DIE ONTWAKING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 14

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30.

Hoofstuk 14

28 Feb.2008  07:51

EK sal julle in MY waarhede inlei en julle alle verborgenhede bekend maak sodat julle vir MY ten volle kan leef en ook julle naaste uit die put van die dood kan red. Sonder dat julle dit weet is julle almal besig met die eenwording en terwyl julle in die nag slaap, gebeur daar wonderlike dinge met julle almal wat MY liefhet en MY woord lees. Dit is die rede dat julle soms wakker word in die nag en wonder wat nou met julle gebeur het omdat julle vaagweg van iets bewus was. As jy dringend na MY soek en die Eenwording met MY probeer nastreef, sal EK in jou binneste werk en jy sal meer en meer Een met MY word tot die dag aanbreek dat EK jou heeltemal met MY GEES sal vervul. Jy sal van niks bewus wees terwyl jy geestelik meer Een met MY word nie, maar EK sal jou saggies met MY verenig. Maar as die dag aangebreek het waarop jy MY in MY volle glorie moet en kan ontvang, sal EK nie saggies kom nie. EK sal jou ‘n paar dae voor die tyd deur ‘n kwaai beproewing vat en jou deur die donkerste put lei sodat jy kan voel hoe dit vir MY was voor dat EK gevange geneem is en in die tuin van Getsemané gebid het. EK het totaal en al verlate gevoel en dit het MY innerlik met die grootste benoudheid gevul. Soveel so dat EK bloed gesweet het. EK sal julle nie verlaat soos wat Ek verlate van MY liefde was nie, maar julle sal so voel en in trane en sak en as verkeer vir ‘n ruk. MY kinders, dit is nie wreed van MY nie, maar EK moet dit so doen sodat EK die laaste bietjie teenstand kan verbreek en julle ten volle met MY GEES kan vervul. Die een wat EK so vervul het met MY GEES, sal dan ‘n totale gedaanteverwisseling ondergaan en hy sal dan heeltemal anders daar uitsien. EK sal hom nie fisies ‘n ander beeld gee nie, maar die mense wat hom ken, sal weet dat daar iets anders met hom gebeur het. Hy/ sy sal dan van My oorloop en almal sal MY in hom of haar kan sien en die ou mens nie meer sien nie. Dit belowe EK vir julle almal wat na die Eenwording met MY streef. Julle sal almal dit op aarde beleef en die wonderwerke wat Ek vir julle belowe, sal dan plaasvind. Julle sal dit self kan doen, maar met MY GEES wat julle so vervul het. EK het julle lief en belowe dit vir julle omdat dit regtig gaan gebeur en dit is tans besig om met van MY knegte te gebeur. EK is besig om MY GEES oor baie van julle uit te stort en julle is nie eers daarvan bewus nie, maar as die dag aanbreek, sal julle dit weet en julle sal die dag met ope arms tegemoet hardloop. As die dag aanbreek dat EK jou met MY GEES sal vervul, sal jy dit weet en  bly wees daaroor. Voor die tyd aanbreek en jy deur die diepste van duisternis moet gaan, sal jy bewus word van ‘n drukkende gevoel in jou borskas en jy sal ‘n benoude gevoel ondervind wat jy aan iets geesteliks moet toeskryf. Dit sal dan vir jou die aanduiding wees van MY teenwoordigheid en jy sal weet dat die totale Eenwording met MY op hande is. MY seuns en MY dogters, vrees nie daardie oomblik nie, al lyk dit vir julle vreesaanjaend en angswekkend, omdat dit net iets is wat jy vinning sal moet deurgaan en nie iets blywends is nie. Die oomblik dat dit verby is, sal jy MY kruisiging meer waardeer en jy sal met ander oë na alles kyk. Dan sal jy net moet wag op MY instruksies en EK sal jou dan sê hoe en waar jy jou heen moet haas sodat jy alleen kan wees, sodat EK MY GEES in jou binneste in kan “loslaat”. MY GEES is kragtig en julle sal dit nie kan hanteer wanneer EK sommer net uit die bloute MY GEES in jou binneste laat werk nie en daarom moet julle eers deur stadige prosesse gaan en julleself reinig om MY te kan bevat in MY volle glorie. MY liefling kinders, julle sal almal dit deurmaak en EK wil hê dat julle daarna moet streef en nie vrees vir die benoude oomblik wat gaan aanbreek nie, want dit is baie nodig vir jou om MY in MY volheid te kan bevat. MY dissipels is daardeur toe EK gekruisig is en toe EK na drie dae opstaan, is hulle almal deur die diepste hel saam met MY op ‘n ander manier. Die groot hartseer en pyn wat hulle moes deurmaak, het hulle geskik gemaak om MY GEES in MY volheid te kon bevat en daarom kon EK hulle dan ook met MY GEES vervul en kon hulle alles doen wat EK hulle voor die tyd belowe het. Dit is vir julle ook beskore, as julle net bereid sal wees om deur die diep hel te stap vir My, en die benoudheid te trotseer wat EK vir elkeen wat met MY wil Een word bring. Die siel is ‘n komplekse wese en sal daarom vir julle baie moeilik wees om te verstaan en daarom sal EK nie nou vir julle alles verduidelik wat met julle gaan gebeur nie, maar die eindresultaat sal vir elkeen die moeite werd wees en julle sal MY in MY volheid kan aanskou die heletyd deur. EK sal julle nooit verlaat nie, en dit moet julle onthou as julle in daardie doodsangs verkeer. Dink dan aan MY kruisiging en weet dan wat EK vir julle deurgemaak het. EK het alles vir julle opgegee en dit vra EK van julle ook om alles vir MY op te gee. Gee dit op want dit wat Ek vir julle sal terug gee, sal alles oortref  en met nuwe moed en ywer sal julle MY dan dien soos wat EK dit wil hê. Kyk na MY en onthou hoe EK gelyk het nadat EK opgestaan het uit die dood. EK was ten volle verheerlik, al was MY liggaam sigbaar en tasbaar vir almal. EK het nie meer ‘n liggaam gehad wat sterflik was nie en dit beloof EK ook vir julle. Maar die liggaam wat julle sal behou nadat julle Een met MY geword het, sal nog steeds sieledeeltjies kan bevat en sal dit ook hê sodat jy op aarde nog MY werk kan verrig, maar die liggaam sal anders wees as voorheen en dit sal julle nie kan bemerk aan iemand wat Een is met MY nie. Hy sal nog dieselfde lyk en voel, maar anders wees. Onsterflik, maar wanneer dit vir die mense moet lyk of hy sterf, sal dit dan ook so gebeur. Met MY kneg Johannes sal dit dan ook so wees want aan die einde van tye sal hulle hom doodmaak en op die straat los en dit sal vir hulle voorkom asof hy dood daar lê. Maar dit sal net vir die skyn wees en hulle sal dit nie verstaan nie en sy liggaam sal dan na drie dae weer opstaan en lewendig word. Dit sal die mense in ‘n baie benarde situasie los en hulle sal nie kan verstaan wat gebeur het nie. Hoe kan iemand wat al drie dae dood is, weer opstaan? Hulle sal dink dat hulle hom oorwin het, maar intussentyd kan hy nie meer doodgaan nie. Hy sal vir ewig leef en dit beloof EK ook vir julle almal wat Een met MY geword het. Gaan deur die donker put vir My en jy sal aan die anderkant uitkom, springlewendig en vol nuwe lewe en liefde wat nooit sal ophou nie, sodat jy jou broers en susters in die verderf kan gaan haal met MY krag alleen.

Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205