DIE VERBORGENHEID
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 4

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

Hoofstuk4
23 Jan.2008 06:53
Nog ‘n groot verborgenheid wat EK aan julle bekend wil maak, is die verborgenheid van die groot woestyngedeeltes van die aarde. Julle weet dat daar baie woestyne op die aardoppervlakte is en EK het al aan julle gesê dat die woestynareas die liefdeloosheid voorstel. Maar daar is nog iets anders waarvan julle nie bewus is nie en dit is dat dit ook die geestelike afsterwing van die liggaam voorstel. Terwyl EK in die woestyn was, het Satan MY herhaaldelike kere besoek en hy het MY probeer verlei om die verkeerde ding te doen. EK het honger gehad en hy wou MY oortuig om die klippe in brood te verander en sodoende weer in te gee vir MY liggaam se drange. EK het sonder besittings daar rondgedwaal en het niks by MY gehad nie, terwyl EK ook behoefte gehad het aan ‘n plek om MY moeë hoof neer te lê. Satan het MY probeer oortuig om MY liggaam te behaag deur MY al die aardse dinge aan te bied wat in daardie dae beskikbaar was. MY kinders, julle sal ook deur sulke tye gaan en dan is julle in die woestyn van die selfverloëning. Probeer om julle liggame af te sterf terwyl jy nog in die vlees is en moenie ingee vir die behoeftes van die vlees nie. Daarmee wil EK nie sê dat julle nou niks meer moet eet en drink, of dat julle nie meer mag slaap nie. Nee, dit is maar net ‘n paar dinge wat EK opnoem aan julle. Die van julle wat ernstig is om julle liggame te kruisig, sal deur MY gehelp word terwyl julle in die woestyn van die lewe ronddwaal. MY kinders, bly in die liefde, wat MY groen gras is, terwyl julle in die woestyn verkeer wat julle liggame betref. Laat alle drange en begeertes agterweë en volg MY. EK het Satan in die woestyn oorwin en kon daar uitgaan en MY werk begin as die Verlosser van MY volk. Sodra julle deur die woestyn gegaan het, sal julle ook julle volk kan bystaan en hulle help deur MY GEES wat oor julle vaardig geword het. Maar eers moet julle leer om nie die liggaam soveel te behaag nie. Drink water, MY kinders, waarom moet julle die lekkerste koeldranke hê? Wat is fout met ‘n stukkie brood wat in eenvoud geëet word? Móet julle die lekkerste kos hê om te eet? Nee, die liggaam raak net daardeur bederf en wil dan niks meer van die eenvoud weet nie. Ook moet julle na julle huise oplet en nie altyd die beste wil hê nie. ’n Stoel is ‘n stoel en julle moenie altyd die sagste kussings uitsoek nie. Wanneer julle julle liggame heeltemal so gekruisig het, sal julle Een met MY kan word en EK sal julle bystaan en julle sal dan geen begeerte meer hê vir aardse dinge nie. Dink maar aan jouself, julle wat al ‘n ent gevorder het met jou geestelike lewe, hoe was jy nie in die verlede nie? Baie van julle wat hier lees, wou net die beste gehad het en noudat julle MY woord aanvaar het, het julle baie van die dinge afgesterf en verlang nie meer daarna nie. In die tyd wat kom, sal julle dit baie swaar hê, omdat daar dan nie meer van die geriewe sal wees wat julle nou het nie en julle sal dan ook in ‘n woestyn verkeer wat julle land se ekonomie en álles betref. Dan sal daar nie meer ‘n supermark wees waarna julle gou kan gaan vir ‘n brood of ‘n lekker stuk vleis nie. Daarom wil EK julle nou al help, deurdat EK julle aanbeveel om julle liggame af te sterf, sodat julle nie swaar sal kry in die toekoms nie. Maar dit is nie die belangrikste nie. Die belangrikste is dat julle julle liggame wíl afsterf, sodat julle met MY GEES vervul kan raak. MY GEES sal julle alles gee wat julle nodig het en soos wat EK in die woestyn kon oorleef vir veertig dae aaneen, so sal julle ook kan oorleef sonder kos of water vir ‘n onbepaalde tyd. EK sal julle voed en julle aan die lewe hou sonder dat julle eers honger of dors sal word. Terwyl EK aan die kruis gehang het, het EK ook in die woestyn verkeer, omdat EK nie MY liggaam bo MY kinders se siele gestel het nie en daarom kon EK MY roeping vervul. Sterf nou ook julle liggame af, sodat julle vir julle broeders kan ly en julle almal gereinig voor MY kan wees en wanneer EK jou dan met MY GEES vervul en jy heeltemal Een met MY is, sal jy dan ook kan uitgaan en jou broers en susters van die dood verlos, soos wat EK MY kinders daar uit die diepte van die hel gaan uithaal het. EK sal julle dan in die wêreld instuur en julle sal dan julle broers en susters daar gaan uithaal. Maar voordat julle dit kan doen en ‘n werklike verskil in iemand se lewe maak, moet julle eers julle liggame aflê in die woestyn en EK sal jou ‘n nuwe mens maak, met MY krag vervul, en wat alles kan sien en deurvors. Dit sê EK aan julle - betree die woestyn van selfverloëning en selfoorwinning en jy sal met MY Een word.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205