Sewe Dae van Stilte
VOLKSLEIDING-REEKS

Hoofstuk 2

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6.

 

Aan die mans in My volk

28 Augustus 2010

Moedige vegter. Ek sien jou ywer en liefde vir My saak en Ek verheug My oor jou.

My opdrag is eerstens dat ieder en elk sy eie dor bene sal identifiseer wat direk die wedergeboorte in die Gees verhoed.

Weet jy dat My las lig is en my juk sag? Hoe voel die juk van jou liefde teenoor ander- is dit vir hulle soms te swaar om te dra? Kyk binnetoe My kind, het Ek dan nie vir jou ‘n vrye wil gegee nie? Dieselfde vrye wil gee Ek aan elkeen van My kudde.

Laat My lammers wei. Liefde, liefde en liefde is wat My kleintjies nodig het. Hulle leer tog uit jou lewe en voorbeeld- net soos julle uit My voorbeeld lewe en strewe om soos Ek te wees.

Waak daarteen om My kinders te etiketteer! Jy weet nie waarheen Ek met hulle op pad is nie. Jy ken nie hulle pyn, vrees, nood, smart en lyding nie. Is Ek nie in beheer van My kudde nie? Laat My lammers wei – soos wat Ek jou toelaat om te wei en My te soek in elke klip en grassie wat jy teëkom.

Wees jy vir My ‘n toonbeeld van My Liefde.

Kennis, My liewe kind, is net so gevaarlik as wat dit noodsaaklik is. Die belangrikste is die suiwerheid en opregtheid van My Liefde in jou.

Kennis hou die gevaar van hoogmoed in. Elke kind in My skepping het presies gekry wat hy of sy nodig het om My voluit te kan liefhê.

Sommige van My kinders kan nie lees of skryf nie - maar dit beteken nie dat hulle die Geestelike geboorte laaste sal ontvang nie… Die mammas wat My kindertjies opvoed met volle oorgawe en liefde vir My - en dalk te moeg is en selfs nie tyd het om die kennis te vergader wat vir jou al te belangrik is nie… hulle leef dalk nader aan My voete en stywer teen My bors met volle oorgawe aan My – as ‘n ander wat na kennis smag en soms van “My” vergeet. Hulle vergeet dat diegene wat kinderlik opreg is, besef dat hulle taak te groot is om sonder My nabyheid te kan bestaan.

Die brood alleen is nie genoeg nie.

Waak en spreek My Lewe en Woord in jou dor bene. Ondersoek vir die dor bene van trots, hoogmoed, hardheid en ongenaakbare oordele.

Beskerm jou huwelik met My Liefde. Ek het julle reeds gemaan dat julle nie so mag optree dat julle vroue en My kleintjies (ook groter kleintjies) moedeloos raak nie.

Kyk hoe lief het Ek jou – hoe Ek jou koester en bewaar in My hart …Hoe sou jy My Liefde kan ervaar as Ek te wetties teenoor jou gehandel het?

Kweek liefde, respek en agting by My kudde deur jou voorbeeld. Voorbeelde trek – woorde alleen laat te veel plek vir jou menslikheid, trots en selfverheffing.

Ywer eerstens in jou huwelik, - want dit weerspieël My Liefde. Jy moet jou vrou liefhê - eerstens vir My, dan jou vrou wat Ek aan jou gegee het – daarna jou kinders (al My kinders).

As jou orde hier versteur is, veroorsaak julle dor bene in My kleintjies kan kleins af.

Ek sien jy begeer die Wedergeboorte. - Hoor My Stem as Ek jou roep om die dor bene te sien, want daarbinne lê jou selfopgelegde struikelblokke wat jou weerhou van wederbaring.

Hê julle vroue lief. SY is die moeder van My volk en is tog die kroon van My skepping.

Sy is ‘n fyn geslypte diamant wat My Stem hoor en verstaan om alleen by My te skuil – digby My Hart waar sy rus vind vir haar siel.

Ek gee kinders en Ek neem kinders omdat hulle aan My behoort. Deur My Liefdeloutering skitter al My diamante, omdat hulle in My krag alleen die suiwering deurstaan. My suiwering kom deur My Liefde vir My bruid en nie deur ‘n wettiese orde wat kras en gevoelloos My diamante onder die kap van ‘n hamer vergruis nie.

Ek het hulle geskape om My sagte Liefde en diensbaarheid te wees. Waak elkeen dan daarteen dat die diamante wat Ek aan julle gee, nie hul glans verloor en breek onder die hamer van wat in My oë, ongeregtigheid is nie.

Laat elkeen wat dors het, kom! Laat My kindertjies na My toe kom! Kom met die vertroue van ‘n kind. Kom met die wete en geloof van ‘n moeder dat sy slegs by My voete troos en wederbaring kan vind.

Waak nou en spreek My Lewe in daardie dor bene. Weet dat eerstes laaste sal wees en die laastes eerste.

Kom Ek en jy oorwin saam die doodsbeendere in jou, dan spreek ons lewe in die doodsbeendere van My bruid.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205