Boek 7 - Die Ryk van die Lewe
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 4

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6.

 

Deel 2

Wassing deur My

Wit, die kleur vir reinheid

Deur My gewas

Deur JaHshua aan Nalize gedikteer op 10/5/09

Was julle klere, was julle handewerk en harte. Was julle gees in My Gees. Ek wil julle klee, Ek wil julle nadertrek en aan julle die geheimenisse en verborgenhede van My Ryk meedeel. Julle, jy wat hier lees, het gevorder op verskillende vlakke, soos deur My aange­raak of geopenbaar. Julle het nodig om weer stil te raak en My te soek, dieper in jouself as wat jy nodig vind. Ek sal My Lig ook daar vir jou laat opgaan, sodat My koms vir jou duidelik word. Waarheid is te vinde in jouself as jy My Gees raadpleeg. Amein.

Voorwaar, daar is geeneen groter as die Een wat Homself verloën het vir die Liefde van Sy Vader, sodat almal deel kan hê aan die Boom van die Lewe nie. Wie en wat is hierdie Boom? EK IS die Boom, want uit die donker aarde ontkiem en groei die wortels, totdat dit deur baie lae van die stam ontwikkel tot kroon van die skepping, fyn, lig-deurlatend in die wind of lug van die onderste hemele.

As Ek dan die Boom is waarvan julle deelagtig word deur die kleinste poort van die Liefde voor die Vader of Krag, sal julle werke mos die vrugte van die Krag en Liefde en jouself, die Wysheid, word, deur die gees wat met die Gees verenig. Ek is dit alles en daarom, die Lewe.

Wees jy deelagtig aan die Boom en jy sal groei in die aarde of duister wêreld tot jy deel word van die Kroon wat in die hemele pryk. Slegs deur nederigheid word ‘n boom groot en sterk, want winde, weer en ander invloede dwing altyd ‘n boom in nuwe rigtings en dit moet diensbaar wees en aanpas.

As jy besef dat jou krag in die behaging van alles rondom jou se wil lê, maar tog deur gehoorsaamheid aan die orde waaronder jy staan ontwikkel, sal jy vinniger deel van die kroon word, want jy sal Lewenswater word.

Amein.

 

Die doop of wassing

(Uit die "Groot Johannes Evangelie", Boek 4, Hoofstuk 110)

110 [1] Cyrenius vra: "Meester, ek glo alles wat U, o Meester, onderrig; beteken dit dan dat ek gedoop is?"

[2] JaHshua sê: "Nee, jy is weliswaar nog nie gedoop nie, maar dit is nie waaroor dit nou hier gaan nie! Want wie glo soos jy, beste vriend, is in die gees so goed as gedoop en wel met alle seëninge van die doop.

[3] Die Judeërs het wel die besnydenis, wat `n voorloper is van die doop en wat op sigself en vir My geen enkele waarde het as die besnedene nie ook terselfdertyd `n besnede hart het nie. Ek bedoel met `n besnede hart `n gereinigde en met alle liefde vervulde hart, wat meer werd is as alle besnydenisse vanaf Moses tot en met nou. Na die besnydenis het die waterdoop van Johannes `n tyd lank gekom, wat deur sy leerlinge (dissipels) voortgesit word. Hierdie doop beteken op sigself egter ook niks as die verlangde boetedoening dit nie reeds voorafgaan het nie, of tog heel seker daarop sal volg nie.

[4] Wie hulle dus met water laat doop met die ernstige voorneme om hulle te verbeter, begaan daarmee geen fout nie; hulle moet net nie glo dat die water hulle hart sal reinig en hulle siel sal versterk nie. Dít gebeur slegs deur die eie, algeheel vrye wil; die water bewerkstellig net `n teken wat aandui dat die wil, wat die lewende water is van die gees, nou die siel op gelyke wyse van die sonde gereinig het soos wat die natuurlike water die kop en die res van die liggaam van stof en andersoortige onreinhede reinig.

[5] Wie die waterdoop daadwerklik ondergaan het, is volkome gedoop, as die wil tydens of reeds vóór die doophandeling in die hart van die dopeling sy werk gedoen het. As dit nie die geval is nie, dan het die waterdoop op sigself ook nie die minste waarde nie, en bewerkstellig geen seën van die materie, en nog minder die een of ander wyding daarvan nie.

[6] So ook het die waterdoop by onmondige kinders heeltemal geen waarde nie, behalwe net die van `n uiterlike teken van opname in `n goeie gemeente, en dat die kind die een of ander naam kry wat vir die lewe van die siel duidelik nie die geringste waarde het nie, behalwe slegs `n uiterlike, staatkundige waarde. Daarom sou `n mens die kind ook sonder die besnydenis en sonder die waterdoop van Johannes `n naam kon gee, en dit sou vir My heeltemal geen verskil maak nie; want nie die naam wy die siel van `n mens nie, maar slegs die vrye, goeie wil om na beste wete sy lewe lank goed te handel. Iedere naam kan deur die wil en die handel gewy word; maar omgekeerd is dit onmoontlik en nooit die geval nie.

[7] Toe Johannes gedoop het, het hulle na hom en ook na sy leerlinge kinders gebring om te doop, en hy het hulle dan ook gedoop as daar vir die kind gewetensvolle voogde instaan, wat plegtig beloof om vlytig alle sorg vir die geestelike opvoeding te dra. Nou, in hierdie geval kan `n kind ook wel vanweë die naam in water gedoop word; maar dié doop wy die siel en die liggaam van die kind nie langer as totdat die kind tot die ware kennis van God en homself en tot die gebruik van die vrye wil gekom het nie. Tot dié tyd moet die voog uiters gewetensvol daarvoor sorg dat die kind in ruim mate voorsien word met alles wat ter verkryging van die ware wyding nodig is - omdat die siel van die voog andersins alle verantwoording op hom gelaai kry.

[8] Dit is daarom beter om die waterdoop eers dan te laat verrig wanneer `n mens self in staat is om alle voorwaardes tot wyding van sy siel en sy liggaam vanuit eie insig en uit vrywillige selfbeskikking te vervul. Trouens is die waterdoop vir die wyding van die siel en die liggaam glad nie nodig nie, maar alleenlik die insig en die handeling volgens die korrekte kennis van die Waarheid uit God. As daar egter met water gedoop word, hoef dit nie spesifiek met Jordaanwater te gebeur vanweë die feit dat Johannes in die Jordaan gedoop het nie, maar dan is alle vars water goed daarvoor, fonteinwater egter tog beter as putwater, omdat dit vir die liggaamlike gesondheid meer bevorderlik is as die minder skoon water uit die reënput.

[9] Die egte en vir My alleen-geldige doop, is dié met die vuur van die liefde tot My en die naaste, en met die lewende, vurige wil, en met die Heilige Gees van die ewige Waarheid uit God. Hierdie drie punte is dit wat in die hemel vir elkeen `n geldige getuienis gee. Dit is: Die liefde, as die ware Vader; die Wil, as die lewende en daadwerklike Woord of die Seun van die Vader; en ten slotte die Heilige Gees, as die korrekte begrip van die ewige en lewende Waarheid uit God, maar dan lewend werksaam in die mens en alleenlik maar in die mens! Want wat nie in die mens is, en nie uit die algeheel eie wilsimpuls geskied nie, het vir die mens geen waarde nie, en omdat dit vir die mens geen waarde het en kan hê nie, daarom kan dit ook vir God geen waarde hê nie.

[10] Want God Self as sodanig beteken vir die mens só lank niks, totdat die mens God deur die leer leer ken het, en deur die liefde Sy wil algeheel sy eie maak, en deur die lewendige, vurige wil al sy doen en late geheel en al skik na die wil van die Allerhoogste, wat hy nou ken. Eers daardeur word God se ewebeeld lewend in die mens, en groei en deurdring weldra die hele wese van die mens. Onder dié omstandighede gebeur dit dan ook dat die mens na al die dieptes van die Godheid deurdring; want die ewebeeld van God in die mens is volkome gelyk aan die beeld van één en dieselfde God van ewigheid.

[11] As dít by die mens plaasvind, is alles in hom gewyd en is die ware doop van die geestelike wedergeboorte bereik. Deur dié doop word die mens dan `n egte vriend van God en is hy innerlik net so volmaak soos die hemelse Vader volmaak is. En Ek sê vir julle uitdruklik dat julle almal met al julle kragte daarna moet strewe om ewe volmaak te word soos wat die Vader in die hemel volmaak is! Wie nie so volmaak word nie, kom nie tot die Seun van die Vader nie.

[12] Wie is dan die Seun? Die Seun is die Liefde van die Vader. Hy is die Liefde der liefde, Hy is die Vuur en die Lig, Hy is die Seun van die Liefde of die Wysheid van die Vader. As die ewebeeld van die Vader dus in julle is, dan moet dit in alles net so volmaak word soos die ware Vader Self, omdat dit anders geen ewebeeld van die Vader sou wees nie; maar as dit as ewebeeld nie volmaak is nie, waar moet die mens dan die wysheid vandaan kry of hoe moet die mens dan tot ware Wysheid kom?

[13] Soos wat die Vader Homself altyd in My vind, so vind Ek Myself ook in die Vader, en so moet julle, julle in julleself vind, dan sal julle julleself daardeur ook in God vind en God sal Homself in julle vind. Soos wat Ek en die Vader één is, so moet julle ook eers in julleself één wees met die ewebeeld van die Vader in julle. As julle dít is, dan het julle ook met My en met die Ewige Vader één geword, omdat Ek en die Vader in My van ewigheid af volkome één is!"

Dra jou las tot omvorming van jou werke

Deur JaHshua aan Nalize gedikteer op 18/5/2009:

Ek spreek met die hele Israel wat hoop op uitkoms en verlossing uit die verdrukking in hul land: Julle Maker roep met die woorde: Kom, My kudde, kom gou! Kom net na My met elke las en moeite en Ek sal julle rus gee in die wete van hoe, hoekom en vir wie jy dit dra. Dáárdeur dra Ek dit deur jou, want in oorgawe is jy vry. Amein.

My kudde, die Liefde van My Skepping, wees gereed om waardig aan My werke, julle taak te verrig. Wees eerste om die Liefde in jou te herontdek, wees eerste om reinheid uit te straal en eerste om vrede te bewerk, dan sal jou geloof uit jou werke spreek. Amein.

Laat My Woord die Lig wees

Deur JaHshua aan Nalize gedikteer:

Ek kom om te oordeel. Ek openbaar Myself deur die Woord aan My knegte, daarom is die Woord die oordeel oor jou, want EK het die Woord gespreek wat julle oordeel. ‘Kom na My met al jou verdriet en vreugde sal jy vind’ het Ek ook gesê, maar hoe is Ek oordeel en vreugde?

Ek is beide, want hou by die Woord, dan is die oordeel kragteloos oor jou, omdat jy een is daarmee. Vreugde sal jy dan vind, want die verdriet wat die vleeslike bring, vervaag as jy voor My verskyn. Laat My Woord die Lig wees wat van My uitgaan na jou toe en jy sal veredel in daardie vreugde.  Amein.

Die volle wapenrusting

Deur JaHshua aan Johan gedikteer op 5/5/09:

Ek Jesus/Jahshua is die Liefde, Lig en Lewe. Diegene wat My weg bewandel, - strome van lewende water sal uit sy binneste vloei, en almal sal My in so ‘n persoon kan sien en ervaar, as jy van goeie wil is.

Die stil gebede in jou hart is musiek in My ore, hou dit nederig en opreg. Dit is dan wanneer Ek gebede verhoor. Vra My krag vir elke dag om teen die besoedelde boosheid stand te hou, en pleit die volle wapenrusting oor julleself by Efe. 6:10-18.

 

Joh 12:35 En JaHWèshua sê vir hulle: Nog 'n klein tydjie is die Lig by julle. Wandel so lank as julle die Lig het, sodat die Duisternis julle nie oorval nie. En wie in die Duisternis wandel, weet nie waar hy gaan nie.

Joh 5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie My Woord hoor en HOM glo wat My gestuur het, het die Ewige Lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die Dood in die lewe.

1Kor 4:5  Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Meester kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.

Spr 3:5 Vertrou op JaHWeH met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.

Spr 3:6 Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

 

Wanneer julle om vergewing vra, glo met jou hart en jou hele wese dat jy vergewe is van jou sondes en moenie weer aan jou sondes dink nie, dink liewer aan My, die Liefde, en doen naasteliefdediens en so is julle dan besig om My Koninkryk nader te trek vir julle sieleheil. Die Redding is nie ver weg nie, dit is binne bereik vir elkeen wat daarom vra.

Ek, die Liefde, nooi julle uit. Ek, Jahshua, met Liefde.

Amein.

Skuldgevoel

Deur JaHshua aan Johan gedikteer op 5/5/09

Skuldgevoel: Gevoel dat `n mens skuld aan iets het. Daarvoor verantwoordelik is. (HAT)

Dit is ‘n sondige gevoel wat jy oor jouself gebring het met jou ongeregtigheid waarmee jy besig is, met ander woorde, julle is dan nie besig met My of My Liefdesorde nie. Daar is gevalle waar daar vir My om vergewing van sondes gevra is, en daarmee saam beloftes van verbetering, dan gaan die persone en luister vir ander “mense”, wat ‘n skuldgevoel by die persone opwek, die ‘saad’ is geplant, hulle dink dan dat Ek hulle nie vergewe het nie en verwag die ergste straf.

Die wat die skuldgevoel opgewek het, het verkondig dat Ek ‘n God van Geregtigheid alleen is en maklik verdoem en niemand ‘n kans gee nie! Die persoon met die skuldgevoel kan nie die saak uitgewerk kry dat Ek ‘n liefdevolle, barmhartige God is nie. Ek is dan die groot Almagtige Skepper en stel glad nie in sulke klein nikswerd mense belang nie!

Hierdie is alles simptome van eieliefde en ‘n minderwaardigheids­kompleks.

Kom laat Ek julle gerusstel: Julle is die kroon van My skepping, die Liefde van My hart, My liefdevolle kinders en knegte vir wie Ek baie lief is. Wanneer daar vir My gevra word om te vergewe, sal Ek, as dit in alle opregte nederigheid gevra word. Julle sal nie ongestraf bly nie, want daar moet reiniging van siel en liggaam plaasvind vir geestelike groei in `n liefdevolle, positiewe rigting.

Julle wil is die faktor vir verbetering waar julle dan besig moet raak met liefde, kalmte en geduld wat dan die boosheid sal verdryf. In die proses sal julle al hoe meer vergeestelik en nader aan My kom om op My weë van Liefde te begin wandel en te ervaar.

Die mense - jou familie, vriende en kennisse - wat jou ken en met jou te doen het, sal ook die positiewe verandering in jou waarneem en meer liefkry, want jou lig het begin skyn.

Ek, Jahshua, met baie liefde.

  Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205