OP GOLGOTA - DEEL 2
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 20

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

Hoofstuk 20
13 Jan.2008 07:56
Weet julle wat dit beteken as EK vir julle sê om heeltemal Een met MY te word? Baie van julle dink dat julle weet, maar julle het nie eintlik regtig ‘n benul nie. MY kinders, wanneer julle Een met MY word, beteken dit dat jy MY in die kleine op die aarde voorstel. Jy is dan ‘n klein “God” wat hier rondgaan en wonderwerke verrig. Julle almal sal kan raai wat sal gebeur as Ek in MY persoon hier sou rondloop en die groot moondhede sou aanvat, nê? Nie een van die moondhede sou kon staande bly nie en Ek sou in een oomblik die hele wêreld kon regeer. Nou, dit is wat ook met julle sal gebeur wanneer julle Een met MY word. Oral waar julle gaan, sal julle die mag in julle hande hê. Maar daar is ‘n verskil daarin om die mag te hê en alles en almal aan jou voete te hê en om Een te wees met MY, waarin jy ook die mag in jou hande sal hê. Die verskil lê daarin dat, as jy die mag in jou hande het en jy kan maak en breek soos wat jy wil en mense dwing om te doen wat jy wil, dit nie uit MY is nie. EK laat elke een sy vrye wil toe, sodat elke een vrywillig na MY kan kom en MY dien. My kinders, julle moenie die mag begeer en wat dit aan jou kan doen nie. Dit is nie uit MY uit nie. Die mag wat jy moet begeer, is om Een met MY te word en dan mag oor die bose te kan hê, maar elke mens vry te laat, sodat hy MY uit sy eie kan dien of nie. Dit moet ‘n begeerte in jou hart wees om mense na My te lei en sodoende hulle siele te red en nie oor hulle te regeer nie. Die regering oor mense is nie uit MY uit nie en moet daarom uit julle binneste weggewerp word, as dit daar is. Moenie oor almal wil regeer nie, omdat die een wat wil regeer, ‘n slegte gees in hom het en dan laaste sal wees wanneer EK wel iemand kies om te regeer oor ‘n land of ‘n groep mense. EK kies gewoonlik die nederigste van hart daarvoor en die een wat nie wil regeer nie, sal die leier wees. Strewe daarna om Een met MY te wees, sodat jy ander kan help en nie vir die mag wat jy daardeur kan verkry nie. Om Een met MY te word, beteken dat jy al jou eie gedagtes en jou eie wil in MY Hande oorgegee het en dan net doen wat Ek wil hê jy moet doen. Dit klink nou weer vir julle asof EK heerssugtig is, maar dit is nie so nie. EK, as die Almagtige, wat alles ken en deurvors, weet wat die beste is om te doen, omdat EK alle mense se harte ken en presies weet wat nodig is om daardie persoon se siel te red. Julle weet nie, en sal daarom dalk met die swaard inklim, terwyl jy in alle sagmoedigheid moes gaan. Of wanneer Ek sê, ‘bly stil’, sal julle aanhou praat en die persoon hier voor jou die skrik op die lyf jaag. MY kinders, alles gaan net daarom om die mense se siele van die bose te bevry. Wanneer jy mense van die bose bevry, sal hulle outomaties na MY keer en MY oorgrote liefde aan hulle sien. Dit is dan waarom julle Een met MY moet word en julleself moet kruisig, omdat julle nie alles weet soos wat party van julle dink nie. EK alleen weet alles en sal daarom aan julle ook alles gee, sodat julle MY siele uit die bose se kloue kan red. Dit is die rede dat EK julle so aanspoor om Een met MY te word, sodat julle ander kan red voor die geloofstryd hier is en ook tydens die geloofstryd. Met MY sal julle alles kan doen, maar uit julleself niks. Gee jouself oor aan MY reiniging en jy sal baie gou Een met MY word. Soek MY aangesig op en hou jou uit die wêreldse dinge uit en jy sal baie gou met MY verenig word.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205