Openbaring 25 deur Judith de Beer

Openbaring 25

19 Junie 2007 om 07h00

Ons het al voorheen gepraat oor die gordyne wat voor die allerheiligste kennis in julle harte hang en vandag gaan ons ‘n bietjie meer aandag hieraan gee.  Met My liggaamlike afsterwe op Golgota het die fisiese gordyne voor die allerheiligste plek in die tempel meegegee.  Wat niks anders was, as die simboliese vernietiging van die leuen wat gebaseer was op ‘n leuenagtige verdraaiing van ‘n ou waarheid nie. Terwyl die tempel My kinders gedwing het om My, “God”, met ‘n verwronge nougesetheid te dien, maar terselfdertyd geen steen onaangeroer gelaat het om My, die Seun van die mens, met haat te vervolg nie.  Omdat die mense van daardie tyd geslagte lank deur die tempel gemanipuleer was en geglo het dat hulle as minderwaardige wesens nie bevoeg was, of die reg gehad het, om direk met My, hul Vader, te kan kommunikeer nie, het Ek self, in die persoon van ‘n mens na die aarde gekom, om hulle die oë van hul harte te open. 

Geesdriftig met My kruisiging, het die blinde skare die tempeldienaars ondersteunend toegejuig “weg met Hom, kruisig Hom” en met die laaste uitblaas van My asem, het die grootste wonderwerk ooit plaasgevind en ontelbaar baie blindes het vanaf Adam dwarsdeur die eeue tot in die verre toekoms, die vermoë gekry om hul blinde oë te kan open en verwonderd uitgeroep “Hy is waarlik die Seun van God” om sodoende die waarheid van die leuen te kan onderskei.  Satan het oor ‘n lang periode van oor die 2000 jaar, stelselmatig weer met sy ou beproefde resep na vore gekom en die mens se oordeelsvermoë kom beperk met die hulp van ‘n onbuigbare en rigiede leerstelling, wat deur kerke met politieke agendas, op die mense afgedwing word met duisende moets en moenies en hierdeur het hul oë weer dof geword en die lewende vonkel van My liefde daarin is uitgedoof.  Met die glans van goud, word daar vir hul ‘n Mammon gebou en hoe dieper die mens die ingewande van die aarde indring om mineraal, metaal, asook energiebron voort te bring, so trek die bose hoëpriesters van hierdie industriële aarde weer die gordyne dig voor die allerheiligste in die hart van die mense.  Maar aan My geliefdes se Ek weer: “Weet dat Ek op Golgota, julle die vermoë gegee het, om met geweld hierdie leuenagtige gordyn af te ruk, sodat julle met lewende vonkelende oë waaruit my waarheid skyn, in die blinde dooie oë van jul broers en susters kan kyk en hulle daardeur siende kan maak en hierdeur word julle die voorlopers van My wederkoms, wat My teenstander die mees gevoeligste slag gaan gee.  En hiermee sê Ek aan julle, My knegte, die oes het ryp geword, raak daarom vlytig werksaam. Amen.