Boek 2 - Aan die Boerevolk van Suid-Afrika, gekluister in nood
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 25

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27.

 

Deel 5

Die Melgisédek-orde, `n orde van Liefde

Elke gelowige is deeglik in sy innerlike bewus daarvan dat ons nou aan die einde van tye leef. Die hele bose wêreldsituasie skreeu dit uit dat die verwoesting, soos destyds met Sodom en Gomorra, op hande is. Uit die Skrif is dit ook duidelik dat ons Heiland `n klein oorblyfsel sal beskerm in hierdie benouende tye. Hy noem hierdie oorblyfsel Sion of ook die Dogter van Sion.

As ons aanvaar dat Hy ons sál beskerm, is dit noodsaaklik dat ons ook moet weet hoe Hy ons sal beskerm. Al die antwoorde is wel in die Bybel, maar versteek, sodat slegs Sy kinders wat Hom waaragtig in die liefde sal soek, daarop sal afkom. Daarin lê die veiligheidsmeganisme vir Sy kinders opgesluit, naamlik dat die vyand, Satan se wêreldkinders, dit nie sal weet nie.

In die Wet van Moses sien ons hoedat JaHWeH `n hele volk, naamlik Israel, uitlei uit Egipte uit. Hy bring hulle in die woestyn en deur hul eie ongehoorsaamheid en rebellie moet hulle toe veertig jaar daar vertoef. Daarna word hulle Kanaän binnegelei en vestig die volk hulle op die grond wat lank tevore aan Abraham, Isak en Jakob met `n eed beloof is.

Die regeringsorde wat in die woestyn aan Israel gegee is, waarmee hulle hulleself verder regeer het in Kanaän, was genoem die Levitiese orde. Dit was `n orde met JaHWeH Self as hoof, deur na die Hoëpriester, dan na die volk. Hierdie orde was `n afbeelding van die hemelse (Exodus 25: 9 en 40) en het grootliks daarop gedui dat daar `n toekomstige ware of hemelse orde sou kom. So het die bloedoffers gewys op die Messias wat sou kom om ons volkome met Sy eie bloed te verlos. Ook was die wette wat gegee was, afbeeldings van die hemelse. Dus het elke wet `n fisiese en geestelike betekenis. Vergelyk die hou van die Sabbat elke sewende dag; - hoe word die Sabbat in die hemel gehou waar daar slegs ewige dagtoestande heers?

Hierdie nuwe geestelike orde, waarvan die Levitiese orde (vleeslike orde) `n afbeelding is, heet die Melgisédek-orde. Hierdie orde het eintlik reeds vroeër in die tyd van die stamvaders bestaan, maar weens die verharding van die volk se harte het hierdie orde tot niet gegaan. Die naam van die orde verduidelik homself. Melgisédek bestaan uit twee frases, naamlik “Melek” wat koning beteken en "tsedek" wat Geregtigheid beteken. In Genésis 14 sien ons dat JaHWeH Self Melgisédek was en in Salem (wat vrede beteken) gewoon het as `n Koning en dat die stamvaders Hom gereeld besoek het vir leiding. Ook sê die Skrif dat Hy `n priester was. Ons het dus die volgende. Hierdie Melgisédek was dus `n Priester-Koning van die Allerhoogste (Hoogste El), Koning van Geregtigheid en Vrede.

Hierin lê die sleutel van die toekomstige Melgisédek-orde vervat. Ons Verlosser, JaHshua, het aarde toe gekom in Sy eie vlees, sodat Hy die materie, die vlees, die sonde, kon oorwin. Daardeur het Hy vir ewig die Priester Melgisédek geword, oftewel Koning van Geregtigheid en Vrede (Hebreërs 5:6 en 10). Daarom sal JaHshua ook die Koning van die duisendjarige Vrederyk wees waar volkome wedergeborenes saam met Hom sal regeer, ook as priesters in die Melgisédek-orde.

Die Tabernakel in die Levitiese-orde maak dit vir ons duidelik. Die Tabernakel het uit drie afdelings bestaan, naamlik die voorportaal wat ons liggaam voorstel, die Heilige wat ons siel voorstel en die Allerheiligste wat ons gees voorstel. Hoe meer ons van die sonde wegbeweeg, hoe dieper beweeg ons in hierdie tabernakel van ons eie wese in. Iemand wat uit die heilige leef, poog om sondeloos te lewe en sal vanuit sy siel poog om JaHWeH te behaag. Iemand wat vanuit die Allerheiligste lewe, is alreeds volkome wedergebore en sy vlees sal heeltemal verheerlik wees. So `n persoon sal dan ook nie meer kan sondig nie (1 Johannes 5:18).

Die trek van Israel uit Egipte stel ook die trek uit die vlees voor, in ons eie wese, die sonde wat oorwin moet word in ons liggaam. Daarna kom die woestyntydperk aan die beurt, naamlik die reinigingsfase van die siel, waar jy jouself geheel aan JaHshua se Woord oorgee en daarvolgens begin lewe. Jy word jou eie priester oor jou eie wese en pas die Geregtigheid op jouself toe. Die tyd bepaal jy self; jy kan veertig jaar neem, óf, jy kan direk na die berg Horeb (JaHshua se liefdesleer) gaan. Dan kom jy by die grens van die ewige Kanaän aan, voorgestel deur die voorhangsel in die tabernakel. Dit is die skeiding tussen die geestelike en die aardse. Gaan jy deur jou eie voorhangsel heen tot in die binneste van die Allerheiligste (jou hart/gees), vind die wedergeboorte van die mens plaas en gaan jy simbolies oor die Jordaanrivier in die ewige Kanaän in. Dan is jy volkome een met JaHshua, en is Hy in jou en jy in Hom. Hy is dan jou Hoëpriester en Hy heers vanuit jou hart/gees (jou Allerheiligste) op aarde. Dit is hoe jy self `n Melgisédek-priester word. Dit staan ook bekend as die volkome hemelse huwelik. Nadat JaHshua met sy dood en opstanding vir ons die voorhangsel geskeur het (Matthéüs 27:51 en Hebreërs 10:20), en Hy Self as Melgisédek begin heers het, sowat tweeduisend jaar gelede, het hy nou aan die eindtyd, vlak voor die duisendjarige vrederyk, die weg oopgemaak vir elkeen van Sy getroue kinders om die hemelse huwelik met Hom te sluit en so die volkome wedergeboorte te bereik. Anders gestel, ons kan nou ook saam met Hom regeer as Melgisédek priesters.

Hierdie belofte staan bekend as die Nuwe Verbond en is nog steeds wetlik gegrond met Israel as die een party en JaHWeH as die ander kontrakterende party. Paulus stel dit so in Hebreërs 8, Ou Afrikaanse Vertaling:

Heb 8:6  Maar nou het Hy 'n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van 'n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is.

Heb 8:7  Want as daardie eerste een onberispelik was, sou daar nie plek vir 'n tweede gesoek word nie.

Heb 8:8  Want Hy berispe hulle en sê: Kyk, daar kom dae, spreek JaHWeH, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond (Melgisédek-orde) tot stand sal bring,

Heb 8:9  nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipteland uit te lei nie (Levitiese-orde); want hulle het nie gebly by my verbond nie, en Ek het hulle veronagsaam, spreek JaHWeH.

Heb 8:10  Want dit is die verbond (Melgisédek-orde) wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek JaHWeH: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe (volkome wedergeboorte); en Ek sal vir hulle 'n God (Melgisédek) wees, en hulle sal vir My 'n volk (volk van volkome wedergeborenes) wees.

Heb 8:11  En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken JaHWeH nie; want almal (wedergeborenes) sal My ken, klein en groot onder hulle. (want Melgisédek heers vanuit elkeen van hulle se harte) (eie invoegings in hakies)

 

Omdat JaHshua die Hoëpriester Melgisédek Self is, sal die orde dus die uitoefening van Sy leer van Liefde wat Hy vir ons op aarde kom leer het, behels. Daarin lê die sleutel van die volkome wedergeboorte verborge. So `n wedergebore persoon sal in staat wees om terselfdertyd op aarde en in die hemel te wees, want sy vleeslike liggaam is nou verheerlik. Hy sal ook alomteenwoordig wees, sal oor al die kragte van die Gees beskik, maar sal so sag, liefdevol en nederig wees, dat niemand hom sal herken as wedergeborene nie. Die primêre doel van wedergeborenes, oftewel Melgisédek-priesters op aarde, is om te dien. Die hele skepping moet gedien word in die grootste nederigheid, deemoed en liefde. Die verwronge natuur, besoedel deur langdurige sataniese invloed, sal weer binne die oorspronklike orde gebring word, deurdat alle natuurgeeste ondergeskik aan hierdie Melgisédek-orde sal wees. Die belangrikste egter, is die leiding wat hulle gaan gee aan die verlore skape van die Huis van Israel. Hierdie skape moet ook gelei word in die Liefdesleer van die Messias in en dan verder tot die wedergeboorte.

Die roete wat gevolg moet word tot volkome wedergeboorte, asook die plek op aarde waar die wedergeboorte eerste sal plaasvind, sal in die volgende hoofstuk bespreek word.

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205