EINDTYD BOODSKAPPE AAN DIE BRUID
WENDY MACFARLANE

Hoofstuk 29

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91.

Nr 29 - 20.01.2016 om 05h45

(aan Wendy)

My Mashiach, hoe wonderbaar is U Verlossingsplan, U LIEFDE VIR ONS, U BRUID!

"Skryf My duurgekoopte, verruklike Mooi Bruid

Ek sing vir julle 'n Minnelied, van Son en Saffier, van Hemel en Dou. Kom luister na My Stem en word omvorm na My Woord. Jul gees se hakkies is nog vas, maar binnekort sal julle los wees, wanneer Ek by julle sal ingaan, vry om saam met My te vlieg, te gaan na die plekke wat Ek vir julle voorberei het. Plaas julle hande vol vertroue in Myne, en laat gaan jul greep op die fisiese. Alles, Alles is GEES! Hoor My Lied!

Ontwaak uit julle slaap, en hoor die stemme van die Getuies! Maak lampies vol, trek julle klere reg en vee die slaap van julle gesigte weg! Die van julle wie se lampies flou brand weens te min olie, Bid tot My, die Ewige Olievoorsiener! Die Tyd het uitgeloop, maak gou!

Hoe kan julle nog sê, "Ek het alles wat ek nodig het in Moses, in die lee dop versamelplekke, die menseleer? Is julle ore so verstok, is julle so blind dat jul gees dood in julle rond skud soos sade in 'n blik op die solder, vergete? Is julle voete so verstrik in My teenpool se bedrieglikhede, vals drome en gesigte, dat julle nie sien dat die grond onder julle voete verkrummel in die afgrond in nie, wat al groter word soos 'n bek wat oopmaak om verstarde siele in te sluk?! O, My kinders, My kinders! Julle vir wie die Beloftes gegee is, vir wie die Losprys betaal is, vir wie die profete gestuur is. . . HOOR en LEEF!!

Neem My waar, kyk waarna Ek kyk en doen wat Ek doen. . . IN MY is LEWE! Soos kinders leer deur hul ouers te emuleer, leer so van Ons. My Gees van Waarheid SAL jou, leerbare siel, leer. Soos 'n radiostel wat ingestel word om op sekere frekwensie te kan luister, moet julle ook ingestel word op My frekwensie. Dan sal julle My Hoor! En soos 'n radio jou ook toelaat om te kan praat, sal jy ook Met My kan praat. Geslote kanaal net vir jou.

"Dierbaar", "Kosbaar", sê julle om aan te dui hoe iets julle raak, daar waar jul innerlike emosie aan julle siele raak . . . Dit is daar waar julle vry moet kom en julle siele aan My Gees moet raak, een word. Jul "emosie" word dan hemels, nie meer aards, nie meer "dier" nie, maar ontbrand in "vuur", - die "dier" is weg. Daar is net EK, Ek IS verterende VUUR, LEWENDE VUUR!

Neem 'n appel en sny dit deur die lengte. Bestudeer die struktuur daarvan. Sien julle hoe die stingeltjie vas is aan die deel wat die sade huisves? Sien julle dat selfs die sade effens gegroepeer is? Sien julle hoe dik die beskermingsdeel, die vlees van die appel is? Die kosbaarste deel van die appel is die saad, die vlees daarvan tot genot en gesondheid van die mens en dier. My voëls en diere sien nie die nut van enigiets, behalwe die vlees nie. Die Verbouer sien die Saad.

Soos die mensgemaakte "dolosse" die stormsee se krag breek langs die kuslyne by die hawes, so is My Kinders in die Tye wat kom. Die ontwerp van die struktuur is deur My gegee aan een van julle landgenote. Net so gee Ek vir julle die struktuur, die instruksies vir die vorming van die wat teen die komende stormsee gelê gaan word. . . Net een op sy eie werk nie, julle moet saam staan, met een doelwit. Die digtheid en sterkte van elkeen moet uniform wees, die lyne skoon. Wees bruikbare houers in My Hand.

Die oes is groot en lê wit op die lande, die werkers is min.

Aan julle wie "sielsiek" en "hiper emosioneel sensitief" is, wil Ek uitnooi om na My toe te kom. Ek ken die rede waarom julle gebuk gaan onder die kastydings van My teenpool se gesante. Ek weet hoe om julle te help, wat nodig is om julle tot volle gesondheid te kan bring. Onthou, alles is GEES! Wees voorbereid om julle denkpatrone in die asblik te gooi en stel julleself oop om deur My Ligwesens bedien te word. Alle kennis is beskikbaar, alle Waarheid kan aan julle gegee word. Eers moet julle heelgemaak word. My teenpool het krake en gate in jul potte geslaan. Die mooi glasuurwerk wat Ek daarop geverf het, is amper nie meer sigbaar nie. Julle is vasgevang in 'n web waaruit julle losgesny moet word. 'n Diep kreet vanuit julle harte na My sal al wees wat nodig is om My by julle te kry. Ek is die Enigste Een wie julle waarlik kan help. Min glo werklik dat Ek hulle kan help, weiniges roep My aan vanuit die diep put waarin hulle hulself bevind. Julle sê julle het al gebid en niks het gebeur nie. Was dit 'n hartekreet? "Ja", se julle. Het julle My Hand gesien? "Nee", se julle. Bid tot My en vra vir Lig, sodat julle siel verlig kan word. Ek stuur sonder voorbehoud aan elkeen wie My daarna vra. In stede van om te bid vir spesifieke dinge, bid eerder, "My Vader, HELP MY ASSEBLIEF?!". Eerstens erken jy dan dat Ek jou Vader is, wie nie 'n slang aan Sy kind sal gee wie vir brood vra nie. Tweedens laat jy My toe om dit vir jou te doen wat eintlik nodig is om jou vanuit die strikke los te kry. GLO jy Ek IS Skepper van Alles, en ALMAGTIG? GLO jy dat EK LIEFDE is, en jou Liefhet met Ewige Liefde? GLO jy dat Ek jou by My wil hê, jou terug wil verwelkom in My Vaderhuis? GLO jy dat Ek hierdie pynigende gebeurtenisse en wanbalanse in jou liggaam toegelaat het, want dit was die beste manier om jou weer by My Voete te bring. Jou siel leef vir Ewig want EK is EWIG! Jy siel, het vanuit My gekom en MOET en SAL na My terugkeer. Kom na My, almal wie MOEG en OORLAAI is, en EK SAL jou RUS GEE!

My Kinders, wees oordadig in die uitgiet van die Liefde wat Ek in julle laat opborrel, want die wêreld is droog, uitermatig droog en benodig Lewegewende Liefdeswater! Versorg die fontein, maak seker dat daar nie klippe inval nie, blare en takke van die sterk winde nie daarop gaan lê nie. Belangrik ook dat diere nie die waters vertroebel nie. Waar julle met die skoonmaak sukkel, kom na My.

Wees altyd bedagsaam, en bedag op My Leiding in elke situasie. Julle is My spreekbuise en My hande, My voete. Julle broers en susters het My Inspraak nodig, My Hulp, maar kan nog nie self hoor en sien nie. Help hulle en jul bekers sal oorloop!

Waarlik en Getrou is My Woord en dit SAL die doel bereik waarvoor dit uitgegaan het. Hulle wie ore het om te hoor, laat hulle HOOR!"

Amein

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205