EINDTYD BOODSKAPPE AAN DIE BRUID
WENDY MACFARLANE

Hoofstuk 34

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91.

Nr 34 - 27 en 28.01.2016

(aan Wendy) 27.01.2016 om 22h10

Skryf My Liefling, My Bruid

Soos ontkiemende saad uitswel in voorbereiding vir die eerste blaarstingel en wortel wat uitkom, so is julle nou, My Dierbares. Net omdat julle nie noodwendig iets kan sien gebeur nie, beteken dit nie Ek is nie besig met en in elkeen van julle nie. My Wonderwerke is aan die gebeur in julle GEES, daardie Geesdruppel waarvan julle vanoggend hoor praat het. Moenie met "halwe ore" luister en lees nie, hierdie tyd is vir julle uitgekoop en mag nie verspeel word nie. Julle sal julself vir ewighede verwyt daaroor. Wees versiende en gryp elke oomblik en geleentheid aan!

Groot is My Genade, My Barmhartigheid teenoor elkeen van julle, My Kinders! Waaragtig en Getrou is EK, My Bruid! Gee Water aan hulle wie dorstig is, deel julle Brood uit. Alles kom vanuit MY, wees Gasvry met die Manna wat Ek in Môredou vir julle gee.

Wees getrou in jul take en Ek sal jul Beloning wees. Ek toets die hart en die niere, elkeen deursoek EK. Getrouheid en Apartgesteldheid is wat Ek verlang van julle. My Bruid. Werk nog 'n keer met 'n fyntand kammetjie deur jou lewe, jou hart, jou siel en verafsku dit wat jou van My kan skei. Jul opofferings en ontberings tot op hede is alles voorbereiding vir wat gaan kom. Elkeen se lewensreis hier was anders en daar is ander vaardighede aangeleer. Julle sal mekaar aanvul en ondersteun, soos 'n multidimensionele legkaart is elke stuk uniek en pas slegs op 'n sekere manier in die groter prentjie in. Plaas jouself in My Hand om jou in die regte plek in te skuif op die regte manier, op die regte tyd. Wees kalm, wees bedag op My. EK IS jul Herder en Leidsman, EK IS jul Beminde wie verlangend na julle uitsien, My Liefling, My Bruid!

28.01.2016 om 10h55

My Kinders, julle moet werk aan die Kalmte van jul gees. Dit ontbreek nog. Situasies gaan skielik verander en jul samelewing gaan in 'n war verval. Dit is dan wanneer julle die Bakens van Kalmte gaan wees na wie die verdwaalde en verwese gaan kom, die Lig wat vir hulle die Pad na My sal wys. Julle sal dan ook reeds jul take ontvang het, want dan het julle reeds tot My Diens toegetree in hierdie finale deel van die Skeppingsera. Daardie Kalmte kom van Vrede wat net by My te vinde is. Kom soek na hierdie skat, dit is besonder nodig vir julle sieleheil in die dae wat kom. Dit is 'n kenteken van Myne, hulle wie My Merk dra.

Geloof, Hoop en Liefde. Maak vir julle daarvan bymekaar en stoor dit. Daar is geen vervaldatum nie. Onbederfbaar, Ewig en Duursaam. Werk dit in julle kleed in, omvou julle daarmee. Julle sal nooit beskaamd staan nie! GLO MY, HOOP IN MY en WORD LIEFDE!

Sowaar as wat EK LEEF en Julle vanuit My kom, EK IS SAL My Bruid kom haal in die middernagtelike uur en by Haar ingaan. In die na-nag sal Sy Haar nuwe rol as Moeder opneem en vir Ons Kinders sorg, versorg, veg. Wees Gereed!

Laat Lofsange julle ore tintel soos wat jul monde, jul harte oorloop van Liefde vir My! Laat die Gees in julle opstyg op vlerke soos wat die Wind, Gees van Waarheid julle oorspoel. Wees oordadig in jul Liefdebetoning aan die skepping, aan jul naaste. Die Tyd is OM! EK is HIER!"

Amein


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205