Openbaring 49 deur Judith de Beer

Openbaring 49

14 Julie 2007 die middag

Om 'n meester oor iets te kan wees beteken om dit van binne na buite in al sy fasette te ken. Om dus 'n meester oor die materie te kan wees, moet jy interne ondervinding daarvan hê en wat is beter as die praktiese ondervinding daarvan self.

Julle verwonder julleself altyd oor die misterie van die geestelike wêrelde en die werklike wonderbaarlike misterie, is die beliggaming van die gees in 'n materiële liggaam, in 'n kort tussenpose van twee geestelike ewighede, wat 'n geweldige beslissende faktor is in die op- of afgradering van werkende geeste in verskillende ordes.

In sy proeftydperk hier op aarde neem die mens gewoonlik een van drie gesindhede aan. Hy is positief, neutraal of negatief. In goeie outydse Bybelspraak noem ons dit koud of warm en enige Bybelstudent wat 'sy sout werd is', sal nou ook ewe fluks die sin vir ons kan voltooi deur te sê "maar omdat jy lou was, sal Ek jou uit my mond spuug".

Hiermee wil Ek dit baie duidelik aan julle maak, indien jy 'n volgeling van My, jou Verlosser wil wees, doen dit met 'n vurige liefdevolle hart, in volle oorgawe. Die een wat met 'n lou en 'n besluitlose, tussen die boom en die bas geloof My om die bos probeer lei, sal die bittere gevolge moet dra, wanneer hy sy broers in die hoogste saligheid, hulle goddelike ordes sien betree.