DIE OPSTANDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 14

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20.

Hoofstuk 14
15 Feb.2008 07:32
Julle almal wat MY Naam bely voor die mense wat julle daarvoor haat, sal die beloning kry vir dit wat julle vir MY gedoen het. Ter wille van MY het baie al gely en dit is hulle tot groot loon gegee en hulle sal dit weer ‘n keer vir MY doen, as EK hulle sou toelaat.
Baie van julle wat nou hier lees, was dan ook al vantevore hier op aarde in dieselfde posisie as wat julle nou is, maar omdat daar nog baie siele is wat nog gered moet word en dit die aarde aan baie lig ontbreek, het julle met MY ‘n ooreenkoms aangegaan om weer na hierdie duistere aarde terug te keer, sodat julle MY siele kon kom help, wat so vasgevang in die boosheid sit. Baie mense sit vasgevang in hulle bose werke en weet nie eers dat dit boos nie. Hulle dink dit is maar die verloop van die lewe. Jy kan mos nie alles uit jou lewe uitsny nie, of hoe? Wat sal jy dan kan doen as jy nie meer mag televisie kyk of musiek luister nie. En wat van die kinders? Watse plesier sal hulle dan hê as jy alles van hulle af wegvat? Dit is die kwelpunte van baie mense en met woede kyk hulle na die wat hulle kinders uit die moderne skole uithaal, sodat hulle My kan leer ken. Dit is die grootste fout wat julle in hulle oë kan maak en as jy jou eie lewe volgens MY wil rig, is jy ‘n regte bloukous. EK sien dit alles raak en weet dat hulle die fout begaan en nie julle wat MY wil gehoorsaam nie. Kom laat EK julle vertel wat met julle kinders sal gebeur. Julle kinders sal deur MY opgeneem word en EKSELF sal hulle leer. EK sal hulle die waarheid ongeveinsd leer en hulle sal gawes van MY ontvang wat geen skool hulle kan gee nie. EK sal hulle, engele van kleins af maak, en hulle sal MY ken. EK sal hulle Een met MY maak op ‘n baie jong ouderdom en hulle sal alles kan deursien en deurvors soos wat niemand anders, behalwe EK hulle kan leer nie. En die grootste van alles is dat hulle die ewige lewe van MY sal beërf en dit is die grootste geskenk wat enige iemand kan verkry. Waarom wil julle dan julle kinders van die wêreld leer, wat hulle tog niks in die sak inbring nie. Miskien wen hulle in die aardse opsig, maar sal die aardse en al sy toekennings nie ook vergaan nie? Wat is meer, die kennis van die aardse dinge, of die kennis van MY en MY dinge? Wat gaan jou kind die beste baat? Sy kennis van die ekonomie en wiskunde, of die kennis van sy Skepper en daarmee ook die wysheid en die liefde wat daarmee saamgaan? Wanneer jy jou kind van die verganklike leer, sal hy net vasgevang raak in die net, gespan vir MY kinders, en hy sal kwalik daaruit kan kom, behalwe deur MY hulp en deur baie gebed van julle kant af. Daarom moet julle nie ag slaan op die kennis wat die wêreld so aanblaas nie en nie bekommerd wees as jou kind nog nie kan lees as hy 5 is nie. Ek sal julle wel wys wat julle hulle moet leer wat die aardse betref. EK sê nie dat ‘n kind ongeletterd moet wees nie en EK sal julle aansê om hulle te leer om te lees, maar op die ouderdom wat EK vir julle aandui. MY opvoeding sal hulle siele heel eerste ontwikkel, maar die opvoeding van die wêreld is net ingestel om hulle verstande te ontwikkel en daarmee sal hulle nie vêr kom in MY ryk nie. Die wat slim is op aarde en die aardse toekennings inryg, sal uiters dom wees in die hiernamaals, omdat die taal wat daar gepraat word, net geestelik is. Die taal van die wêreld is egter fisies van aard en die mens wat nie geleer het om geestelik te kommunikeer met MY nie, sal soos ‘n domme daar anderkant sit en sal soos ‘n klein kindjie eers moet leer om te praat. Daarom maan EK julle om MY kinders eers van MY te leer, en om die klem op MY en MY ryk te lê, sodat EK hulle in mense kan omskep wat MY bo alles liefhet. Iemand wat MY bo alles liefhet, is dan ook in staat om Een met MY te word en sal daardeur alle kennis van alles besit en sal dan ‘n kind wat al baie jare op skool is, met alles kan oortref, omdat EK alles in hom/ haar is en EK alles ken en weet. EK sê vir julle dat die aardse kennis en begrippe niks werd is en dat julle MY eerste moet kom soek en EK sal aan julle wys hoe om julle kinders te leer. Die vermoeiende studie bederf die geestelike ontwikkeling en daardie persoon sal dan baie blind wees vir MY dinge. Leer MY heel eerste aan julle kinders, en hulle sal alles hê terwyl die topstudent van die wêreld niks sal hê nie, behalwe verganklike sertifikate en dalk baie geld wat tot niks uitloop. EK alleen is alles.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205