Abba Vader aan Judith: Openbaring 8 en 9

 

Openbaring 8

3 Junie 2007 om 22h00

Met My menswording hier op aarde meer as 2000 jaar gelede het Ek met My leerlinge op ‘n rustige oggendwandeling, voor die sonsopkoms, bo-op ‘n bergtop gaan plaasneem, terwyl die pragtige oggendrooi en koel berglug die sagte ontwaking van die natuur aankondig en haarself hoorbaar gemaak het deur die vroeë oggendgeluide van die vrolike getjirp van voëltjies.

Terwyl ‘n nabygeleë fonteintjie ook sy stem laat hoor het met dartelende kabbel geluidjies met sy eerste tree as ‘n spruitjie, het Ek met ‘n glimlag na My Petrus gekyk waar hy gehurk by dieselfde fontein bakhand sy dors geles het. Jakobus het opgekyk en ons oë het in ‘n liefdevolle blik ontmoet. Rustig en stil het Ek en My leerlinge hierdie goue oomblik in My skepping geniet. My leerlinge was diep onder die indruk oor die voorreg wat hulle geniet het om in My teenwoordigheid, as Menseseun, saam met My hierdie oggend te kon deel. Ek het My hoof opgehef en die volgende tot hulle gespreek: “My liewe broers, dit wat julle nou vir my voel is baie prysenswaardig, maar net soos wat hierdie mooi oggend in al sy skoonheid om ons ontwaak, net so sal daar oor 2000 jaar van nou af van my kinders en julle broers in hulle liefde vir My ontwaak en hulle sal meer geseënd wees as julle wat nou hier by My is. Julle glo in My omdat julle My in julle midde het. Hulle sal egter in My glo, bloot in antwoord op die vae verlange wat hulle in hulle harte vir My voel. Julle het My in My volheid by julle, hulle sal My slegs in ‘n verslete en verdraaide ou leer hê.

Nogtans sal hulle met geweld die ou waarheid nuut daaruit tevoorskyn bring. Hierdie dapper krygers sal met hulle enigste wapen, die liefde, hulleself kruisig om so een met My hulle Vader te kan word. Ek sal self hulle die ware oë van die lewe open om My, hul Vader in hul midde te kan aanskou en My nuwe verbondsark sal in hulle voltooi wees, sodat My nuwe aarde in hulle vervolmaak sal word. Let dus goed op die ontwaking van hierdie oggend en dink aan julle broers wie julle in daardie tyd in die gees bystand sal bied.

 

Openbaring 9

4 Junie - 13h30

Vraag: Wat is die korrekte aanspreekvorm van die naam wat U op aarde gedra het?

Antwoord: En ek antwoord jou die volgende: Twee broers behoort by die aanhoor van My Naam, mekaar om die hals te val en van hulle te oorgroot liefde vir My en omdat hulle nie weet wat om met hierdie liefde te doen nie, dit wedersyds op mekaar uit te stort. Die noem van My Naam het egter deesdae die grootste twispunt en dit nogal onder broers van dieselfde bloedlyn geword.

Daar is onnoembare baie tale asook dialekte, nou sowel as in die verlede, waarvan sommige al uitgesterf het en met die verskillende tongval en klanke het My Naam met sy swerftog deur die eeue heen, tussen verskillende nasies en volkere dikwels ‘n nuwe nuanse ondergaan. Elk van hierdie groepe wou dan ook trots verklaar dat hulle alleen die korrekte gebruikers van My Naam was.  Huidiglik het dit so ‘n twispunt by sommiges van julle geword dat Ek verkies om My Heilige Naam nie verder deur julle te laat ontheilig nie. Die opregte gebruiker van My Naam is die een wat dit met die grootste liefde vir My in sy hart uitspreek.  So is vir My dan ook die een wat My Naam die meeste oneer aandoen, die een wat met sy broeder daaroor twis. In geen geval gaan Ek daar teenwoordig wees, waar daar oor My Naam getwis en geredekawel word nie. Daarom sal Ek Myself kenbaar maak as jou Vader. Leer daarom dat die korrekte uitspraak van My Naam die Liefde is.