NATUURGEHEIME
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 5

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7.

Deel 5
DIE MAMMOET
12 Jan. 2008 06:36
EK sien ‘n groot dier aangestap kom en ken hom uit as ‘n mammoet. Ek het al prente van die dier gesien, maar het nie geweet dat hy só enorm was nie. Hy stap tot by Ons en hy tel Ons met sy slurp tot op sy rug. Sover as wat hy loop, maak hy stof agter hom. Ek sien in die pad voor hom dat die grond klipperig is, maar as hy verby gegaan het, is die grond fyn poeier. Sy hare is baie grof en sy vel is dik. Sy mis val in die fyn grond agter ons en daar kom bossies en plante op. Jahshua staan weer op die grond met my in SY arms en die mammoet loop voor Ons verby. Die dier is enorm en kan bo-oor jou loop terwyl jy tussen sy bene staan sonder om aan jou te raak. Sy bene is baie vêr uitmekaar.
 
Jahshua dikteer:
Die mammoet is ook deur MY geskep om die aardbodem meer bewoonbaar te maak vir die mens. In daardie jare was die grond baie, baie hard en op baie gebiede kon daar niks groei nie, weens die hardheid van die grond. Deurdat die mammoet net oor die grond beweeg het, het hy die klippe heeltemal fyn getrap, sodat daar plante kon groei en hulle wortels kon anker in die grond. EK het die mammoet so geskape dat hy ‘n baie hoë intelligensie gehad het en kon ook deur iemand makgemaak word, sou daar iemand gewees het wat dit kon doen. Dit was noodsaaklik dat daardie diere op die aarde moes wees, omdat hulle die aarde bewerk en beplant het op die manier wat hulle rondgegaan het. Hulle het beweeg van plek tot plek waar hulle oor rowwe terrein gegaan het en dan die rowwe terrein omskep het in vrugbare grond. Dit was dan die rede vir hulle bestaan. Maar nadat daardie werkie ook gedoen is, het EK hulle almal laat uitsterf, sodat hulle plek kon maak vir kleiner spesies wat die aarde kon bewoon. MY kinders, die olifant wat julle vandag ken, is die nageslag van die ou mammoet en is ook ‘n baie intelligente dier. Terwyl die mammoet die aardbodem moes bewerk, is dit die plig van die olifant om dit in stand te hou en ook die plantegroei te beheer. Maar ‘n olifant kan baie skade aanrig, omdat hulle op klein gebiede ingehou word en nie meer die vrye toegang het tot enige plek in die natuur nie. ‘n Olifant kan ook getem word om vir die mens belangrike werk te verrig, maar die olifant het ‘n meer wispelturige geaardheid as wat die mammoet gehad het. Met sy groot tande het hy die aardbodem omgekrap, sodat die grond beter deurlug was en dan kon daar ook begin plante groei omdat die wortels van die plante beter groei in grond wat losgemaak is, as in harde grond. Die dier het nie oor die hele aardoppervlak voorgekom nie, omdat daar baie ander gebiede was waar die grond al goed voorberei was vir plante. Maar in My groot skeppingsplan het hulle ook ‘n plekkie gehad en moes ook deel van die aardbodem en haar diereryk uitmaak. Die mammoet was ‘n spesie op sy eie en het nie verwante gehad wat soos hy gelyk het nie. Nadat die mammoete uitgesterf het, het die olifant sy plek ingeneem en doen ook ‘n belangrike werk op die aarde. My kinders, julle sal dink dat elke dier maar net daar is vir die beliggaming van die sieledeeltjies, maar in MY ryk het elke dier ook baie belangrike werk wat hy vir die aarde en die mens moet doen. So doen die olifant die werk op die aarde wat die swaarste genoem kan word. In die natuur is daar sekere plante wat nie deur enige ander dier gevreet word, behalwe deur die olifant nie en daardie plante is dan ook afhanklik vir die olifant wat hulle deur sy mis vrugbaar maak sodat die saad kan ontkiem. Die saad wat dan so deur die olifant se spysverteringstelsel gegaan het, sal dan ook vinnig ontkiem en ook ‘n groot plant word. As dit nie vir die olifant was nie, sou die plant nie verder kon voortplant nie, aangesien die verteringsappe die katalisator is vir die ontkieming van die saad. So het EK vir elke dier ‘n spesifieke doel gegee en as hy daarmee klaar is, sal hy dan ook uitsterf. Die mammoet het sy doel op aarde bereik en kon uitsterf, sodat daar ander in sy plek kon kom. Ook sou die mammoet nie die temperature van die aardbodem, wat as gevolg van globale verwarming plaasvind, kon hanteer nie. Dit is alles in MY skeppingsplan saamgevat en alle diere kom uit MY Hand en keer weer daarheen terug.
Amen
 

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205