NATUURGEHEIME
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 2

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7.

Deel 2
DIE BERG
8 Jan 2008 11:00
Ek is weer saam met Jahshua by die groen grasbankie en HY sê dat ek saam met HOM bergop moet gaan. Die berg is agter die bankie en ek was nie eers bewus van ‘n berg agter ons nie. Ons stap al hoe hoër en hoër en die plantegroei verander sover as wat Ons gaan. Die plantegroei is dig tot op ‘n sekere punt en dan begin die bome verder uitmekaar te staan en dit lyk meer soos ‘n bos as ‘n oerwoud. Later staan die bome ook verder uitmekaar en daar is meer gras en kleiner struike. Ons klim nog hoër en daar is later net gras en groterige klippe. Toe ons naby die top kom, is daar net kleinerige grassoorte en rotse. Heel bo-op die top waar Ons gaan staan groei daar amper niks en daar is kranse. Jahshua vra my hoe ek voel en ek sê dat ek lekker voel in my hart en voel om nader aan HOM te staan. Ek wil hê dat HY my moet optel en vashou en voel ‘n verlange na HOM. Ek voel vrolik en vry en wil in SY arms staan. Die lug is baie vars en koel maar nie koud nie. Alles voel so skoon en ek voel lus om diep in te asem. HY tel my op en sê dat ek moet kom tik wat HY vir my gewys het.
 
Vader dikteer:
Gaan die berge op as julle na MY soek en julle sal MY vinniger vind. Daar waar die koel winde waai is dit suiwer en skoon en MY Gees sweef vry daar rond. Weliswaar is EK oral, maar daar waar dit so hoog is, swerf daar vrye Geeste rond wat vrede in ‘n mens se gemoed bring. Daarom voel jy vry en vrolik en het jy ‘n verlange na MY. Die doel daarmee is om jou siel te stig en jou nader aan MY te bring en daarom is dit goed vir julle om so af en toe ‘n hoë berg uit te klim. MY kinders, daar waar julle alleen met MY kan wees, is die beste plek om jou siel met MY te verbind en jy sal baie versterk daardeur voel. Gaan sit alleen op ‘n rots en oordink alles en jy sal MY in jou binneste vind. Daar sal jou binneste vernuwe word en jy sal vind dat jou innerlike die hele tyd na MY smag en na Iets diepers verlang. Dit is dan ook die doel met die klim van ‘n hoë berg en jy sal vind dat jy nader aan MY voel, of dat jou soeke na MY sterker word. Daar waar dit stil en rustig is, sal jy MY beter kan vind, omdat die wêreld met sy lawaai agtergebly het. Op ‘n hoë berg sal dit ook vir jou voel of jou siel meer diepte vind en jy sal nie lus hê vir ligsinnighede nie. Dit is dan ook die diepere werk van die goeie geeste wat daar besig is. Daardie geeste het die werk om die berge te onderhou en dit is nie so ‘n maklike werkie as wat julle dink nie. Terwyl die aarde voortdraai om haar as, moet die geeste die magnetisme van die berge reguleer omdat daar baie magnetisme ontstaan as gevolg van die wenteling van die aarde. Om julle is daar baie faktore wat daartoe bydra dat julle hier op die aarde kan bly of nie. As daar niemand is wat die magnetisme kon reguleer nie, sou julle almal op die berge vasgesit het omdat die magnetisme van die aarde daar die ergste is. Daardie berggeeste is ook verantwoordelik vir die regulering van die suurstof op aarde en sorg dat dit eweredig versprei word terwyl die aarde in die ronde draai. Die berge is dan ook baie suurstofryk, al word die suurstof minder soos wat jy opgaan. Dit is omdat die suurstofdeeltjies net verder uitmekaar is dat dit voel of jy nie genoeg kan inasem nie. Gee jouself oor aan die werking van die bergeeste wat ook deur MY daar gesit is om te help met die onderhoud van die aarde en hulle sal goeie influisteringe doen sodat jou hart vol van MY lof raak. Is dit nie ook ‘n goeie metode om MY te vind nie? Gaan in die stilte van die natuur en verkieslik op ‘n berg en jy sal nader aan MY voel en ‘n diepe verlange om nog nader aan MY te kom sal van jou posvat. Daar is baie dinge in die natuur wat vir julle nog heel vreemd is, al lewe julle al etlike jare op die aardbodem, maar net omdat julle nie daarvan bewus is nie, maak dit nie verkeerd nie. EK sal julle lei en julle sal baie meer oor julle moederaarde te wete kom as wat nou die geval is. MY kinders, die wêreldse wetenskaplike dink dat hy alles weet en dat daar niks is wat jy hom kan vertel nie, maar hulle kennis is tot die basiese beperk en net EK kan vir julle die deure oopsluit. Kom skaar julle by MY en EK sal julle in die wyshede inlei waar niemand nog ooit was nie, selfs nie eers die beste mikroskoop kan aan julle al die dinge bekendmaak wat EK julle sal wys nie.
Amen.
 
9 Jan. 2008 6:00
Ek en Jahshua sit op die berg en HY vra my wat ek om my sien. Skielik sit ons nie meer op die berg nie, maar op die bodem van die see. HY vra my hoe ek die see om my ervaar. Dit is redelik kalm daaronder en Ons gaan ‘n bietjie op. Daar is ‘n seestroom en jy kan nie eintlik op een plek bly nie. Daar is ‘n seestroom wat alles saamsleep, maar dit is nie so erg nie. Hoe hoër ons gaan, hoe meer onstuimiger raak die water. Later is ons heel bo en soos ‘n drenkeling sukkel ek om kop bo water te hou. Nog later is ek in ‘n skippie wat bo-op die onstuimige water dryf en die skippie word heen en weer op die deinings van die see gegooi. Jahshua wys my die strand wat naby is en ek sien dat daar baie vasmeerplekkies is wat net groot genoeg is vir ‘n skippie om daar te kom vasmeer. HY wys my een plekkie en sê dat dit my vasmeerplek is. Langs my is daar nog baie en die een reg langs my is my man s’n. Elke mens wat sy weg na Jahshua maak, het daar ‘n spesiale vasmeerplek en ek kan myne tussen baie ander uitken, al lyk hulle almal dieselfde. Jahshua sê vir my dat hoe dieper jy in die aardse rykdom versink is, hoe minder voel jy die storms van die lewe, maar jy kom nooit op die strand nie. HY wag vir ons op die strand, al is HY die hele tyd ook hier by ons.
 
Vader dikteer:
Julle almal wat julle weg na MY probeer vind, is soos skippies op die see wat ‘n vasmeerplekkie soek op die strand. Die see van die lewe is baie woes vir julle wat nie deel wil wees van die wêreldsee van aardse dinge nie. Julle dryf bo-op dit en word wild heen en weer geslaan deur die woeste golwe van armoede of enige ander slag wat die aardse wêreld julle toedien, maar julle almal sal veilig by die strand van MY liefde uitkom en vasmeer op die spesiale plekkie vir jou uitgehou deur MY, jou Vader, waar EK jou inwag om jou styf teen MY boesem vas te druk. Moenie dat die wilde water jou onderkry nie. As jy alreeds in ‘n skippie op die water dryf, sal jy by MY uitkom, maak nie saak of die branders woes hier om jou slaan nie. EK sal jou veilig laat vasmeer hier aan MY hemelse kus. Maar al wat jy moet doen om hier uit te kom, is om MY die hele tyd aan te roep en lief te kry en EK sal jou nooit aan jou lot oorlaat nie. Maak jou weg na MY en jy sal veilig deur al die storms van die see vaar tot in MY Vaderarms.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205