Boek 9 - Die wederkoms van Christus
BERTHA DUDDE

Hoofstuk 6

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22.

DIE WOEDE VAN SATAN AAN DIE EINDTYD. DIE AFVAL VAN DIE GELOOF
B.D.3958 - 20 Januarie 1947
Die getal van die ongelowiges sal in die eindtyd groter word en dreig om die klein skare van die gelowiges te bederf. Met die afvalligheid van die geloof tree die woede van Satan ook meer en meer op die voorgrond, die mense sal die laaste verantwoordelikheidsgevoel teenoor `n regverdige Regter verloor, omdat hulle nie meer in Hom sal glo nie. Juis daarom openbaar Hy Hom so duidelik om die geloof van diegene wat Syne is te versterk, sodat hulle nie wankel by die aanskoue van die goddeloosheid van die ongelowiges en hulle wêreldse welslae nie.
Hy wil egter ook vir hulle nog die moontlikheid gee om te besin en ontferm Hom daarom oor diegene wat Syne is, so ooglopend, dat ook `n ongelowige mens God se krag sal kan herken sodat hy die geloof wat hy verloor het, kan terugwen as hy net `n klein bietjie probeer. Want God sal tekens gee en wonders doen deur Sy werktuie op aarde.
Skynbaar sal Sy dienaars op aarde die buitengewone volbring, maar dit is God self wat Hom deur hulle openbaar. Hy openbaar Homself en vertoef selfs sigbaar onder diegene wat Syne is as teken dat die einde naby is. Maar Hy word slegs deur hulle herken wat Hom van ganser harte liefhet en Sy gebooie onderhou. Alleen deur hulle wat hulleself tot liefde gevorm het en besonder aktief is in hulle werk vir Sy ryk. In hulle sal ook `n ongewone krag te sien wees, omdat God self Sy intrek in hulle harte neem, en daarom vervul Sy liefdeskrag hulle.
Die ongelowiges kan hulle van hierdie krag oortuig. Hulle sal moet toegee dat `n Hoër Mag aan die werk is, indien hulle slegs wil nadink oor die ongewone verskynsels wat die laaste tyd voor die einde sal meebring. Maar die meeste is al te wêrelds ingestel en daarom let hulle nie daarop nie. Ja hulle verag en vervolg die gelowiges en bring hulle daardeur in sware nood en verdrukking, waarin slegs die duidelike Hulp van God hulle steun en stand laat hou.
Want die werke van God onder Syne, sal so duidelik wees dat hulle hulleself vas aanmekaar bind, en teen alle aanvalle van die wêreld weerstand bied. En vaster as ooit sal hulle geloof wees, waardeur hulle hulleself heeltemal aan God se leiding oorgee, sodat hulle nóg aardse nood - nóg die dood vrees, en daarom ook alles makliker sal verdra wat in die tyd van die einde op hulle sal afstorm.
By wie God Homself eenmaal geopenbaar het, daar het God se teenstander geen vastrapplek meer nie, want sy geloof is nie meer wankelrig nie.
God sal diegene wat Syne is, náby wees soos wat Hy dit beloof het. Hy sal hulle troos en krag gee, Hy sal diegene wat Syne is, onderrig gee oor Sy spoedige koms en hulle wegneming in die vooruitsig stel. Hy sal hulle tot groter liefdadigheid aanspoor, want Sy geestelike teenwoordigheid sal die mense met liefde en krag tot Hom en tot sy medemens vervul. In die eindtyd sal die duidelike werksaamheid van God noodsaaklik wees, want ook dit sal bydra tot die skeiding van die geeste. Wie nog lou en besluiteloos is, kan dan beslis tot watter kamp hulle wil behoort, want daartoe word hulle nog `n laaste hupstoot gegee. Hulle kan hulleself oortuig van die krag van die geloof wat ook oor die grootste aardse nood Heer sal word en sodoende hulle houding tot God verander, dit wil sê, die korrekte instelling teenoor Hom tot stand bring.
Waar God Hom duidelik openbaar, sal vrede en hoop wees, ondanks alle ellende. En omdat die lot van die gelowiges buitengewoon swaar sal wees, sal hierdie vrede en hoop die ongelowiges verstom laat staan. Wie dan sal ag slaan op Sy woord, wie na Sy dienare op aarde sal luister, die se wil sal verander. Want elke gewillige siel sal God in Sy liefde en erbarming aanneem en Hy sal hulle help en sal hulle red van die ewige duisternis. Hy sal hulle nog swakke geloof laat herleef en hulle die krag gee om vol te hou tot die einde, totdat Hy sal kom in die wolke om die skare van Sy gelowiges na Hom toe te neem.
AMEN

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205