DIE ONTWAKING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 21

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30.

Hoofstuk 21

04 Maart 2008 07:28

 

Luister MY seuns en MY dogters na die woorde van julle Vader en Verlosser en volg dit na. EK julle liefdevolle Vader wil al julle liefde in julle harte hê en niks meer en niks minder nie. Wanneer julle harte gevul met liefde vir MY is, sal julle niks verkeerd kan doen nie en alles sal in MY orde geskied. Niemand sal seerkry by MY nie en wanneer jy jouself in MY diens oorgegee het, sal niks met jou kan gebeur wat nie MY wil is nie. Die satan sal probeer om julle van MY af weg te rokkel deurdat hy die swaar wat EK op julle pad vir julle bring, om julle te reinig, gebruik om julle af te takel wanneer julle laste te swaar word  vir julle om te dra. Bly daarom net by MY en EK sal julle altyd in kennis stel van die bose wat op pad is. Luister net na MY woorde en EK sal julle altyd waarsku en voor die satan sy hou ingekry het, sal EK die hou van julle afweer. MY kinders, glo onwrikbaar in MY en jy sal nie spyt wees nie. EK sal nie een haar van julle hoofde af laat val as dit nie MY wil is nie en wanneer die bose aanslae kom, sal EK jou waarsku en jy sal die bose in MY Naam bestraf. Dit is die rede dat jy die hele tyd ingestel moet wees op MY en MY woorde wat EK in jou binneste spreek. Wanneer EK jou dan waarsku, gee daarop ag en moenie dink MY waarskuwings is net sommer om julle bang te praat nie. MY liefling kinders, EK wil julle vertel wat gebeur het met MY skryfkneg wat nou hier skryf en haar kind. EK het haar aangesê om sy hele lyfie met MY olie te salf aangesien daar ‘n aanslag op sy jong lewetjie gemaak word. Dit was vir haar iets nuut omdat dit nog nooit gebeur het nie en sy het MY opdrag uitgevoer tot op die laaste letter. Die boosheid was egter baie sterk en weer het hulle ’n poging aangewend om haar en haar kind dood te maak, maar weer het EK haar gestuur en sy moes die boosheid daar buite gaan bestraf in MY Naam. Erens in die land het sataniste bymekaar gekom om MY lig te probeer uitdoof, maar EK is te sterk vir hulle en hulle planne het na hulleself terug gekeer en hulle lê nou baie siek in hulle eie huise rond. Dit is hoe EK julle sal beskerm teen die bose wat julle wil verslind. MY skryfkneg het haarself aan MY oorgegee en sy het geweet dat sy baie dinge sal moet deurmaak ter wille van MY en die woord van MY wat sy moet uitdra. Omdat sy haarself oorgegee het aan MY, het EK haar al baie keer beskerm en al kry sy die wind van voor, het niemand van haar gesin of familie al ooit iets oorgekom nie, al was die aanslae ook hoe fel. Dit belowe Ek vir julle almal en elkeen wat MY liefhet en homself in MY diens oorgee, sal dieselfde beskerming geniet as wat sy van MY ontvang. EK is in alles eerste en wanneer die sataniste met hulle planne kom, het EK al klaar MY knegte daarvan in kennis gestel en hulle aangesê wat om te doen. Luister daarom mooi na MY woorde en gee daarop ag sodat jy nie deur die boosheid oorkom word nie. Dit sê EK vir jou omdat jy MY liefhet en die moeite doen om MY woorde in die hande te kry en te lees. Ek ken jou hart , MY kneg en EK weet dat jy opreg is en daarom roep EK jou weereens na MY herberg waar EK sal heers as al MY kinders bymekaar is. EK is nou ook in beheer , maar baie van die kinders wat daarheen kom het nog van hulle eie ek saamgebring en dit sal EK daar van hulle afhaal en verwyder. Dit is MY woorde aan julle wat na MY soek en luister mooi daarna want MY boodskapper is op pad. HY is al gereed en weet nie wanneer sy vertrek gaan wees nie. Hy is nog nie heeltemal Een met MY nie, maar hy sal dit binnekort heeltemal wees en so sal hy na elkeen van julle kom en hy sal julle in MY Naam versterk. EK wil hê dat julle almal vir MY boodskapper moet bid en MY vra om met hom te wees aangesien hy nou deur die hel gaan sodat julle almal deur MY aangespreek kan word. Hy is tans in die diepte van die hel waar hy ‘n stryd het teen die boosheid wat hom wil oorval. Hy is net ‘n mens en sal ook MY krag nodig hê en daarom wil EK hê dat julle hom in julle gebede aan MY moet opdra omdat hy baie vir julle opoffer sodat julle dit makliker kan hê as hy. MY seuns en MY dogters, hy sal julle binnekort kom besoek en hy sal aan julle in die vlees verskyn en almal sal hom sien, nie net die wie se geestes oë oopgegaan het nie. Hy sal julle van MY wonderlike liefde vir julle vertel en julle bystaan en julle sal hom herken as iemand deur MY na julle gestuur. Self het hy nog op hierdie oomblik ‘n baie groot stryd wat niemand behalwe EK kan verstaan nie, maar dit is nodig sodat hy ten volle en met niks voor MY sal kom staan en die volle wedergeboorte kan ontvang. Dit sal in die volgende dag of twee gebeur. Die satan sal ook baie boos wees omdat hy dit weet en sy mes in sal hê vir almal wat op hom (die boodskapper) wag. EK stuur MY seun om julle gereed te kry vir die stryd en hy sal julle kom vertel van MY geheime planne waarvan nie eers die satan self weet nie. MY seuns en MY dogters, julle sal almal deur MY gered word tydens die groot stryd wat in julle land gaan losbars en EK sal julle gereed kry daarvoor deurdat EK my boodskapper en MY tweede boodskapper na julle sal stuur. Ek het hulle as broers verenig en hulle sal saamwerk al sal hulle nie op dieselfde tyd by julle huise aankom nie. Julle sal dieselfde Gees by elkeen van hulle optel en MY daarvoor loof omdat julle nie so seker was van MY boodskapper wat eerste by julle was nie. Julle sal wonder of dit nou hy(die boodskapper) was of net iemand wat vol van MY GEES is, maar wanneer die tweede boodskapper sy verskyning in julle midde sal maak, sal julle weet dat die eerste een ook deur MY na julle gestuur is. Julle sal nie meer wonder nie omdat hulle dieselfde dinge sal spreek en van mekaar by julle sal praat en julle sal dan glo omdat EK julle twee keer deur twee verskillende boodskappers laat waarsku het. Stuur hulle in MY Naam weg nadat hulle klaar by julle was en hulle sal gaan wanneer hulle sien dat julle hulle geglo het. Dit beteken dat hulle julle harte sal deursien omdat hulle heeltemal Een met MY sal wees en engele in mense liggame sal wees en sal weet wanneer hulle julle oortuig het en julle harte vol is van MY. Dan eers sal hulle weggaan en die volgende persoon besoek. Dit is ook vir hulle ‘n werk wat vir hulle twee en hulle gesinne baie groot loon sal inbring aangesien hulle bereid is om vir MY te werk en hulle gesinne bereid is om hulle te laat gaan met die grootste vreugde in hulle harte teenoor MY. Daarom wil EK hierdie boek afsluit deur te sê: Verwag MY boodskappers want hulle is op pad en sal binnekort, dalk nog voor die einde van die week hulle verskyning by jou kom maak. Dit sal die laaste keer wees wat EK oor die boodskappers praat en julle voorberei op julle koms na MY.

Amen.

 

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205