EINDTYD BOODSKAPPE AAN DIE BRUID
WENDY MACFARLANE

Hoofstuk 3

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91.

Nr 3 - 12.12.2015 om 03h00

(aan Wendy)

"Jy is in My diens, kyk nie links of regs nie. (Ja, my Meester!)

Soos wat die driebeenpot nie kan staan sonder een van die drie pote nie, so kan die wese van Kindskap nie wees sonder die waaragtige gebed, geloof en ontwaakte siel nie.

(Dankie Dankie Majesteit vir die Weg wat U geskep het, die wonderbaarlike Liefde vir U skepsele, U maaksels waarsonder ons nie sou kon leef nie! Want U Is Liefde! En vanuit en tot U is Alles! HaleluYAH!)

My kind, jy is kosbaar in My Oë, en sal Ek jou beskerm soos 'n arend haar kleintjie. Verlaat jouself geheel en al op My, want soos die arendsnes in die hoogtes gebou word, so word julle grootgemaak in die hoogtes van die Gees. Inderwaarheid verlaat die arende gebore op daardie hoogtes nie die sfeer waarin hulle leef om te daal na die laer ryke nie, want hulle is spesifiek gebou om daar te kan leef. Die samestelling van hulle bou en bloed is getemper vir die hoogtes. Ook jy kan nie weer neerdaal na die laer ryke van die vlees nie. Arendsvlerke is gemaak vir lugstrome, hul oë fyn ontwerp om vêr te kan sien en haarfyn bewegings onder hulle te kan teiken. En net soos 'n arend nie anders wil as om deur die lugstrome te swiep nie, so My kind, kan jy nie anders as om jouself in My Lugstrome te werp en oorwinnend daarop te sweef nie. Wees sensitief vir elke verandering wat My Gees jou sal wys. Die arend voel dit met die lang vere wat uitgesprei is op die vlerkpunte, daardie vere is uitermate sensitief en tel ladingsverandering op soos wat die positiewe en negatiewe deeltjies in die lugstrome verander. Hul bloed reageer ook daarop en hulle kan nie anders as om die weë te neem soos wat die strome daarvan hulle rig nie. Gewelddadige storms oorval selde 'n arend, want hulle weet voortydig om na veiligheid te kom voordat dit oor hulle breek. Netso sal julle, My kinders, voortydig weet om nader aan My te beweeg voordat die storm oor julle gaan breek. Veilig sal julle wees, verskans in klipskeure en rotsvestings, terwyl dit woed en donder om julle. En soos wat die lugstrome verander is na 'n storm en die arend noodwendig anders beweeg, so sal julle ook anders vorentoe gaan in die veranderde omgewing. Arende is gebou om te vlieg, netso My kinders, is julle gebou/gemaak om te sweef en te leef in die Hoë Plekke.

Kom op na die Hoë Plekke, kom ontmoet My daarbo en daar sal Ek jou vistas wys waarvan jy nie eens kan droom nie. Soos wat die arend anders is as die olifant, so is My ontwaakte, lewendige Kind anders as die aardsgebonde- en nog deurdrenk van materie verknogte siel. Net soos die olifant nie die vryheid van die arend kan begryp nie, net so sal die arend dit nooit oorleef om aardsgebonde te wees nie.

Soos wat die jong arend sy vlerke begin oefen in die wind, net so My kleintjies, moet julle ook jul vlerke begin oefen in hierdie tye. Wanneer die tyd kom, sal julle oor die kant van die nes kan spring en die asemrowende jubeling van vlug ervaar, en sal nooit ooit weer wil teruggaan om die "kuiken in die nes" te wees nie. Vir die trae kuikens is daar ook raad, die ouers begin om die stokke te verwyder, die nes word uitmekaar gemaak. Dan is daar nie meer kans vir stilsit nie. Kom, My Kuiken, Ek sal jou dra op My Vlerke, en jou nooit laat val nie. Kom, sweef saam met My op die Wind van die Gees. Kom in harmonie met My en sien hoe gou jy sterk en kragtig in My sal beweeg.

Aleph Tav, die Begin en Einde van alles is Ek en daar is niemand bo of buiten My nie! Plaas jouself binne daardie raamwerk en niks sal jou ooit weer verskrik of onverwags vang nie. Jy is Myne en Ek weet hoe om Myne te versorg en te beskerm. Laat geen vrees in die kronkeldraaitjies van jou wese toe nie. Ek ken jou en verlig jou deurgaans. Niks is vir My versteek nie. Bring elke vraag, elke heimlike vrees na My, hetsy dit oor die toekoms of die hede is, en kom hoor die antwoord op dit wat jou nog laat haak, wat maak dat jy nie uit die arendsnes wil spring nie. Vra met verwagting, want daarsonder sal daar nie ’n antwoord wees nie.

Hoe leer 'n kind om op sy pa vertrou as die kleintjie nie ’n diepe verhouding met hom het nie. En soos wat dit onmoontlik is vir 'n baba om op te staan en te loop, maar afhanklik is van Pa en Ma en verwag om deur hulle gehelp en versorg te word, so moet julle, wie nog nie in die soort hartsverhouding met My is nie, dieselfde verwagtinge hê. Ek is dan julle Ewige Pa. Sodra 'n kleinding leer praat, hou die vrae nie op nie, dit versterk die verhouding en net so verwag Ek ook die baie vrae. Hoe anders gaan jy My in My regmatige plek in jou lewe kan plaas! So, kom, toets Ons verhouding, kom vra jou vrae. Ek word nooit vermoeid of ongeduldig nie. Luister jy net met ’n oop gemoed en gees en Ek sal jou onderrig. Wees skrander en doelmatig in jou fokus om meer te leer. Elke stukkie kennis wat jy op hierdie manier opdoen, is vir jou Lewe, en so sal jy dit ook kan en moet oordra soos kos wat jy aan 'n honger vriend sal gee.

Daardie lewensdeug wat mense hedendaags 'n "gawe" noem, naamlik om gasvryheid te betoon, reik veel dieper en sit in jou gees. Betoon jy ook gasvryheid met die Brood wat vir jou gebreek is? Sal jy jou honger broer se gees voed, of dink jy dit moet ook 'n "gawe" wees waarvan jy dalk kwytskelding het, want "dit is nie hoe jy is nie"? Ek het nuus vir jou. Gasvryheid in die vlees, om jou broer kos en water en rusplek te gee, was in My dae wat Ek hier op aarde gewandel het, dit wat moreel reg was. Om ongasvry te wees was immoreel en 'n skande! Kyk dan nou weer na die dieper, geestelike waarheid en sien dat dit die uiterlike is van wat in elke Kind van My reg hoort te wees. Deel jou Brood met jou honger broer, sonder om twee keer daaroor te dink, want Ek is die een wat die Brood voorsien.

Kom, loop naby My en leer om aandagtig te luister na My onderrig. Ek gaan jou op verskillende maniere leer, wees dus reg om ook die praktiese lesse deur te kom. Die nuwerwetse skole het ons kinders verkeerd geleer. Boekkennis is van geen effektiewe waarde, as jy nie weet of geleentheid gegee word om alles prakties te sien en te doen nie. Ek praat nie van die kennis van dit waarvan wapens gemaak word nie, dit is 'n vrug van die kennis van die Wagters wat nooit aan die mens bekend gemaak moes word nie. Die gevalle gees neig altyd na die verkeerde, na ondergang, na bederf en verderf. Nee, Ek gee onderrig in dit wat die gees Lewe gee. Ewige kennis wat jou siel sal baat in die lewe hierna.

En net so onderrig Ek ook My skryfkneg. (Dankie, my Pa!)"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205