DIE VERBORGENHEID VAN JAHWEH
FRANCOIS FOURIE

Hoofstuk 11

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17.

Hoofstuk 11
2008.02.07
Die dinge wat met julle gebeur, is dikwels wreed en onaangenaam vir julle en dan wonder julle of Ek julle nou verlaat het, of wat die rede is dat julle so alleen voel. Ek, My kinders, weet waarom dit so gaan met julle en verseker julle dat Ek nie een tree van julle af weg is nie. Ek onttrek My net in die gevoel van My nabyheid in jou en dan voel dit asof Ek jou heeltemal verlaat het. Ek wil julle leer hoe Ek met julle werk en waarom sulke dinge met julle gebeur. Partykeer gebeur dit so dat iemand geweldig siek word en pyne ervaar, of net bloot eenvoudig ‘n verskriklike pyn in die bors of skouers. Ek is besig om julle, My volk, rein te maak en wanneer so ‘n reiniging van die bose deeltjies in so ‘n persoon plaasvind, word dit meestal in pyn en siekte ervaar. In party mense meer as in ander, omdat nie almal eweveel onsuiwerhede in homself bevat nie. Die eindproduk egter, is baie beter en dit is net te danke aan My genade en erbarming om so ‘n siel te bevry van sy sondigheid en boosheid wat hy homself mee volgemaak het deur sy lewe op aarde. Ek reinig die wat Ek liefhet en doen dit ook vir ‘n spesifieke doel in sy lewe, ter wille van hom, sowel as die ander om hom. Kyk, Ek is rein en geen onreinheid kan voor My bestaan nie. In My ryk kan geen onreinheid ingaan nie en daarom maak Ek die skoon wat van goeie wil is en My regtig soek in die diepte van hul harte. Dit word dalk nie self deur hulle aan My gevra nie, maar Ek kan sien en hoor in die diepte van die siel wat tot My roep, al is dit nie willekeurig deur die persoon self nie, maar diep binne hom waar hy/sy nie eers kan hoor nie. Ek hoor dus die sagste fluistering na My en antwoord dit ook altyd. Die wat wil rein word, sal rein gemaak word deur My, maar dit kos eers die selfverloëning en wil om rein te word. Dan kan Ek met My mag en liefde daardie persoon aanraak en reinig. Die onreinheid in so ‘n persoon belet hom op baie dinge in My ryk, sonder hy of sy dit agterkom. Ek sal My kinders almal rein maak, Ek sal My volk suiwer en die wat hardkoppig is, sal ook gesuiwer word, maar hard mee gewerk word deur My. Nou praat Ek nog deur My koel windjie van liefde en barmhartigheid, maar as die tyd van genade uitgeloop het, sal almal gesuiwer word soos deur ‘n smeltkroes heen. Die onreinheid word dan weggebrand en as jy al meer een geword het met jou boosheid, sal jy dalk heeltemal vergaan. Dit is ‘n harde proses, maar vloei steeds voort uit My Vaderliefde vir julle, My kinders. Luister nou na My en doen soos Ek sê. Gehoorsaam My as Ek met julle werk en moenie hoogmoedig wees en teen die reiniging skop nie, want dan sal dit moeilik met jou gaan en verbeur jy ook baie dinge wat jy van My sou erf as jy maar net wou luister. Amen, My kindertjies, neem My lesse ter harte en julle sal lewe in die grootste saligheid, Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205