Boek 7 - Die Voorloper
BERTHA DUDDE

Hoofstuk 22

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22.

DIE VOORLOPER- KENNIS OOR VORIGE BELIGGAMING IS NIE DIENSTIG NIE
BD 7604 - 21 Mei 1960
U moet u nie in u vermoedens verdiep wie se gees u beliggaam waarin u in die laaste tyd op die aarde is om My te dien nie. Daar is van My kant af `n sluier uitgesprei oor dinge wat nie vir u weg oor die aarde en vir u missie van nut is nie, en daarom word die kennis van u weerhou in welke beliggaming u eens oor die aarde gegaan het. Dit moet voldoende wees om te weet dat Ek almal wat bereid is om My te dien, van groot krag en barmhartigheid voorsien. En dat die aktiwiteit van My teëstander gedurende die eindtyd selfs so geweldig sal wees dat daar ook sterk liggeeste nodig sal wees om teen sy aktiwiteite op te tree en standvastig te bly, wanneer dit daarop sal neerkom om verlossend op aarde te werk.
Baie liggeeste moet in die grootste deemoed bly om hulle opdrag te kan uitvoer, omdat die teenstander juis in hoogmoed en aanmatiging die swakste plekke vind en dit aangryp en hulle missie dus daardeur geskaad kan word. En die mense is almal blootgestel aan hierdie gevaar; naamlik om aan sy kenmerkende eienskap en erflike kwaal ten prooi te val.
Daarom word so `n moontlikheid ook nie van My kant af bevorder nie, maar Ek poog altyd om sodanige invloed uit te oefen dat die mens in deemoed sal bly, omdat hy dan ook My teëstander sal kan weerstaan en nie in sy vangnette verstrik raak nie.
Dit is vir die mens van geen nut om oor sy vroeëre beliggaming kennis te dra nie, anders sou dit hom te kenne gegee gewees het die oomblik toe hy begin het met die arbeid vir My en My Ryk.
Maar een mens sal daarvan weet, vir hom sal dit geen geheim wees nie, omdat hy die swaarste opdrag sal moet uitvoer in die laaste tyd, naamlik om My Voorloper te wees wat My Koms sal aankondig. Hy moet My Koms in die wolke as ‘roepende in die woestyn’ aankondig en sy missie vir My met die dood koop. Maar om dit te weet, sal hom nie beswaar nie, omdat hy `n sterk gees is wat die laaste beliggaming op aare bewustelik aanvaar het, in die besef van die noodsaaklikheid van sy opdrag, wat hy bereid is om in diepste liefde aan My uit te voer.
Hy is een van die weiniges wat met die dood beseël wat hy verkondig. Hy het die krag daarvoor, omdat hy My liefhet, wie hy eens nie heeltemal herken het nie, en moes al eenmaal sy lewe laat vir My. (Johannes die Doper; opm.v/d uitg.) Maar hy is bereid om duisend sterftes vir My te sterf en daarom gaan hy die laaste weg bewustelik, bewus van sy missie en herkoms. Die sekerheid sal hy egter eers dan hê wanneer sy laaste missie begin, wanneer hy, wat tevore in uiterste teruggetrokkenheid geleef het, in die openbaar na vore sal tree. Wanneer sy Godsverbondenheid hom plotseling die helder lig sal skenk, welke taak hy op aarde sal moet uitvoer.
En dan sal hy met vurige ywer van My spreek en ook alles doen om die mense te wys op die einde en die laaste oordeel. Hy sal openlik en sonder skroom spreek teen die maghebbers wat hy nie sal vrees oor hulle mag nie. Hy sal hulle openlik brandmerk, omdat hy in hulle die afgesante van Satan herken teen wie hy duidelik te velde trek.
En dit sal ook My laaste teken wees, want hy sal eers gedurende die eindfase optree - in die tyd van die geloofstryd wat kort voor die einde gevoer word.
Wat die mense ookal vir u sal vertel, sy werk op aarde sal nie begin voor die tyd wanneer die geloofstryd sal ontbrand waarin die "ligte" helder sal straal wat die mense die weg sal wys waarop almal moet gaan nie.
En hy sal die "helderste lig" wees wat sal straal waar u dit die minste sal vermoed. Hy sal alles in ligkrag oortref en daarom ook herkenbaar wees vir almal wat die lig nie sal verafsku nie. Maar oefen u in geduld en wag die tyd af, gee u nie oor aan verkeerde vermoedens nie. Want u sal nog dikwels mislei word deur My teëstander, want hy wil u blik aflei om u van u eie missie en arbeid af te bring waarmee u bereid is om My as troue knegte te dien. Laat u nie mislei word nie, u sal dit ten duidelikste insien wanneer die tyd gekom het waarin so `n ongewone ding gaan gebeur dat Ek ook ongewoon moet ingryp om Myne te hulp te kom. Want ook hulle sal in hulle geloof geskok word deur die optrede van My teëstander, as hulle self nie aan My sal vashou en alles aan My sal oorgee in vertroue op My korrekte bestuur nie. U sal dan ook My Wil in u hart voel, sodat u nie meer hoef te vra wat u nou moet weet en doen nie.
My Wil sal u wil wees en u sal nie anders kan handel as volgens My Wil nie, en sal ook weet dat u slegs My Wil deur u laat vervul. Ek roep u steeds weer toe, wees nie voorbarig nie en wag totdat Ek u roep, tot Ek u My Wil in die hart lê. Want u kan ook, deur voortydig te handel, versteur wat vantevore moeisaam opgebou was. Bedink altyd dat die mense almal nog te swak is in die geloof, dat hulle somtyds melkkos aangebied moet word, sodat hulle geen skade aan hulle siele ly nie. Aan hulle moet u slegs My Evangelie van die Liefde predik, maar egter nie so `n leerstelling voorlê wat hulle nie kan begryp nie. En daartoe behoort ook die kennis oor die beliggaming van die ligsiele, omdat die geloof aan `n voortlewing van die siel oor die algemeen by hulle ontbreek.
Die mense wat nou al die optrede van die Voorloper voor My Wederkoms aankondig, is nie altyd heeltemal korrek nie. Neem hulle egter My Evangelie van die Liefde aan, dan sal hulle ook leer om te glo en ook die Voorloper herken wanneer hy sal optree. Want vooraf sal moeilike gebeurtenisse dit voorafgaan en daaraan sal die skeiding van die geeste ook herken word. Mense wat vir of teen My is, en daarmee ooreenstemmend, sal ook hulle geestelik insig kry.
Dit sal nie meer lank duur nie, dan sal al die woorde vir u verstaanbaar wees. Dan hoef u nie te vra nie, maar u sal weet dat My Koms naby is, omdat u hom dan sal herken wat My Voorloper was gedurende My aardse tyd - en dit ook nou weer sal wees soos dit verkondig word deur woord en geskrif.
AMEN

 
 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205