WOORD VAN JAHSHUA AAN NALIZE OP 29 APRIL 2011

Woord aan Nalize:

Stuk 36 – 31/3/2011

Die winter kom en harte smag na warmte. Wees die warmte uit My vir elke hart wat dit nodig het. Deur barmhartigheid en Liefde, toegepas vol geduld, sal jy voldoende warmte uitstraal om ander te kan bystaan. Dink daarom net aan hulle lot en behoeftes as jy hulle help en Ek sal aan joune dink om jou Hulp te bly. Amein.

Soos die are van ‘n lewende vol bloed is, is die siel van ‘n lewende vol emosie. As die emosies verkeerd gewek word, moet die siel reiniging deurgaan om weer rus te vind. Moenie dat dit met jou gebeur nie. Hou jou emosies getem deur die Gees toe te laat om dit te voed, dan sal jy nie reiniging nodig hê om geestelike groei vooraf te gaan nie. Ek is met jou en bied jou als wat jy mag nodig hê om Myne genoem te word. Put die wil uit jouself en stap die pad van wedergeboorte saam met My. Amein.

Wil is nie ‘n doellose rondval van een ding na die volgende nie, dit is ‘n definitiewe besluit om te handel en keuses die hoof te bied deur My krag. Moenie twyfel nie, WIL, vertrou en raadpleeg My konstant. My Gees sal jou nie alleen laat as jy ywer om te groei nie en altyd wil Liefde uitleef nie. Amein.

Ja, verseker is die tyd van elke lewende min om volmaaktheid te bereik, maar slegs volbring deur totale selfverloëning. Jy kan, soos Ek het. Amein.

Die Gees is nou ook in jou, soos dit in My was.

Stuk 37 – 3/4/2011

Jahshua spreek met elkeen wat wil hoor:

Die tyd vir oorgawe is verby vir eers. Ek werk nou met dié wat My in hulle wou vind. Verder sal Ek werk met dié wat ywer om My Liefde uit te dra aan ander. As jy nie onder dié val nie, sal jou lewe ‘maklik’ voel en jy maklik voor die versoeking kom om neer te sien op jou naaste, maar waak eerder daarteen, dan sal jou tyd spoediger kom om ook hoër te vorder in die Gees. Soos reeds gesê, behels dit arbeid en ‘n werksame wil om getrou te bly aan nederigheid en Liefde. Ek stap die pad saam met jou om jou vlees af te sterf en te lewe met die gees se insprake en rigtinggewing. Ek is Liefde en sal jou nie bo jou vermoëns beproef nie, want EK weet wat jy nodig het om geestelike dinge te besef. Amein.

Wees lief vir elkeen wat EK oor jou pad stuur, want elkeen het sy werk met jou en jy met hulle. Kyk nie terug en begeer nie verlengde samesyn nie, want dit belemmer groei. Wees wakker om nie in die Liefde slap te lê nie en STAP saam met My teen die pas waaartoe jy in staat is om te groei – en EK weet die beste wat dit is. Amein.

Stuk 38 – 4/4/2011

Jy is geleer om na elke ding te kyk en dit te oorweeg volgens aardse mates. Dit is nie verkeerd nie, maar wel vleeslik. As jy die aardse mates kon aflê en hemelse mates kon gebruik, sou jy wel nader aan die korrekte groei, maar die oorwegingsuitkyk verskil in dié mate dat jy nie versterk word in redevoering nie, maar versterk word om barmhartigeid te wil bewys. Die hemelse oorwegings is dan – eerstens naasteliefde (waarin het die naaste hulp nodig), selfwerksaamheid (in watter mate kan die naaste My deur eie arbeid vind), eie belang (hoe betrokke is die naaste by ander, teenoor by die self). As die oorwegings opgesom is, kan jy die naaste se hulpgeroep identifiseer en jou wese wy daaraan om die Liefde deur jou in jou naaste te laat ontvlam, want EK bied dan die insig, Wysheid en Liefde. Amein. Wees oop en wakker om My te gehoorsaam en jy sal groei in die ewige. Amein.

Stuk 39 – 4/4/2011

Liefdeloosheid is die ondergang van elkeen wat die rug op My en My Beloftes keer. Liefdeloosheid is om die rug op My werke te keer. Niemand het nodig om aan My tafel te sit en honger te ly nie, maar liefdeloosheid se loon is hongerte en daaruit spruit ‘n maerte van siel. Wees bedag daarop om jou nie te wend tot liefdeloosheid in enige handel nie. Dit beteken dat jy aan niemand anders ‘n maerte van siel en gees aandoen deur Liefde/Brood terug te hou nie. Amein.

Ek gee aan elkeen op sy tyd en daarom sal jy altyd hê om uit te deel, ook in die mate waarin jy wil uitdeel. EK is Liefde en sal jou altyd wil bystaan as jy My toelaat. Amein. Wees bedag daarop om nie terug te kyk nie, maar vorentoe, in die wete dat wat jy het, vir jou en jou naaste oorvloedig is. Deel dit en dit sal vermeerder. Amein.

Uit die geloof spruit die werke, met Liefde. Amein.

7/4/2011

Hiermee die nuwe leer vir die Volk na aan My Hart. Hou julle by nederigheid, Liefde en werksaamheid. Hou julle by goedheid, Barmhartigheid en vreugde. Hou julle by eenvoud en diensbaarheid, dan sal julle leef vir My IN My Ryk. Hou julle by al hierdie sake en julle sal insig verkry in die hemelse weë. Laat dit ver van julle wees om enigiemand te na te kom en buit te neem van sondaars. Deel uit wat jy het, met wysheid en geniet die seën wat daaruit spruit.

Ek was, is en sal altyd julle redding bly. Ek spreek ter aansporing en vertroosting in die weg wat julle moet stap, want lank en swaar is dit ook, soos Myne was as mens. Geen mens sal die moeitevolle en pynlike geboorte vryspring nie (tweeledig), want selfs vir My was dit moeitevol en pynlik om neer te daal in die vlees. Amein. Bly vol Liefde en dink aan die versoening wat Ek bewerk het vir alle lewendes wat hulle na My bekeer. Lewe vir die gegewe oomblik en geleenthede en jy sal vind dat die moeite en pyn draaglik word. Amein.

Ek is met julle om die vlees af te lê en julle sal verseker daarin slaag as julle wil by My lê. Wees Liefde in elke daad en besluit. Amein.

Werklikheid is Lewe. Lewe is Liefde. Leef in die Liefde en die werklikheid is jou deel. Leef in die werklikheid en die ewigheid is jou deel. Leef vol verwagting om die ewige liedere van vreugde te sing en EK is jou deel. Vreugde is vol vrede en verdraagsaamheid. Deel My só met jou naaste. Vrede voed geduld en só ontwikkel jy stap vir stap in die wedergeboorte. Liefde is heerskappy en só ontwikkel Wysheid. Wysheid is groter as geduld, maar kleiner as Barmhartigheid. Wees barmhartig en jy beleef nuwe lewe in als rondom jou, dus – jy laat My Gees ontvlam in die skepping deur barmhartigheid toe te pas en só skep jy saam met My. Jy verenig met My as jy lewe in dinge blaas, so as jy My Wese van lewe laat ontvlam, het jy nader aan My beweeg. Dit is die geestesfeer waarin jy wíl leef. Ek wíl jou daavan leer en roep dus: Behou barmhartigheid en jy sal lewe, want Ek ís die Lewe. Amein.

Ek is alles en sonder My is alles niks. Jy kan ook die begin en einde van sake wees as jy dit met My as uitgangspunt benader. Alle groei is dan in MY hande en volgens My Wil en omdat jy dan oorgegee is aan My, lewe jy en jou skepping en is jy die begin en einde daarvan, want jy handel en wil binne My orde. Amein.

Ek is Liefde, juig van harte in die vreugde van ewige lewe wat jy ontvang, so kragtig soos hierdie Woord vereing met jou wese. Amein.

Elke dag is ‘n opdrag van Liefde. Elke dag is ‘n werksaanbieding vol ewige loon as jy My werke uitdra in Liefde. Ek wil dit vir julle die moeite werd maak en die Lig so vergroot, deur die skepping sag te laat ontluik in die krag deur julle as heersers. Amein. Wees getrou in die Liefde. Amein.

10/4/2011

Met Liefde spreek Ek deur hierdie kneg met My skepping. Elke een sal weet dat hulle vanaf ‘hierdie’ dag die toon van Liefde in My werke sal vind, omdat hulle weet dat Ek vir hulle gekom het in die oë van naastes. Alles wat jy sien en beleef is ‘n vernuwing, ‘n nuwe fase wat die menskom betree deur te fokus op My, die Lewe en My, die Liefde. Dit is die Lig wat vanuit hierdie planeet straal, die ewigheid in. Ek is die kos, die Brood, die Wyn en julle die gaste om te smul en te waardeer wat Ek op die tafel voor julle neersit. Ek bedink die wonders en julle teer daarop om te groei in My deur die skepping, tot by julle eindbestemming. Ek is enig, ewig, groot. Ek is alles wat julle nodig het om mee krag te leerken en dit in julle te vind. Krag van gebed is die eerste en grootste gawe wat jy as mens kan vind en ontgin in jouself. Dit spruit uit geloof en liefde en geduld en barmhartigheid en verg ARBEID aan jou siel. Wees getrou en werk aan jou wil om te groei as dienende werktuig vir My wondere. Amein.

Stuk 40 – 10/4/2011

‘Weerhou julle van ydelheid en hoogmoed’ is die Woord wat as waarskuwing weerklink. Weerhou julle daarvan om in julle skatte in te delf met ‘n hart wat homself daarin verlekker. Ontdek die Liefde deur jou skatte minder te ag as die hart van jou naaste wat aandag vra. Deel jou tyd, want dit is Liefde, deel jou aandag, want dit is Barmhartigheid en deel jou skatte, want daarin lê die ewige loon. Amein. Wat jy gee sal jy nie terug ontvang nie, want Ek verruil dit vir jou vir skone, sorgelose bates. Ek bestuur die ewige rekening wat jy as onwerklik beleef tydens jou tyd op aarde. Ek dra by tot jou rekening as loon op jou arbeid en dit bring jou nader aan jou ‘laaste dag’.

Verbly jou dus in jou laaste dag, want só weet jy jou rekening is afgelos. Ek tree in en jy betree die staat van vergoeding. Sien uit daarna en streef na die oomblik wat Ek en jy vergader om jou rekening se uitkoms te bespreek. Ek sal jou nie in die steek laat as jy My nie in die steek gelaat het nie. Was jy ‘n goeie arbeider, opsigter of huisheer in My plek? Het jy Adam se roeping gelyk? Amein.

Die tyd is vir elkeen lank vooraf bepaal. Wees getrou. Amein.

 

12/4/2011

Elke dag is ‘n gedagte uit My. Die winde wat waai en die son wat skyn is alles hoe EK dinge in stand hou met ‘n enkele gedagte. Kan jy dieselfde sê van jou lewe? Is dit ook vir jou ‘n gedagte van Liefde om betrokke te wees by alles in jou lewe. Elke verantwoordelikheid is ‘n blik op My Wese, dra dus jou verantwoordelikheid met agting vir My Beeld wat daardeur verheerlik word. Ek sal ook soos met Jakob van ouds, jou werke seën, al staan jy gebuk onder die Babiloniese stelsel van koop en verkoop. Ek is in beheer en jy maar ‘n uitvloeisel van My Beeld van Liefde. Bemin My en ander sal My in jou beleef. Amein.

Stuk 41 – 12/4/2011

Waarom wil die mens vrees as Ek aan alle kante sy skerm is? Ek sal geen messteek deurlaat as dit nie tot heil van die siel is nie. Vrees nie en twyfel nie, want net Ek kan hoogmoed verander in weemoed of nederigheid. Ek beskou jou siel daagliks en berei jou voor op ‘n ewige saamwees met My in heilige diensbaarheid as jy jou bereid verklaar daarvoor.

As dit nie die geval is nie, dra Ek jou met Liefde dat dorings jou nie skaad nie en sorg dat jy die Liefde leerken waaruit lewe spruit. Daarvoor is seerkry nodig, maar Ek beproef jou nooit bo jou kragte nie, want jy is nietig en swak in die Gees. Ontwaak en wil skep en dien en jy sal met moeite vinnig vorder om My hart in jou bestaan te vind. Amein.

 

Stuk 42

Jahshua as Liefde van en vir die Skepping, spreek met elke kneg wat bereid is om sy taak met erns op te neem: Berei julle voor op ‘n swaar tyd van worstel met oorlewing en geestelike groei. Als word moeiliker, soos wat die skepping agteruitgaan en die mens poog om homself al meer die middelpunt van die skepping te maak. Ek is en sal die middelpunt van alle skeppings bly, want almal is in ‘n warboel van invloede, tot hulle My as Maker vind, dan raak die rondomtalie ‘n vreugde met die wete dat Ek die vastigheid van hul wentelbaan is. Dan eers kan hulle die orde besef, waarin hulle moet floreer en funksioneer om die res van die skepping tot nut te wees. Voor daardie besef is daar niks bekend aan enige situasie nie. Elke siel sien net onophoudelike spoed, gejaag en verbygang van ‘elemente’, ‘planete’ en ‘wind’. Elke ‘element’, ‘planeet’ en ‘wind’ het sy plek as jou fokus op My as middelpunt is, anders kan jy dink dat die sogenaamde Skepper van als, geen orde aan die dag gelê het nie. Sien jy in hierdie beeld van son en planete, soos julle dit ken, dat die fout nie by My lê nie, maar die onvolmaaktheid by jou? As jy egter nie so ongeordend teëgestribbel het om jou plek in My orde te aanvaar en uit te dien nie, sou jy nie so weerspannig die lot van die skepping met misnoeë bekyk het nie. Jy sou gesien het dat Ek alles onderhou met My Liefde, hitte en Krag, soos ook vir jou en jy sou gejubel het oor jou plek daarin, want jy is nie niks nie. Amein.

15/4/2011

Vir My Volk wat na My verlang: EK spreek dat My kneg hier in opdrag gelei word om vry te wees van alle aardse, daarom lang stiltes as tussenposes in My diktate aan My Volk.

Jy, elkeen, gaan ook moeilike tye deur in opleiding om My lewend in jou lewe te ervaar. As jy bereid is om My te vind, sal Ek gevind word. Ek is Liefde en wil julle blydskap wees. Amein.

Stuk 43 – 15/4/2011

Waar die aarde draai, loop My lyn van barmhartigheid, want elke las wat die aarde afgooi na sy vorige omwenteling is ‘n las wat Ek opneem om vry te spreek. Ek spreek van jou aarde/hart. Ek sal alles vir jou dra wat jou weg belemmer as jy dit aan My gee. Jy, elkeen is geroep tot dissipelskap in hierdie era, want elkeen is deur die eie wil in staat daartoe om My Koninkryk op aarde uit te brei.

Heg nie waarde aan aardse tyd en goedere nie. Bearbei julle siele deur ootmoed, geduld en Liefde in elke situasie toe te pas. Waak teen jaloesie, afguns en harmonie-lose oomblikke. Ja, om ontsteld te wees is dalk gegrond, maar allermins heilig, want Ek met ewige Geduld en Liefde is heilig. Bêre elke kosbare hoop en verligting in jou hart as aansporing tot groter werke van geloof. Amein. Ek stuur julle as My verteenwoordigers. Amein.

Stuk 44 – 15/4/2011

Hiermee die belofte dat die nageslag van hierdie aarde nie My grimmigheid sal voel en beleef nie, maar wel My Barmhartigheid. Die geslag wat nóú op hierdie aarde is, sal wel die teenoorgestelde leerken en aan hulle kinders vertel, want die tyd het aangebreeek waarin fisiese suiwering en uitstorting van My Gees sal plaasvind. Almal en elkeen wat getrou is, sal dit beleef en met dank en nederigheid My as Bron en Wegwyser loof en prys. Amein.

Kyk na elke lewende wese en julle sal die simboliek van My Krag daarin vind. Kyk na elke vernietiging en julle sal respek vir My Krag vind. Kyk na elke nuwe lewe en jy sal liefde vir My Krag ervaar en kyk na wedergeborenes en jy sal verlange na eenheid met My Krag in jou voel. Amein.

Wees lewend en elke aspek van sonde en genieting in die wêreld word vir jou ‘n verlore saak. Jy sal nie meer waarde daaraan heg, maar die Gees se krag in die eenvoudige oomblik van lewe sal My Woord wees wat jou verkwik en jy sal vind dat dit goed is. Amein. Met Liefde, Jahweh wat verlos. Amein.

Stuk 45 – 17/4/2011

Ek spreek: Rig julleself op uit die stof van verslaafdheid aan die wêreldse weë. Staan op, neem jou naaste aan die hand, soek My in jou hart en help jou naaste op hul voete. Hou niks vir jouself nie. Dra elke gawe op aan My en dit word ‘n geestelike seën wat gebruik word tot My eer. Bind jou tot vertroue, stap die pad tot verdeemoediging van jou siel, trek die wapenrusting in geloof aan en los jou wil om na jouself om te sien eenkant. Ek sal jou liefde seën. Amein. Weer roep Ek elkeen wat hier lees om intenser na My Woord in jou te luister en eerder te gee as te ontvang. Amein.

Ek sal hard en duidelik tot jou spreek as jy gehoor wil gee en wil groei in salige werke in My Ryk. Die gevolg van die werke is eenheid met My en dit skei jou van die wêreld en sy weë: Barmhartigheid is die hoogste ontwikkeling in My Werke. Dra My werke uit aan ander en Ek noem jou by die Naam, My Naam. Amein.

Stuk 46 – 17/4/2011

Weer wil Ek ‘n beroep op Myne doen om My elke oomblik te soek in hulle harte. Dit is ‘n voortdurende oefening, maar noodbelangrik vir alle tye wat voorlê. Wat ookal jou lot gaan wees in die komende wêreldstryd, sal jou siel net tot heil strek as jy My kon vind. Amein.

Wees wakker dat jy nie versink in die wêreld se wanhoop of eie planne nie, maar sal luister as Ek spreek en bemoedig. Ek is teenwoordig en die Liefde wat roep om op te rig en by te staan. Wil jy My hoor? Wil jy vir My arbei deur te bemoedig en lief te hê? Dit is wat julle van mekaar sal ontvang as Ek lei. Amein.