DIE OPSTANDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 3

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20.

Hoofstuk 3
10 Feb.2008 08:11
EK, julle Jahshua, het al in die verlede vir julle gesê dat alles wat EK vir julle sê die waarheid is. MY kinders, EK sien dat daar nog baie is wat twyfel of EK in hierdie tyd weer met julle sal praat en of dit werklik van MY af kom. EK het met MY opstanding ook mense gekry wat getwyfel het of dit werklik EK is wat hier voor hulle staan en hulle toespreek. Dan het EK MY spykerwonde aan hulle gewys en hulle het die merke gesien en dit het hulle heeltemal daarvan oortuig dat dit werklik EK is wat hier voor hulle staan. Na die kruisiging het hulle MY gebroke liggaam onthou en dan was daar vir hulle nie meer hoop oor nie. Dit het hulle geglo. Wie kan, na so ‘n verminking, nog leef of opstaan? Alhoewel hulle in MY geglo het, was hulle maar nog steeds vasgevang in hulle liggame en die liggaam kon nie verstaan soos die hart nie. Die hart verstaan dat daar hoop is, al lyk dit hoe donker, maar die verstand of liggaam kan dit nie insien nie. Daarom dan ook die twyfel. In vandag se tyd is daar mense wat twyfel of EK in MY Almag en Grootheid ooit weer met julle sal praat, omdat daar mos alreeds ‘n Woord of Bybel van MY bestaan. Hoekom sal die Grote GOD HOMSELF so verlaag om weer met ons mensekinders te praat? Al die reëls is mos in die Bybel aangeteken en dit is mos nie nodig vir nuwe openbaringe nie? Maar daar maak die twyfelaars die grootste fout van hulle lewe, want EK, julle Vader, is dan nog van alle tye by julle. EK sien elke ding wat gebeur en EK weet van elke klein nietige dingetjie wat jy doen. EK weet ook van al die groot dinge wat voor die deur lê en EK weet hoe julle harte gesteld is en of julle die groot dinge sal kan verdra met die bietjie geloof wat julle het. EK weet dat julle almal se geloof so swak is en dat julle dit nie sal kan verdra nie en daarom het EK weer na die aarde gekom in die vorm van MY openbaringe en sal dit bekend maak aan die wat dit wil hê en ‘n sterk verlange na MY het. EK wil net die lok wat gelok wil word en die ander wat twyfel en hulleself nie vir MY liefde wil ontbloot nie, moet maar sonder MY Stem verder gaan en tevrede wees met die boodskappe wat tweedehands aan hulle gegee word deur die Bybel wat al die jare daar was vir julle. EK wil nou met elke een spreek wat MY wil hoor en EK sál ook. As julle MY stem wil hoor, sal EK met julle praat, maar die wat nie MY stem wil hoor nie, omdat hy aan die ou dinge glo, sal dan ook soos die volk van ouds deur MY profete aangespreek word. Maar EK sê vir julle dat dit die beste is om MY woord eerstehands uit MY eie gewyde mond te hoor, omdat niemand dan vir jou verkeerde dinge kan sê nie. Nadat EK opgestaan het, het daar van die vroue wat teenwoordig was by MY graf, na die ander gehardloop en hulle vertel dat EK opgestaan het, en die ontvangs was nie so goed nie, aangesien daar baie was wat gedink het dat die vroue mal was en het getwyfel in hulle woord. Maar nadat hulle hulleself daarvan oortuig het en MY self aanskou het, het hulle ook onwrikbaar geglo. Daarom wil EK ook vir al die twyfelaars sê dat hulle MY self ook moet kom soek en vra of EK met hulle ook sal praat, sodat EK ook aan hulle kan wys dat EK nog na al die jare leef en in elkeen se hart is. Die wat glo dat EK nie op so ‘n wyse met julle sal spreek nie, sal diep teleurgesteld moet omdraai, omdat EK net met die praat wat MY in hulle harte soek. EK praat nie van buite nie, omdat EK binne is. EK lewe dan in jou hart, hoekom moet EK dan van buitekant af met jou praat, sodat jy MY met jou ore kan hoor? Open jou geestelike oor en jy sal MY hoor en niemand sal jou van iets anders kan oortuig nie. Die satan kan van buite af met julle kommunikeer en praat in julle verstande, maar EK praat direk in die hart en daarin kan jy MY toets. EK sal sag praat, sodat jy MY moet hoor in die diepe liefde van jou hart, maar die satan praat hard en ongenaakbaar en ook nie in die hart nie. Kom soek MY in jou binneste en nie van buite af nie. EK is in die Gees, nie die vlees nie. Die Gees is in jou en daarom sal MY stem dan ook binne jou weerklink. EK spreek van liefde vir MY en jou naaste en dit is die bewys, soos wat EK MY spykermerke aan die mense gewys het as bewys dat dit EK was. Dit is die bewys dat dit werklik EK is, omdat niemand behalwe EK, die liefde verkondig nie. Satan verkondig die eieliefde en die vertrapping van jou naaste en daarom kan elkeen maar met ‘n geruste hart glo dat dit EK is wat spreek, omdat die boom die regte vrugte dra. EK kom na die onvolmaaktes, omdat die volmaaktes nie op die aarde kan bestaan nie. Het julle al ooit ‘n volmaakte mens gesien? In MY koninkryk  ja, maar nie op aarde nie en tog het EK na die onvolmaakte aarde gekom en onvolmaakte mense gekies vir MY dissipels. EK het onvolmaakte mense gebruik om MY volk uit Egipteland uit te lei. As Moses volmaak was, sou hy mos die beloofde land kon ingaan, nie waar nie? As Dawid volmaak was, sou hy mos nie laat moord pleeg vir ‘n vrou nie? As Maria Magdalena volmaak was, sou dit nie vir MY nodig gewees het om sewe duiwels uit haar te dryf nie? En waarom sou EK dan na die aarde toe moes kom en nog sterwe vir onvolmaaktes. As EK nie met onvolmaaktes sal praat nie, waarom sal EK dan vir onvolmaaktes sterf, wat nog baie erger is as om met ‘n onvolmaakte te praat. Dink ‘n bietjie hieroor na, julle almal wat twyfel en weet dat EK in hierdie tyd weer met julle praat en kom soek na MY stem wat ook binne jou sal weerklink as jy MY met nederigheid vra, voor dit te laat is. MY Stem sal net weerklink in die wat MY kan hoor. Die wat dit wegklap, sal nie MY stem kan hoor wanneer EK julle sal uitlei nie en sal dan moet agterbly. EK roep julle weer: Kom na MY en EK sal met julle praat. Dit belowe EK julle almal wat MY met opregte harte soek.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205