LEWENSGEHEIME
GOTTFRIED MAYERHOFER -AFRIKAANS

Hoofstuk 3

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

 

Hoofstuk 2

Hemel, hel, aarde

(ontvang 9 Julie 1870)

2 Jy wat My om drie woorde gevra het, saam met hul verklaring, dit spreek vanself. Wel nou, Ek gee jou die drie inhoudsryke woorde: Hemel, hel en aarde. Julle sal nou sien wat daar uit hierdie drie woorde aan verhewenheid, opbouends en leersaam vir julle en die hele mensdom te haal is.

Die eerste van die drie woorde dui die grootste aan, sodanig dat julle selfs by die uitspreek daarvan `n hoër toon gebruik en die spraakspiere onder `n groter spanning moet bring, as julle die woord wil uitspreek soos dit verdien om uitgespreek te word.

Weet julle egter wat julle by die woord eintlik uitspreek? Nee, dit weet julle nie, maar julle kan dit slegs vermoed. Want kyk: Die ‘hemel’ is en beduie die hoogste woonplek, as verblyfplek van die hoogste geeste, en ook My meer duursame woonplek. ‘Hemel’ is die hoogste potensialiteit van alle salighede, waar geeste in die suiwerste lig sonder begeertes, sonder gebreke en sonder anders as slegs My hoogste en vir My spesifieke eienskappe*1 na te volg, en almal `n lewe van saligheid lei wat julle hier nooit kan begryp en nouliks vermoed het!

Ook in die gebiede bestaan daar weliswaar verskillende trappe van vervolmaking; ja, vervolmaking hou nooit op nie omdat Ek, deur steeds iets nuuts te skep, nuwe werksfere laat ontwikkel.

Vanuit die hemel gaan alle lewensvonke van My uit via My grootste engelgeeste tot in die onderste lae waar `n vonk van My ‘Ek’, ingeslote in die swaar materie, slegs nog swak gloei. In die hemele, wat ver bokant alle ‘hulsgloben’ (heelalsfere) en materieel geskape sonnesisteme lê, straal ewige rus, ewige liefde. Daar is die vernaamste grondbeginsel van die hoë geestelike lewe om uit liefde vir My My bevele en wense uit te voer, en is dit die grootste saligheid om My eienskappe na te volg.

Daar in die hoogste hemele, waar ewige harmonie van die geeste bestaan, bestaan ook eenvoud, deemoed en naasteliefde in hul hoogste vorm; Ek is daar immers Self die uitdrukking daarvan.

Daar het Ek My verblyf so ingerig, soos dit volgens My wense en gedagtes in die hele skepping sou moet wees; en so sal dit na `n onuitspreeklike verloop van tyd beslis ook wees, wanneer al die geestelik verlorenes hulself, deur beproewinge gelouter, hulle weer vind, en strydend na My sal terugkeer.

Wanneer dit die geval is, kry, soos Ek al eens gesê het, alle wêrelde `n ander vorm. Want dan het alle beproewing en louteringskole hul doel vervul en alles voltooi. En dan moet hulle natuurlik vir hoër geestelike wesens ook anders ingerig word en met groter glans, prag en salighede toegerus word, sodat die gesuiwerde wesens vervolgens weer nuwe stof vind vir hul verdere vervolmaking en hoër geestelike rypheid; want oneindig is die ruimte, oneindig is die grade van voleinding, en oneindig is Ekself as hoogste Al in alles!

Hierdie geestelike hemel, waar `n ewige en sagte genadelig uit My in alle geeste binnestroom, waar vir geestelike ore die suiwerste harmonieë die grootste verlange na My in die hart opwek, is My hemel die toppunt van My onbegrensde liefde, uitgedruk in klanke, kleure en woorde.

Daar leef alles in almal, en elkeen sien homself slegs geluksalig in die saligheid van die ander!

Die grootste verheffing waartoe julle mense op die aarde in staat is hetsy in gebed, gedig of gesang wat julle, soos julle dit uitdruk, ‘ophef tot in die hoogste hemel’ en julle so die voorsmaak gee van `n beter bestaan, is daar in My hemele die onderste trap van salighede, en wel as `n blywende en geen verbygaande gevoel nie.

Hoe die een gees daar te moede is kan Ek julle nie uitlê nie en nog minder laat voel, want julle sou dit in jul aardse omhulsel nie verdra nie; alles op die aarde sou julle teenstaan, wanneer julle maar een sekonde so `n saligheid in julle herinnering sou kan bewaar. Ek sê dit julle hier as ook om julle slegs aan te spoor; sodat julle kan begryp welke genieting eenmaal op julle wag, wat vir die beproefde mens klaar lê as beloning vir sy volharding en sy liefde vir My.

Naas dit wat Ek julle hier oor die hoogste hemele sê, waar geen dag met nag, geen koue met warmte en geen lewe met dood verwissel nie; waar `n gelykmatige, voortdurende ewige ligsee die salige geeste omgewe en alles van hul omgewing verlig is daar ook al die geskapenes van die ander wêrelde geestelik verteenwoordig. Byvoorbeeld: Julle sien `n blom waarvan die kleur julle oë verruk en die geur julle senuwees aangenaam beroer. Julle ken egter nie haar geestelike betekenis nie, ken nie die geestelike substansie waaruit dit bestaan, en ewemin wat daar geestelik in haar buisies of andersins op en neerstroom as suiwer uitvloeisel van `n hoër natuur; `n natuur wat deur die son, waarvan die lig die moeder van die blomekleure en geure is, tot hoog daarbo in verbinding staan met die hoogste en fynste potensialiteite.

Sien, die blom bevind hom ook in My hemele, as geestelike spieël van al die geskapenes. As julle die blom daar eens kan sien qua (in die hoedanigheid van) vorm as slegs lig, qua (in die hoedanigheid van) die kleur, slegs stralende kleur, en haar geur in hoogste geestelike ooreenkoms `n ewige loflied vir haar Skepper!

Daar sou julle eers begryp wat geestelik aanskou wil sê; dan sou julle eers regtig insien hoe afgestomp julle sintuie in die wêreld is. Maar maak julle daar nie ongerus oor dat julle sintuie op die aarde in die toestand is nie. Bedink dat slegs die wyse hand van julle liefdevolle Vader dit so ingerig het; en Sy doeleindes, al begryp julle dit hier ook nie en kan julle dit ook nooit heeltemal begryp nie, is tog van die aard dat dit altyd die hoogste wysheid en liefde as basis het. En daar moet wel dwingende redes aanwesig wees dat dit alles, so `n geluksaligheid, julle eers na `n lang stryd en verloop van tyd ten deel val en ook nog nie aan almal nie maar slegs enkeles, na gelang van hul liefde.

My liewe kinders, as Ek julle dit alles in een keer sou wil laat geniet (wat Ek reserveer vir slegs diegene wat My waaragtig liefhet en daar dus ook in alle erns na gestreef het om My kinders te word), dan sou sonder stryd die onuitspreeklike groot salighede sonder groot waarde en sonder duursame bekoring wees. Want julle sou so-iets immers nie self verwerf het nie, maar as’t ware slegs ten geskenk gekry het en wel sonder groot moeite; daarom sou die waarde daarvan maar half wees en van korte duur.

Slegs wat mens met kraginspanning verwerf, geniet mens eers in volle mate, soos dit by `n verdienste ook hoort!

Waarop kan `n vors of koning wat as koningseun gebore is, hom beroem wanneer `n kroon eenmaal sy hoof tooi? Wees daar seker van dat dit hom baie onverskilliger laat as wat die mense wat onder hom staan, glo. Wat is so `n koning deur geboorte ten opsigte van `n mens wat met al die lyding, liggaamlik en geestelik, gestry het en uiteindelik tog sy doel bereik wat hy nooit uit die oog verloor het nie! Hy is `n geestesgrootheid, terwyl die ander miskien heeltemal geen grootheid, maar op sy hoë pos dalk `n egte nul is.

Daarom moet die een wat My kind wil word, vir wie Ek die grootste salighede bewaar het, die naam ook verdien. Dan eers sal hy alle lyding en stryd seën wat hom bring tot die trap van saligheid, waar die geestelike van die hele bestaan eers begryplik vir hom begin te word; daar waar in die uitvoering en uitoefening van alle engelepligte die hoogste saligheid vir `n geskape gees begin. Aangesien Ek egter eens gesê het dat elke mens die hele universum in hom dra, dra hy ook, alhoewel slegs in die allerkleinste, so korrek beskrewe hemel in hom.

By elke goeie daad, met elke op sy begeertes bevegte oorwinning dring `n ligstraal van die klein liefdeshemel vanuit die sfeer van sy gees in sy mensebors. Dit is `n verbygaande straal, `n vermoede, `n juiging van die siel; maar helaas nie blywend nie. Dit is slegs `n oomblik waarop die gees aan die mens laat sien wat hy in hom dra en wat hy eens sal verkry wanneer hy trou volhard op die moeisame weg van die lewe. Die gees in die mens laat daarvan slegs maar `n sagte naweë agter in die siel, anders niks. Die straal uit die hemele was slegs `n vermanende roep, dit wil sê: Wankel nie en volhard! Eenmaal sal jy blywend hê wat jou hier nou vinnig soos `n bliksem slegs verbygaande beroer!

Word daarom nie moedeloos nie, My kinders; die hemel staan vir julle oop. Vir sover julle liggaamlike en geestelike gesteldheid dit toelaat laat Ek julle hom soms ook voel, om julle aan te moedig. Meer sou julle immers nie kan verdra nie. En sou een van julle wel in staat is om meer te verdra, dan sou hy temidde van die ander mense ongelukkig wees; en in plaas van met ywer op sy weg voort te gaan, sou afmat en vertwyfeling hom terneerdruk. Bedink daarom dat Ek, julle Vader, wyslik alles so ingestel het dat My kinders dit kan verdra en daar ook voordeel van kan hê.

 

Nou sal ons oorgaan tot die hel.

Ongeveer dieselfde as wat Ek julle oor die hemele gesê het, kan julle aanneem vir wat die hel betref, maar dan vanselfsprekend in teenoorgestelde sin.

Ek sal julle egter oor die hel, die inrigting en hoedanigheid daarvan nie soveel meedeel nie, omdat dit My geen genoeë aandoen om daaraan te dink nie en wat ook weinig nut het om haar presies te beskrywe. Dit is voldoende vir julle om te weet dat dit werklik bestaan, en wel tot julle en My nadeel. Maar tog, om julle tenminste iets oor die teenstelling van My hemel te sê, wil Ek julle slegs aangee dat dit bestaan, en wel ewe-eens in verskeie afdelings en vlakke wat so die bose in verskillende grade voorstel; in die sentrum daarvan is die setel van Satan self!

Die Satan, as die gepersonifiseerde kwaad, is as teenstelling van My die uitdrukking van alle hartstogte wat teenoorgesteld is aan My eienskappe. Byvoorbeeld: terwyl Ek uit liefde alles in stand wil hou, sou hy uit haat al die geskapenes alles wil vernietig; ten eerste omdat dit deur My geskape is, en ten tweede omdat dit nou eenmaal geskape is.

As hy sy sin kry, sou hy steeds skepsels van allerlei soort voortbring. Egter nie om hom te verbly in hul bestaan nie, maar slegs om hom oor hul vernietiging weer (Satanies) te verheug; en vervolgens weer opnuut te skep en so die spel steeds van vooraf af aan te begin.

Sy ondergeskikte geeste, wat deur My as lewende wesens geskape word, maar hulself so verduister dat hulle slegs aan die duisternis vreugde belewe, soos My engele aan die lig, is elkeen na die intensiteit van hul slegtigheid nader aan of verder van Satan af geplaas. Hulle is verdeel in verskillende afdelings in en op die aarde, waar hulle hul (duiwelse) genoegdoennings najaag. daarby span hulle hul ook in om soveel moontlik te lyk soos hul heer; en so belewe hulle die grootste vreugde wanneer hulle deur alle moontlike voorspieëlings die mense van die goeie of beter weë kan afwend en hulle op hul groot, breë weg te kan bring. Aangesien in hulle net soos in hul heer slegs Sataniese liefde is, gee dit hul plesier om dit ook te plant in die hart van mense wat aan hul invloede gehoor wil gee.*2

daarby bly hulle nie in gebreke om hul slagoffers die wêreld en die genoegdoenings daarvan so aangenaam moontlik voor te stel nie, om hul slegs plesier aan lis, bedrog, wellus en alle lae hartstogte in te prent en hul so ryp te maak om hul waardige ‘broeders’ te word.

Julle sal My vra: "Maar hoe kan U, Skepper, sulke geweldige hordes bose geeste, net soos hul heer, laat voortbestaan? Waarom vernietig U met een magswoord nie sulke wesens nie, wat die sagte drang van U liefde en U goddelike eienskappe so in die weg staan? En daarby nog: Waarom het U hulle juis in en op die aarde vasgehou, terwyl daar tog miljoene ander aardes en sonne in die oneindigheid rondsirkel, waarvan die bewoners ongestoord hul verbeterings en louteringslewe kan aangaan sonder om aan so `n plaag blootgestel te wees? En ons, wat U U kinders noem, vanweë wie U juis op die klein aardbol gekom het en daar terwille van hulle gely en verduur het, waarom is ons juis hulle wat aan die een kant die bevoorregtes is, maar aan die ander kant die mees geplaagdes en blootgestel aan alle verleidinge en versoekinge?".

My liewe kinders, die verwyt wat julle My hier maak is van julle kant, bedink as mense van die aarde, baie natuurlik. En Ek moet My daarom by julle regverdig, sodat julle tog insien, alhoewel dit na die uiterlike skyn nie so lyk te wees nie, dat Ek steeds die mees liefdevolle en goedertiere Vader is; en dat Ek te alle tye alles slegs vir julle beswil beskik het en ook steeds alles tot heil van My kinders sal lei.

In `n vorige opmerking (die voorgaande boeke) maak Ek al melding van `n gevalle engel wat tewens `n ongekende groot aantal ander geeste met hom saam getrek het in sy val. Ook in die ‘Haushal­tung’*3 (Huishouding boek 3) lê Ek vir julle uit dat vervolgens alle stof uit sy hele sielsgebied, in gedeeltes opgedeel en gebonde in die materie, van hom afgeneem is en nou op die trap van vervolmaking stap vir stap weer tot My terugkeer. En verder, dat alles wat op aarde gebore word, vir sover daar geen geeste van ander wêrelde hierheen oorgeplant word vir die beproewingslewe, ten behoewe van die bereiking van My kindskap almal oorblyfsels van die gevalle engel is, wat ook dieselfde weg moet aflê as al die in die materie gebonde geeste.

Verder het Ek ook nog gesê dat die gevalle engelgees nou juis daarheen verban word, die aarde in, waar My kweekskool vir My hemel is; en dat hy daar die mees werksaamste is, in weerwil van My en My bepalinge.

Kyk, dit het Ek julle almal al voorheen uitgelê, en ook die ‘waarom’; waarom juis daar waar die grootste versoekinge en gevare moet wees, waar geeste en siele hulle tot opgawe gestel het om My ryk te verwerwe en dwars deur hel en verdoemenis die kruis van verdraagsaamheid en liefde te dra, tot My eer en tot skande van My groot teenstander. Ek het ook uitgelê dat daar ondanks alle verleidinge en alle skynbare genoegdoeninge waarmee Satan sy toekomstige leerlinge oorstelp om hulle in sy net te trek en later elke vermaaklikheid en elke genoeë met duisend kwellinge van die hel te vergoed, tog siele op die aarde is wat aan al sy versoekinge die hoof bied en al sy geweldige beloftes die rug toekeer; wat onder lyding en stryd die banier van geloof, deemoed en liefde hooghou en eenmaal nie aan hom, maar slegs en slegs aan My wil toebehoort!

Toe Satan hom van My afskei moes Ek hom en sy hele gevolg hul eie vryheid laat, wat elke gees moet hê om as vrye gees My ooit waardig te kan word.

Bekering tot My moet van binne-uit en uit eie beweging gebeur, nie met dwangmaatreëls nie. Juis daarom moet Ek die manier van doen van My grootste teenstander net soos van sy gebroeders toelaat en hul laat doen wat hulle wil, solank hulle geen afbreuk doen aan My vasgestelde ordening nie.

Dat van alles wat hulle doen die resultaat egter altyd juis die teendeel en teenoorgestelde tot gevolg het van dit wat hulle wil bereik, dit is die triomf van die goeie saak; want ook die bose, ja selfs die slegste waar die skepping op kan buig, moet en kan slegs bydra aan sy (en hul) eie verbetering en die verder bevordering van die goeie in die algemeen.

Juis daarom is Satan met sy ryk daarheen verban, waar aan hom die geleentheid gegee is om alles te probeer wat maar moontlik is om sy lewensteorie teenoor die van Myne te laat geld. Ja, dit word hom selfs toegestaan om Myself tydens My aardse lewe persoonlik te versoek; en dat terwyl Ek nie een geskape gees maar die Skepper van al die geskapenes (en hom self) was. Omdat Ek nie uit sy pad gaan toe hy My aantref as mens, blootgestel aan alle menslike hartstogte*4, durf hy ook die Allerhoogste in versoeking te bring, wat hom ook toegestaan word, maar julle weet met welke resultaat. En so kom hy dan mettertyd in die groot en in die kleine miskien tot die insig dat al sy moeite vir niks is en dat hy in die loop van baie tyd hom tevergeefs versit het; en nog wel teen Die Een wat hom geskep het en wat hom, as hy vandag berouvol sou terugkeer, met ope arms soos `n `verlore seun' sou opneem. En soos Ek julle in die `Zwölf Stunden' al een keer bekend gemaak het gebeur dit nie eensklaps nie, maar stap vir stap; en so sal dit ook gebeur.

Wat Ek oor My hemele sê, naamlik dat elke mensegees dit in die kleine in hom dra, dit is ook so met die kiem van die hel oftewel die lus om te sondig en te handel teen My ordening, oftewel die hel in die kleine in die bors van elke mens.

Dit is daar omdat deugde sonder kennis van haar teendeel, die sonde, geen deuge sou wees nie, en liefde sonder die teenoorgestelde geen liefde sou wees nie! Sou daar geen duisternis wees, as julle nie weet om die lig op waarde te skat nie; sou die verstywende ervaring van koue daar nie wees, as julle nie begryp hoe voel die aangename gevoel van langsaam binnenstromende warmte nie.

Waar My ‘kinder kweekskool’ is, moes dus ook die skool van die oorwinning en bedwinging van alle hartstogte wees!

Wat sou die lewe wees sonder stryd? `n Eentonige verglyding van stukke tyd, sonder om hom daarvan bewus te wees hoe die een kom en die ander gaan. Die lewe sou geen doel hê, en geen aroma nie!

Sout is in al julle geregte, in alle kruie, metale en plante, selfs in die lug en ook in julle maag vanweë die korrekte vertering `n belangrike bestanddeel, wat tot lewe aanspoor en dit juis deur so `n stimulans bevorder. Netso is die sout van die geestelike lewe die versoeking oftewel die neiging om anders te dink en te handel as wat mens eintlik sou moet doen. Juis deur die teenstelling, oftewel die stimulerende middel, word die beter deel van julle ek sterker gemaak. Deur die voeding word die liggaamlike en geestelike lewe in julle in stand gehou en die voortbestaan daarvan versterk. Ook word die genoeë vergroot deur weer `n nuwe vlak van vervolmaking verwerf te hê en wel met stryd en selfverloëning; terwyl julle jul daarenteen by die voortgaan sonder hindernisse totaal nie bewus sou wees van die gemaakte vordering nie.

Hoe juig die hele lewende natuur die son tegemoet, wanneer sy in die oggend haar eerste strale op die velde van julle aarde laat val! Elke wese, elkeen na sy aard, tjirp, koer of zoem sy lofsang die son en die Gewer daarvan tegemoet. Selfs die doudruppel wat aan die blad van `n mosplantjie hang beklee hom met `n diamant glinstering, weerspieël die groot bo hom uitgespreide verligte hemelgewelf, en flonkerend verheug hy hom as’t oor die na die duisternis terugkomende (dag)lig! En waarom? Omdat die nag oftewel die duisternis van die aand tot die volgende môre aan alle lewende skepsels die waarde van die lig laat voel!

So is dit ook in geestelike opsig! Die siel van `n geskape wese besef eers die soet bewussyn van geestelike liefde, geestelike vooruit­gang en `n geestelike, hoër sielelewe, wanneer sy die afgronde en dwaalweë leer ken wat haar op haar beproewingsweg bedreig. Eers wanneer die siel `n klein treetjie verower het verheug sy haar daaroor en hernu alle kragte om `n volgende te bereik. En dus word die stimulans, die genot en die saligheid*5 nie soseer groter met die beter toestande wat die mens verwerf het nie, maar vanweë die hindernisse wat die mens oorwin het.

Sien My kinders: Wat sou alle hemele wees sonder die hel! Hoeseer ontbeer ander skepsels op ander sonne en aardes die saligheid wat slegs aan My kinders voorbehou word, omdat die ander skepsels op ander sonne en wêrelde slegs lig en weinig of selfs geen duisternis ken nie.

Kan julle My nou nog verwyte maak, waarom die hel so naby julle en selfs in julle lê? Of sou julle My nie wil dank en My miskien om meer hel vra, sodat julle nog meer sou kan stry, nog meer lyding, slegs om die naam `My kinders' in `n rykere mate te verdien?!

Wees daarom kalm. Ek weet wat vir julle as beproewingskool noodsaaklik is. Verlang nie meer as wat julle deur My gegee word nie; en wees daarvan verseker dat julle genoeg het met dit wat My liefhebbende hand julle oplê. As dit meer sou wees, as sou dit `n straffende hand wees, en dit het Ek nie as julle Vader nie!

Nou het Ek julle dus laat sien hoe selfs die uitsluitend bose, ja die mees bose in die hele skepping, met sy doen en late deur My tog tot seën van al die lewende gebruik en benut word; en hoe die Satan met sy helpers oor die geheel geneem juis tot die grootste seën moet bydra, in plaas van om My te skaad!

 

Nou wil ons oorgaan tot julle woonplek; wat as derde hierbo gegee word: ‘die aarde’, sodat julle ook daar weer die liefde en omsigtigheid van julle Vader in Sy hele heerlikheid mag sien!

Julle sal al bemerk het by die uitspreek van die woord ‘hemel’, waarby julle jul stem hoër moet laat klink, net soos die by die woord ‘hel’ laer moet word dat by die uitspreek van elkeen van die woorde `n ander spierbeweging optree. Wel nou, by die uitspreek van die woord ‘aarde’ is die spierbeweging weer anders, deurdat julle daartoe die mond wyd moet oopmaak.

Kyk, dit is by die uitspreek van die drie woorde in julle taal en die bybehorende beweging van die spraakorgaan so gereël dat geeste, wat die leer van die ooreenstemminge in die skepping beter ken as julle, in die beweging van die spiere in die mond alles al geskrywe en opgeteken sien wat die een of ander uitgesproke woord te beteken het.

By die woord ‘hemel’ het julle gesien hoe die verhoging van die stem saamhang met die nadere beskrywing daarvan. By die uitspreek van die woord ‘hel’, waarby die mond as `n holte gesluit moet word, sal julle die noue verband tussen die spierbeweging en die beskrywing van die hel nie ontgaan nie. Daarby word die woord ‘hemel’ ook nog uitgespreek met `n opkyk na bo en die woord ‘hel’ met die blik na benede en beslis nooit na bo nie; ten slotte word ‘aarde’ met wyd geopende mond reg na vore uitgespreek. Beide die eerste twee woorde het ons bespreek. Nou moet ons nog om die laaste wyduit gespreekte woord met sy geestelike ooreenstemming en die aarde as julle verblyfplek aan `n nadere beskouing onderwerp.

By die woord ‘aarde’ moet mens die mond wyd oopmaak, selfs moet mens by die uitspreek van die woord die lippe optrek en die wit tanderye laat sien. In die geestelike betekenis van die aarde beteken dit dat soos by die uitspreek die lippe as voorhangsels opgetrek en die tande getoon word, dat by die aarde in geestelike sin die swakkere (naamlik die vlees) teruggetrek en die stewiger, kompakter dele, die morele, oftewel die tande in oënskou geneem moet word.

Sien nou, My kinders, as geestelike ooreenstemming beteken die tande, as stewige botagtige dele, die duursame en vernaamste houvas, sowel in die mens as in die aarde. In die eerste geval gee dit aan die gelaat `n mooi vorm om te sien, en die vorm bring die moreel skone in die hele uiterlike van die mens tot lewe. In die tweede geval is dit in die aarde self as liggaam aanwesig, en die innerlike lewenskrag daarvan bring die skoonheid van die aardoppervlak voort.

Tande beteken daarnaas ook nog die moreel psigiese element, wat die vernaamste geestelike verteringsorgaan is wat in die wêreldse lewe die goeie van die slegte sou moet skei. En soos in die mond by die vermaling van voedsel deur die tande die sout hom in speeksel en maagsap meng, so kom die sout ooreen met die prikkel om steeds teen die goeie in te handel. En dit is julle hoofopgawe om jul teen die prikkel weerstand te bied en daarin ten slotte ook te oorwin. Hier op die aarde ontvang julle alles vermeng, goed en sleg, liefde en haat, lewe en dood; dit wil sê dat die een maklik die ander afwissel, oftewel dat elke ding maklik omslaan in sy teenpool.

As julle genoeg krag het om die bose en slegte uit te werp as die kwaad, hoe dikwels dit ook op julle afkom, sal dit in julle siel tog geen blywende indruk agterlaat nie; en aan die anderkant sal dit geheel verdwyn en sal slegs die goeie julle eintlike waarde uitmaak!

Dat julle by die uitspreek van die woord ‘aarde’ die mond wyd moet open in `n horisontale rigting, het as ooreenkomstige betekenis dat julle aarde in geestelike opsig, hoewel sy liggaamlik klein is, ver verby alle sonnegebiede, ja selfs tot in My hemele reik; dit kom deurdat die klein planeet ten eerste die woonplek van My kinders is en ten tweede ook die van My was, waar Ek deur lyding en sterwe die oorwinning oor die bose bevogtig het.

As julle die geestestaal ietwat beter sou ken, sou julle in elke woord wat op My betrekking het die belangrike en baie groter geestelike sin onthul; sou julle geen genoeë neem met die begrip van die woord as `n soort kors, maar aan die innerlike waarde meer vreugde en geluksaligheid belewe as wat ooit in julle gedagtes opgekom het.

Dan sou julle daarnaas ook vind dat elke volk, na gelang van die qua geestelike trap hoog, hoër of die hoogste staan, hom openbaar in woorde en uitdrukkings wat My aandui. Of glo julle dalk dat tale bedink word, soos julle taalondersoekers meen om aan te toon? O, dan maak julle `n groot fout!

Woorde is nie altyd gemaak aan die hand van nuwe ontdekte voorwerpe en nuwe behoeftes van `n volk nie, maar taal as geestelike produk loop steeds parallel met die geestelike sienswyse van `n volk. Julle kan immers self sien uit die geskiedenis van die nasies, hoe met die geestelike styging of daling van `n nasie die taal hom ewe-eens verhef of afdaal, en hoe met die eindiging van `n nasie ook die (lewende) taal geheel uitdoof.

Taal is die uitdrukking van die siel*6. Hoe hoër en skoner die taal, des te groter is die intensiteit van haar uitdrukking. Dit weet egter slegs geeste om dit op waarde te skat, of ook deur My liefde en genade gewekte mense. Agter die verskillende wendinge van mond en keelspiere, tussen die sissende, klakkende, trillende en fluitende klanke wat op `n bepaalde manier saamgestel die een of ander woord uitmaak, ontdek hom `n hoër geestelike betekenis wat vir julle soos hiërogliewe van `n verlore paradys onbegryplik geword het!

Ook daarin is die aarde dus verskillend van baie ander wêrelde. Terwyl op die wêrelde slegs één wyse van uitdrukking (taal) heers en alle skepsels slegs een en dieselfde weg gaan, bestaan daar op aarde duisende verskillende tale, as verbasteringe van slegs een taal. Op die manier is dus aan die bewoner van die aarde - naas baie beproewinge van sy geduld en uithoudingsvermoë - bowendien nog opgelê dat hy, as hy wil omgaan met sy broeders van ander nasies, hul taal moet leer om hul te laat begryp wat hy dink en voel; of as hy van sy vreemde broeder iets wil leer of hom self iets duidelik wil maak, moet hy hom in die taal verstaanbaar maak.

Waar julle ook kyk op die aarde van die mees onbeskaafde volke tot julle opgevoede nasies, sien julle die klein aarde met haar onrustige geeste hom uitbrei verby al die bekende. Weliswaar is by die meerderheid ook oral eiebelang die vernaamste dryfveer, maar tog bring hy die volkere saam, daardeur leer hulle mekaar ken en leer die een die ander waardeer en liefhê.

Die ondersoekers van die natuur, die sterre en die binneste van die oppervlakte van die aarde gee hul insigte, naamlik dit wat Ek die enkeling uit genade laat vind, as gemenegoed aan die mensdom; sonder om dit te weet voer hulle My en nie hul planne uit nie, en so voed ek die siele van die aarde, wat ook vir `n kort tydjie My verblyfplek was, op tot `n beter lewe.

Nou spoed die gedagtes van die mense hom bliksemsnel van die een pool na die ander, en self rol hulle oor yster paaie soos `n windvlaag van die een na die ander plek.

Die paaie is van yster en die meeste wat daaroor reis het ook `n hart van yster (tenminste vir hul medemens); maar dit is nie ter sake nie. My doeleindes word deur die vinnige verbinding tussen stede en dorpe en deur die byeenkom van die daarin wonende mense tog nog meer bevorder as wat alle bouers en besitters van die spoorweë glo.

Hier het Ek hemel, hel en aarde, oftewel geestelik goed, kwaad of materieel denkende mense dikwels in een wa dikwels by mekaar gestop. By die instap was hulle elkeen vir hom nog so ongeveer hul eie mening toegedaan; by die uitstap het die hel miskien aan die hemel en die aarde `n blywende vonk van lering onttrek, wat sy hele lewe nie meer uit sy gedagtes sal gaan nie.

So voer Ek My planne uit en daarby benut Ek ook die saam reis. By wat voorheen deur strak begrensde kringe geskei was, daar sorg Ek dat vooroordele vergete word. En ook al is eiebelang of die drang na genot en geld die aanleiding waarom mense saamkom, na ander lande reis of hom blootstel aan gevare van allerlei aard, dan het Ek in die geval tog My doel bereik, naamlik die doel van verbroedering. Nou is daar slegs nog `n kragtige skok en `n geestelike impuls nodig en dit staan die mense klaar as broeders, om gesamentlik My as ewige Herder te volg! Dan is die geestelike betekenis van die aarde ook vervul; dan is dit die tyd dat Ek persoonlik onder julle sal kom, nadat die weerspannige verwyder is en slegs die gewilliges het gebly.

En so sien julle, My kinders, hoe hemel, hel en aarde in die groot en in die klein slegs die doeleindes moet volg van die liefde, die grondgedagte van My skepping.

Reken ewenwel nie in jare by wat Ek julle nou net gesê het nie; by My bestaan geen tyd nie! Ek ken geen dag en geen nag om die verloop van die tyd te meet nie; by My is dit voortdurend dag. Voortdurend straal die son van die liefde, wat almal belig en sal belig tot almal die weg na My, hul mees liefdevolle en goederentiere Vader, gevind sal hê.

Ek glo nou dat ook jy tevrede kan wees met die deurgewing; dit is weer `n helder lig in die valleie van My skepping. Bedink wel wat `n liefde en genade Ek julle ten deel laat val, deurdat Ek julle soveel geestelike brood aanreik, sodat daar in julle hart beslis geen twyfel meer mag opkom nie; asof nie alles wat julle sien, van die hand van die Vader sou wees!

Dit sê Ek jou tot troos, met My seën! Amen!

 

*1 Sien die sewe goddelike eienskappe o.a. `Prediking van die Meester', pred. 32.

*2 Hieroor is ook te lees in `Prediking van die Meester', pred. 15.

*3 `Die Huishouding van God. Die oergeskiedenis van die mensdom'. Driedelige werk, ontvang deur Jakob Lorber.

*4 Sien `Die jeug van Jesus', hfst. 299 en 300.

*5 Sien `Prediking van die Meester', pred. 37.

*6 En die oë is `die spieël van die siel', vandaar die verwantskap wat tussen dit met die mond en die oë uitgedruk word.

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205