SEISOENE VAN OORVLOED
BERTUS HANEKOM

Hoofstuk 27

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

BOODSKAP 27 op 01 OKTOBER 2013 om 04H00
GEWAPEN EN GEVAARLIK
Bertus:
Die magtigste wapen in die wêreld is definitief nie `n kernbom nie: dit is ons tong. Volgens Jakobus is dit soos `n bol vuur binne-in ons mond. Hy skryf in hoofstuk 3 van sy brief dat ons alles in die lewe kan tem, behalwe ons tong, want daarmee loof ons Elohim en tegelykertyd vervloek ons ander. Spreuke vertel vir ons dat `n tong in die mond van `n dwaas `n dodelike wapen is.
Elohim:
My liewe kinders, julle tong is `n wapen, maar julle het die reg om te besluit of julle dit as `n destruktiewe wapen gaan aanwend. Gaan julle dit as `n mes gebruik wat ander se lewe uitmekaar sny, of as `n instrument van genesing en vrede? Julle almal ken die mag van woorde. Woorde het al baie oorloë begin, huwelike opgebreek, vriendskappe verwoes, aanleiding gegee tot moord, wantroue, vyandskap, noem maar op. Aan die ander kant kan die regte woorde weer lei tot vergifnis, versoening, vrede, stabiliteit, goeie verhoudinge, gelukkige huwelike, en so aan.
Indien die volle verhaal van die ellende van hierdie wêreld geskrywe moes word, sou daar ongetwyfeld `n hele paar hoofstukke gewy moes word aan die smart en droefheid, die onbeskryflike leed en gebroke menslike verhoudings wat deur die mens se tong veroorsaak is.
Bertus:
Met die tong raak mense blatant onwaarhede, ongegronde aantygings, hartelose veroordeling en snydende sarkasme in die naam van vriendskap kwyt!
Elohim:
My liewe kinders, die tong roem hom op groot dinge – totdat die mens se hart die eiendom van My word. Dan behoort die tong ook aan My en kom daar `n spraak verandering. Ja, bitterheid, woede en negatiwiteit maak plek vir sagmoedigheid, versoening, en bowenal vir lof en getuienis vir My Elohim.
Julle raak dikwels vasgevang in jul eie manier van praat oor ander. Julle herhaal dieselfde tipe stories en selfs dieselfde woorde. Hou dadelik op daarmee! Verander julle grammatikale gewoontes. Probeer nuwe woorde gebruik, mooi woorde, wanneer julle oor ander praat. Onthou hulle is na My beeld geskape. Hanteer hulle versigtig.
Verander jou manier van dink. Begin elke dag anders dink. Dit sal jou lewe van bo tot onder omkeer. Laat My Gees ruim in jou gedagtes toe. Vra My om elke dag daar aan bewind te bly. Raak entoesiasties oor jou geloof. Raak opgewonde oor al die groot dinge wat Ek jou Elohim hier en nou doen.
Hou op om so verbeeldingloos te leef. Hou op om altyd die vinger na ander te wys of om jou omstandighede vir al jou mislukkings te blameer. Laat toe dat kreatiewe gedagtes oorneem in daardie wonderlike liggaam wat Ek aan jou gegee het. Maak dit propvol met My goeie nuus. Voel die hartklop van die nuwe lewe binne-in jou, My, jou Elohim se soort lewe. Raak weer opgewonde. Wees vrymoedig en dapper.
Ja, oorwin nuwe bergspitse.
Leef jou lewe van nou af in die hoogste versnelling. Word `n lewende stelling, `n bewegende standbeeld van My groot krag. Leef elke asemteug, elke tree, tot My eer.
Leef jou lewe voluit!
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205