DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 17

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 15 Die omgewing van 'n huis op die middelgordel. Die boomgroei aldaar 1. Hoe lyk die onmiddellike omgewing van so 'n huis? Dit bestaan gewoonlik uit 'n sirkelvormige laan met baie hoë bome, wat by één huis steeds van een en dieselfde soort is, maar weer nie dieselfde as by 'n ander huis nie. Ja, julle sou kon kriskras deur die hele, meer as 40.000 myl breë en 600,000 myl lange gordel, indien julle genoeg aardse lewensjare daarvoor sou hê, en tog sou julle ook nooit by die een of ander huis weer dieselfde soort vrugbare boomlaan aantref as by die eerste huis nie. So byvoorbeeld, lyk die laan-bome daar by ons eerste huis soos reusagtige groot, gedraaide pilare, van bo versier met die kroon van 'n treurwilger. Die blare is meer as 'n span lank en skaars 'n halwe duim breed; die agterkant is karmynrooi, maar die gladde voorkant is egter groengoud. Aan die punt van elke blaar hang 'n buitengewoon sterk stralende blou skynende pêrel. Tussen die blare hang daar vrugte aan ’n lang wit steel wat ongeveer die vorm het van die sogenaamde johannesbrood by julle, maar is pitloos. Want soos julle al weet, is alle vrugte op die son pitloos en het 'n buitengewone geestelike, soet smaak; daarom is hulle ook 'n lieflingspys vir hierdie huis. 2. Hoe haal die sonbewoners nou die vrugte van hierdie hoë bome af? Dit gebeur daar op 'n baie maklike en eenvoudige manier. Die sonbewoners het spesiale stokke daarvoor, wat aan die bokant van 'n na behore beweegbare knipper voorsien is. (Dit instrument is feitlik oral dieselfde!) Met hierdie knipper pluk hulle die vrugte van die bome met die grootste gemak, van welke soort dit ookal mag wees, en op hierdie manier bemagtig hulle die boomvrugte om hulle daarmee te versadig. 3. Nou sal julle by julself dink: Maar waarom laat die mense die bome dan so hoog groei, as die groei van die bome en ook die van die hele planteryk aan hulle wil onderworpe is? Wie dit sou vra, maak 'n klein foutjie. Die sonbewoners is veral buitengewoon wys en doen nie maar net iets nie; daarom moet selfs elke versiering 'n bepaalde, weloorwoë en beproefde nut hê. So het ook die vrugtekroon van so 'n boom, wat hoog geplaas is, haar duidelike, meerledige goeie bedoeling. 4. Nou vra julle waaruit hierdie nut dan wel kan bestaan? Wag, dit sal dadelik duidelik word! Ten eerste moet julle weet dat daar op geen enkele planeet sulke buitengewone bekoorlike en uitgestrekte landskap uitsigte bestaan as op die son nie. Want dit is glad nie uitsonderlik dat ’n mens, vanaf 'n middelmatige hoë heuwel, 'n vlakte met 'n deursnee van ten minste vyfduisend myl kan oorsien nie, dus byna vier keer so vêr as op julle aarde in ’n reguit lyn van die suid- tot die noordpool. Verder moet julle nog aanneem dat die lug van die son, veral bo hierdie gordel, 'n uiters hoë eteriese suiwerheid besit, waardeur die uitsig natuurlik begunstig word, veral omdat die sonmense tog buitengewoon skerp oë het. 5. Wel, nou sal die doel spoedig duidelik raak! Omdat, soos reeds gesê, die sonbewoners veral groot liefhebbers van die mooi natuurskone uitsig is, plaas hulle die vrugtekrone van hul bome so hoog, dat dit nie êrens hulle uitsig belemmer nie. Kyk, dit is nou eenmaal 'n rede wat, soos op julle aarde beskou, nie van groot betekenis blyk te wees nie, maar des te meer met betrekking tot die son. Want dit gaan hier nie net om die bekoorlike uitsig nie, maar die uitsig is iets baie noodsaaklik, omdat daar dikwels verskillende natuurverskynsels bo die land is wat nou net 'n goeie, dan weer 'n slegte, invloed kan hê. Daarom moet daar behoorlik op alles gelet word, want anders sou die sonbewoners, veral van hierdie gordel, maar al te dikwels die gevaar loop om deur een of ander natuurverskynsel wat hul woning nader, geweldig beskadig of miskien ook wel heeltemal vernietig te word. 6. Sodat julle dit ietwat beter kan insien, sal Ek julle `n klein voorbeeld gee. Dit gebeur dikwels dat daar skielik bo die een of ander heuwel rooigloeiende sterre verskyn. Tydens so 'n geleentheid moet dadelik noukeurig daarop gelet word hoe hoog so heuwel wel is, of in watter rigting hulle van 'n heuwel wegdryf. Stel jou nou net voor dat sulke sterre by 'n op duisend myl wegliggende heuwel van middelmatige hoogte ontdek sou word en die sterre beweeg in die rigting van die heuwel waarop ons onsself nou bevind. Daarvoor sou dan hoogstens drie minute nodig wees, of die voorheen genoemde klein sterretjies sou al as klein wêreldsfere op hierdie heuwel afgesweef het. Hul spoed is buitengewoon groot, omdat hulle meestal elektries gelaai is. Wie hulle op hul pad teëkom, sal in één oomblik verwoes word. 7. Wat doen die sonbewoners dan nou tydens so 'n geleentheid? Hulle stel hulself onmiddellik onder die beskerming van die lewende God en stel op 'n vrye heuwel skerp stawe op wat van vlae voorsien is. Hierdie stawe trek hierdie rooiwarm, elektries gelaaide massas soos 'n magneet hoër op, sodat dit uiteindelik heeltemal in die hoë berge verdwyn. En op hierdie wyse word huise, bome, diere en mense altyd in die dal gespaar. 8. Kyk, dit is alweer 'n goeie rede vir 'n onbeperkte vrye uitsig. Daarom staan sulke laan-bome ook altyd in één lyn met ’n pilaar van die woonhuis, gesien vanuit die sentrum daarvan, sodat die vrye uitsig selfs nie deur hul stamme belemmer word nie. 9. Een beslis dikwels algemene verskynsel, veral in die omgewing van die groot waters, of ook in die omgewing van die hoë berge wat die gordel begrens, is die water- en vuur kolke wat vir julle begrippe enorm is. Wat die waterkolke aanbetref, dit trek weliswaar nooit so vêr vanaf die water oor die land nie, maar des te meer verwoestend is die vuurkolke, waarvan sommige 'n dwarreling met 'n deursnit van honderd tot 'n duisend myl het en boonop so vinnig draai, dat hulle in één sekonde ronddraai, wat wil sê dat die buitenste ring van vlamme in één sekonde 'n weg van driehonderd tot drieduisend myl aflê. 10. Stel jou nou eers voor wat die uitwerking van so ’n natuurverskynsel sal hê op 'n omgewing waaroor dit beweeg! Wat doen die sonbewoners nou tydens so 'n geleentheid? Hulle stel hulleself ten eerste onmiddellik en vol innige vertroue onder My beskerming en plaas hulleself op 'n so hoog as moontlik beklimbare heuwel met 'n groot houer water. Rondom die houer met water steek hulle straalsgewys taamlike lang spiese in die grond. Hierdie baie eenvoudige inrigting het volgens die ervaring van die wysste leraars baie beslis die krag om ten eerste so ’n vuurkolk na hom toe te trek en dan onmiddellik die malende draaiing daarvan tot rus te bring. 11. En as julle getuie daarvan sou kon wees, dan sou julle so ’n natuurverskynsel sekerlik vol verbasing en met genoeë bekyk het. Want ook al het so ’n vuurkolk by sy verskyning 'n baie groot deursnee, tog begin hy, sodra hy so heuwel bereik, van onder af so smal te word dat die deursnee daarvan in 'n paar sekondes van duisend myl tot op 'n vadem kan inkrimp. As hy dan die heuwel heeltemal bereik het, waar die waterkan met die straalsgewyse in die aarde gesteekte lang spiese staan, begin hy oral smal word en kry ten slotte die vorm van, vir julle blikke, ’n oneindige lang lykende vuurstaaf, wat dan geleidelik bo die houer insak en verdwyn. 12. Spoedig daarna begewe die sonbewoners hulle dan weer na die heuwel en haal hulle veiligheidsgereedskap, wat volkome ongedeerd aangetref word, behalwe die water, wat weliswaar volgens hoeveelheid nie minder geword het nie, maar heeltemal swart geword het. 13. Maar waarom doen die sonbewoners dit om so 'n verwoesting te ontvlug? Hulle sê: Op die hoë berge woon geeste en wanneer hulle egter dors word, as gevolg van die te groot hitte, gryp hulle mekaar in groot getalle vas en soek soos kranksinniges verkoeling. Daarom is dit noodsaaklik om hulle met 'n drankie tegemoet te kom, sodat hulle nie verder na benede sal raas om iewers verkwikkende water te soek en so op hul weg ons huise en vrugte sou kon verwoes nie. 14. En Ek sê vir julle maar net dat die veronderstelling en geestelike wetenskap van die sonbewoners op 'n volkome korrekte mening berus. Want presies dieselfde as wat daar hier op die son by so vuurkolk gebeur, het Ek julle eens by 'n algemene geleentheid op julle aarde onthul. 'n Gees bly oral 'n gees, op die son, sowel as op 'n planeet; die vrye invloedsfeer van elke gees is slegs minder beperk op 'n son as op 'n planeet. 15. Ook in hierdie opsig is die vrye uitsig van die sonbewoners dus noodsaaklik. Om hierdie rede staan elke woonhuis ook op 'n taamlik keëlvormige heuwel, en alle ander grond wat by 'n huis behoort, lê laer as die huis self. Daarom sal julle ook nêrens 'n huis in die vlakte aantref nie, maar staan die woonhuise, asook die groot verskeidenheid openbare geboue oral op die heuwels, en die tempels vir die aanbidding en verering van die grote God bevind hulself op die hoogste punt. 16. En so is daar vir die sonbewoners nog 'n groot aantal gegronde redes om, afgesien van die vrye uitsig, die vrugtekrone van die bome dus so hoog te plaas. Maar dit sou vir ons mededeling te vêr voer om al hierdie redes op te noem. 17. 'n Tweede rede waarom die sonbewoners die vrugtekrone so hoog plaas, is ook, dat deur hierdie hoër staande krone, die lig bo-op die wonings verminder word. Dat die krone van sulke bome die lig baie sterk na hulle toe opsuig, laat die blink pêrels sien wat byna oral aan die punte van die blare vorm en wat op sigself niks anders is as ligstrale wat onverteer deur die boom is nie, net soos die sogenaamde sintel misvuur by julle, wat aan alle skerp voorwerpe te siene is wanneer die lug versadig is van elektrisiteit. By julle is dit natuurlik net in die nag te sien; op die son daarenteen altyd net bedags (omdat daar geen nag bestaan nie) as gevolg van die buitengewone sterk ligstrale van bo af. 18. ’n Derde rede waarom die krone van die bome so hoog geplaas word, is sodat die kinders sodoende steeds gedwing word om na hul ouers te kom wanneer hulle honger het. En dit is 'n baie goeie rede, want julle kan glo dat daar vir die onvolwasse geeste van kinders oral niks nadeliger is as eiemagtigheid nie, ook al word dit deur die die ouers toegelaat. Daardeur word, in die allereerste plek, die hoogmoed en eiesinnigheid in die kinders versterk, welke twee euwels die mees onvernietigbare grondslae van alle denkbare daaropvolgende euwels vorm. 19. Op die son, waar die mense tog al 'n veel vryer en onbeperkte speelruimte het, is so 'n opvoeding van die kinders des te noodsaakliker, om daardeur hul wil 'n rigting te gee wat vir die instandhouding van die algemene orde absoluut noodsaaklik is. Dit sou natuurlik ook by julle bowenal te wense wees; maar die mense van die aarde is vir die oorgrote deel al buitengewoon beperk en eiesinnig van gees, om welke rede hulle ook juis op hierdie growwe aarde geplaas was. Daarom is daar vir hulle ook niks suurder as stiptelike gehoorsaamheid nie, wat die enigste skool is vir die verkryging van die ware geestelike, innerlike wilskrag. Daarom verkry ook maar uiters min mense van hierdie aarde hierdie krag tydens hulle liggaamlike lewe, wat in werklikheid tog maar net die rede vir hul teenwoordigheid hier is. 20. Maar ons is nou nie op die aarde nie, maar op die son. Daarom sal ons ook daar die verdere huislike inrigtings volg, en wel, net soos tot nou toe, die suiwer natuurlike, huishoudelike gedeelte, waarsonder ons, wat heel natuurlik is, nooit na 'n geestelike en daarna eers hemelse, suiwer geestelike gedeelte sou kon oorgaan nie. En dus sal ons die volgende keer aandag skenk aan die ander stukke grond wat by 'n huis behoort en die doelmatige gebruik daarvan.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205