EINDTYD BOODSKAPPE AAN DIE BRUID
WENDY MACFARLANE

Hoofstuk 88

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91.

Nr 88 - 12 & 13.08.2016 (aan Wendy)

"Skryf My Liefling, My Bruid

Daar is karige meubels in party van julle se huise, My Kinders. Julle gee nie aandag aan dit wat belangrik is nie en dui die binnekant van jul huise op dit wat julle nie wil sien nie. Kom kyk in My Spieël en word vernuwe.

Daar kom 'n hond om die draai wat julle bang gaan kan maak as julle dit sal toelaat. Wees nie bevrees nie, EK IS met julle en sal Myne beskerm. Hulle wie in My geborge is, sal die ander leer in die ervaring en sal meer siele na My draai.

Onmeetlik diep is My Liefde vir elkeen van My kinders en daar is niks wat Ek nie reeds van jou weet nie, niks wat Ek nie reeds die straf voor gedra het op Golgota nie. Kom na My, My kindertjies en laat My toe om jou te reinig van al jou ongeregtighede. Ja, selfs dit wat julle heimlik aan vasklou en dink dat daar geen redding daarvoor is nie. Ek is jou Vader, Ek is jou Skepper, hoe kan daar enigiets wees wat te moeilik is vir My? Soos die sonstrale elke oggend jul dag verlig, so is My Barmhartigheid, My Liefde vir jou siel daar. Moenie langer in die donker gate en hole wegkruip nie. Elkeen van julle het vanuit My gekom, kom terug na My, My verlore seun, My dogter.

Daar is fonteine van verkwikking vir elke siel wat na My dors. Julle wie in die woestyn vertoef het, kom en wees versadig. Die lesse wat daar geleer is oor jouself is duur gekoop, jul sweet en bloed maak elkeen 'n kosbare kleinood. Daar is nuwe krag in elkeen wie daaruit kom, nie vanuit jouself nie, maar deur My aan jou gegee in die ure en dae van smagting, van aflegging, van naby kom aan My Voete. Sterkte van wil het julle ontvang, want dit is hulle wie die woestyn oorleef en is noodsaaklik vir jul pad vorentoe, vir die take wat julle opgelê is. Julle weet nou dat julle nooit alleen was nie. Hoe sal Ek, jou Vader, jou instuur en nie ook oor jou waak nie, naby jou wees sodat Ek jou gebede, elke gefluisterde wanhopige woord vanuit die dieptes van jou siel kon hoor nie? Nee My Liefkind, nooit is jy alleen of verlate nie. EK IS met jou!

Kom versterk elkeen julle by My tafel. Vir elkeen is daar die mees uitgesoekte heerlikheid. Ken Ek jou nie deur en deur nie? Weet Ek nie presies wat jy nodig het om jou innerlike te versterk nie? Vertrou op My! My Liefde vir julle is ondeurgrondelik. Verbly julle in My Liefde en Ek sal al die seer van die woestyntyd vervaag en net die juwele wat daaruit ontgin is, sal oorbly.

My Liefling, My Bruid, kom naby My. Ek wil elkeen van julle oorskadu, jul bedien. EK IS jou LIEFDE. "

Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205