DIE VERBORGENHEID
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 18

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

Hoofstuk 18
30 Jan.2008 07:01
Noudat julle weet dat EK al julle probleme sal oplos as julle na MY kom, wil EK nog ‘n verborgenheid vir julle oopmaak. Julle almal glo dat daar net een hemel en een hel is, né. Die meeste van julle weet nie van beter nie, omdat julle nog nie MY werke, gebring deur MY skryfknegte van die verlede, gelees het waarin EK al die dinge verduidelik het nie. MY liefste kinders, daar is nie net een hemel en een hel soos wat julle glo nie. Daar is ook nie ‘n letterlike kloof tussen die twee nie. EK het dit in MY Alwysheid goed geag om verskillende ryke in te rig vir almal wat hulle lewe op aarde aflê en wie verder as net die aardse liggaam moet gaan. Julle almal wat hier lees, moet een of ander tyd julle liggame aflê en dan sal jou lewe op aarde bepaal in watter gebied jy te lande kom. Met die afsterwe van ‘n liggaam en wanneer die siel wakker word aan die anderkant, sal daar oombliklik twee of dalk drie engele na daardie persoon gestuur word en aan hom vra of hy sy lewe wil verbeter. As hy positief antwoord, sal daar aan hom ook ‘n keuse gestel word of hy wil werk vir wat hy wil bereik. As hy dan weer positief antwoord, sal hy dan na ‘n plek gebring word waar dit ooreenstem met sy siel en hy sal dan in daardie ryksgebied moet werksaam wees, sodat hy kan geestelik groei. As die siel van die gestorwe persoon nie positief antwoord nadat daar herhaaldelik aan hom/haar gevra is of hy/sy wil verbeter nie, sal die siel dan ook na ‘n plek gebring word wat ooreenstem met die slegte dinge in die siel. Hy sal dan self sy weg moet gaan en MY engele sal hulle dan van hom/haar onttrek. Daardie persoon het dan ‘n vêr en moeilike pad om te stap en sal nie maklik by MY uitkom nie, omdat niemand sonder MY hulp by MY uitkom nie. EK sal die wat om hulp vra, nooit los en aan hulle eie lot oorlaat nie, maar as hulle eers eenmaal MY hulp van die hand gewys het en dan van opinie verander, sal hulle baie lank moet wag voordat EK weer MY helpende hand van liefde na hulle sal uitsteek. Die wat egter MY hulp oombliklik aanneem, sal dan ook oombliklik gehelp word en sal na ‘n plek geneem word wat met hulle sielsrypheid ooreenstem. Daar sal hulle hulleself kan opwerk na ‘n beter toestand en sodoende hulleself verbeter tot hulle in werksame liefde kan oorgaan en hulle naaste dien. As iemand oorgegaan het in dienende naasteliefde, sal daardie persoon dan ook na ‘n nog beter plek geneem word om so die weg tot by MY te kan vind. Daar is baie verskillende ryksgebiede en die sondaars wat nie vergifnis wil hê nie, sal almal volgens die sonde van hulle hart in dieselfde plek opgeneem word. Byvoorbeeld almal wat hulleself aan die sonde van die wellus oorgegee het, sal in die gebied van die wellus beland en daar sal hulle vertoef, totdat hulle van ‘n beter wil word. Dit is nie ‘n lekker plek om te wees nie, maar niemand sal daar in vuur en hitte omkom nie. Hulle sal dan net stadig maar seker in die vlees begin verrot en al hoe erger word met elke sonde wat hulle daar begaan. Die sonde sal gewoonlik te doen hê met die vleeslike wellus en hulle sal later so gewalg wees met hulleself, dat hulle om hulp roep en sodoende sal hulle dan deur die hulp van MY engele, na ‘n beter plek gebring word waar hulle hulle weg na MY kan oopbaan in die hiernamaals. Julle sien wat voor oë is, maar EK sien wat in die hart aangaan en soos wat jou hart binne-in lyk, so lyk jou siel in die hiernamaals en daarom sal jy niks vir niemand daar kan verberg nie. Julle sal almal eendag kan sien wat die persoon voor jou gedoen het, as daardie persoon nie om vergifnis kom vra het nie. EK sê dat liefde alles verberg en dit is so, maar net vir die mense wat in liefde lewe. Die wat in wellus of enige ander sonde gedy het, sal dan ook lyk soos wat hulle op aarde in hulle harte was. Kom, EK gee julle ‘n voorbeeld. Daar kom ‘n man na MY en EK is hom genadig. Hy sal nie ‘n gebrek in die hiernamaals hê nie en sal soos ‘n gewone normale siel daaruit sien. Maar daar kom iemand wat sy hele lewe net op die jag van vrouens uit was en nooit genoeg van die vroulike liggaam kon kry nie. Hy sal soos ‘n verrottende lyk lyk en sal ook ‘n doodstank afgee waarin jy skaars kan bly leef. Hy sal nie soos ‘n normale mens kan lyk nie en almal sal kan sien dat hy ‘n wellustige in die vlees was. Dan sal daar aan hom ‘n keuse gemaak word of hy wil verbeter al dan nie. Kies hy die verbetering, sal hy na ‘n plek geneem word waar hy ‘n kans tot verbetering kan kry, maar as hy nie wil nie, sal hy saam met al die ander soortgelykes in die ryk van die wellustelinge bly en daar sal hulle hulleself heeltemal uitbrand, totdat daar van hulle vlees niks meer oor is nie. Dit klink nou vir julle snaaks dat EK van vlees praat, terwyl die persoon dan nie meer ‘n vleeslike liggaam het nie, maar die siel se vlees stel die liefde voor en wanneer die siel so lyk, het hy al sy liefde opgebruik en daarom word daar ook in die Bybel gesê dat die wat hoereer, hom aan sy eie liggaam vergryp. MY kinders, noudat julle weet wat EK bedoel met die siel wat niks kan wegsteek nie, moet julle julle dan ook kom laat reinig deur MY, julle Vader en julle sal niks hê om te probeer wegsteek in die hiernamaals nie, omdat daar dan niks onrein in julle sal wees nie. Bly by MY en EK sal al jou sondes uitwis en jy sal silwerskoon voor MY wees en wanneer jou tyd kom om van jou aardse liggaam af te sien, sal jy dan ook die regte keuses maak wanneer MY engel na jou sal kom en jou vra waar jy heen wil gaan. Kom dadelik na MY en jy sal nie spyt wees nie. Die wat hulle alreeds aan MY gegee het, voordat hulle te sterwe kom, sal dan ook dadelik, sonder dat daar aan hulle gevra word, na MY gebring word, omdat hulle MY in hulle harte begeer het voor die liggaamlike dood. Kies MY en jy sal altyd die beste keuse gemaak het.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205