EINDTYD BOODSKAPPE AAN DIE BRUID
WENDY MACFARLANE

Hoofstuk 91

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91.

Nr 91 - 24.09.2016 om 20h20 (aan Wendy)

"Skryf My Liefling, My Bruid

Weer was die wagtyd 'n toets vir julle, My Kinders. Ja, julle verlang na My Woorde deur My knegte en dit is goed en reg, maar dit moet nie die enigste voeding wees wat julle kry nie. Ek praat, fluister in elkeen van julle se harte en sommige van julle dink dat dit maar julle eie gedagtes is. Word meer sensitief om My Stem van jul gedagtegange te kan onderskei. Gedagtes sit in jou kop. Ek spreek in jou hart. Maak stil die geraas, kry beheer oor die drange in jul vlees wat julle verwar en kom voor My Voete. My Kind, My Liefling, Ek het soveel wat Ek julle wil vertel, maar julle wil nie afstand doen van die bababottel nie. Die tyd kom waar daar nie meer bababottels gaan wees nie, sal julle dan maar vergaan van honger? Nee My Geliefde Kinders! Nader tot My en vra My hulp met afwagting en Ek sal jou begelei op die pad na volwassewording. Wees getrou en hou jul oë standvastig op My gerig. Ek sal jou nie verkeerd lei nie, sal jou nie in die steek laat of laat val nie. Jy is kosbaar, kosbaar!

'N Mylpaal is behaal in die geestelike realm en julle gaan groot veranderinge begin sien, julle wie na aan My loop. My Vrede is en sal met jul wees en julle gaan in My Krag vorentoe begin beweeg. Wees bedag op My Stem, Ek is jul Aanvoerder. Ek gee die instruksies, jul take. Knoop jul baadjies toe en maak seker die gordels is stewig vas. Neem jul toerusting op en wag op My bevel. Julle staan binne My beskerming en vreesloos sal julle jul take verrig. Die proviand van Geloof, Hoop en Liefde gaan julle goed te staan kom. Wees sterk, EK IS met jou!

My Bruid, hoe sag soos die môredou is jy! Skitterblink is jou oë soos die doudruppels wat die sonstrale opvang en weerkaats. Hoe mooi is jy, My Lieflike Bruid! Jy neem My asem weg! Ek juig en My Engele jubel in aanskoue van Jou! Lieflik, algeheel Lieflik!

My Bruid, kom neem My beursie en koop daaruit wat jou hart begeer. Wat Myne is, is Joune. Jy is Myne, jou hart vir My alleen!

My Kinders, kom neem jul lewens in oënskou, die stand van jul harte voor My. Het die sweem van duisternis daarin begin sypel? Is My Lig vir julle effens dowwer? Is daar harde kolle op jul harte waar die wêreld, die vyand van jul siele, jul met 'n brandhout bygekom het?  My Geliefde Kinders! Kom bring dit voor My en Ek sal julle wys waar die probleem sit, salf aansmeer en julle heel maak. Kom vind jul troos in My Arms en word weer heel, sonder kraak, sonder mankheid. EK IS jou Geneesheer!

My Weë is reguit, My juk is sag. Kom, wees die Skape van My Weide. Hulle wie ore het om te hoor, laat hulle hoor.

Ek neem julle aan, julle wie in ootmoed na My kom, julle wie waaragtig tot My nader in nederigheid en geheel afhanklik van My is. My kind, Ek alleen kan jou rooi soos bloed sonde wegwas en jou wit soos wol voor My laat staan. Slegs Ek kan verlos van die bose. Slegs Ek kan jou voete uit die moeras haal, was en anker op die Rots. Slegs Ek, My kind kan jou vryspreek. Ek die Skepper en Koning van die Heelal. Kom net na My in ootmoed, buig julle alles voor My en GLO.

Kom, neem jul lewens deur My aan julle geskenk, in oënskou. Kom en bring alles wat julle van My skei. Slegs Ek kan jou onreinheid wegneem, van jou die vlekkelose diamant maak wat My Lig in reënboogkleure die wêreld in kan stuur.

EK IS Lig,

EK IS Liefde,

EK IS LEWE!

Hoor My Stem, My Liefling-Bruid. Ek sing vir jou My Minnelied, Ek begelei jou op My Weë. Kom na My!

Ek is Lief vir Jou!

EK IS!"

Amein.


 
 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205