HOE STERK IS JOU GELOOF?
BERTUS HANEKOM

Hoofstuk 9

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30.

Hoofstuk 9
Julle moet weet dat julle verlos is.
25 Januarie 2008 om 10h30
Julle is nie in die proses om verlos te word nie. Julle gaan nie in die verre toekoms verlos word nie. As jy wedergebore is, is jy nou verlos. Voordat jy dit nie diep binne in jou hart as ‘n feit, as ‘n werklikheid besef nie (dat jy verlos is nie) sal jy nooit sterk geloof hê nie. Ja, jy sal nooit in staat wees om op die vleuels van sterk geloof op te styg en vlieg nie. As jy kan leer verstaan, as jy kan besef dat jy verlos is, dat Ek, Messias, jou vrygemaak het, hoef jy nie vry te word nie; jy hoef niemand te vra om jou vry te maak nie; jy is vry in My. Dan is jy besig om ‘n sterk geloof te verkry. As jy vry is in My, Messias, sal daardie vryheid vloei na elke aspek of gebied van jou lewe. Jy sal vind dat as jy dit eenmaal besef en nie net daaroor filosofeer nie, sal niemand, nee niemand nie, jou gebonde kan hou nie. Ek wat julle verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van My Liefde, in wie julle die verlossing het deur Sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes. Let daarop dat Ek julle bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel.
Die vraag is: Is jy ‘n deelgenoot? As jy nie ‘n deelgenoot van die erfdeel van die heiliges is nie, dan mis jy die seën en jy geniet nie jou voorregte nie. Jy woon in die kelderverdieping terwyl jy op die boonste verdieping moet woon. Ek wil jou op die boonste verdieping hê en as jy nie daar woon nie, is dit jou eie skuld. Ek, Elohim het jou reeds verlos. Ek, jou hemelse Vader sien dat jy gelukkig is daaroor. Ek praat van nou, ja, hierdie oomblik. Laat julle weer na die Skrif kyk. Let op, Ek sê: “... wat julle verlos het uit die mag van die duisternis.” Die Skrif sê dat Ek lig is, dan is die teenoorgestelde van My, duisternis, nie waar nie? Daarom, as daar gesê word dat julle verlos is van die mag (gesag) van die duisternis, dan beteken dit dat julle verlos is van dit wat teen My is. Die duisternis het geen regsbevoegdheid om julle in bande te hou nie.
Baie dinge bestaan in julle lewens as gelowiges, net omdat julle dit toelaat om te bestaan. Die duisternis is Satan se koninkryk. “Want julle worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste van die lug.” Hierdie vers sê vir julle baie duidelik dat die vyand nie vlees en bloed is nie.
My Woord is vir ewig gevestig in die hemel, daarom kan dit nie misluk nie.
Julle is vry!
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205