Openbaring 24 deur Judith de Beer

Openbaring 24

18 Junie 2007 om 08h00

Vandag gaan ons oor geloofsgenesing praat en daar gaan baie wees wat jou hieroor aan die keel gaan wil gryp.  Steur jou maar nie te veel daaraan nie, dit berei jou slegs voor op baie erger dinge wat mense jou nog in die toekoms aan sal wil doen.  Om terug te keer na die punt, julle leef in ‘n wêreld, waar vele na liggaam en siel baie siek is.  Ek word dan ook meeste van die tyd verwyt so asof Ek die oorsaak van alle siektes is.  Vies keer die kranke My ook vinnig die rug toe en wend hom na die baie slim mediese wetenskap vir genesing. Boosaardige siektes is geweldig aan die toeneem,  en a.g.v. die menslike ontwikkeling, wat niks ontsien in die versteuring van die baie delikate ordes in die natuur nie, is meeste van hierdie siektes ongeneeslik.  En nou praat ons nie eers van die giftige chemiese prosesse waaraan die mensdom blootgestel is nie.  Gewoontevormende misbruikers pomp teen hulle beterwete hierdie gifstowwe teen ‘n geweldige tempo in hulle eie liggame in en is daarom self vir hulle siektetoestand verantwoordelik.  Ek hoor al klaar een of twee wat mor en sê “ja, maar wat van die onskuldiges, veral die kinders wat nie daarvoor gevra het nie”.  Vir julle sê Ek “wees geduldig, ons kom daarby”.  Die baie siek persoon draai nou onverrigte sake by sy dokter om.  My, die Vader, se genesende vermoëns wat eers versmaad is, kom in die mooi woorde van “alternatiewe genesende metodes”, nou by ons pasiënt op.  Van die heel vinnigste bekerings vind nou plaas en hierdie persoon ontpop as ‘n  “baie diep gelowige” wat My nou “nederig” nader en genesing word van My geëis. Met ‘n “geloof” wat nou berge kan verskuif en begelei van hope “sms” gebede, is ons pasiënt nou deeglik voorberei.  In meeste gevalle is daar van genesing geen sprake nie en nou begin die kranke in sy eie geloofsvermoëns te twyfel en die eerste beste geloofsgeneesheer word nader gesleep.  Wanhopig word alle geloof nou op hierdie mens, in plaas van My geplaas en omdat daar nou tog sprake van ‘n mate van geloof aanwesig is, laat Ek in sommige gevalle genesing toe.  Hierby wil ek aansluit deur te sê dat geen genesing moontlik is waar die geloof nie eerstens in die siek persoon self teenwoordig is nie.  Ek, as die grootste geloofsgeneesheer van alle tye, het met My verblyf op aarde, slegs die genees wat die nodige geloof binne hulleself gehuisves het.  Dit is waarom spontane genesing dikwels sonder enige dreunende gebede by kinders plaasvind.  Omdat hulle ‘n skoon naïewe geloof in My, hulle Vader het, dat Ek hulle wel sal genees.  Daarom sê Ek vandag aan julle, My kinders, wie My in sy hart dra, dra ook reeds alle genesing binne homself en dat dit vir julle onnodig is om soos ‘n ongelowige na ‘n volgende persoon te hardloop, sodat die hom met sy geloof moet genees.  ‘n Ware geloofsgeneser sal hom eerstens oor die onsterflike siek siel kwel, voordat hy aandag aan die siek verganklike liggaam sal gee.  Aan my ware kinders, wat in hierdie eindtye onder My verskillende gawes werksaam sal wees,  sê Ek met liefde “wees versigtig oor dit wat julle in die Gees begeer”.