooit verloën nie, en sal jou as koningin wat My kroon dra, bemin.

1. Wees ‘n vriendin vir hom deur dik en dun. Net soos Ek vir julle ‘n vriend is. Sonder om te veroordeel luister Ek na alles wat julle in vertroue met My deel. Ek word nie kwaad vir jou nie en Ek vergewe sonder voorwaarde. As vriende saam kan lag en huil is elke las wat gedeel word tog ‘n halwe las, dan nie? Ek bewaar al julle geheimenisse in My hart. Julle weet tog dat Ek altyd onvoorwaardelik beskikbaar is vir julle.

2. Wees soos ‘n kinderlike speelmaatjie vir hom – wees saam kind wat kinderlik opreg vertrou en op kinderlike wyse jou misnoeë te kenne sal gee. Kan jy vir ‘n klein dogtertjie kwaad word as sy in opregte misnoeë met haar groot ogies en gevoude armpies, ‘n reguit ruggie saggies haar standpunt stel en haar voetjie ferm op die grond neer plots… Kan jy kwaad word? Ek kan nie vir jou kwaad wees as jy opreg soos ‘n kind na My kom nie… Kom klim julle nie ook met sproetgesiggies en betraande ogies op My skoot nie. Hoe dikwels storm julle nie in My troonkamer in en kom huil op My skoot en vertel My al julle misnoeë nie. Hoe kan hy jou wil beskerm as jy sterk genoeg skyn te wees om self alles te wil doen en dra? Laat hy weet dat jy sy krag en hulp, leiding en ondersteuning, nodig het. Net soos julle albei dit van My nodig het en daarsonder nie kan bestaan nie.

3. Wees vir hom ‘n raadgeefster – ‘n sake vennoot wat ernstig en aandagtig luister met onverdeelde aandag en met ‘n oop kanaal na My en jou fyn gees en al My Liefde in jou, luister ook wanneer Ek influister in jou oor en jou hart sodat jy hom kan raad gee in sy benouinge.

4. Wees sy minnares. Onthou die vyand kom in baie verpakkings… Verpakkings wat maar te graag gewillig is om My huwelik te verwoes.

5. Wees ‘n staatmaker en ‘n voorslag.

6. ‘n Vriendin en ‘n moeder ‘n sagte vertrooster en tuiste-skepper sodat hy ‘n veilige liefdevolle hawe het waarheen hy kan terug vlug na ‘n harde dag. Hy smag na jou warmte en liefde.

Vroue maak dikwels die fout dat hulle slegs een deel vervul, maar die jagter smag daarna om ook die ander dele van sy wese te vervul.

So is julle dan soms die vriendin en moederlike versorger van haar man kinders en wonderlike huisvrou. Daar is geen vlek of skande – maar hy smag ook na die minnares wat lewegewend is en in sy diepste wese begeer om bemin en bewonder te word (net soos Ek begeer om bemin en bewonder te word).

Dit is juis hier wat die vyand nie noodwendig slegte vroue oor sy pad stuur nie, maar vroue wat die ander helfte van die rol vertolk. As julle die rol van beide die vroue in een pakket kan vervul, stel jy die teenstander skadeloos (binne perke) in jou huwelik.

Om hierdie rede is manne dikwels ontrou. Hulle erken dat hulle ‘n goeie vrou het, maar smag ook na ‘n ander onvervulde deel van sy wese. Dit is baie moeilik vir hom en hy verstaan self nie hoe hy aanmekaar geweef is nie.

Hy sal jou dan bemin soos Ek My bruid bemin.

Jy, My skitter ster, Ek weet dat jy en vele ander vroue My inniglik bemin en dat jy My skepping geniet en My Almag daarin bewonder. My natuurskoon – die skeppingswerk van My hande met bewondering betrag. Jy sien elke detail en verstaan die omvang van die sorg en liefde daarvan. Jy bewonder My vir al my kunswerke wat Ek gemaak het sodat julle My ook daarin kan dien en eer. Vanaf die wonder van die sterre en hemelligte wat Ek in die uitspansel gegooi het met My Hand, die berge wat groot en majestueus oor julle en alles hier op My adamah troon – tot die kleinste fynste blommetjie, goggatjie en blaartjie. Ek het dit vir julle kunstig en met sorg en Liefde aanmekaar geweef sodat julle My kan bewonder en My Liefde meer en meer kan begeer en om na My toe te wil terugkeer.

Nadat Ek dit alles gemaak het het Ek gesien dat Adam ‘n maat nodig het, maar ook het Ek na die bewondering van My beminde bruid gesmag wat met sagtheid van gees en liefdevolle eerbied na My sal kyk.

Ek het die wonder van My fynste kunswerk en die Almag van My uiterste liefde in gedagte gehou toe Ek jou, vrou, uit Adam se rib geneem het.

Ek het jou kunstig met My Liefde gemaak en jy het op My bevel lewend geword om My te eer en vir My kinders met naasteliefde te versorg en te lei.

Deur jou, vind Adam dele van My wat hy andersins baie moeilik sou kon vind.

Ek sing oor jou as Ek sien hoe jy My kunstigheid geniet en bewonder. Daarom dat jy, sagte vrou van liefde die kroon van My skepping dra, statig soos ‘n bruid, ‘n koningin wat heers saam met haar Bruidegom.

Op elke man, vrou en kind se palet het Ek verskillende kleurpotlode gegee. Met ander woorde, verskillende gawes en talente. Elke dag is julle besig om te skilder aan My groot droom, dat julle elkeen sal terugkom na My toe. Wat doen jy met jou blou, geel, groen en pienk potlode (talente)? Weet jy dat jou kleure nie beter is as ‘n ander se geel, oranje en pers nie.?

Al die kleure wat Ek gegee het (talente) maak tog op die einde die perfekte prentjie. Daarom het julle mekaar nodig. Teenoorgesteldes geld ook in ‘n kleurwiel. Dit sou vir ewig geduur het as julle elkeen elke kleur apart en alleen moes soek. Werk saam, teken saam, soek saam, want saam sal julle My, die Almagtige, Ek Is, vind en beter leer verstaan.

Dit is vir eers genoeg.

 

‘n Nuwe seisoen het aangebreek.

1 September 2010

Deur die ewige, konstante getye van die see; veroorsaak soos julle reeds weet, deur die wisselwerking tussen My Adamah, Son (My ewige helende lig) en die Maan (My Wysheid en sagte liefde); ontstaan die kom en gaan van seisoene. Dit is belangrik dat julle die begrip verstaan aangesien in alles daar geestelike verborgenhede skuil wat van toepassing is in die alledaagse bestaan van my Adama.

In My Woord bemoedig ek julle telkemale om antwoorde van die wonder van My Almag in die natuur te vind. Nimmereindigende wisselwerking wat reeds ontelbare eons besig is om tot op hierdie dag te kom waar julle nou is – en steeds na tyd en ewigheid sal Ek steeds besig wees om julle tot insigte te bring tot julle almal na My toe terugkeer.

Ek openbaar my goedheid aan hulle wat My in opregtheid soek. My vele geheimenisse maak Ek elke dag aan julle openbaar maar julle dra oogklappe en is so vasgevang in sorge en jul verkniesing oor wat môre mag bring, dat julle vergeet om my geheimenisse reg voor julle oë te sien omvou.

Kom vra My, die Groot Ek Is, om My geheimenisse in die natuur aan julle te openbaar. Niks bestaan wat nie reeds bestaan het nie. Elke wisselwerking, van die kleinste tot die grootste het Ek haarfyn beplan. Kom vra My om julle te gaan wys hoe dit was toe ek met My hand die hemel ligte in perfekte orde die ewige lig ingegooi het. Kom sit by My en vra My hoekom Ek so lief is vir ‘n seekoei?

Job, My dienskneg het dit verstaan toe hy met My geworstel het. Hy het diep begeer om hierdie wisselwerkinge te verstaan. Hy het deur sy potskerf-ashoop-allesverloren-winter uiteindelik ook dat die wonder van My natuur verstaan. Hy het verstaan wat Ek vir julle probeer leer.

Kom sit by My dat Ek jou kan vertel van al die geheimenisse van die mier wat self dieper insigte het in die wisselwerking van die seisoene as hulle waarvoor Ek alles gemaak het.

Sonder seisoene kan julle nie die groei waarneem met die blote oog nie en sou julle ook nie so maklik besef het dat in My Almag ek ook beskik het dat plant en dier nodig het om in My rus te gaan.

Die winter wat op die Suidpunt van Afrika gebeur is met ‘n doel lelik, swart en dor. Ek het dit so gewil sodat julle die groei en nuwe lewe van my beloftes kragtig in werking kan sien.

Die geestelike seisoene loop nie noodwendig hand aan hand met die fisiese nie, en sommige van julle voel dat julle van jul geboorte af reeds in die winter sit. Dit is onwaar. Julle het bloot so diep gedaal in die donker, dor, swart verbrande put, dat julle vergeet het om al die wonderlike nuwe lewe wat Ek stuur raak te sien. Seisoene kom en gaan voortdurend – waak en bid dat julle bedag sal wees om die eerste tekens en belofte van ‘n komende nuwe begin en nuwe lewe sal kan raaksien wanneer die vyebome begin bot. Deur loutering van vuur en pyn alleen kan nuwe lewe uitspruit.

Het jy al een oggend opgestaan en verstom na jou asem gesnak – want, skielik toe jy dink dat jy vergeefs op die lente wag, het Ek in die nag, terwyl jy gerus het, miljoene groen blaartjies en pienk lente blommetjies laat uitspruit sodat My geknakte riete nie breek nie. Sou jy al hierdie wonderwerke en beloftes van nuwe lewe so sterk kon ervaar, sonder die winter?

Ek Is, openbaar Myself op sovele geleenthede en maniere aan julle, maar julle verseg om die Wysheid in ietsie so klein soos die mier te gaan soek. Julle soek wonderwerke maar kyk My oneindige genade en liefde skoon mis – elke dag.

Kyk, Ek gee jou geleentheid om in hierdie lente, die vrug van jou arbeid te kan sien. Let op na die pienk bloeisels. Weldra verdor dit en val af – maar nie voor jou en My vrugte nie tevoorskyn kom nie. So sal Die Vrugteboer dan in die lente selfs verder snoei deur van die goeie bome se jong vruggies uit te dun sodat die oorblywende ander vrugte selfs beter, groter, soeter en sterker kan groei. As Ek dit nie doen nie, sal jou takke breek en jou vrugte sal nie voed nie, maar eerder die eter smaakloos en dor agterlaat. Laat die vrugte wat julle dra soet soos nektar wees, vol lewegewende sap wat oorvloedig vloei uit die skatkamers van My Liefde. Dit is nodig dat Ek van die vrugte sal uitdun – dit mag self vir die sterk lenteboom onregverdig voel, maar hou goeie moed en weet dit is nodig. Waak teen vrugte van geregtigheid en hoogmoed. Waak teen vrugte wat begerig is om te heers en eiebelang te soek. Soek nie om gedank en geprys te word oor die vrugte wat jy dra nie. My seisoene reining. Pluk daardie vrugte uit voordat Ek verby kom en dalk die boom afkap.

Baie van julle het self en vrywillig aan julle boorde gesnoei. Dit is ‘n seer en pynigende proses en soms, wanneer Ekself in my boorde rondstap, en begin snoei, bly daar maar ‘n paar oënskynlike dorre takke oor. Op My bevel breek die lente aan en binne enkele oomblikke is jou takke oortrek met pragtige pienk bloeisels wat te kenne gee dat die seisoen draai.

Ek Is skenk uit My groot liefde vir julle ook soms ‘n geestelike ‘spring gety’. Julle opregtheid, aanbidding en toewyding aan My en My kinders wat wees, honger en koud verdwaal is, wel dan so geweldig op in My dat My seëninge en guns jou bestraal, omvou en verby vat.  My groot liefde gee nou vir my kinders so ‘n ‘spring gety’. Strome van seën en oorvloed stroom oor dorre akkers en ontwaak die groen weivelde, waar My Lewende Waters ‘n verskroeide Aarde weer oprig. Kom, Kom My lammertjies wat Ek so Lief het kom drink van My strome van seën.

Julle het innerlike genesing en versterking nodig vir die tye wat kom. Kom. Kom na My toe. My Krag en Almag sal julle lei. My Krag sal jou onsienbaar maak – My Krag sal jou verlos – maar vir nou, sien die werking van My seisoene soos ‘n deur die oog van ‘n kind.