LEWENSGEHEIME
GOTTFRIED MAYERHOFER -AFRIKAANS

Hoofstuk 27

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

 

Hoofstuk 26

Die skadukant van die natuur met betrekking tot die menslike lewe

(ontvang 21 Februarie 1877)

In My voorgaande woord het Ek My verdedig teen die bedenkinge wat sommige, of eintlik baie mense My voor die voete werp met betrekking tot die teenstrydighede wat hulle in My sigbare natuur meen te vind, wanneer hulle dit vergelyk met My oral verkondigde woorde van liefde, van sagmoedigheid en van beloofde vreugde.

Vir sover dit moontlik was het Ek vir julle die skadukant belig en julle die ‘dit sou anders kan, maar tog moet dit wees soos wat dit in feite is' verklaar.

Nou rus daar op My nog `n belangrike beligting van julle eie lewe, waarvan ook menigeen sê: "Sien die menslike lewe tog eens: van die wieg tot die graf is dit niks as stryd, lyding, teleurstelling, en baie min liefde, vreugde en ander beloofde dinge, wanneer die mens nie weet om dit self aan hom te verskaf nie!

Wat is die lewe op die aarde anders as `n tranedal, waarin mens - omdat mens niks beter weet nie - aangewese is op godsdienstige dogmas en ander mededelinge, wat voortdurend spreek van `n ander lewe na die dood, van vergelding en vergoeding vir die uitgestane lyding, terwyl dit die mens hier op aarde met alle wantoestande laat stry.

Wat kan `n ander wêreld aan ander kant my skeel, waaroor ek eintlik niks verseker weet nie en waarin ek slegs maar blindelings moet glo!

Wanneer ek sien hoe erbarmlik die wêreld is wat my hier omring, wie waarborg my dat die toekomstige wêreld nie netso ooreenkom met die werklike wêreld hier, waar in plaas van vreugde slegs leed, liggaamlik of geestelik, mekaar afwissel, en selfs dit wat met moeite verwerf is ons nie die genot verskaf wat baie daarvan verwag het!"

So en in duisend ander vorms word Ek aangekla dat Ek die mens beloftes gemaak het, terwyl Ek tog nooit van plan was om ook maar één enkele daarvan te hou nie!

Die mens, wat slegs dit wat daar is, wat vir hom sigbaar is, as die eintlik bestaande aanneem en geen geestelike lewe behalwe dit van sy verstand wil erken nie, die het heeltemal gelyk om so te oordeel, omdat hy op voorhand slegs maar dit as bestaande beskou, wat hy oftewel met sy hande kan gryp oftewel met sy vyf sintuie kan omvat.

Dit is geheel en al die teorie van alle materialiste, wat uit `n toevallige vermenging van alle skeppingselemente die hele sigbare wêreld laat ontstaan en selfs die geestelike strewe in hul eie harsings slegs as `n produk van sulke deurmekaar mengsels beskou.

Dat hul teorie maklik baie aanhangers vind, is baie natuurlik. Dit lê die mens immers geen dwang op nie; hy hoef hom slegs aan sy hartstogte oor te gee, vir sover wette van die polisie dit toestaan, want hy dink slegs maar: "Na die aardse lewe is alles tog ten einde, dus ‘lewe’ ons (volgens sy begrip) so goed moontlik!"

So neem hy die skadukant van die menslike lewe slegs waar, wanneer materiële verlies, siektes, wantoestande en allerlei teleurstellings mekaar afwissel.

En om die verwyte tot die korrekte proporsies terug te bring en die mens te toon wie eintlik die skuld daarvan dra as die menslike lewe inderdaad so is, moet die woord dien. Want ook by julle hoor Ek dikwels sulke klagtes uitgespreek - en nog erger lees Ek dit in julle gedagtes - terwyl julle as verdwaalde siele, wat slegs die materiële goeie lewe voorop sou wil stel, slegs af en toe `n uurtjie aan die geestelike lewe wil wy, wanneer julle niks anders te doen het nie! Maar nou ter sake!

Dat julle lewe nie in suiwer vreugde verloop nie, maar meestal juis die teendeel daarvan is, dit kan Ekself nie ontken nie.

Dat julle mense, wat graag suiwer materieel sou wil lewe, van `n geestelik lewe totaal geen kennis neem nie, ja selfs alle geestelike verbindinge en die bestaan van `n hoër, alles geordende Wese sou wil ontken, dit sien julle in meer as duisend voorbeelde, waar julle ook maar wil kyk!

En hoe het dit gebeur? Dit gebeur, deurdat die mense die wêreld wil konstrueer soos wat dit sou pas by hul opvattinge, en deurdat hulle nie wil aanneem dat dit anders is, en ook anders moet wees, wanneer die wêreld so bestaan.

Kyk, as die mens die wêreld wil verstaan of begryp, dan moet hy allereers by homself begin. Slegs wanneer hy homself ken, wanneer hy die drievuldigheid tussen liggaam, siel en gees duidelik begryp het, slegs wanneer hy in staat is om oor homself korrek te oordeel, slegs dan kan hy ook gevolgtrekkings maak oor sy medemens en die hele omringende wêreld om hom.

Wie homself egter nie ken nie, die ken die ander mense ook nie, en beoordeel sy handelinge en die van ander verkeerd en verwag van die wêreld wat hy nie het nie en hom daarom ook nie kan gee nie!

Vandaar die weeklaag en die gejammer oor die wêreld!

Solank die mens nie wil aanneem dat sy lewe, soos hy dink, voel en handel slegs ooreenkom met die bogenoemde drie dinge, solank sal hy slegs teenstrydighede ontmoet. Want oral plaas hy slegs sy materiële `ek' op die voorgrond en vergeet daarby heeltemal sy intellektuele vermoëns, wat hom sou moet help om bokant die materie uit te styg!

Die mens het liggaamlike behoeftes; maar hy het ook geestelike behoeftes wat hom in die denke manifesteer, hom vervolgens tot handeling aanpor om so via die materie uit te druk wat daar geestelik in hom leef en beweeg.

By die denke, selfs oor die materiële wêreld, is dit onvermydelik dat daar ook gedagtes opduik wat hom uitdruk in vrae, soos: "Ek sien die dinge om my heen, ek sien die veelsoortigheid daarvan, ek bewonder dikwels deur die wetenskap die wetmatige orde daarvan en hul mooi geestelike vorms, en onwillekeurig dring hom die vraag aan my op: Wie het dit alles tog so vorm gegee, so georden?".

Die teorie van die materialiste voldoen dan nie vir iemand wat so dink nie, want hy bemerk dat die teorie teenoor die geskapenes nie houdbaar is nie. Hy gaan dus `n stap verder en doen self naspeuring in sy innerlike, waarby hy `n bladsy opslaan wat hom laat vermoed dat hy op die goeie weg is, omdat hy self dikwels aspirasies in homself waargeneem het wat hom graag bo die materiële lewe uitgehef wou hê.

So, om by homself te begin, kom die mens dan langsamerhand tot die begrip van die uiterlike, die wêreld wat hom omring.

Eers bemerk hy in homself die materiële, nie aan sy wil gehoorsame lewe van die organe, hy word bewus van die denke, kom tot `n gevolgtrekking en `n korrekte gedagtegang, wat as lewe van die verstand meer by sy eie materiële instandhouding hulp moet bied. Daarnaas merk hy ook dikwels verhewe stemminge, wat nie afkomstig is van die klop van sy hart en nog minder van die koel berekende verstand, en fyner, intenser wees as die van vroeër nie.

Hierdie gevoelens of geestelike mededelinge bring hom uiteindelik daartoe dat hy dit ook op die omringende natuur oordra en so van die geskapenes na `n Skepper gelei word. Dit kan dan met die uitdrukking ‘die mens het `n religie’ aangedui word, aangesien hy vir homself `n geestelike kultus vestig - en wel `n ‘verstandsreligie’, omdat dit uit die ‘waarneming’ opgebou word. So ontstaan alle godsdienste en alle latere religieuse gebruike, wat simbolies wil en moes uitdruk wat hom andersins nie in woorde laat sê nie.

So was die religie van die wildes aangaande `die groot gees' gevestig, netso die Indiese religie van die Boeddhisme en die van die ander heidense volkere met hul ontelbare aantal gode.

Omdat die geestelike lewe nou eenmaal in die mens gewek was, volg heel natuurlik daaruit dat enkelinge wat hulle met nadenke besig gaan hou, waardeur hulle dieper in die geestelike lewe deurdring, die geheime van die natuur meer bespeur en deur die handelwyse `n wye uitsig oor die materiële verkry wat ver daarbo uit tot in die geestelike sy uitwerking het!

Hierdie mense voel vervolgens die aandrang om dit wat hulle gesien en gevoel het, ook aan ander mense mee te deel, en so skrywe hulle dit op, waardeur hulle profete (`sieners') en wyses van hul volke word.

Uit die verligte manne vorm later die priesterkaste waarby baie hulle vervolgens aansluit, omdat hulle daarin, behalwe die geestelike lewe, ook die bron van materiële welsyn sien.

Hoe dit verder gegaan het met die belydenis van godsdienste en hoe die afsonderlike waarhede misbruik was, dit kan julle self in die geskiedenis van die volkere lees.

Vir My was dit slegs daarin geleë om julle te laat toon hoe die geestelike lewe, afgesien van geestelike opvoeding, vanself uit die eie struktuur van die mens ontkiem en derhalwe, ondanks alle materiële teorieë, nooit te vernietig sal wees nie.

So ontstaan die heilige boeke van Indië, net soos by die Jode die Ou Testament wat vervolgens aangevul was deur die Nuwe Testament, waarin Ek as Jesus al die aanduidings van `n geestelike lewe, wat hier en daar verspreid in verskillende boeke voorhande was, tot eenvoudige groot waarhede herlei het as My leer, wat ewig onverwoesbaar sal wees.

Wel nou, om op die verwyte aangaande die skadukant van die menslike lewe terug te kom, uit alles is al helder bewys dat daar, behalwe die materiële lewe en dit van die verstand, nog iets anders - geesteliker, dieper - bestaan, wat die eerste twee slegs wil gebruik om sy eie wyse van lewe uit te druk!

Waar die oog ook kyk, neem die mens in die natuur slegs maar streng wette waar; in die verstandslewe is dit ook aanwesig, omdat korrekte gedagtegange van die een na die ander geen tweede uitleg toelaat nie.

In die geesteslewe is dieselfde die geval; ook daar bestaan onveranderlike wette wat iedereen wat daarteen sondig, straf.

In die ‘teen-die-geestelike-wette-in’ wil handel lê al die ongeluk beslote, al die lyding en alle teleurstelling in die aardse menslike lewe, terwyl deur te dink, handel en werk in harmonie met die wette daaruit vreugde, troos en tevredenheid voortkom as geestelike produk van die as geestelike wese vervulde pligte!

Die mense, wat aan geen geestelike lewe en aan geen God glo nie, is om dié redes ongelukkig, terwyl al die ander wat nie uit `n geestelike bron voortkom nie, ook nie in staat is om as vertroosting in voorkomende gevalle van ongeluk, by onvoorsiene teenslag ens. dit goed te maak wat die mens nou net verloor het.

Vandaar die verkeerde beoordeling, sowel van medemens asook van die wêreld wat hul omring.

Die wêreld is baie eenvoudig gebou, en die skynbare materie berg die geestelike in hom; wie dit ontken, word teleurgestel in sy verwagtinge. Want wie sy materiële luste wil volg, die kom sy vernaamste teenstander teen in sy eie lewenstruktuur, ook al sou hy sy verstandslewe en gevoelslewe wil verdoof.

So straf alles, wat die ewige goddelike orde nie bemin nie, homself! Die ellende wat oor die mens losbreek en hom sy hele lewe verbitter, is derhalwe meer sy eie werk as die van ander of selfs, soos baie glo, ‘My wil’!

Toe Ek eens gesê het: "Van nou af aan sal jy (mens) in die sweet van jou aangesig jou brood verdien", was dit die uitspraak van `n ver vooruitsiende God. Hy het baie goed geweet dat die mens meer aan sy dierlike eienskappe as sy geestelike gawes sou gehoorsaam, en dat vervolgens die sigbare wêreld al gou nie meer aan hom onderdanig sou wees nie, maar dat hy, strydend met die materie, sowel sy liggaamlike onderhoud as sy geestelike vooruitgang sou moet beveg.

Ek het voorsien dat die mens op die manier met sweet sy brood sou moet verdien en in pyn gebore sou moet word, omdat hy die natuur en sy eie missie verkeerd opvat. Ek het voorsien dat hy onder pyn, teen sy wil geestelik opgevoed sou moet word, en selfs aan die einde van sy (aardse) lewe met stryd, angs en dikwels met vertwyfeling na die ander wêreld sou oorgaan.

Die lot, in plaas van `n paradyslike lewe van eendrag en liefde, het die mens self in die lewe geroep, en in plaas van met sagte oorgang van die een toestand na die ander, moet hy hom, liggaamlik en geestelik strydend en vegtend, voortsleep, moet hy boet vir sy foute en die van sy voorouers, om hom op die manier te suiwer van die modder, wat tydens sy hele lewensduur, moreel en fisiek, voortdurend aan hom gehang het.

Die mense kla oor die swaar en bitter koswinning vir die lewensonderhoud. Wie maak dit vir hul so swaar? Nie Ek nie, nie die wêreld nie, maar die een mens maak dit vir die ander swaar!

Iedereen trag om wins te verkry uit dit wat hy oftewel met moeite moes leer, of wat hom onvoorsiens in die skoot val. Wie is dit anders as die gewetenlose mense, wat selfs die ongeluk van hul medemens gebruik om hulle te verryk en so die lewensonderhoud duurder maak!

En omdat sulke mense nou geen noulettende gewete het, geen geestelike missie erken en nóg aan `n God, nóg aan die onsterflikheid van die siel glo, teenswoordig in die meerderheid is, sien julle hoe die een trag om die ander om te gooi, en geen mens aan die ander te laat sien hoe hy is nie. Selfs die gladde, oordrewe gekunstelde opvoeding dra nog daartoe by dat ook dit wat aan kinders as hul opvoeding gegee word, slegs maar `n dekmantel is om met die grootste huigelary die slegste sondes te verberg!

En so is die hele wêreld nou soos `n gemaskerde bal, waarby die masker by die meeste mense verskillend is van die wese van die draer daarvan.

As die mense nou kla oor die slegte wêreld, dan vra Ek: Wie het haar dan so sleg gemaak? Ek - of julle self?

Kla My daarom nie aan nie; Ek is `n lankmoedige God, en kyk geduldig toe hoe van die hoogste tot die laagste klasse alles mekaar wil beheers!

Heerssug is die groot sonde wat die mense besiel, en wat hulle by elke stap aan hul medemens wil laat voel.

Tevergeefs verkondig Ek tydens My lewe die liefde, die verdraagsaamheid, die vergewing, en het Ek hul selfs gesê dat hulle hul vyande moes liefhê!

In die tyd sluit die meeste hul ore vir soortgelyke eise - en doen julle nou heelwat anders, terwyl julle beweer dat dit ‘`n verligte tyd’ is?

Hierdie verkondigde eienskappe deur My het `n vreedsame samelewing van mense ten doel. Maar die mens met sy dierlike hartstogte gee hom meer daaraan oor; hy het self die wêreld, wat vir almal gelyk toegerus is, tot `n hel gemaak waar hy nie meer weet hoe om homself uit te red nie, sodat dit My moeite genoeg kos om slegs enkelinge van algehele verval (in die materiële) af te hou!!

Uit die wilde dierlike lewe, ‘uit-die-van-alles-wil-geniet’, lewe kom vervolgens, dus uit die doos van Pandora, `n groot massa siektes voort; hierdeur word die kind reeds in die moederskoot belas met die gebreke van sy ouers, waar hy in later jare syne ook nog eens daaraan toevoeg!

Kyk net na die hele wêreld: Alles is (van oorsprong) volmaak, alles is so gevorm dat dit nie nodig is om daaraan iets toe te voeg of daar iets van af te neem nie; hoe kan julle dan glo dat Ek die laaste lid van die aardse skepping met gebreke geskape het!

Ook die mens was geheel en al dit wat hy moes wees; hy was in gestalte en liggaamsbou net soos in geestesvermoëns so toegerus, dat hy steeds die ‘heer van die aarde’ sou bly.

Maar Ek verstaan die woord ‘heer’ op die manier soos Ek daadwerklik die Meester van die wêreld is, deurdat liefde My hoofeiensklap is, en nie soos die mens, wat `n alles verwoestende, allesvernietigende heer oor die wêreld sou wil wees nie!

My groot wêreld is aan My onderdanig; met liefde gehoorsaam alles graag aan My wette (van liefde). Die mens egter wil die wêreld met geweld onderdruk. Hierdie wêreld, gehoorsamend aan die hoër wet, versit hom, verhef hom en maak toe die mens tot haar kneg.

Nooit gebied die mens meer die elemente nie en die hele materie is teenswoordig almal vyandig teenoor hom geplaas!

Die elemente gehoorsaam hom nie meer nie, en byna elke lewende dier is die vyand van die mens, omdat by die (huidige) mens nie liefde of sorg vir ander, maar vuil gewin die dryfveer van al sy handelinge is!

So het die wêreld geword wat dit nou is. In plaas van `n paradys te wees, waar alles gemoedelik sou kan lewe en die uitwisseling van verskillende geestelike talente die materiële lewe aangenaam gemaak sou hê; in plaas hiervan is dit nou `n strydtoneel waar roof en moord daaglikse gebeurtenisse is, en waar die een mens slegs op die ruïne van `n ander een trap om hoër te wil styg!

O julle dwase mense! Wat het julle gemaak van My aarde en van julle eie ‘ek’, wat Ek liggaamlik en geestelik na My ewebeeld geskape het, deurdat Ek julle tot burgers van twee wêrelde, die geestelike en die liggaamlike, gemaak het?!

Soos Ek eens die handelaars en verkopers met die gesel uit die tempel verjaag, terwyl Ek hul toegeroep het: "Wat, wil julle My tempel tot `n moordkuil maak?", so sou Ek ook dié verdorwe geslag van die aarde moet vee. Want ook dié geslag het die aarde in `n moordkuil verander, waar aan die een kant moord en roof niks ontsien nie, en tewens aan die ander kant soveel geestelik gemoor word as wat maar moontlik is.

So sou Ek as regverdige God, as Meester van My skepping moet handel, as Ek nie die God van die liefde sou wees, as Ek nie die vryheid van wil by al My geeswesens boaan dit gestel het nie, omdat Ek ‘liefhebbende kinders’ en geen slawe wil kweek nie!

So laat Ek julle mense maar verder huishou teen al My wette in, laat julle mekaar se lewe verbitter totdat die maat vol is en julle stik in julle eie modder van hartstogte!

Aan My bly dit altyd voorbehou om selfs alle misstande en al die ongeluk vir My doeleindes te gebruik.

Wie nie langs die sagte pad van die liefde die weg na My wil soek nie, die moet dan met behulp van die ongeluk en deur eie skuld verstandiger word.

By duisende en nog eens duisende mense het preke geen enkele sin nie. Allerlei soorte ongeluk, langdurige siektes, onvrywillige offers ens. moet hul vermurwe; alles moet vir hul troosteloos lyk, die wêreld moet hul die rug toekeer, die liggaam moet sy diens weier en alle aangeleerde godsdienstige formules moet hom onhoudbaar betoon, totdat hulle uiteindelik ernstig begin om ietwat nugterder na te dink oor hul eie ‘ek’, hul uiteindelike missie op aarde en oor die materiële wêreld, om `n vermoede te hê van wat daarbuite lê!

Hulle is eers in staat om iets ernstiger, iets houbaar aan te neem, wanneer hulle die beker van materiële genietinge tot op die bodem geledig het en nog `n ander, vol bitter ervaringe en teleurstellings, as toegif ontvang het.

So is Ek gedwing om die wêreld en sy mense, wat My eie besit is, op te voed; want hul geestelike vonk, wat uit My geneem is, moet weer aan My teruggegee word. So moet die mense langs verkeerde weë daar kom, waartoe Ek hulle bestem het; en so word alle klagtes daaroor geregverdig, wanneer hulle uitvaar oor die `tranedal' van die menslike lewe wat hulle hulself berei het, wat hulle self gewil het, en waarvan hulle nou natuurlik ook die gevolge moet dra.

In die voorgaande woord het Ek aangetoon dat nie alles so swart is as wat julle dit graag sou wil sien nie, maar dat alles perfek op sy plek is en nie anders kan wees nie. So trag Ek hier ook uit te lê dat - terwyl in die diereryk en in die hele ordening van die aardse lewe `n orde heers, waarbinne tot op die dag van vandag elke ding en elke lewende wese nog altyd die doel vervul waarvoor dit eenmaal deur My geskape was – dat die skadukant van die materiële lewe dus presies die teendeel is en ook moet wees; want daar is die gebonde, instinkmatige lewe en hier die ongebonde, vrye lewe, waarin die mens hom nie gehou het aan die deur My aangeduide weë en daarom ook moet betaal wat sy vrye wil hom berei het.

In al julle state en in al julle koerante word voortdurend hoog opgegee van ‘vooruitgang’, en ‘vrysinnigheid (liberalisme)’ is die groot woord op almal se lippe.

Maar so weinig as wat die mensdom sy vryheid begryp, so begryp die volkere ook nie dat daar tussen absolute en wetmatige vryheid `n groot verskil is.

Die skreeuers in julle koerante wil altyd maar ‘meer vryheid’ hê, hulle wil geen beperkinge, geen wette, en tog begryp die domore nie dat hulle tog nie tevrede sou wees nie, al sou hulle ook alle denkbare vryheid van handeling hê wat op die wêreld moontlik is - omdat hulle die gees, wat Ek in die siel van die mens gelê het, nie weet om dit op waarde te skat nie!

Hierdie vryheid, wat alle mense soos `n droom soek, gaan ver bokant die materie uit, daarheen, waar alles slegs geestelik in beweging is.

Hierdie vryheid van denke en handeling is die ewige impuls, wat `n voortdurende voortskryding verlang en slegs daarin sy lewe en sy doel sien.

Glo julle kortsigtige mense dalk dat Ek, `n Gees sonder begin en sonder einde, Meester van `n onmeetlike skepping, julle die vonk van My ‘Ek’ slegs vir die kort aardse lewe gegee het, terwyl miljoene mense nie weet hoe hulle daarin gekom het en hoe hulle daaruit gegaan het nie?

Dink julle dalk dat die Gees hom tevrede stel met die soort verdorwenhede wat julle hier op aarde kan bereik, of dat Sy drang in die wêreld aan die ander kant onmiddellik bevredig word?

Waarvoor sou daar dan `n oneindige lewe wees, as dit met `n paar oomblikke in die aardse lewe en enkele kort tydjies in die sfere van die geestesryk afgehandel sou wees?

Nee, die drang van die vryheid, van die vrye wil, wat Ek in alle geeste gelê het, het `n geestelike en baie diepere betekenis. Maar julle moet die vryheid aanneem soos één wat ondergeskik is aan My wil, waarby geen dwang, maar die oortuiging dat slegs so en nie anders vooruitgang geboek kan word, alle geeste besiel en lei.

Want omdat Ek die mees volkome Gees is, kan geeneen van My verordeninge iets anders as die stempel van orde dra nie!

Hierdie vryheid ken in haar werkingsfeer geen grense nie.

So is die hele beweging in alle wêrelde te verklaar; so word duidelik wat Ek bedoel toe Ek die mens na My ewebeeld geskep het. Julle moet jul met soortgelyke gedagtes vertroud maak, julle daarin verplaas en dit leer bevat, dan sal julle bokant alle menslike misstande van julle maatskaplike lewe nog `n sfeer waarneem, waar julle gees eers die egte inwyding in die waarheid ontvang. Daar sal julle eers begin te leer dat selfs ongeluk en lyding hul nuttige kante het, omdat in My huishouding niks kan gebeur of voorkom wat nie sou moet dien vir die algemene vooruitgang nie.

Kla dus nie oor die rampe van die menslike lewe nie, doen soos Ek: uit alles haal Ek nut vir die bestaan van My groot geestesryk. Wat by My My geestesryk is, dit is by julle jul siel, die komplekse geheel van julle ‘ek’.

Ek het julle nou uitgelê dat julle self skuldig is aan alles, wat die lewe op aarde suur maak. Gebruik die skool dus as `n opwekker van julle geestelike lewe, soek troos en rus in die gebiede, tot waar die wantoestande van die menslike lewe nie meer reik nie, en soos Ek eens vir My leerlinge gesê het: "Julle sou gif kan eet en oor slange loop, sonder dat dit jul sal skaad". Netso sou julle dan selfs uit die bitterste gebeurtenisse die groot lering kan trek en die oortuiging in julself vestig dat die lewe te kort is om die geestelike rykdom van julle siel heeltemal te ontvou, terwyl aan julle eers by `n onvoor­waardelike vryheid aan die ander kant `n werkingsfeer geopen word, wat nou nie begryp kan word nie.

Alles wat die wêreld julle kan aandoen, moet slegs leringe wees; al is dit ook bitter, dit sal tog sy doel as lering nie mis nie!

Al die soortgelyke dinge trek van die wêreld af en omhoog; versit jou nie teen die aandrang nie, want dit is immers slegs maar vir julle geestelik heil!

Wanneer julle eenmaal die wêreld agter jul sou gelaat het, sal julle eers insien wat se belaglike belang julle dikwels aan dinge en omstandighede toegeken het, wat nie werd was dat julle jul daardeur ook maar één minuut besorg of ongerus laat maak het.

So moet die woord julle oprig in die ongeluk, wanneer julle treurig na die toekoms kyk en nie weet wat dit sal bring nie.

Dat die wet ‘Het jou naaste lief soos jouself’, uit die gebied van die menslike werksaamheid verdwyn het en iedereen slegs homself liefhet, is regtig nie My skuld nie; derhalwe is al die lyding, wat voortvloei uit die nie opvolg van die wet, nie My werk nie, maar dit van die mense!

Bekla jul by hulle, trag tenminste om by hulle in julle naaste omgewing die eenvoudige wet toe te pas, en wanneer die resultaat ook maar enigsins gunstig uitval, dan het julle in die bewussyn daaraan `n bydra gelewer wat reeds `n bron van troos en rus is, as teenwig vir die beproewinge wat ander mense julle veroorsaak wat slegs maar hul eie belange volg!

Trag om julle eie geestelike adel te red en laat die ander aan My oor! Ek lei alles ten goede; ter wille van die goeie verspil Ek ook soveel woorde aan julle, om julle tenminste die weg te toon wat julle in die doolhof van die wêreldse gebeurtenisse moet gaan om julle siel te red en My goddelike vonk, wat in julle gelê is, sy waardigheid nie te ontneem nie. Amen!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205