DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 12

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 10 Die middelgordel van die son, die landskap en die inwoners. Uitbarsting van sonswellings 1. Die bewoonbare strook, oftewel die gordel van die son aan weerskante van die ewenaar het elk gemiddeld 'n bewoonbare breedte van iets meer as 20 000 myl. Hierdie gordel is tewens ook die digsbevolkte gedeelte van die hele son en kan deur enigiemand op enige plek bewandel en bereis word. Die bodem van hierdie gordel is oral so sag soos 'n kussing; vandaar dat niemand, ook al val hy op die grond, homself ook maar die minste skade kan berokken nie. 2. Ten suide en noorde van hierdie gordel is daar egter 'n reusagtige, aaneengeslote, grotendeels onklimbare hoogge¬bergte, wat hier en daar ook wel oor die gebied van die ewenaar as laer heuwels uitstrek, waar mens maklik op en daaroorheen kan klim. Maar aan die suidelike en noordelike grens van die ewenaar gordel is dit nie so nie; daar is die berge dikwels honderd tot tweehonderd Duitse myl hoog en vir die meeste so steil en tewens spieëlglad, sodat niemand in staat is om daar waar die hange begin, ook maar één voet te versit nie. 3. Ook al het die bergwande hier en daar nog ietwat van ’n helling, dat hulle met groot moeite en inspanning geklim kan word, dan het die hoë berge van die son tog die eienskap dat hulle, namate hulle hoër oprys, ook steeds meer ondraaglik witglansend word. Die oorsaak hiervan is, dat namate die wande van sulke berge hoër raak, hulle deur die wenteling van die son ook blootgestel raak aan 'n des te sterker druk van die sonnelug en daardeur raak hulle hulsies, wat die geestelike insluit (en waaruit eintlik al hul materie gevorm is), eweneens in 'n des te hewiger reagerende trilling betrokke wat homself wil uitbrei, en soos julle reeds weet, is hierdie trilling ook die oorsaak van die steeds feller wordende eie straling. 4. Om hierdie rede word dan ook selfs hierdie uiteindelik beklimbare Himalaya's en Chimborazo’s* van die son met rus gelaat, en die sonbewoners het maar net genoeë met hierdie berge wanneer hulle dit op 'n afstand van, volgens julle berekening, honderd tot duisend myl in uitgestrekte kettings kan bekyk. Desondanks is hulle tog buitengewone groot liefhebbers van die heuwels en laer berge en daarop woon hulle dan ook gewoonlik, want op die groot, uitgestrekte vlaktes is hulle nooit veilig teen 'n uitbarsting, wat ons, soos gesê, tydens hierdie geleentheid saam met die inwoners van die son wil bekyk. 5. Ook is daar hier en daar op die vlaktes groot mere, waarna die sonbewoners weliswaar baie graag kyk, maar nie te naby wil kom nie, omdat hierdie mere dikwels onverwags buite hul oewers tree, waar die inwoners nie vinnig genoeg van die aanstormende vloed sou kon ontkom nie. Want so `n meer bevat soms meer water as al die seë van die aarde saam. *Hoogste berg in Suid-Amerika. 6. Slegs daarom het die vele duisend miljoene mense wat slegs hierdie gordel bewoon, tog buitengewoon veel ruimte, want één enkele van sulke heuwelrûe op die son het met sy uitlopers dikwels 'n veel groter gebied as Asië, Afrika en Europa by julle bymekaar. Daarom hoef ’n mens ook absoluut geen sorge te maak oor ruimte vir die sonbewoners nie. Verder is ook hierdie sonheuwels absoluut nie met julle aardse heuwels te vergelyk nie, want ten spyte daarvan dat dit “heuwels" is, verhef hulle hulleself tog seker nog vyf tot tien myl bo die vlakte, wat die tienvoudige van die hoogte van julle allerhoogste berge op aarde bedra. Daarom is die uitsig vanaf so heuwel vir julle begrippe ook werklik onbeskryflik wonderlik, want die buitengewoon groot verskeidenheid in groepering van die grens gebergte, die grootse woongeboue van die mense wat op die heuwels woon, en die groot afwisseling aan veelsoortigheid van die plantegroei, die waterspieël wat tot in die wye omtrek blink, die talloos verskillende kleure van die dinge en veral die buitengewone majestueuse en pragtig aangelegde leertempel, maak die uitsig vanaf so ’n heuwel so buitengewoon pragtig en verhewe, dat dit werklik julle begripsvermoë te bowe sal gaan. 7. Ons hoef daarnaas skaars nog die vele sagte, mooi land- en lugdiere te noem nie, wat veral daar in ’n veelsoortige skoonheid teenwoordig is, waardeur julle ook ietwat meer deurdronge sal raak van die lewendigheid van hierdie sonlandskap. 8. Kortom, ons het nou genoeg redes om 'n behaaglike plekkie op een van hierdie heuwels op te soek, en van daar saam met die sonbewoners vir julle ’n beslis buitengewoon geweldige natuur-verskynsel van die son by te woon. Sodat julle egter hierdie merkwaardige tafereel des te lewendiger kan waarneem, sal ons onsself tydens hierdie geleentheid met ope ore onder die sonbewoners wees en luister na wat hulle tydens so 'n geleentheid met mekaar bespreek. 9. Kyk daar, nie vêr van 'n groot tempel nie, waarvan die spits, verhewe dak op duisend groot, witglansende pilare rus, staan juis 'n groep van ongeveer honderd mense van beide geslagte. Kyk hoe hulle oor die heuwel na die ander kant omlaag tuur en met hul vingers wys. Wat sou daar aan die gang wees? Wel, dit sal gou duidelik word. 10. Kyk, ons bevind ons al te midde van hulle. 11. Daar vêr weg, midde in 'n groot meer, begin 'n keëlvormige heuwel homself te verhef. Kyk hoe hy sienderoë groter word! Maar nou sal ons nie verder praat nie, maar slegs luister na wat die sonbewoners sê, en sien wat hulself, hoewel hulle met sulke verskynsels vertroud is, met hoogs verbaasde oë en bewende gemoed aanskou! 12. Kyk, daar staan verskeie leraars wat die verskynsel gadeslaan. Die twee leiers konsulteer met mekaar. A sê: "Broer, wat dink jy van hierdie verskynsel? Hoe hoog dink jy dat hierdie swelling hierdie keer sal oprys, voordat dit tot uitbarsting kom? Kyk, dit groei baie heftig! ' 13. B sê: "Broer, dit is nou nog nie te sê nie, want soos jy weet sal dit, as daar geen swellings daarby ontstaan nie, net 'n gewone uitbarsting te siene wees, wat spoedig sal gebeur. Maar kyk, ek ontdek juis nóg 'n groot aantal kleinere swellings, wat hulself bo die wateroppervlak verhef. En kyk net daar, agter die eerste kegel sien ek juis een van ’n nog veel groter omvang en wat met groot spoed bo die eerste oprys. Luister, broer, hierdie keer sal ons hoër grond moet opsoek, want as dit so aanhou, sal die swelling, voordat dit tot uitbarsting kom, die water tot hier opstu.” 14. A sê: "Ja, beste broer, mag hierdie keer wel reg wees, want hierdie swellings word baie vinnig groter en nog steeds kom daar weer verskeie bo die water uit, en ek sien nog steeds geen rooiwarm punt nie. Daarom, luister beste broers en susters, laat ons so gou as moontlik onttrek na die heuwel wat agter ons geleë is, waarop 'n groot leertempel gebou is. ' 15. En kyk, nou verlaat almal haastig hierdie plek en snel die aansienlik hoër heuwel op. 16. Daar het hulle die voornoemde tempel al bereik, en ons saam met hulle. Laat ons nou verder na hulle luister! 17. A sê: "Broer, wat dink jy, sal dit wel veilig wees as ons die deurbraak hier afwag? Sal hy slegs na bo uitbars, of merk jy ook dat die eerste kegel na ons rigting oorhel? ' 18. B sê: "Broer, jy het gelyk! Mag die grote God ons nou die regte ontsnaproete toon, anders is ons verlore, saam met alles wat hierdie plek versier. ' 19. Kyk, na hierdie opmerking val almal bewend op die grond en smeek die grote God om erbarming en om verligting van hul leraars en leiers, sodat hulle hulle na 'n plek kan bring waar hulle die onheil veilig kan afwag. 20. Kyk: A staan weer op, en ook B. En A sê: "Broer, dank, ewige dank aan die grote God, want kyk, daar bo, agter jou op die derde heuwel, by die klein tempel, wat uit slegs 77 pilare bestaan, staan al 'n beskermende engelgees uit die ligsfere. Laat ons daar dus vinnig daarheen gaan, want ons sal hom nouliks nog kan bereik, voordat die uitbarsting van hierdie hele groot swelling naby sal wees. Kyk maar hoe heftig al die kegels omhoog kom en hoe hul omvang steeds groter en groter word! Dat is al voortekens van 'n naderende allerverskriklikste uitbarsting!' 21. Kyk, hulle staan almal op en gaan vinnig na die veilige plek wat die beskermgees vir hul aanwys. Kyk net hoe hulle hande hou met mekaar en die een die ander meetrek, sodat niemand sal agterbly of uitgeput raak nie! En kyk, hulle is naby aan die doel, en ons saam met hulle; nog net ’n entjie en ons is by die die plek. 22. 'Ons is daar', sê A, ‘ewige lof, prys en dank sy aan die groot, almagtige Beskermer, Wie ons hierdie keer gered het! En jy, ons opregte beskermgees, as dit die wil van die groot God is, bly dan gedurende die tyd van verskrikking by ons en help ons om die swakkes te troos. ' 23. B sê: "Ja, vir nou en altyd geskied die enigste, almagtige wil van die grote God! ' 24. Daar kom 'n derde by en sê: "Broers, kyk af na ons eerste staanplek, dit word reeds deur groot branders oorstroom en die dak van die tempel is skaars meer te siene! ' 25. Een vierde kom daarby, wys met opgehefde hand na bo en sê: "Kyk, broers, ter wille van die almagtige God; die swelling, wat nou al bo die hoogste berge uitsteek, kry al gloeiende uitsteeksels, en daar kom nog duisende daarby! ' 26. En A sê: "Wees kalm, broeders! Want ons is veilig. Die swelling gaan 'n ander kant op en rig homself weg van ons af en niks verwoestend sal ons bereik wanneer dit oopbars nie.' 27. B sê: "Berei jou nou voor! Die hele kegel word al rooigloeiend en van die vurige vertakkings skiet miljoene en miljoene bliksems al weg. Hoe hoog sou die swelling nou al wees? Het dit al die gloeiende oppervlak van die ligtende lug bereik? ' 28. Nou kom die beskermgees na hulle toe en sê dat hulle op die grond moet gaan lê en hul vingers in hul ore moet stop. Die swelling verhef homself al bo die oppervlak van die gloeiende lug en dus sal die deurbraak dadelik volg. 29. En kyk, almal is doodstil en lê met diggestopte ore bewend op die grond. maar luister ook julle nou en kyk na die rooigloeiende opwellende kegel, wat 'n deursnit van verskeie duisende myle het. Kyk, daar breek hy nou deur! Daar volg 'n knal, wat die grond uit haar voeë ruk. Die berge skud geweldig en met hierdie skok skiet miljoene enorme bliksems vanaf elke top, wat elk vergesel word van 'n ongehoorde harde donderslag. 30. Kyk, daar, hoe die wande geleidelik donkerder word en geweldig krampagtige stuiptrekkings kry! Maar kyk daar na benede; enkele newe kegels het nog nie gebars nie. Meer na regs, in ’n suidelike rigting is daar nog 'n kegel; wat op 'n laer punt sal bars. Let maar op, wanneer die kop daarvan knoestig word, witgloeiend en baie lewendig deur flitsende bliksems, dan sal hy oopbars. Wees maar net ’n bietjie geduldig, dan sal julle dadelik die geweldige skouspel te siene kry! Kyk, daar bars hy nou! 31. Kyk net wat se massas daar vinniger as weerlig uit die wyd gapende kloof wegskiet! Wat is hierdie massas eintlik? Julle ken dit al; dit is nuwe vorms ten behoewe van nuwe hemelliggame, bestaande uit geeste wat hul vryheidsproef nie deurstaan het nie en wat gevolglik weer die weg terug moet gaan! 32. Kyk, daar heel in die vêrte, hoe daar 'n groot aantal groter en kleiner ligbolle weer in die wyd uitgestrekte wateroppervlak terugval. Rig julle egter vanaf die son die blik omhoog die oneindige ruimte in, en kyk hoe ook die sigbare firmament deur talle, deur julle so genoemde vallende sterre in alle rigtings deurkruis word. En kyk verder hoe daar nog vanuit die krater, wat so wyd is dat hy vele planete sal kan bevat, enorme rook- en wolksuile opstyg, wat met groot spoed weggolf na vêr verwyderde planete-gebiede! 33. En kyk hoe die groot krater homself steeds meer vernou en weer in die diepte wegsink. 34. Kyk ook hoe ons geselskap hulleself weer begin oprig en My luid loof vir hul behoud en vir die gelukkige afloop van die uitbarsting van hierdie seldsame groot swelling. 35. Wel, dus lyk ’n uitbarsting so. Die groter word en verdwyn daarvan neem egter op die natuurlike manier veel langer as wat hier vertel is, asook alle ander verskynsels wat hier genoem was. Noudat ons dit gesien het, sal ons vervolgens met die inwoners van die son nog ietwat uitgebreider praat en van naderby kennismaak met die mense van hierdie gordel. En dus is dit weer genoeg vir vandag!

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205