OP GOLGOTA - DEEL 2
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 19

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

Hoofstuk 19
13 Jan.2008 07:24
In die aangesig van gevaar het baie mense al beswyk om nooit weer reg te kom nie. Menige mens is al so geskok in dit wat hy om hom gesien het, dat hy sy spraak verloor het of heeltemal mal geraak het. In die groot geloofstryd wat gaan kom, sal daar baie sulke gevalle wees, omdat die mense buitengewoon wreed sal wees en niemand dit sal kan dra nie. MY kinders, julle ken nie die wreedheid van satan nie en weet nie tot wat hy in staat kan wees nie. Niks is by hom teveel of te wreed nie en as hulle MY op die wreedste wyses gemartel en gedood het, sal hy sekerlik nie sagter met julle te werk gaan nie. Wees daarom nie dom nie en kom skaar julle nóu by MY, sodat EK julle krag kan gee vir alles. Almal wat MY liefhet hou niks van geweld nie en daarom sal hy julle met geweld aanval, omdat hy weet wat julle bangmaak en julle sal laat breek. In die toekoms, en dit is nie meer vêr nie, sal EK aan julle ‘n teken doen sodat julle nie meer bang sal wees vir die dood nie en elke een wat MY dan liefhet en in MY glo, sal die teken sien en wéét dat niks wat hulle aan julle liggame doen, julle van MY kan skei nie. MY kinders, EK sal iemand vir julle uit die dood opwek en julle sal by hom self hoor wat met hom gebeur het. Hy sal saam met MY in die vlees rondloop en nie in die gees nie. Julle almal wat MY liefhet sal EK vergader en met julle eie oë sal julle dan sien wat EK alles kan doen en ook omdat ‘n klein seuntjie, wat nog nie geleer het om te lieg nie, julle alles sal kan vertel wat EK aan hom gedoen het. Met groot liefde vir MY sal hy saam met MY rondloop en nooit sal hy sy handjie uit MYNE haal nie, omdat hy dan sal weet wie sy Jahshua is. Saam met julle sal hy dan die geloofstryd ingaan en julle aanspoor om nie moed te verloor nie en hy sal julle met MY liefde aanspoor om nie te val en MY te verloën nie. Die bose sal hom niks kan doen nie en in die aangesig van groot gevaar, sal hy menige mense uit die kloue van die bose red. MY kinders, daardie kindjie sal vir julle net ‘n voorbeeld wees van wat julle almal sal kan doen as julle net julle geloof en vertroue in MY alleen stel. Wees nie bang nie, want die bose kan julle siele nie van MY ontruk nie en julle sal net julle aardse liggame verloor, maar julle siele sal voortleef in die grootste vreugde saam met MY. En saam met MY sal julle aan die bruilofstafel sit en elke een wat vir MY gesterf het, sal die bruilofskleed aanhê. Dit is oneindig meer werd as om aan ‘n liggaam vas te klou wat tog ook moet vergaan, al is dit nie aan die hande van die bose nie. Elke mens moet eendag tot sy einde kom, sodat die liggaam kan ontbind en die sieledeeltjies daarin uit kan kom. So moet julle dan nie vasklou aan ‘n verganklike liggaam nie, omdat julle siele sal voortleef in die grootste geluk denkbaar, terwyl elke liggaam van elke mens, goed of sleg, eendag tog vergaan. Gee liewer jou liggaam, siel en gees aan MY oor, sodat EK dit vir julle sterk kan maak, en jy die stryd kan ingaan en nie sterwe nie. Daar sal baie wees wat op die nuwe aarde sal kom en daardie mense sal nie liggaamlik sterwe nie, maar daar sal ook baie wees wat wel vir MY sterf en wat dit sal doen met al die liefde in sy/haar hart vir MY. Elke een sal ryklik beloon word, of jy nou gesterf het vir MY en of jy nou op die nuwe aarde kom. Daar is geen verskil by MY nie, want dit sal net MY krag alleen wees wat julle tot op die einde dra. MY kinders, as julle weet wat EK vir julle berei het, sal julle niks vrees nie en die stryd tegemoet hardloop, maar eers moet julle aanhou waak en bid, sodat die bose nie ‘n oorhand oor jou kan hê nie. Lê alle bande met die wêreld af en julle sal Een word met MY, sodat julle die stryd kan stry en nie sal val nie. Nadat EK opgevaar het na die hemel, het al MY dissipels (behalwe Judas natuurlik) Een met MY geword en kon alles doen in MY Naam. Daarom kon hulle ook alles voor die tyd weet en het nie omgegee hoe hulle te sterwe kom nie. Elke een het dan ook al lank voor die tyd geweet wanneer sy sterwensuur aan sal breek en het hulle ook nie daarteen verset nie, omdat hulle bly was om na MY terug te keer. Daarom moet julle alles in die stryd werp om Een met MY te word sodat julle alles kan deursien en niks vrees nie. Wanneer jy Een met MY is, sal die bose niks aan jou kan doen nie, behalwe wanneer jy jouself in hulle hande oorgee soos wat EK MYSELF oorgegee het op die regte tyd om gekruisig te word. Wanneer die regte tyd vir jou ook sal aanbreek, sal jy jou nie verset as hulle kom om jou dood te maak nie en met vreugde sal jy dan vir MY sterf en by MY opgeneem word. Dit sal die grootste vreugde denkbaar vir jou wees en jy sal bly wees dat die stryd nou finaal verby is. Al hierdie dinge klink vir julle nou baie swaar en vreemd op die oor, maar as jy MY kom vra, sal EK dit ook in jou hart verstaanbaar maak en jou só versterk sodat jy ook die dinge sal kan dra sonder om te val.
MY kinders, hou net moed omdat EK die hele tyd by julle is en een van die dae in die vlees na julle sal kom en julle sal leer. Na die stryd in julle land verby is, sal EK julle almal vergader by MY pilaar en julle sal dan deur MY persoonlik geleer word en die een sal die ander nie leer deur te sê dat hy MY moet ken nie. EK sal in elke een se hart wees en elke een sal MY persoonlik ken. Elke een sal dan MY Stem in alle duidelikheid kan hoor en EK sal julle almal Een met MY maak, sodat julle die geloofstryd met krag en mag kan ingaan. Dit is ‘n belofte aan julle almal wat MY liefhet en MY soek en nie een belofte van MY sal EK nalaat om te doen nie. Aan almal wat EK so sal dra, omdat julle MY in julle harte gedra het, sal EK kom en julle sal MY ken. Dra MY daarom nou al in jou hart, sodat EK na jou kan kom.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205