Openbaring 36 deur Judith de Beer

Openbaring 36

2 Julie 2007 om 1h00

Ek het skielik wakker geword en ek was toegestaan om enige iets wat ek wou weet te kon vra. En ek het aan U gevra om my die ware nederigheid te toon. Skielik was ek binne-in myself en het die lewe in my as `n wese ervaar. Onmiddellik hierna het ek teenoor die kleinste atoompie in U onmeetlike skepping te staan gekom. Hierdie atoompie was in vergelyking met my, ‘n reusagtige onmeetlike son. Ek was geweldig beangs en verskrik en U het hierdie niks wat ek was, binnegetree en hierdie binnekoms van U, het van my so ‘n onmeetlike ruimte gemaak, dat ek ‘n heelal kon omvat.  En ek het gesien dat my grootte, sterkte en krag, in die totale nietigheid van my nederige niks gelê het, wat van my ‘n ronde nul gemaak het.  Hierdie nul op sy beurt, was weer ‘n volmaakte goddelike sirkel, wat nodig is, om iets van U Gees daarin te kan huisves om my daardeur ‘n moontlike kandidaat te maak, om ‘n kind van U te kan word.  Dit is die geheim van die nederigheid. Wees klein in jou grootte, sodat God jou groot kan maak in jou kleinheid, om so vir Homself uit jou, ‘n goddelike kind te kan opwek.