Boek 2 - Aan die Boerevolk van Suid-Afrika, gekluister in nood
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 8

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27.

 

Die Heiland spreek op 27 Nov. 2007 om 07:50

“Dit was twee dae na My opstanding en `n pragtige sonskyndag. Ek het aan My dissipels verskyn waar hulle besig was om vis te vang en hulle het My gesien staan op die strand. `n Skielike verlange na My het hulle almal oorval, aangesien hulle nie kon uitmaak of dit werklik EK was wat daar op die strand gestaan het nie. Hulle het almal in My rigting gekyk en My Petrus is deur `n sware emosie oorval wat hom gedryf het om na My te hardloop. Hy was nog in die skuitjie en het sommer oorboord gespring in sy haas om by MY te kom. Sonder om te dink, het hy aangespartel gekom na waar Ek gestaan het. `n Baie groot liefde het My hart vervul vir hierdie man wat sommer alles net so gelos het vir MY en selfs deur diep water na MY aangeswem gekom het. EK het hom tegemoet gekom en hom uit die water gehaal waar EK hom styf teen MY bors gedruk het. Hy is deur MY gereinig en daarom kon EK hom vashou. Geen sonde het meer aan hom gekleef nie en deur My bloed is hy skoongewas van al sy sondes. Petrus is ook die eerste een wat so deur MY gereinig is. Die ander het ook so gou as moontlik na MY gekom en het MY ook vasgegryp in liefde.

Dit was egter MY Petrus wat alles net so gelos het en oorboord gespring het vir MY en dit is wat EK van julle almal wil hê. As julle alles net so los en MY met ope arms vasgryp, sonder julle aardse gedagtes, sal julle ook so deur My vasgegryp word soos hy en julle sal gereinig wees van al julle sondes. Geen mens wat op so `n manier na MY soek, sal met leë hande weggestuur word nie en sy hart sal vol van MY wees. EK sal hom so vervul soos wat Petrus se arms vol was toe hy MY vasgegryp het en EK sal sy hart en sy arms vol maak. Gereinig deur MY bloed sal hy dan gereed wees om saam met MY te sit en Ek sal soos `n broer met hom gesels. EK het saam met MY dissipels op die strand gesit en hulle het vir MY `n vis gegee om te eet.

So wil EK met julle ook gesels en EK wil julle harte as offers hê. Bied MY jou hart aan en jy sal nooit versadig word van MY nie. EK sal nooit van jou af weggaan nie. Jy sal My altyd in jou binneste hê waar EK vir My `n tempel berei het. Sonder dat jy ooit van MY geskei is, sal ons dan gesels en EK sal jou in alles inwy. Jy sal MY volheid in jou hê en al slaan die storms om jou, sal jy so vas soos `n rots staan omdat EK by jou is. EK is nie `n mens wat jou sal versaak nie. Geen slegte praatjies oor jou sal MY van besluit laat verander oor jou nie. Geen slegte tye sal maak dat EK van jou af weggaan soos `n mooiweersvriend nie. En niks wat jy doen sal MY jou laat verlaat nie, omdat EK alles van jou af weet. EK weet wanneer jy deur ander mense valslik beskuldig word. EK weet wat jy in jou hart voel, al lyk jou uiterlike anders.

Dit is waarom dit onnodig is om MY uiterlik te aanbid, omdat dit net die mense om jou behaag. Jy moet MY in die diepte van jou hart aanbid en EK sal jou aansien en EK sal jou liefhê net soos jy is. Jy hoef nie aan te pas sodat EK jou moet liefhê nie. EK het al MY kinders uniek gemaak en is daarom vir elkeen lief net soos wat hy is. Die sonde is uitgesluit en word deur MY alleen vergewe, maar die persoonlikheid bly net soos wat EK jou geskape het. Dit is My woorde aan julle wat MY Liefde broodnodig het in hierdie tyd. Geen mens kan sê dat hy MY nie nodig het nie, omdat EK die Een is wat alles onderhou, maar julle wat MY liefhet, besef dit en soek bewustelik na MY Liefde en sal nie onversadig van MY af weggaan nie, omdat EK julle met Liefde vervul en die hele tyd by julle is. Julle sal dan ook vervul voel en MY nabyheid voel. EK is waar liefde is, omdat EK Liefde is en julle sal MY voel waar julle kom en `n gevoel van naasteliefde heers. Daar sal dan ook vrede heers tussen MY mense en ook in elkeen se hart wat MY liefhet. Sonder liefde sal daar nie vrede wees nie en daarom is daar nie vrede op die wêreld nie, omdat die mense nie na MY soek nie en daarom ook nie liefde in hulle het nie.

Maar tussen MY kinders sal daar samehorigheid wees. Hulle sal almal saam dieselfde voel, omdat EK in elkeen se hart werk en daar teenwoordig is. Dit is dan ook die rede dat EK julle aanspoor om MY lief te hê, sodat julle vrede kan hê binne en tussen broeders.

Die wêreldse vrede is `n valse vrede en soek nie daarna nie, omdat dit nêrens te vinde is nie. Al waar daar ware vrede heers, is in MY ryk waar EK die heeltyd is. As EK in jou hart is, is MY ryk ook daar en EK sal julle almal, wat MY vrede in julle harte ronddra, na MY ryk van vrede vat met MY wederkoms. Strewe dan na liefde, en vrede sal ook bygevoeg word, sodat julle hemel op aarde kan hê. Tussen broeders sal daar dan nie tweestryd wees nie en niemand sal die ander een wil benadeel nie. Daar sal nie rusie wees nie en die een sal die ander in liefde dra en ontvang. Dit is wat EK vir julle gee om te doen aan mekaar en dit is tog nie so moeilik nie!

Wees eerstens vir MY lief, laat alles net so staan vir My, offer MY julle harte en wees vir mekaar lief en julle sal alles hê wat julle nodig het, omdat EK dit alles aan julle sal gee. Ook die ewige lewe sal julle beërwe en by MY sal julle dan altyd wees. Dit geld ook vir die komende tyd waartydens julle baie swaar gaan hê. Julle almal sal deur My gedra word deur julle liefde vir MY in julle harte. Dink net gedurig aan MY en wees MY gehoorsaam, sodat die bose nie `n oorhand oor jou kan hê nie en jy sal gered word.

Amen.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205