LEWENSGEHEIME
GOTTFRIED MAYERHOFER -AFRIKAANS

Hoofstuk 23

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

 

Hoofstuk 22

Groei

(ontvang te Triëst, 13 September 1875)

Al geruime tyd gelede wil jy sowel die betekenis van die woord as die wesenlike van die begrip ‘groei’ aan jou vriende en susters uiteensit; maar dit ontbreek jou gou aan die stroom van gedagtes om die materie sodanig te behandel, dat dit vir jou broers tot nut kan wees.

Wel, Ek wil jou nou sowel die woord as die proses by die groei op geestelike en materiële wyse verklaar en met die verklaring weer `n bousteen toevoeg aan die groot bouwerk van geestelik insig. Mag julle hierdeur opnuut insien hoeveel daar deur julle nog nie geken word en hoeveel daar nog te belig sou wees as mens slegs afson­derlike voorvalle in die natuur sou wil beskou, by dinge wat julle belangstelling nie in die minste opwek nie, hoewel julle dit elke dag voor oë het.

Ons begin dus weer by die betekenis van die woord self, en vra eenvoudig: Wat wil ‘groei’ eintlik sê?

Groei wil sê: toeneem, en toeneem beteken: Aan die bestaande iets toevoeg, waardeur vervolgens in die materiële wêreld die voorwerp in omvang (en gewig) toeneem en in geestelike kwaliteit beter word.

Wel nou, jy sien alles om jou heen groei, en solank jy jonk is kan jy die groei of toeneem van jou eie liggaam opmerk aan jou klere; maar daardeur begryp jy tog nie die eintlike ‘groei’ nog nie, nóg om jou heen nóg in jouself. Dit interesseer jou ook weinig, omdat jy daaraan gewoond is om die bedrywigheid in die natuur elke dag voor jou te sien. En tog, as jy die hele proses sou ken wat by die groei van slegs maar een grashalm plaasvind, dan sou jy al gou sien dat daar by die groei nog baie meer agter sit as jou gewone wêreldse verstand in staat is om te begryp.

Selfs julle geleerdes kan julle nie soveel vertel oor die proses van groei, omdat ook hulle ondanks alle meganiese hulpmiddele tog die geestelike instrumentarium nie kan begryp nie, dat by die groei van ongeag welke voorwerp of wese die grondslag is. En te meer aangesien hulle by die groei of `toename' op dieselfde oomblik ook `n `afname' sou kan opmerk. Die laaste gaan mettertyd en na gelang van die lewensperiode steeds meer oorheers en bring die dood van `die materiële lewe' oftewel die verandering in iets anders teweeg.

Om julle nou `n vae voorstelling te gee van wat daar gebeur by die groei van `n voorwerp, hetsy lewende of leweloos, moet Ek julle eers nog `n vraag beantwoord, en dit lui:

"Wat dryf die voorwerp dan aan, dat dit wil en moet groei?".

Kyk, hier sal die geleerdes of natuurondersoekers direk hul antwoord klaar hê, en dit sal as volg klink: "Daar bestaan `n natuurwet, wat al die geskapenes wil vervolmaak tot hy die punt van sy hoogste ontwikkeling bereik het!"

Wel nou, met die ‘natuurwet’ mag iedereen tevrede wees as hy dit wil. Maar wie hom geestelik wil ontwikkel, wie die materie in haar geestelike geheime sou wil naspeur en ondersoek, naamlik hoe dit daar geheimsinnig in klein, vir julle onsigbare selle, vate en wesens die oergrond van die lewe - My eie Ek - in deeltjies eers geestelik en daarna liggaamlik aaneen weef, die neem met `n antwoord as ‘natuurwet’ geen genoeë nie. Want sy wetenskap sou duideliker bewyse wil sien dat Ek, die Skepper en Vader van al die geskapenes, sowel in die kleinste as in die grootste altyd dieselfde is, en dat Ek oral slegs My hoofeienskap, die liefde, werksaam laat wees. En juis vir sulke weetgierige mense, wat oral na My soek en in alles slegs My wil leer ken, vir sulke mense moet die woord weer as aansporing dien om nie op te hou om ook in die kleinste weer na My, die Grootste, te soek nie, om Hom nog beter te leer begryp en lief te hê.

Kyk, soortgelyke ondersoekers, soos Ek dit hier aandui, is op weg om ook ‘My kinders’ te word, omdat hulle as belangrikste motief vir hul soeke slegs die gedagte het: Om My, hul Vader, so noukeurig moontlik te leer ken; en vir hul sou die sluier oor `n alledaagse lewensproses maar beter opgelig kan word, sodat hul verlange gestil word en daar uit die vermoede, gevoel en ondersoeking `n geestelike sekerheid groei.

Kyk, in elke saadkorrel lê `n tot ontwikkeling drywende krag verborge. Sodra die saad nou in die korrekte omstandighede gekom het wat die ontwikkeling daarvan kan bevorder, sit die krag die saadkorrel aan tot die ontwikkeling van wat daarin gelê is en bewerkstellig en bespoedig so die omsetting in ander vate en organe, en dryf dit net solank voort tot uit die saadkorrel alles gekom het wat daarin sit en daar van sy aanvanklike bestanddele selfs niks meer oor is nie.

Daar waar die eerste begin is, naamlik in die mikroskopiese selweefsel van die saad, reageer die groot lewensbeginsel van die universum en laat die selweefsel uitgroei tot sy substansies wat, weer in verbinding gebring met ander stowwe, hom verhard en aan mekaar kleef en so die een sel om die ander vorm. En vervolgens word daarin na gelang van hul ontwikkeling weer die vorming van ander organe voorberei.

So is in die begin magnetisme en elektrisiteit as warmte ontwik­kelaars werksaam; deur die warmte ontleed hulle ander stowwe, bring dit tot ontbinding, en lê deur die ontbinding van die vreemde stowwe die basis vir die ontstaan van die eie.

Allereers is dit die geestelike aandrang - wat die hele skepping deurdring, wat My eie ‘Ek’ uitmaak en ewig oneindig net soos Ek self slegs trapsgewys wil vervolmaak en voltooi - wat die mees verfynde geestelike ‘fluïdum’ in materiële sappe vorm gee. Hierdie sappe self is egter weer slegs baie klein bolletjies wat, omsluit deur `n teer vliessie, as liggaamlike deeltjies die eerste aanvangsbegin­sels van `n ewige lewe bevat. Hierdie deeltjies word dan, namate die omsetting voortgaan, van trap tot trap kompakter en so na baie omsettinge eers sigbaar vir julle, mense, met julle instrumente.

So gaan die proses in elke ding steeds maar voort; oral brei die selweefsels hom uit, hulle gee van diegene iets af wat nie meer nodig is vir die in stand hou van die eie lewe nie en neem voortdurend nuwe substansies op, wat hul weer elke oomblik deels vir die eie en deels ten behoewe van ander lewe aangevoer word.

So materialiseer hom dit wat vir julle onsigbaar, nie te voel en nie te weeg is tot `n vaste massa, word skynbaar vloeibaar, deur die warmte tot werksaamheid aangesit, verdig hom dan geleidelik ook weer na die behoefte aan samehang, hetsy vir korter of langer duurte, tot daar weer `n ander trap bereik is, waarop die eerste selle plek moet maak vir ander meer komplekse selle.

So is die proses wat onophoudelik in die hele geeste - en kosmiese wêreld gelykmatig plaasvind, die vernaamste stimulator vir al die geskapenes om dit na sy doel te lei. En so is dit die aandrang - julle noem dit ‘groei’, - maar Ek daarenteen ‘geestelik lewe’ - wat temidde van dit wat skynbaar star is die ewige geestelike denkbeeld van `n seënende Skepper en Vader vaslê en so die ketting vorm, vanaf die eerste gedagte of die eerste denkbeeld wat as bestanddeel van My ‘Ek’ ontstaan het en dat die ewigheid, die onverwoesbaarheid en die oneindigheid in hom dra. Daarmee bewys dit vóór alles dat selfs in die harde klip, net soos in die grootste geestelike engel dieselfde mag, dieselfde beginsel heers wat in die materie die gelyke by die gelyke bring, en ook in die geestesryk dieselfde grondbeginsel huldig om alles gelyk te maak, sodat uit alles wat materieel geskape is die geestelik verwante ontstaan, en van daaraf steeds weer verder voorwaarts kan gaan en suiwerder, verfynder, hoër en mooier sy Grondlegger nader, weer vervolmaak die doel kan bereik van waaruit dit miljoene jare voorheen as `n afsonderlike ligstraal die wye ruimtes van die skepping ingestuur word.

Kyk, julle afgestompte skepsels in wie die kiem van `n oneindigheid lê, kyk, elke dag gaan die son as draagster van lewe bokant julle hoofde op en bring julle lewe, lig en warmte, maar julle loop daaronder onverskillig rond. Niemand bedink selfs maar een oomblik wat `n ligstraal, wanneer dit op julle aardkors val, daar teweeg bring nie. Niemand begryp hoeveel goddelike lewenskrag, geestelike materiaal daar is in slegs één ligstraal wat vanaf `n afstand van miljoene myle teen die atmosferiese omhulling van `n ander hemelliggaam gestuur word, van daaraf weerkaats, weer julle bereik nie. Dit laat hier chemiese verbindinge ontstaan, versprei lewe en spoor alles tot werksaamheid aan, sodat elke ding aan sy doel beantwoord en sodat die gedy, die groei, die toeneem sy beslag kry soos Ek dit in My oneindige liefde bedink het en al sedert lank tevore bestem het.

So `n ligstraal, wat nou aan die son geleen is deur `n ander son, is ook nie die eiendom van die tweede son nie, maar word ewe-eens aan die ander nog groter hemelliggame gegee; en so gaan die uitwisseling dan voort tot by die grense van die materiële wêreld. Daartoe moes eers die hooffaktor van al die lewe net soveel veranderinge op die geestelike vlak ondergaan wat hom by die binnegaan in die materiële lewe nog te wagte staan.

Die straal van geestelike lig gaan van My uit, deurdring die hele geesteswêreld, versadig dit, bring haar tot lewe en vervolmaak dit, en gaan vervolgens die materiële wêreld in, van son tot son, van planeet tot planeet, van komeet tot komeet, en bring oral deur ontbinding en verandering weer nuwe lewe voort. Ten slotte materialiseer die lewe tot skynbaar dooie klip in die inwendige van die hemelliggame om hul eie massa te vervolmaak, en styg daar deur ontbinding langsamerhand verfynd weer op langs die hele leer van vegetasie, dierewêreld en menslike geslag, totdat die periode van verandering op hoë leeftyd haar materie loslaat en waar dan geestelik eers nog vervolmaak word wat in die materie nie losgemaak kan word nie.

So neem die grashalm uit die aarde in hom op wat die son deur haar lig en haar warmte vir hom daarin klaarmaak; so ontwikkel hy hom, groei en gaan hy sy bestemming tegemoet, om dan die elemente en voedingsstowwe te bevat wat vir ander organismes geskik is.

So vind daar in sy wortels, wat voortgekom het uit die eerste saad, die vernaamste proses plaas wat hom dan in `n dubbele strewe manifesteer: `n opsuig van onderaf en `n insuig van bo-af.

So staan `n grashalm, vir miljoene mense `n onbeduidende ding, tussen twee wêrelde: tussen die wêreld van sy aardkors waarop hy groei, en `n wêreld vol geestelike invloede, wat van ver komend in hom moet aanvul wat van onderaf slegs nie moontlik is nie. So groei die grashalm, so groei elke geskape ding, elke dier en elke mens!

En wat julle hier in die materiële sien, dit is dieselfde in die geestelike individueel in elke afsonderlike lewe; die geestelike lewe van elke dier is in die eerste plek bestem vir sy eie ontwikkeling, maar vervolgens vir die vorming van ander lewens. Verder en verder, van trap na trap verbind die ontwikkelinge van die gees, die geestesvermoëns hom steeds voortskrydend met mekaar tot dit hom in die mens, die ander geestelike bestemming, nog meer laat geld, omdat aan hom ook die middele gegee is wat aan alle ander skepsels maar karig gegee word: Die middele om hom mondeling te uiter, waarby die een die ander met goed geartikuleerde woorde kan sê wat vir `n indruk die omgewende natuur op hom maak, en welke indrukke en gevoelens hom roer in sy innerlike.

Taal, wat hom uiter, is nietemin nog beperk; want daar bestaan nog ander maniere om hom te uiter, wat baie beter en makliker as julle aardse woordetaal by magte is om dit tot uitdrukking te bring wat `n siel op die mees verhewe oomblikke kan voel. Maar dit is nie so maklik om julle dit alles duidelik te maak nie, omdat julle mense in die grond van die saak tog slegs maar menslik kan dink!

Juis omdat by die mens die binnedringing van `n geesteswêreld of sy binnedringing daarin hom dikwels en sterker manifesteer as by alle diere, is dit hom tot taak gestel om van sy indrukke gebruik te maak en hom sy geestelike tuiste waardig te maak!

Juis omdat `n geestelike lig, `n geestelike son hom beskyn, moet en sal hy ook geestelik groei, geestelik toeneem om hom sy Skepper waardig te maak. Hy het hom midde in `n wêreld van wonder­baarlike dinge as self die grootste wonder geplaas sodat hy, hom bewus van sy posisie, hom sowel van die invloed van die materiële sonlig asook van die geestelike, nog intensiewer lig bewus sou word om te groei, hom te vervolmaak en hom waardig te maak, tot die groot transformasie nader by dit kom, die geestelike verandering en die aflegging van die materiële liggaam, om dan `n ligte geestelik liggaam aan te trek, wat reeds by sy lewe uit die materiële aardse liggaam geweef is en hom moet dien as middel om hom mee te beklee. En hoe verfynder dit is, des te makliker kan dan ook die grootse strale van `n geestelike son daar deurheen dring om ook in hom, net soos by die grashalm op aarde, wakker te maak wat in hom sluimer; en so, terwyl hy die oor hom uitgespreide see van lig in hom opsuig, word hy `n egte burger van `n geestesryk. Daar kan hy, net soos die blom in die veld hom bly na die son keer, hom ewe-eens slegs na die groot son in die geestesryk, na My wend, en van daaruit dan die lig met volle teue binneslurp, wat vir hom in die aardse lewe nie moontlik was nie.

So moet die mens dan geestelik groei, geestelik toeneem en burger van `n geestesryk en kind van `n Skepper word, in Wie se woning geen son meer ondergaan nie, maar die lig van die waarheid vir altyd sal skyn!

Kyk julle dus ook na die wêreld wat julle omgewe met `n beter opmerksamer blik, en wek julle geestelike begrip; daar lê nog baie geestelik verborge in die materiële skepping, wat egter slegs iemand wat helder sien, en nie `n blinde kan opmerk nie.

Ek is alsiende, en as julle My kinders wil word, dan moet julle ook `n skerper blik hê en ver bokant die materie en haar duurte uit die eintlike basiskiem van al die bestaande en die eintlike einddoel van die hele universum helder voor oë hê. Slegs dan is naas julle liggaamlike groei, naas julle liggaamlike vervolmaking en naas julle aardse missie `n geestelike groei, `n geestelike uitgroei en `n geestelike hemel vol salighede te bereik. Die hemel moet eers in julle eie innerlike wees, en hom vervolgens om julle heen uitbrei tot by My, waar julle in alles die ewige liefhebbende Vader sal leer ken, wat egter die grootste geestelike genietinge slegs voorbehou het vir hul wat hom ook innerlik daartoe bekwaam het om dit te kan verdra en te bevat! -

My kinders, groei dus in begrip van en in insig in My materiële skepping. Verloor julle nie in ydele aardse dinge wat van korte duur is; soek die onverstoorbare, die ewige. Soek My, en julle sal by die ruil tussen die materiële en die geestelike niks verloor nie maar slegs daarby wen, oftewel `groei', soos Ek die groei sowel in die materiële as in die geestelike graag begryp sou wil sien! Amen!

(Vervolg)

(ontvang te Triëst, 24 September 1875)

In die laaste woord het Ek julle die groei verklaar, wat dit beteken en hoe dit sowel in die materiële as in die geestelike wêreld plaasvind. Ek het julle in beelde laat sien, sowel in die groei van `n grashalm as in die geestelike voortskryding van die mens en die hele geesteswêreld, hoe mens groei en hoe mens deur hom steeds verder te vervolmaak ewig voortskry om sy missie te vervul.

Nou wil Ek julle in die woord weer vanuit die materiële wêreld die geestelike verklaar, en hoe by die plant, byvoorbeeld `n grashalm, die groei sigbaar tot `n ander voortbrengsel, tot die bloeisel of blom lei, en hoe selfs ook in die mens, aards bekyk, hom dieselfde proses ontvou. Daarby vind die proses egter ook op die geestelike vlak plaas en is die resultaat in die groot geesteswêreld steeds ewe-eens dieselfde, ooreenstemmend met die bloeisel of die blom; dit kan egter slegs in analogieë aangedui word.

Kyk, wanneer `n plant hom uit die saadkorrel gaan vorm en begin te groei, en hom te ontwikkel, hom te ontvou, dan is tog die mees voor die hand liggende vraag wat die mens aan `n Skepper daarvan sou kan stel: "Met welke bedoeling groei die plant eintlik?".

Wel nou, aangesien Ek as geestelik denkende Skepper van die hele universum met alles wat Ek skep `n bedoeling moes hê, net soos julle wanneer julle iets tot stand wil bring, is die antwoord op die vraag natuurlik:

"Dat Ek die plant nie as tydverdryf geskape het en ook haar hele vormgewing nie per toeval so bepaal het, soos julle by nadere ondersoek maklik kan ontdek nie." Maar julle sal gou sien dat al die aandrang, vorm en opstuwing in die organisme van `n plant `n bepaalde doel nastrewe, en die doel is in sy eersvolgende stadium, behalwe die vorming van `n stingel en blare, die bloeisel of die blom. Daarmee het dan in `n ander vorm `n ander organisme ontstaan, wat nie in die minste op die voorgaande lyk nie, en dit berei in sy skoot nog weer `n trap van ontwikkeling voor wat die einddoel van die plant is, naamlik die vrug of die saad vir `n nuwe, aan haar gelyke plant, voort te bring.

So is dit in die planteryk, so is dit in die diereryk, en so is dit selfs by die menslike geslag, Vir sover dit gaan om die ontwikkeling van haar liggaam, wat as instrument moet dien vir die vervolmaking van die daarin wonende siel!

Ons sal nou eers by die planteryk die hele proses van verdere ontwikkeling aandagtig - naamlik geestelik - beskou en daarna oorgaan na die ooreenkomstige in die ander ryke.

Kyk, julle het onlangs gehoor hoe in `n grashalm die een sel hom by die ander sel en die een vesel hom by die ander vesel voeg; hoe hulle hul ontwikkel, hoe (simbolies gesê) die bloedbolletjies hul sappe na alle ruimtes van die plant stu en daar verandering, ontleding en ontwikkeling bring. Julle het gesien hoe `n geestelike mag die beweging stuur en hom aanspoor tot iets wat in die aanvanklike ontwikkeling nog nie te herken is nie. En noudat julle almal weet dat die bloeisel of die blom die tweede ruspunt is, wat die vorming van iets nuuts genoem kan word, weet julle ook dat daar behalwe alle middele wat nodig is vir die in stand hou van die bestaande, nog ander elemente uit moeder aarde opgesuig word, deur die stingel en die blare blootgestel word aan die proses van die lig, en by baie plante geurende bloeisels voortbring wat met hul kleureprag en heerlike geur julle sintuie weldadig aandoen.

Wel nou, die bloeisels of blom is niks anders as die produk van die growwe materiële, die meer verfynde van die siel en van die goddelike-geestelike. Dit is die toestand van `n geestelike, blye tyd van geluk. Na `n lang gewerskaf, vanaf die saadkorrel deur die stingel en blare heen word die mooiste, die mees aan die lig verwante tot `n geslote geheel verwerk, wat julle simbolies as die verlowingstyd van die plant kan beskou. Sy verheug haar oor haar verworwenhede en gee haar in bruidskleed heeltemal oor aan die sonlig en die geestelike skeppingslig, nadat sy alles wat daarvoor nodig was met stryd en moeite aan die growwe materiële ontworstel het.

Sy vind baie groot genot in die bewussyn van wat sy verwerf het, wieg sag haar hofie in die ligte bries, nog steeds na die son kerend, en deel haar geur en aangename reuk, wat ooreenkom met haar wese, mee aan die lug, die plante, diere en mense.

Die plant staan daar in bruidstooisel: Die mees verfynde, mees aan die lig verwante, is geklee in teer blaartjies, wat nog steeds met baie klein suigapperaatjies uit die lig dit opsuig wat vir haar nuwe begin en werk nodig is. Want die plant - wat haar verlowingstyd bereik het - bly daar nie by stilstaan nie; sy word voorwaarts gedring, hoër en hoër, steeds na ander geestelike doeleindes, en voortdurend moet die fynere van die growwe geskei word. So ontstaan uit die saadkorrel deur die vergaan van die uiterlike bekleding die eerste elemente, die wortels, waarmee die inwendige deel van die saadkorrel hom met die omgewende aarde in verbinding stel; so suig dan die wortels die eerste elemente op wat vir die vorming van die stingel noodsaaklik is en so, opwaarts stuwend, verfyn hom die sappe van die stingel vir die vorming van die blare. En aangesien natuurlik in die stingel slegs dit wat van die stingel was en in die blad slegs dit wat van die blad was opgeneem kan word, stu die organisme van die aanvanklike saadkorrel nog ander substansies, ander elemente na omhoog, na die lig van die son, die lig van die hele sterrewêreld en van die hele universum. Die lig, wat mees verfynd, geestelik uit die materie ontwikkel en ingeslote in die bloeisels of blom, gee vervolgens verder vorm aan die resultaat van die verlowing: Die bevrugting, die voortplanting. Hierdeur moes alles wat deur My geskape en slegs eenmaal in die lewe geroep word - in die lewe geroep deur `n oneindige God en Meester - ook die kiem van `n ewige voortbestaan in hom berg; want slegs sulke skeppinge is `n God waardig, is My waardig en passend vir My.

Soos die verlowingstyd `n tyd van salige genieting van `n bereikte doel moes wees, so is ook die bloeityd in die plantewêreld die stadium van die hoogste, mees intense lewe, waarby alle vermoëns ontwikkel is en alle senuwees en vesels met ongeduld uitsien na die oomblik waarop die hoogste genot haar vervulling bereik, die hoogste doel bereik word en die goddelike, ewige wees die grootste triomf vier.

Om die redes is die gebeurtenis van so `n groot betekenis en die natuur vier dit by elke kleinste voortbrengsel met al haar middele, omdat dit `n voorbereiding vir `n skeppingsdaad is wat nie materieel, nie slegs geestelik, maar Godverwant is.

En so het die plant nou die punt bereik waarop sy, die geskapene, `n skeppende word.

Begryp julle nou die waarde van `n bloeisel, van `n blom; julle, wat soveel misbruik maak van die baie hoë geestelike skeppinge, sonder om daarby ooit te bedink, wanneer julle `n blom of bloeisel pluk, hoeveel geestelike pyn julle `n plant besorg. Want julle stoot haar `n dolk reg in die hart, terwyl sy van geluk, van saligheid en van dankgevoelens vir haar bestaan sou wil oorvloei omdat sy haar hoogste geestelike trap bereik het en die vorm van vrugte tegemoet gaan.

Julle mense is almal afgestomp; julle weet nie wat daar in die geringste proses van die lewende natuur plaasvind nie. Julle ken slegs maar julle eie gevoelens, slaan weinig of heeltemal geen ag op die hele dierewêreld nie, en van die geestelike lewe van `n plant of klipwêreld het julle geen idee nie. En tog sê Ek julle dat alles wat Ek geskape het geestelike lewe besit, `n lewe in oneindigheid, iets onversteurbaar ewigs wat, alhoewel deur julle ontken, tog bestaan, maar as teer geestelike lewe ook slegs deur `n tere, hoogs fyn gevormde siel begryp kan word; egter nie deur skepsels wat weliswaar hoog geplaas is in die skeppingsplan maar tog nog steeds tot oor hul ore in die modder van die laagste hartstogte sit.

Vandaar die baie toeligting wat Ek julle gegee het op verskillende voortbringsels van die natuur, natuurwette en vormgewinge van die hele geskape wêreld, sodat julle jul geestelike oog wyd oop sal maak om die groot geesteswêreld te sien, wat ver bokant die materie uit in alles ingryp, oral werk en in beweging is en julle oral, selfs in die skynbaar mees materiële, die groot geestelike skep­pingsgedagte van die ewige liefde in miljoene verskillende vorms voor oë gestel het.

Wat van die planteryk, van die grashalm, van die bloeiwyse en die vrug daarvan gesê word, dit geld ewe-eens vir die geslag van die diere en die van die mense.

By die vorming van die dierlike of menslike liggaam is daar ewe-eens in `n klein selletjie `n ingeslote goddelike vonk van My gees, wat van daaruit die liggaam en die senuwees en bloedvatestelsel vorm. En soos dit die plant tot bloei opbou, so bou dit ook by die mens en die dier na die opbou van die beenderegestel, die harsingsmassa op - as’t ware die blom, die bloeisels - waar alle intelligensie, al die geestelike hom konsentreer wat vir die lewe en vir die ontwikkeling en verdere vorming van die geslag nodig is.

By die dier word die bloeiperiode dikwels gekenmerk deur heftige stryd en groot opwinding in die hele senuweestelsel. Die dier word nog aan My hand gelei, en slegs as dit die tyd is vir die paring voel dit My mag in die hoogste graad, en dit dryf die dier tot iets wat dit dikwels wel vermoed maar nie seker weet nie.

Geen skeppingsdaad kan ongesteurd (dit wil sê sonder `n magtige opwinding) voltrek word nie. Dit is `n geoorloofde ingryping in My mag en die proses moet, hoewel dit slegs `n vermenging van die materiële is, natuurlik alle lewensorgane so in beslag neem dat dit tog die geestelike weer vrymaak. Die geestelike, weer gebonde in die materie, besit egter tog soveel krag dat dit homself langsamerhand kan ontwikkel en `n geestelike hoër vlak tegemoet kan gaan.

Net soos by die dier die voorhoof meestal al meer na bo gekeer is, is ook by die mens die harsings met hul geleiagtige stof en hul windinge die setel van alle geestelike eienskappe. In die eerste plek het die siel dit nodig om in voortdurende verbinding met die uiterlike wêreld te bly; in die tweede plek om juis daarin, deur ontwikkeling en vergeesteliking van die materiële, die geestelik psigiese mens voor te berei as bewoner van `n ewige lewe aan die ander kant, en om hom te vervolmaak en soos My te gaan lyk, vir sover sy organisme en sy geestelike moontlikhede dit op aarde reeds toelaat.

Wat by die dier ‘instink’ heet en by die plant ‘wet’, dit is by die mens ‘vry’ aan hom gegee om te gebruik sodat hy, alhoewel hy in staat is tot die grootste opwinding, leer om homself te beheers, sodat hy so `n aan My gelykwaardige wese kan word wat vry, sonder dwang, die beperkinge van die morele wet nooit sou moet oorskry nie, wat egter helaas nou by die meeste mense tog gebeur; die gevolge moet egter ook deur hulleself gedra word.

Kyk, by die mens is dit die harsings, waar al die verhewe gedagtes gevoel word. Die harsings is die setel van die geestelike eienskappe; maar die harsings sou nie slegs op sigself kan bestaan as dit nie, net soos alle ander organe deur `n ander senuweestelsel voortdurend aktief sou gehou word. Die senuweestelsel is aan julle bekend onder die naam `sonnevlek’ oftewel die ‘senuweesentrum’ van die onwillekeurige bewegings; daar is eintlik die setel van die siel. Van daaruit vorm en weef hulle die liggaam, hou dit in stand en herstel waar daar skade is; van daaruit laat hulle die hart vinniger klop by gemoedsbeweginge, by verdriet en vreugde.

Van daaruit deel hulle deur middel van die spraak en `n blik van die oë aan die buitewêreld mee wat daar in die innerlike gebeur, en daar word geestelik verteer wat via die oor en die oog in die innerlike deurgedring het.

Netsoos die plant, wat deur die werking en die strale van die lig in verbinding staan met die hele geestelike wêreld, haar tyd van geluksaligheid, haar bruidstyd vol vreugde meemaak, beleef ook die mens by die nadering van sy bloeityd vreugde aan die invloed van die hoër geesteswêreld, wat hom omgewe en wat in hom en buite hom leef en beweeg en alles in stand hou. So groei die gevoelens van die eerste liefde, die ontwaking van `n gemoedstoestand wat die materiële lewe heeltemal sou wil verdring en die een Griekse wysgeer by julle dit as die hoogste stadium van die mens gekwalifiseer het en wat julle nog steeds onder die naam `platoniese liefde' ken.

Ja, so sou die eerste liefde ook opgevat moet word. Want dit is die bloeityd van die menslike natuur, dit dring na die skeppingsdaad van die voortbring van `n nuwe wese, wat ewenwel ook nie `n materiële, maar `n geestelike voortbrengsel sou moet word.

Dat deur die aanraking van die liggame die mooiste illusies weer moet vergaan is immers vanselfsprekend, want Ek het in julle geen geeste sonder liggaam, maar aardse mense geskape*27, wat dit wat hulle as geestelike wesens ervaar het as aardse wesens ewe-eens as kiem in `n nuwe te ontstane wese moes neerlê!

Hierdie liefde, die gevoel van geluk, die saligheid wat beide geslagte na mekaar toe bring, die liefde moet slegs maar die impuls wees tot die skepping van `n nuwe wese, wat eenmaal ook na My sou moet lyk!

Om sulke wesens te verwek, daar is allereers die hoogste gees­telike waardigheid self voor nodig, sodat die resultaat sy Skepper waardig is!

Julle sosiale toestande, julle laer hartstogte het meestal verhinder dat die eerste liefde op aarde ook die laaste geword het, en julle sug na genot het reeds `n lang tyd deur misbruik van julle aandrifte, `n wêreld geskape waarvan die bewoners, nouliks gebore, alweer op die dood afpyl. Want die meeste mense van beide geslagte het geveg met gebrek, ellende en teleurstelling en het uit verveling kinders verwek wat na die ouers lyk en hul in alles sal navolg; en by hul dood sal hulle net so min as hul ouers weet waarom hulle gebore was en waarom hulle moet sterwe.

Wees daar van verseker, My kinders, dat Ek die wêreld heel anders geskape het as wat julle haar nou sien. Ek het die mens die mooiste vorms gegee, Ek het hom met sy blom of bloeisels (die harsings) teenoor die hele universum gestel en hom die vermoë ingeblaas om met die vlug van sy gedagtes oor alle wêreldse ruimtes heen tot by My deur te dring. Ek het hom organe gegee waarmee dit moontlik is om hom ondanks die materie `n geestelike, groot verhewe wêreld te laat voel, wat, weliswaar ver bokant hom, tog slegs in homself is. Ek het hom sintuie gegee: Die oog om na My wondere te kyk, die oor om My harmonieë te hoor, en die taal om vir sy medemens sy hele groot geestelike innerlike te open - want wat sou al die gehoorde en gesiene wees sonder om dit te kan meedeel?

Ek het hom, die mens soos byvoorbeeld hier op julle klein aarde, tot heer van die aardbol aangestel, sodat hy hom nie daaroor sou kan bekla dat Ek hom stiefmoederlik behandel het nie; Ek het hom deur My afdaal van weleer `n leer gegee en nagelaat, wat slegs al voldoende is om vir `n ewigheid die mensdom steeds haar waardig­heid in herinnering te bring.

Ek het hom met geestesgawes toegerus om alles op die aarde vir die materiële lewe te kan gebruik, sodat die materiële lewe geen beletsel sou wees vir die ontwikkeling van die geestelike lewe nie.

Ek laat hom vry, hy kan self handel, self oordeel en kies soos hy wil!

Ek het hom oor die aardbol as’t ware as alleenheerser aangestel, en hoe het hy alles misbruik: sy liggaam, sy omgewing en die onder hom staande plante en dierewêreld! En nou het Ek vir hom selfs nog die geestesryk ontsluit; Ek het hom laat sien, nog tydens sy lewe, wat hy eers na sy verskyning te wete sou moet kom, en tog alles tevergeefs!

Soos `n rasende gaan hy altyd maar deur; slegs aan sy laagste hartstogte gehoorsamend, hom slegs aan wêreldse belange oorgewend verloën hy My en My wette, vertrap selfs die menslike waardigheid met sy voete, en sal op die manier die gevolge wat daaruit voortvloei aan homself moet toeskrywe.

Ek het die klein aarde geskep, net soos die groot sonne en planete vir heel ander doeleindes as wat die mense dink.

Ek het My hele universum tot `n groot harmonie van die sfere geskep waar alles liefde sou inasem, maar waar nie die een die ander met haat en nyd sou vervolg nie, of waar één mens duisende van sy medeburgers vir egoïstiese doeleindes onderdruk en afslag.

Nee, die mooi gevoelens wat Ek vir julle in die plant, in die groeiwyse, in die bloeiwyse en in die voortplanting ontwikkel en selfs by mense en diere aangetoon het, dit is nie vir niks in die bors van almal gelê nie: so moet en so sal My wêreld weer word; want wat hom teen My wette versit, word vanself gestraf. En as Ekself nou selfs direk omgaan met julle, wat met weiniges is, dan gebeur dit ook slegs maar omdat daar tussen My woord en die woord van die mense `n groot verskil bestaan. En eers wanneer die mensdom deur haar eie onhandigheid baie ellende na haarself getrek het, sag geword het en in staat om die beter aan te neem, dan lê die materiaal al gereed waarmee die ou, reeds lank vergete en ondermynde bouwerk van die geestelike menselewe weer opgebou sal word; en nie tydelik nie, maar blywend!

Dan sal `n ander generasie ook ander kinders voortbring en sal hul weer die liefde voel soos Ek dit in die hart van die mense ingeplant het; dan sal die geslag ook bewus wees van sy eie waardigheid en sal dan van geen eienskap wat Ek die mens ingegee het misbruik maak nie, maar slegs die korrekte gebruik daarvan maak.

Die aardse wêreld sal weer word wat sy vroeër was, `n paradys waar slegs die eienskap sal oorheers wat slegs My hele ‘Ek’ uitmaak: Daar sal ‘liefde’ gegee en ‘liefde’ ontvang word, en so sal aan die aarde en haar bewoners die korrekte maatstaf gegee word waarvolgens hulle in die groot ketting van al My skeppinge steeds so `n geestelike belangrike plek ingeneem het.

Groei dus, My kinders! Open julle oë; nie slegs materieel nie, maar geestelik, en sien hoe alles om julle heen - selfs die plant of die grashalm wat julle dikwels gedagteloos vertrap - `n geestelike lewe het, en dat agter die skynbare omhulsel van selfs die kleinste ding `n onbekende `iets' steeds sonder onderbreking besig is om `n bydra te lewer aan die groot plan van vervolmaking en om My al My kleinste deeltjies weer terug te bring, wat Ek ooit, eons duisende jare gelede, ter beproewing uitgestuur het.

Elke sekonde gaan miljoene wesens en dinge oor na die geestelike, en elke sekonde word daar weer miljoene wesens in die materiële ingelyf. Alles is `n ketting, soos in `n waterput die een emmer omhoog en die ander na benede gaan, so reik in die skeppings­ruimte die vergaan en verskyning mekaar steeds die hand!

Daar bestaan op julle aarde geen plek waar dit ewig nag of ewig dag is nie. Die sonsondergang in die een streek is die opgang in die ander; hier lê mense hom moeg van die werk ter ruste, en daar maak dieselfde sonstraal wat julle vermoeide oog tref `n slaapdronk mens wakker vir nuwe arbeid. So is dit in My skepping: voortdurend in die groei, in die bloei, in die nuwe skepping - volg die getyeklok haar loop. Maar slegs die geestelike mens kan die ewige strewe na die hoogste doel begryp, en slegs aan die geestelike ondersoeker en opmerksame waarnemer van My sigbare natuur kan die sleutel gegee word om ook agter die materiële verandering die groot geestelike proses te ontdek, wat eintlik die hoofsaak, die oerbeginsel en die einddoel van al die geskapenes sal wees!

Steeds weer opnuut sê Ek julle en roep Ek julle toe:

Verhef julle uit julle aardse wêreldse en verstandelike kennis! Laat julle nie vir slegs oomblikke entoesiasties maak deur My woorde nie, maar bewaar hulle steeds in die hart; waar julle gaan of staan, mag die gedagte julle begelei dat nie alles is wat dit skyn te wees nie, en dat daar ‘wette’ bestaan waar mens nie ongestraf teen kan handel nie!

Begryp die genade van My direkte mededeling! Dit moet baie ernstiger opgeneem word as wat julle meestal doen; want elke onverskilligheid, elke lou woord sal hom aan julleself wreek.

Al meer as duisend jaar gelede roep Ek My leerlinge toe: "Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie!" Ook vandag sê Ek julle weer: "waak en bid", sodat julle eie hartstogte julle nie op sleeptou neem en julle tot slawe maak, terwyl julle gebore was om here te wees!

Die slawerny is by julle tog so gehaat, iedereen wil vry wees, oral hoor mens die geskel op onderdrukking en tirannie; en tog, wie is daar vir die huidige mensdom `n groter tiran as haar eie hartstogte self!

Die mense het lankal afgedaal van die heerserstroon waarop Ek hulle almal geplaas het. Slegs enkeles begryp nog wat Ek met die mens wil doen; hulle is egter nog te swak en met te weinig tevrede om beslissend op die lotgevalle van die hele mensdom in te kan werk. Maar geduld! Ook hierin sal `n groei en bloei manifesteer, en sal die knop van geestelike insig ook nog ontvou. En soos `n blom haar heuning gee as voeding vir `n ander wêreld, so sal ook die knop straal in die heerlikste lig en met die mooiste kleure en ook aan duisende die soetheid van haar inhoud laat voel, wanneer vooraf genoeg van die bittere geniet is.

My kinders, neem so ook die woord aan as `n vervolg op die laaste en maak dit julle eie; Ek het dit julle nie gegee om slegs deur te lees nie, maar om daarvolgens te handel!

Bedink dat die tyd vlieg en dat die ure, die dae en jare baie vinniger as wat julle vermoed verbygaan, en menigeen sal baie vinniger aan die einde van sy lewensloop wees as wat hy dink.

Sorg dat dit nie te laat is en julle nie in die ander wêreld met moeite eers nog moet verwerf wat julle hier in oorvloed in die skoot gewerp word nie!

Tot sover die woord, as waarskuwing en om daar gehoor aan te gee! Amen!

 

*27 sien Mayerhofer: `Predikinge van die Meester', hfst. 49.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205