Openbaring 39 deur Judith de Beer

Openbaring 39

4 Julie 2007 om 9h00

Ek is die Vader, maar Ek is ook die Seun en terselfdertyd is Ek my alles omvattende waarheid- en liefdesgees. Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde. EK IS, die ewige enkele Godheid en naas My is daar geen ander Godheid nie. In My is die totaliteit, asook die identiteit van die Volmaakte goddelike huisgesin, kompleet.

Vanuit die enorme klomp foute onder die hedendaagse Christendom, is die een wat My die meeste teen die bors stuit, die hoogmoed. Ja, hoogmoedig word daar deesdae met ‘n enorme skrifkennis, ‘n hatige oorlogvoering onder “sogenaamde Christene” met mekaar gevoer. Skrifkennis word goedsmoeds verdraai en aangepas en eie opinies vlieg verwoed die wêreld vol en van liefde is daar geen sprake nie.

Die oorlogskreet lui dan ook as volg, “kom, laat ons mekaar verpletter met die Goddelike letter”. Huidiglik is seker die gewildste onderwerp in hierdie debatvoering dan ook My “Identiteit” as ‘n drie enige Godheid. Gelukkig is dit nie vir My nodig om My bestaan as enige God en Vader aan My ware kinders te verduidelik nie, omdat hulle My reeds in Gees, Waarheid en liefde in hulle harte besit.

Vir die res van die wêreld wat My as ‘n driekoppige God bekend wil stel, wil ek net graag daarop attent maak, dat julle, deur julle “onverbeterlike skrifkennis” julle slegs daarop toespits om trots die beuel van julle eie selfbeeld te kan blaas en in jul grootheidswaan te kan bewys, dat julle die volle begrip van die ewig onverstaanbare alwyse Godheid onder julle knie gebring het. Maar nogeens sal Ek op die mees eenvoudige manier dit aan julle hoogs geletterde gemoedere probeer oorbring.

Die man wat na My beeld geskape is, het die vermoë om die seun van ‘n vader te wees en terselfdertyd is hy die vader van een of meer seuns wat hy deur middel van sy opvoedingsmetodes (die gees) leer om soos hy te wees. Maak dit nou van bogenoemde man een, of drie verskillende persone? Die verskil tussen My en julle is dat Ek die enkele, ewige onsterflike oeroorsprong van alle lewe is en julle die vele is wat uit My voortkom.