OP GOLGOTA - DEEL 2
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 16

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

Hoofstuk 16
11 Jan.2009 07:19
MY kinders, luister na MY vermanings en weet dat dit die waarheid is. Niemand sal MY Naam verkondig wat MY nie werklik liefhet nie, maar in die wêreld is daar baie valse leraars wat MY Naam ter wille van geld en aansien verkondig, maar dit is halwe waarhede wat verkondig word, omdat hulle die vader van die leuen het wat hulle voorskryf. MY kinders, daar is baie maniere om die leuendienaars te herken en een daarvan is die smag na rykdom en roem. Let maar op, as iemand sê dat hy MY dien en ‘n leraar is in MY Naam, sal hy nie in prag en praal lewe nie. Daar sal nie by hom ‘n oorvloed van geld wees nie en armoede sal ook by hom algemeen wees. Moenie iemand glo wat in “MY Naam” predik, maar die beste voertuie en klere besit nie. Die norm vandag is om ‘n predikant te word en dan baie geld daaruit te maak. MY kinders, as EK aan MY dissipels gesê het om niks saam met hulle te neem nie en EK dan self geen geld saam met MY gedra het nie, waarom sal EK dan vandag se “leraars“ die reg gee om net die beste te hê? Dien MY in eenvoud en daar is EK te vinde, waar iemand MY dien, ten spyte van die feit dat hy geen geld daarvoor ontvang nie. MY kleintjies, EK is nie die Vader van aardse rykdomme nie en dit is nie uit MY uit om iemand met aardse besittings te oorlaai sodat hy ‘n lewe van niksdoen kan geniet nie. Die mense wat wel finansieel deur MY geseën is, sal ook weet wat om met hulle rykdom te doen en sal dit aanwend vir die verspreiding van MY woord en om ander te help. EK sal nie iemand wat MY liefhet seën sodat hy homself kan geniet en van die ander om hom vergeet nie en daarin kan julle sien wie MY liefhet en wie nie. Die man wat ook daarvan hou om voor te staan en in alles die voortou te neem sodat almal hom kan ken as die man van GOD, is ook ‘n valse leraar, omdat EK altyd self nederig was en baie keer het EK MY dissipels aangesê om die mense te leer en dit terwyl EK SELF stilgebly het. Daar was by MY geen hoogmoed te vinde nie en EK het nooit MYSELF bo ander verhef en altyd die grootste mond gehad nie. In eenvoud het EK MY gang gegaan en baie mense wat na MY gekom het, kon MY nie tussen MY dissipels uitken nie, omdat EK ingetoë en nederig was. Dink daaraan as julle weer iemand vind wat homself as MY dienaar aan julle voorstel en sê dat hy ‘n “dominee” is. MY kinders, self het EK geen titels agter MY Naam gesit nie en waarom sal EK dan vandag die mense beveel om titels agter hulle name te sit? Baie van hulle beweer dat dit vir hulle dan makliker is om met mense te praat en so MY Woord te verkondig, maar MY GEES is die EEN wat vir hulle die deure na mense se harte moet oopmaak, nie hulle titels nie, want dit maak die mense se verstande oop en nie hulle harte nie. EK wil uit die hart gedien word en nie uit die verstand nie. MY kinders, gee julleself aan MY oor en MY GEES wat julle dan sal vervul, sal julle in staat stel om MY Woord met sukses aan ander te verkondig. Geen titel word deur MY erken nie en geen mens kom deur sy meriete op aarde in MY koninkryk nie. Dit is alleen die liefde in elkeen se hart wat hom in staat stel om na MY te kom en in MY koninkryk opgeneem te word. Daarom moet julle nie opkyk na iemand met ‘n titel agter sy naam , of met rykdom en roem of enige iets dergeliks nie, maar kyk na MY en EK sal julle in staat stel om die ander persoon wat hier voor jou staan as waar of vals af te maak. EK sal jou in jou hart ‘n antwoord gee en jy sal dan weet wie om te glo en wie nie. EK sal altyd in liefde kom en MY dienaars ook en die een wat met “goddelike donder” kom is dan nie uit MY nie. EK sal met liefde julle harte aanraak, terwyl die een wat uit homself kom, met mooi klinkende woorde en gesegdes kom om julle van sy “goddelike missie” te oortuig. Luister nie na dit nie, want die slang sal ook met mooi klinkende woorde sy prooi probeer vang. Dit sê EK aan julle om julle te waarsku en nie om mense teen mekaar op te maak nie. MY kinders, julle moet wakker wees en MY Stem in julle binneste soek, sodat EK julle Self kan waarsku en julle sal dan nooit ‘n fout begaan nie. EK het julle so lief en wil julle daarom van valsheid bewaar. Enige valsheid is vir MY ‘n gruwel en daarom moet julle, julle van enige valsheid weerhou, al is dit net ‘n valse glimlag aan jou naaste.Dit is MY Woorde aan julle en oordink of jy nie dalk ook vals is in enige manier nie, en werp dit van jou af, sodat satan nie sy kloue op so ‘n manier in jou kan slaan nie. Al MY Liefde aan julle, MY verlore skapies wat EK weer vergader.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205