OP GOLGOTA - DEEL 2
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 30

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

Hoofstuk 30
18 Jan.2008 16:00
Julle wat MY volkie is, sal met nuwe oë na alles kyk, nadat EK julle almal Een met MY gemaak het. Daardie dag sal julle juig soos geen volk op aarde nog ooit gejuig het nie en EK sal by julle vertoef en julle almal sal MY sien. Julle almal verlang na MY en EK weet wie na My soek tussen hierdie wêreldsee van mense en daarom sal EK net na die kom wat My soek, al is dit net ‘n vae verlange waarvan jy self nie eers bewus is nie. Dit klink nou vir julle snaaks dat iemand nie bewus kan wees van sy eie verlange nie, maar dit is die waarheid en julle sal dit almal ervaar. Daar is tans baie mense wat MY liefhet - nog nie bo alles nie - maar wat wel ‘n liefde vir MY het in sy binneste. Na daardie mense gaan EK kom en natuurlik na die wat MY bewustelik liefhet en erg na MY soek. EK het nog nooit iemand wat na MY roep in die diepte van sy hart, versaak of verlaat nie. Julle het almal dinge nodig wat julle verdeemoedig en julle nuwe mense maak. Daardie slae van die lewe bring die beste in julle uit en maak dat julle gereinig voor My kom staan. Tydens daardie slae van die lewe het baie MY al aangeroep en EK het hulle geantwoord op wonderbaarlike wyses. Baie was nie bewus van MY antwoorde nie, maar het gedink dat hulle die probleem self opgelos het. Dit is EK wat die oplossing vir elke probleem bring en kan daarom met reg sê dat EK SELF julle uitgered het van al julle moeilikhede as julle MY daarvoor gevra het. Daar is baie mense in julle land wat na MY soek in hierdie donker tyd waarin julle erg verdruk en vertrap word en EK verhoor julle gebede, al voel dit vir baie van julle dat EK MY ore vir julle geslote hou. MY tyd is nie julle tyd nie en daarom wil EK net vir julle sê dat EK wel julle gebede hoor en julle sal MY verlossing sien, maar op My tyd. Daar is nog ‘n paar mense wat MY moet leer ken voor die groot stryd begin en dán sal Ek met vuur op julle teenstanders neerkom. Maar wees gerus, dit sal nie meer lank duur nie, dan sal EK in al MY Mag kom en julle verdrukkers die nekslag toedien. Dit sal vir julle verlossing bring, maar ook sal elkeen dan leer om MY bo alles te vertrou en dit sal julle louter sodat Ek na die stryd na julle kan kom en Een met julle word. Julle sal My dan in die vlees kan sien en EK sal tussen julle rondloop, daar waar Ek julle gaan vergader. MY kneg sal julle bymekaarmaak en julle gereed maak vir die slag en daarna sal julle elkeen MY stem self kan hoor. Terwyl die hel in al sy duisternis om julle losbars, sal baie van julle alreeds MY stem kan hoor en daar sal net enkeles wees wat MY nog nie kan hoor nie, maar wat baie ernstig daarna soek. Dit sal vir hulle ook gereken word as wins, wanneer hulle op die slagveld in ‘n verknorsing beland, waaruit EK hulle dan dadelik sal red. Daartydens sal EK hulle binneste oopmaak en hulle sal MY in alle helderheid kan hoor. MY kinders, hier kom groot dinge vir julle en baie van My mense leef in groot opgewondenheid en afwagting, maar die van julle wat nog vrees, moet dadelik na MY kom en julle harte leeg maak voor MY, sodat EK julle kan vul met nuwe krag en julle die stryd tegemoet sal gaan met durf en daad. Dit is alles beloftes van My wat nagekom sal word, aangesien EK nooit beloftes maak wat EK verbreek nie. My belofte aan elkeen wat hier lees en dit glo, is dat julle elkeen My Stem sal hoor en herken. Julle sal elkeen MY in die vlees sien en Ek sal julle elkeen versterk vir die groot geloofstryd wat ‘n paar jaar na die stryd in julle land verby is, sal kom. Julle sal nooit weer die knie voor die bose en afgodiese buig nie en sal MY alleen dien en julle kinders sal van MY geleer word en hulle sal hulle weg na MY vind op ‘n baie jeugdige ouderdom. Dit sê EK, die Enigste Almagtige van hemel en aarde. Salig is die wat MY woorde hoor en dit onwrikbaar glo.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205