EINDTYD BOODSKAPPE AAN DIE BRUID
WENDY MACFARLANE

Hoofstuk 55

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91.

Nr 55 - 29.03.2016 aan Wendy

"Skryf My Lief-Kind, My Bruid

Kan daar in die mense se denke nog dit gevind word wat Ek in die dae van Sem geleer het? Ek het gesê julle moet weer deur Henog werk en Ek weet ook baie het begin en nie klaargemaak nie. Die Leuen strek so diep en so vêr terug, dat die mens moeilik aanneem wat in Henog geskryf staan. My Henog het neergepen wat aan hom gedikteer is deur My Engele. Klou julle verbete aan die "wetenskaplike metode" wat niks aanvaar alvorens dit bewys kan word nie? Waar is julle geloof? Kom, kies om in My Woord te glo en Ek sal julle die bewyse gee. Julle metodes en definisies kan nie begin om My Skepping te kwantifiseer of te kwalifiseer nie. Dit is soos kinders in die sandpit wat probeer uitredeneer hoe My Skepping werk. Besef tog hoe absurd dit is! Ek weet julle het baie geld spandeer om julself en jul kinders "geleerd" te kry. Dit is 'n gejaag na wind, My Kinders, want dit wat aan julle vertel word, is baie daarvan al verkeerd bewys, dit word net nie aan die leerlinge deurgegee nie. Die wêreldpaniek wat sal begin in sommige van die waarhede, sal nie beheer kan word nie. Kom, lees Henog klaar dan praat Ek later weer hieroor met julle.

Vir sommige van julle, My Kinders, is die gedagte dat die wêreld nie regtig werk soos wat daar aan julle vertel is nie, iets wat julle vul met beklemming. Sommige raak kwaad, want wie wil nou voor gelieg word. Ander sê weer: "Ek het geWEET!" Ek wil dat julle begin besef dat hierdie wêreld, jul lewens hier in die materie, net 'n hartklop lank is en dat Ek die Waarheid IS en het, julle kan maar jul houvas op die wêreldse denke, konsepte en "standvastighede" laat gaan en julle op My werp. Ek is julle Alles en sal aan jou alle Waarheid en Wysheid openbaar; julle moet net na My kom, Kindskap kom kry, binne My Orde kom en leef!

Dit is voorwaar nie meer lank voordat die pot gaan oorkook in jul land nie. Daar is hulle wie probeer keer dat die deksel afskiet, maar dit gaan nie moontlik wees nie. Daar is iets in die hordes wakkergemaak deur My Teenpool wat nie weer aan die slaap gesus kan of wil word nie. Dit wat in die twee nature bots het opgestaan en daar gaan nie keer wees aan dit wat kom nie.

Soos wat die bekkenbene van die moeder ontsluit om die nuwe lewe voort te kan laat kom, so gaan die geboorteproses begin vir My Apartgestelde Volk. Dit wat moet ontsluit, ook vir julle My Kinders, My Bruid, begin gebeur.

So seker as wat die weer verander in hierdie seisoen en die sterre oor die naghemel wentel, so seker is die aftik van die sekondes totdat hierdie nuwe fase van My Plan in werking kom. Daar is reeds ratte en klein wieletjies aan die draai en beweeg, want hierdie fase het reeds lankal ’n aanvang geneem. Die groter deel daarvan gaan nou net sigbaar in werking kom. Die geweldige teenspoed en lyding wat julle, My kinders, gaan ondervind, is die skadukolle van 'n skilderstuk waaraan julle te naby staan. Sonder die donker sal die ontnugterdes nie die LIG kan sien nie. Dit is nie My keuse dat die pyn en ontberinge na julle moes kom nie. Julle afvalligheid en hardnekkige rebelsheid het dit genoodsaak, anders sou julle, my dierbare kleintjies, almal die Afgrond ingegaan het. Kom, roep uit na My vanuit die diepte van jul harte, laat jul noodkreet na My opstyg en Ek sal julle aangryp! Vertrou dat Ek op julle roepstem wag. Daarsonder kan Ek niks vir julle doen nie!

Waarheid en Geregtigheid sal seëvier! Ek weet daar is 'n smagting daarna in julle harte, My Kinders, My Bruid! Hou net goeie moed en Ek sal die skildery aan julle begin openbaar. Hoeveel beter is dit nie om die einde te ken voordat julle die donker hoofstuk moet ingaan nie! Geen skaduwing sal julle kan aanraak nie, want My LIG in jou sal hulle van julle verdryf. My kinders, My Kinders! Begin die Waarheid sien, oor wie julle is en wat Ons saam gaan vermag tot die Eer van My NAAM!!

Dit is om My Naam's ontwil dat Ek My Plan ten uitvoer bring! EK IS die Groot en Almagtige Skepper en Heerser van die Heelal! Sonder Begin en Einde is EK, wie kan My stuit of ter insae roep?

Onthou dat Ek gesê het dat van My Kinders Huis toe geroep gaan word. Koester julle dierbares vir die tyd wat hulle nog hier is. Julle weet nie wie van julle reeds klaar met hul take hier is nie, want Ek is die Meester, julle almal is My knegte. Wees lief vir mekaar!

Die wawiel het al amper een revolusie gemaak en begin spoed optel. Moet nie verbaas wees oor die spoed waarin veranderinge gaan kom nie, wees wakker om My Stem te hoor, wees op julle plek om My Take te verrig. Julle wie nog nie Take ontvang het nie, wees gereed daarvoor. Dit wat Ek van julle mag vra, sal dalk onmoontlik lyk. Wees vol vertroue, want die wie Ek bemagtig, voorsien Ek ook alles wat hul nodig sal hê om hul take goed te kan uitvoer. Ek is jul Leidsman, jul Aanvoerder. Hulle wie Ek oor julle aangestel het, sal julle My Kinders, kan eien. Hulle sal My Merk dra.

Wees Sterk, wees Bemoedig want Ek JaHshua, julle Elohey, is met julle waar julle ookal sal gaan. Wees Sterk en vol Moed en onthou: My LIEFDE, My LIG, My LEWE!

Ek is Lief vir julle, my Kinders, My Bruid!

EK IS!"

Amein


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205