Boek 4 - Jou Kruisiging
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 3

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7.

 

Deel 2

Aan My Volk, gekluister aan die Aarde waarin hulle verslaaf is:

Soos aan Nalize gedikteer op 17/4/2009

Ek bring die Weg tot bevryding, deur die Wet van Moses, as julle die Liefde begryp waarin dit die drie-eenheid IN elkeen tot LEWE roep in My orde. Ek spreek vanaf vandag in harte wat ontvanklik is, hoe My orde van ouds die sleutel tot Volmaakte Menswees word in die poorte van Liefde, Krag, Waarheid en Wysheid.

Wees gereed om, soos Israel van ouds, deur gehoorsaamheid OF jarelange beproewing die land Kanaän in julleself te betree. Die Land is ‘n Hemelland wat drup van Liefde en Wysheid op verskillende vlakke van ontwikkeling IN My en daarom mag julle roem op die Glorie en Goedheid van julle Wyse Maker wat julle in eenheid laat floreer met almal wat op dieselfde vlak as jy aanbid. As jy egter om jou heenkyk, sien jy die volk voor My aangesig, wat ook een is en wil wees met mekaar, deur hulle handel en samehorigheid. Ek is die Kern van hulle bestaan en hoe sterker hulle strewe na My (wat vanself oorgaan in dade), hoe groter is die groep met wie hulle kan een word. Fokus dus eerste op My, dan sal die Volkseenheid en eenheid van Priesterdom geskoei wees op die Rots – onwankelbaar.

In hierdie openbaring staan My Woord net so vas, soos Moses se insprake van Liefde in My Skrif. Dit is onveranderlik en die begin van alle werke van wedergeborenes onder die volk. Ek stuur julle binnekort uit om in die Liefde te onderrig, dit is om in die Woord/Wet te onderrig. Wees versterk deur jou anker in die Wet om My uit te dra aan kinders van My Ryk. Só bou hulle en word Een met My van grondslag tot vrugdraende boord. Ek wil oes, is jy gereed? Sal jy deur My Liefde (Wet) die Wysheid hê om My Krag te gebruik in die inwinning van knegte, engele of visse vir My?

My volk, staan op in die ware weg van selfverloëning DEUR die Wet, soos gegee in die Heilige Skrifte en jy sal die roete tot Liefde en nederigheid vind as navolging van My Heilige bestaan. Mag My Woord nooit weer in jou binneste vertrap word, terwyl jy net ten dele verstaan nie. As jy deur die Liefde van die Wet, die Wysheid in jou opneem om My Krag tot aansporing, bekering, vryspreking en redding te gebruik, sal jy die Geestelike reeds op aarde deelagtig word. Dit is nóú reeds moontlik.

Die teendeel van jou keuse bly waar, naamlik dat jy deur jou handeling of hartsbegeerte jouself oordeel tot Geestelike dood of steniging. Laat geeneen die ander oordeel nie, want die wet, self, is elkeen se Geregtigheid, dus bewys van jou aanspraak op Lewe of Dood in die Gees. Leef jy reeds as dooie in die vlees, deur jou vlees te dien, het jy jouself uit die midde of eenheid van die vergadering geskuif, want jou strewe is dan teen die Liefde.

Ek spreek daarom weer: Om Een te word met My, is om die Liefde te Lewe en die Wet, soos deur Moses gegee, is die insprake van Liefde en Wysheid in jou hart. Handel daarvolgens, soos Ek, en jy sal Lewe. EK IS LIEFDE, jou dade, jou woorde en jou LEWE. Amein.

Die volheid van die Vader woon in Jahshua, Sy Seun, en ons is gered deur Hom.

Die Woord aan My Volk, soos hulle uit Egipte uitgelei word op die Weg na die Land Kanaän:

Soos aan Nalize gedikteer op 18/4/2009

My Volk, waarom wil jy jou verhard teen die Woord in jou, as dieselfde Woord Een is met die Gees wat jou help en rig en bevry? Ek, julle Maker, is julle Rigsnoer en Bevryder, daarom roep Ek julle na die Liefde in julleself om My Woord as Wet aan te neem.

Wees nie goddeloos deur wetteloos voort te handel nie. Daarin lê geen seën en geen Liefde nie. Die Liefde ís die dade van die regverdige. Wees regverdig voor My, sodat Ek met jou, soos met Noag en Israel ‘n Verbond kan nakom. Die Verbond is reeds gegee en verwoord en jy moet besluit of jy bereid is om jou kant daarvan ná te kom, dan kan Ek met jou Een wees in die Verbond. My Woord staan vas (Verwys na die Verbond en Gelofte aan die einde van hierdie dokument).

As jy nie deel wil wees van Israel wat die land Kanaän beërf nie, sal jy moet deel wees van die knegte na wie Ek en My Israel-Priesterdom moet omsien. Dit maak die omvang van die Skepping veel kleiner. As jy deel word van die Skepper, sal jy deel in die vreugde van die Skepper. Dit is ‘n ewige vreugde en dit is bedoel om alle Goedheid deelagtig te wees.

My volk, rig jou tot die Lewe deur die kliptafels in jou Verbondsark te heilig. Heilig dit deur die woorde wat ingebrand is daarop, as gewete te gehoorsaam. Dán kan die Priester in jou begin diens doen in die tempel van jou wese. Die hemele sal só vir jou oopvou en die nuwe aarde sal vir jou oopgestel word. Amein.

Die Verbond met My Volk vanaf 2008

Soos aan Francois gedikteer op 28/10/08.

My lieflingskinders, hoor die stem van jul Vader. Ek, die Heilige, die Ewige, spreek; julle gelofte sal julle doen ter bevryding van julle volk, omdat Ek julle gekies het as tussen-persone, as middellaers en verteenwoordigers van My volk. Ek wil julle gebruik ter verlossing van die reine en onreine wat nog te red is in My mense. Ek is Sion se Man. Sion is My Bruid en Ek sal Myself bekend maak in haar. Julle Gelofte en klipstapel sal die simboliek wees vir die oprigting van die pilaar in My volk ter bevryding van haar. Ek sê: Wees geseënd in My aarde, want Ek het julle vrygekoop en daarom woon julle in haar. Wees geseënd terwyl Ek, die Leeu van Judah langs julle loop en julle dade betrag. Wees geseënd met My Krag en outoriteit om die bose te kan bind om My volk te kan red. Ek sal My Gelofte met julle sluit ter wille van julle volk, want omdat opregtes in My volk is, daarom sal Ek hulle spaar, maar reinig. Ek sal reiniging bring vir die wat nog skoon kan kom.

My verbond met julle is die volgende:

Ek, as Vader van alles, rig My verbond op met die geseëndes in Liefdeskrag, My reine blom, wat haar knie nie voor Baäl gebuig het nie. Julle is My pilaar, My vesting vir My volk. Julle sal julle lewens aflê vir hulle wie My moet dien in die woestyn. Julle sal hulle uitlei en bring in die land Kanaän as julle My take noukeurig sal opvolg. Ek wil hê dat julle monument vir ewig sal staan en so is My ewige verbond met julle gesluit om vir julle ‘n Man te wees en julle, saam met julle susters, Judah en IsraEl, My ewige bruid wie Ek sal verlos in die nag wat kom en wat alreeds saamgepak het oor julle, My Lig op aarde.

Dit is My verbond: Verlossing.

Julle Gelofte is as volg:

Onse El, ons Vader, ons ewige Man, vir U ons Meester en vir ons volk. Voor U en U skare van engele in hemel en op aarde, maak ons dié Gelofte, dat ons U Huis sal bou, die Vesting vir die Dogter van Sion. Ons en ons vaders, die vaders van hemel en aarde staan as een, met een hart, deur U verenig om U Liefde en U Barmhartigheid te bring tot diegene wat suiwer van hart en wese voor U mag staan. Ons bring ons lewens as eersgeborenes uit U Lewe en offer dit aan U, ons Maker en ons Man, sodat U kinders en naamgenote hulle skuiling en ewige verweer sal vind in die Huis deur U gestig. Neem ons lewens as offer, sodat ons mag terugkeer na ons Bron, sodat U Naam geheilig mag word en U ewige Apartheid mag heers in ons in die ewigheid. U Naam ter ere, Amein.

Keuse tot terugkeer

Dit is elke persoon se keuse om terug te keer na JaHWeH en om daarna `n lewe te lei wat heilig is voor Sy aangesig. Hierdie voorafgaande Gelofte vereis dat u ALLES moet opgee vir JaHshua om te streef om lofwaardig te word, of anders gestel, te streef om die wedergeboorte van die gees te bereik. Om dit te bereik, moet u die Geregtigheid/Wet in uself toepas om uself te reinig, maar die liefde moet na buite op die naaste toegepas word. Dit is dieselfde as om `n nederige en deemoedige lewe te lei, ondergeskik aan u gewete. U kan egter ook omgekeerd lewe, naamlik om die liefde op uself toe te pas, dit wil sê, eieliefde, en om die geregtigheid op u medemens toe te pas, dus veroordelend te wees teenoor u naaste se oortredinge. Hoe u dus die Godheid vir uself voorstel deur u optrede, sal bepaal hoe God u sal beskou. As u Hom as `n verterende, toornige God op `n oordeelstroon sien wat almal moet verdoem wat volgens u aan oortreding skuldig is, sal Hy Homself ook so aan u vertoon en u daarvolgens behandel. As u Hom egter as `n liefdevolle Vader sien wat Sy kinders met baie deernis liefhet, en u u medemens ook so liefdevol en barmhartig behandel, sal Hy Hom ook so aan u openbaar en u so behandel. Met laasge­noemde lewenswyse is dit dan eers wanneer die sewe Geeste van God ten volle in u begin werk en u dan waardig word om Sy verteenwoordiger op aarde te wees. Self verdien u egter niks, dit is slegs Sy groot genade en barmhartigheid wat dit vir u gee.

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205