Boek 3 - Mens, wie is jy?
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 6

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36.

 

Hoofstuk 5

Vrou binne die Wet van God

27 April 2009

Deur My kneg Moses is daar aan die volk van Israel tien Gebooie gegee as riglyn vir hul daaglikse lewe. Hierby is `n hele aantal insettinge en verordeninge toegevoeg. Aan Moses het Ek gesê dat dit `n afbeelding is van wat in die hemel is, en het ook die hemelse aan hom getoon. Dit is jou taak, geliefde vrou, om in jou innerlike na hierdie hemelse of geestelike betekenis van elke gebod te soek. Met die mate waarmee jy soek, sal jy vind en so jou skat in My Koninkryk vermeerder.

Ja, Ek weet jy vra dadelik: Wat van die offers? Nee, Ek was die hoogste offer. My vlees en Bloed het alle offers van bokke en stiere tot `n einde gebring. Die offer wat Ek nou verlang is `n berouvolle hart wat in liefde en deemoed My aangebied word. Hierin het Ek `n welbehae. Laat jou gebede die lieflike reukwerk wees wat jy daagliks in Gees en Waarheid vir My bring, terwyl die lofsange van jou hart My verbly as die skoonste tone vir My.

Amein.

Kom ons staan `n wyle stil by die eerste gebod: “JaHWeH jou God (en Vader) is `n Enige God en jy mag geen afgode voor Sy aangesig hê nie.” In wese beteken dit dat daar net Een Persoonlikheid is wat aanbid moet word. Vader, Seun en Gees is EEN. Dit wil ook sê dat niks en niemand aan My gelyk gestel mag word nie. Sou jy enige aardse bedrywigheid of persoon bo My stel, is jy besig met afgodery. Amein.

Reg deur die Bybel het jy al gelees van name wat verander het en die betekenis daarvan. Hieruit is dit duidelik dat `n naam belangrik is en ook kenmerke bevat van die persoon se karakter. Dieselfde geld vir My Naam en aangesien Ek as Menseseun na die aarde gekom het ‘in die Naam van My Vader’, het Ek bekend gestaan as JaHWèshua, verkort as JaHshua en beteken: JaHWeH Verlos. As Seun van Hebreeuse ouers uit die stam van Juda, sou hulle tog geen Griekse naam aan My gegee het nie, maar in gehoorsaamheid aan God (JaHWeH) se opdrag, Sy Naam aan Sy Seun gegee het. Liefste vrou, Ek sien jou kommer en vraag dat jy grootgeword het met die naam Jesus en ook so tot My bid. Nee, almal wat My in opregtheid en liefde só ken, is nie verdoem of verlore nie, want deur vertalings en insprake van My teenstander het My Naam verlore geraak. Maar noudat jy weet, watter Naam verkies jy? In die gebruik van My Naam lê groot krag, daarom mag daar nie ligtelik mee omgegaan word nie. Kom soek My in die binnekamer van jou hart en Ek lei jou op die weg van geestelike waarhede en geestelike dieptes, aan jou nog onbekend. In elk van hierdie gebooie is daar veel te ontdek.

By die tien Gebooie van Moses is ook die twee liefdesgebooie van: Liefde tot God en liefde tot jou naaste. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete. Uit Liefde is dit gegee en in liefde moet dit beoefen word. Hê My lief met jou hele hart, siel, verstand en al jou kragte; wat beteken dat jy My eerste moet stel in jou lewe. Rig jou hart en wese na My, terwyl jy jou dagtake outomaties uitoefen. Hê jou naaste lief, soos jouself in daad en in waarheid, dáárin is Ek te vinde. In opregtheid en nederigheid moet julle mekaar dien, want die een wat sê dat hy My liefhet en sy naaste haat, oortree die gebod van ‘jy mag geen valse getuienis lewer nie’ en is `n leuenaar. Leef die liefdesgebooie en My beeld in jou sal gestalte vind. Jou lig sal skyn in `n wêreld vol bedrog en onmin.

Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205