OP GOLGOTA - DEEL 2
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 23

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

Hoofstuk 23
15 Jan.2008 07:20
EK Jahshua, het elke mens wat EK geskape het, lief en daar is nie by MY iets soos haat nie. EK haat wel die goddelose dade, en alles wat verkeerd is, is ‘n gruwel voor MY oë, maar EK haat nie die mens wat die sondes doen nie. Daar heers ‘n verkeerde begrip by MY kinders en dit is dat hulle maar almal wat goddelose dinge doen, kan haat. Dit is heeltemal verkeerd en doen nie reg aan jou siel nie. MY kinders, ban alle haat uit julle harte uit omdat dit julle verbitterd maak en dit dan duisternis tot gevolg het wat net jóu eie siel skaad. Wanneer iemand verkeerde dinge doen, is daar baie redes daarvoor en julle het nie ‘n benul van wat verkeerd geloop het in iemand se lewe nie. Julle kan nie sommer net iemand haat omdat hy iets doen wat in julle oë verkeerd is en teen MY gebooie ingaan nie. Dink aan My kruisiging. Die mense wat MY gekruisig het, was almal deur bose geeste beset gewees en daarom het hulle ‘n welbehae daarin gehad om MY te martel. Die mens “agter” die bose gees het na MY gekom en is daarna gered, nadat die bose geeste uit hulle verwyder is. Sou EK ook die mense gehaat het wat MY gekruisig het, dan sou hulle almal in die hel beland het sonder dat EK red, maar nou is hulle almal by MY en EK hét hulle gered. Daar was nie nog iemand wat meer berou in sy hart gehad het soos daardie manne wat MY gekruisig het nie. Julle kan vir julleself indink hoe hulle moes gevoel het, toe hulle van die bose geeste gereinig is. Hulle het voor MY gekruip en gevra dat EK hulle nog erger dinge moes aandoen as wat hulle MY aangedoen het. MY kinders, die berou in hulle harte het MY hart so verteder dat EK elke een van hulle aan MY bors vasgedruk het en hulle vergewe het. Kan iemand dit oor sy hart kry om iemand wat om vergewing vra, dood te maak, as hy nie self ‘n duiwel is nie? EK kan nie mense wat MY om vergewing kom vra, verdelg nie en sal dit ook nie doen nie en daarom sê EK aan julle dat julle nie mense moet veroordeel en hulle haat nie. Wees lief vir alle mense van julle eie volk en dra hulle eerder in gebed aan MY op as wat julle klippe na hulle gooi en hulle doodwens, omdat hulle ongeregtigheid beoefen. Wees eerder liefdevol teenoor mense wat jou sleg behandel en jy sal hulle vir MY wen. Elke mens doen sonde voor MY en as EK julle almal moes straf vir elke dingetjie wat julle doen, sal daar niemand in MY koninkryk wees nie, omdat net die regverdiges van hart daar sal inkom. Wie is regverdig uit sy eie uit? Niemand, en dit is net MY bloed wat julle reinig en daarom moet julle nie klippe gooi en mense veroordeel nie, omdat MY bloed almal wat wil, skoon kan was. Dra hulle in julle harte aan MY op en EK sal by hulle inwerk, sodat hulle ook na MY sal kom. Al is dit nou eers oor ‘n paar jaar. Julle wat My Woord ken en julleself regverdig noem, behoort dit te weet en dit moes eintlik nie vir MY nodig gewees het om dit eers weer aan julle te noem nie, maar omdat EK dit sien tussen MY mense, moes EK dit weer aan julle sê. EK maak alle mense skoon en selfs die grootste sondaar kan deur MY gereinig word om tot ‘n ware voorbeeld vir julle elkeen te dien. EK verloor nooit moed nie en sal almal weer ‘n kans gee, en dit is dan nou ook die rede vir MY nuwe openbaringe aan julle, omdat die einde van tye dan ook aangebreek het en julle nie meer lank het om aan julleself te werk nie. MY kinders, julle almal wil deur MY gered word en daarom moet julle wat julle wil hê EK aan julle moet doen, ook vir ‘n ander gun. Onthou hierdie les wat eintlik onnodig moes wees, baie goed!
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205