EINDTYD BOODSKAPPE AAN DIE BRUID
WENDY MACFARLANE

Hoofstuk 54

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91.

Nr 54 - 26.03.2016 om 09h55 aan Wendy

"Skryf My Liefling, My Bruid

Dit wat vir julle voorlê, kan julle nie begin om in te dink nie. Die verhale van pyn en ontberings sal soos riviere loop. Ek ken reeds elke detail van elke mens, elke kind van My. Weet dat geen traan ongemerk sal gaan, geen hulpkreet onbeantwoord. Ek het reeds gesê die Tye is hier en julle begin nou die waarheid daarvan sien. Met groot oë kyk sommige van julle rond, want julle het gedink daar sal sekerlik "iets" gebeur wat die onheil sal afkeer. Dit wat die onheil sou kon keer, het lankal reeds langs die pad bly lê. My kinders het soos wilde perde, met stange vasgebyt, die vlaktes ingehardloop, vol van eie drifte en passie. Het julle nog stange nodig, of sal slegs die halter vir julle nodig wees?

Die wolwe sal binnekort bymekaar begin kom.

Gryp My aan voor die teëspoed julle nerwe stukkend gaan stamp en hale dik oor julle rue begin lê. Die strafgerig is Myne met My wederstrewige en hardnekkige volk. Kom, buig julle knieë, julle nekke voor My en laat Ek julle sake met julle uitreken. Die roede sal bly val totdat My Volk na My gedraai en eens en vir altyd My geword het. Hulle wie soos kaf in die wind gaan wegwaai, sal julle nie weer sien nie. Moenie dink om met hulle te heul in die hoop dat julle straf sal kan vryspring nie! Ek sien alles, Ek hoor alles en weet wat julle harte wik, nog voor julle by die keuses gekom het. Kies My, My kinders en Ek sal julle uitred, lafenis en stilte in die honende winde van vernietiging wat om julle begin lostrek. Ek is julle Veilige Vesting, Ek is jul Hawe in die storm.

My Kinders maak julle oë vir 'n oomblik toe en laat My Rus julle vul. Ek is julle Rus, Vrede is daar by My. Julle gaan die waarde van hierdie oefening al te gou besef. Binnekort sal die chaos op julle en om julle wees.

My skryfkneg se hart is seer oor al die pyn en ontnugtering wat binnekort oor My volk gaan kom. Dit is nodig, al wat die dikvellige hardnekkiges se harte los gestamp gaan kry van hulle eiewaan, hul selfgekose pad na die Duisternis. My Liefling, Ek het die dae verkort. Wees stil in My en vertrou dat Ek die roede net so hard sal laat afkom as wat nodig is.

My Genade, onbeskryflik groot, het Ek toeberei vir hulle wie na My in hierdie dae sal draai. My Liefling, julle moet regstaan om hierdie roetbesmeerde kinders te ontvang, skoon te kry en te voed en klee. Ek is die Man, Ek sal voorsien in alles wat julle nodig sal hê. Wees wakker en uitgerus in My.

Groot dinge het Ek vir julle in My verberg, julle wie jul apart gehou het. Soos kinders op klippe oor die modderrivier spring, het julle jul daarvan weerhou om besmeer te word.

Deursoek julle harte, wees noulettend op die fynste afwyking van My Wet van LIEFDE. Soos wat die modderriviere hul walle gaan oorstroom, moet julle sorg dra om jul kleed skoon te hou. My Bruid se kleed is Reinwit en sonder skeure. Onthou die draaiende arms van die giroskoop, die Kandelaar.

Suiwer waterstrome kom vanuit My, My Kinders, My Bruid. Moet nie die oorsprong daarvan vertroebel nie. Ek waarsku, want die magte van My Teenpool gaan fel teen My Volk opstaan. My Kinders, My Bruid, hou jul verborge in My en Ek sal die geveg aanvoer. Vertrou in My.

Gedar (betekenis: die "herstellers", wie omhein is agter 'n muur of heining), jul tente sal Ek beskermd hou, Ek is jul Beskerming. Ryp vrugte sal julle pluk by My Oase in die dor barheid van die dae wat kom. Kom My Kinders, kom binne My Tente en Ek sal julle versorg. Handel soos Ek jou instruksie gee en jy sal die wonderwerke aanskou soos Ek hulle volbring!

Geeneen sal hulle kan roem op self oorlewing nie. Niks wat nie in My geborge is, sal die woesterny wat kom, oorleef nie. Ek is die Meester en My Woord sal volbring word. Hulle wie nog rondskrop op soek na goud in die modder, gaan daarin vergaan. Wees duidelik waar julle harte lê. Hulle wie nie in My Kamp is nie, sal My Teenpool ten prooi val.

Gemaklik wil julle hierdie tyd van onheil deurmaak. Daar gaan geen gemak van daardie aard wees nie. Selfs My Kinders, My Bruid sal midde-in die ontberings werk. Daar is nie "terugsit" en "ontspan" nie. Daar is werk. Hulle wie nie werk nie, gaan óf om hulp roep om gered te word, óf ten gronde gaan. Hulle wie julle as draadsitters bestempel, gaan hulself sonder "draad" vind om op te sit. Elkeen gaan in hom- of haarself die keuse vir of teen My moet maak. Daar is nie ’n "neutraal" of 'n "buite stemming” opsie nie . Ek verreken met elkeen.

Kan elkeen voor My staan sonder skandvlek wat Ek nie uitgewas het nie? Kan daar redding wees sonder My? Net soos julle nie stormwinde kan keer nie, kan julle julself nie reinig, nie red nie. Waarom wil julle nie na My keer nie? Dink julle aan die "skande" dat julle al die jare verkeerd was en julle in ander se oë verminder sal word? Tot julle nie meer omgee wat ander van jul dink nie, kan Ek julle nie help nie.

My Kinders, julle moet Krag van My af bid sodat julle sterk en versterk kan wees in die dae wat kom. Sonder die kraglyn na My sal julle vinnig verswelg word. Ek is JULLE Hulp, jul Vesting. Bly in My, bly Geborge.

My Beminde, My Bruid, daar is nie aardse woorde om te beskryf hoe verruklik mooi Jy daaruit sien nie! EK IS HIER, verwag My aanraking.

EK IS LIEF vir julle!

EK IS"

Amein


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205