DIE WEDERGEBOORTE
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 14

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50.

Hoofstuk 14

19 Maart  2008 07:48

 

In liefde sal julle lewe as julle eers heeltemal Een met MY geword het. Dan sal daar nooit weer bakleiery of twis wees nie omdat julle almal deur MY vervul sal wees en julle sal dan alles in julle hê wat nodig is om die wêreld om julle in ‘n hemel te kan omskep. Daar sal baie wonderlike dinge gebeur waar EK julle heen stuur en die mense na wie julle sal gaan, sal nie weet waar al die seëninge nou vandaan kom nie aangesien julle vir hulle maar net soos gewone mense sal lyk. Maar in der waarheid sal julle engele wees, vervul met MY GEES en met alle mag toegerus om die hele wêreld te verander. Maar al verskil is, dat julle nie kan handel uit julle eie uit nie, maar net deur MY wil alleen. MY kinders, as julle ten volle wedergebore is, sal julle niks uit julle eie wil doen nie omdat julle net MY wil sal doen. Daarom sal julle ‘n verskil maak in die mense se lewens na wie toe EK julle stuur. Die wat na MY nie soek nie, sal nie van julle teenwoordigheid bewus wees nie en julle sal ook nie by hulle besoek aflê nie. EK sal julle net na die stuur wat MY soek en MY liefhet. Daarom moet julle hard aan julleself werk sodat julle ander kan help. Julle sal hulle help om van die aardse bande los te kom en hulle sal dan agterkom wie julle is en MY daardeur loof. EK sal MY helpende hand uitreik en almal help wat nog op MY wag en nie so vêr gevorderd in die Gees is nie. EK sal hulle help deurdat EK julle na hulle sal stuur en hulle sal julle aanneem en gered word. Dit sal die lot van elkeen wees wat na MY soek in die tyd wat kom en wanneer daar van julle is wat wedergebore is. Die wat wedergebore is, sal dit wees tot voordeel van baie ander ook en daarom moet julle dit julle belangrikste doel op aarde maak sodat julle ander kan help. Hoe kan julle ander help as julle nie eers julleself kan help nie? Werp alles in die stryd en kom na MY sodat jy ook ander kan help deurdat jy die Eenwording met MY verkry. Wanneer jy die Eenwording met MY verkry het, sal alles vir jou sin maak en jy sal juig omdat EK jou deur so baie dinge laat gaan het voor jy die eindpunt bereik het. EK sal jou help sodat jy heeltemal Een met MY kan word en niemand sal jou dan ooit uit MY hande kan ruk nie omdat EK en jy dan Een sal wees. Wees gerus en vertrou net op MY, wat nie lank op MY sal laat wag nie. Dit voel vir julle soos eeue waarop julle moet wag, maar in der waarheid is dit nie so lank nie en stadig maar seker sal julle aan MY vasgroei. Onthou, die groeiproses is nie ‘n vinnige proses nie en daarom moet julle maar geduldig wees al lyk dit vir julle of die eindpunt nooit bereik sal word nie. MY kinders, hou net moed en vertrou op MY want EK maak nooit beloftes wat EK nie nakom nie. Glo dit nou.

Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205