DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 25

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 23 Gesinslewe, huwelik en voortplanting op die middelgordel 1. By die beskrywing van die woonhuise het ons al baie verneem oor sake wat op die algemene huislike omstandighede betrekking het. Nou sal ons dus meer die gesinslewe en die eintlike godsdienstige kultuur in beeld bring. 2. Soos wat ons al gehoor het, leef daar op die son, veral op hierdie gordel, eintlik nooit meer as net één gesin, - vader, moeder en kinders - in één woonhuis nie. Sodra die kinders volwassene word en opgelei is, tree hulle in die huwelik. Word daar op hierdie wyse weer 'n nuwe egpaar gevorm, dan word daar ook dadelik daarvoor gesorg dat hulle 'n eie stuk grond toebedeel kry en dus ook 'n eie woning betrek. 3. Is daar op die son geen sogenaamde diensvolk, soos dienaars en diensmeisies nie? Dit is op die son en veral op hierdie gordel absoluut nêrens die geval nie, want die leiers van alle landstreke van hierdie uitgestrekte songordel, sowel as alle ampsdraers, is in 'n sekere sin dienaars van die vrye landelike volk. En selfs die allerhoogste priester staan daar as dienaar op die laagste trappie; daarom is ook sy tempel en die gepaardgaande behuising aller eenvoudig en die minste pragvol. Desondanks geniet hulle tog die hoogste agting by die volk en wanneer so 'n opperpriester 'n woonhuis besoek om 'n diens te bewys, of hy besoek een of ander tempel met dieselfde bedoeling, dan word hy tog, so eenvoudig soos wat hy is, ontvang asof daar 'n engel uit die hemel aangekom het. Hierdie dienaar verlang weliswaar van niemand enige aandag nie, maar hy vra almal om hom sonder enige onderskeid te behandel, omdat hy beslis geen heer nie, maar in die letterlike en volmaakte sin van die woord, 'n dienaar van almal is. Hierdie verontskuldiging doen egter geen afbreuk aan die saak nie, maar word juis gunstig daardeur beïnvloed. 4. Kyk, so is dit werklik ook in die hemele, waar die hoogste engelgeeste ook die minste aansienlik is en hulle teenoor ander opstel as dienaars ten opsigte van hul here. Desondanks staan hulle tog in die hoogste aansien, wat hulle deur My liefde en wysheid, wat in hulle is, toekom. 5. Wat doen so dienaar eintlik wanneer hy by so ’n volkswoning aankom? Hy wag buite totdat die huisvader hom in die oog kry, waarna dié hom eerbiedig tegemoetkom en hom dan sy woning binnelei. Dan vra die owerpriester hom of hy dalk in een of ander saak sy hulp nodig het? En as die vader hom iets toevertrou het wat hom eventueel dwars sit, hetsy op materiële of op geestelike gebied, dan bied die hoogste dienaar dadelik sy hulp vir hom aan. 6. Geen enkele huisvader sê dan iets anders nie as: "Verhewe leraar van ons hele, grote land! Gee slegs één woord van jou wysheid en daarna jou broederlike seën van bo met die genade van die grote God, dan het u ons op die mees liefdevolle wyse gedien! ' 7. Daarop onderrig hierdie hoogste dienaar hulle in alles waarin hulle ’n behoefte het, seën hulle en verlaat hulle weer. Op dieselfde wyse besoek hy weer 'n ander huis, om dit ook te dien. Nadat hy in die geselskap van 'n paar mede-dienare in 'n hele distrik van huis tot huis en van tempel tot tempel verligting gebring het, keer hy weer terug na sy huis, die hoogste tempel, waar hy dan weer vir almal wat daar is, 'n gewillige dienaar en kneg is. 8. Wanneer iemand ook maar sy hulp nodig het, hoef hy maar na hom toe te kom of iemand te stuur, en altyd sal ’n mens in hom die mees bereidwillige dienaar vind. Hy hou geen oudisies nie en sy deur is nooit gesluit nie; ook word sy woning nie deur soldate bewaak nie, want sy woning staan altyd vir almal oop. En, soos gesê, wie ookal daar kom en wanneer dan ook, hy het altyd ongehinderd en volkome vrye toegang tot hom. 9. Julle sal dalk dink dat so 'n dienaar tog sekerlik 'n baie hoë loon sal ontvang? Dan moet Ek julle dadelik sê dat so-iets op die son absoluut nie die geval is nie. So 'n dienaar is daar op die son in wêreldse opsig werklik die ergste daaraan toe, want ten eerste besit hy op sy hoë berg gewoonlik die kleinste en mees marginale stuk land, wat vir sy persoon skaars 'n halwe akker groot is, en ten tweede is ook sy woning die onaansienlikste en sy klere die eenvoudigste. Net so is ook die vrugte wat hy aan die aardbodem ontlok, verreweg die eenvoudigste, onaansienlikste en armsaligste. 10. Julle sal miskien dink dat hy dalk op bepaalde gesamentlike bydraes van die hele distrik aangewese is? O nee! Ook dit kom nie daar voor nie. As iemand hom iets sou wil gee vir die een of ander diens, dan sê hy onmiddellik: Luister, beste vriend en broer, wat jy het, dit het die Heer jou gegee vir jou en jou huis. Hoe sou ek van jou kan aanneem wat die Heer aan jou geskenk het? Of kan ek dit aan jou verkoop, wat die Heer aan my geskenk het? As ek dit teen vergoeding aan jou sou wil gee, sou die Heer dan nie in daardie geval ook die grootste reg hê om van my 'n fooi te begeer nie? Welke vergoeding sou ek egter kan gee aan die Een van wie alles is wat ons maar het, selfs elke asemteug van ons longe !? Ek is immers maar net 'n dienaar in die huis van die Heer en ek moet dus Sy gawes sonder vergoeding weggee, soos wat ek hulle ook sonder vergoeding ontvang het. 11. Kyk, hierdie hoofreël weerhou elke dienaar daarvan om geskenke aan te neem en nog meer van die aanneem van een of ander gesamentlike bydrae, want so dienaar weet baie goed dat hy, wie uitsluitlik in My diens is, die allerbeste daaraan toe is. 12. Die grootste beloning wat hy vir sy dienste op die son kry, bestaan uit die feit dat hy, solank as wat hy as opperste dienaar leef, herhaaldelike kere, volgens julle tydrekening ongeveer eenmaal per jaar, die reeds bekende Kalvarieberg kan besoek en dat hy ook tydens uitsonderlike geleenthede deur 'n engel van die hemel besoek word om by ernstig dreigende gevare, beskermende gedrag vir die hele distrik van hom af te ontvang. 13. Hoe groot is 'n distrik eintlik waaroor so ’n hoogste dienaar moet waak? So ’n distrik is soms heelwat groter as die grootste keiserryk op aarde, en die gebied van so ’n hele distrik is 'n uitgestrekte heuwel- en bergland, waar baie min gelyk paaie is. 14. As so dienaar dus tydens sy lewenslange ampsbeoefening so ’n distrik herhaaldelike keer deurkruis het, kan 'n mens jouself afvra op watter manier hy reis. Dan sê Ek, soos wat julle ook sê: Slegs op die manier van die apostels. Hiermee moet ook net opgemerk word dat die te voet gaan op die son ten eerste baie makliker is as op 'n planeet, omdat die aardbodem oral sag en elasties is. Ten tweede egter is die sonbewoners, hoewel hulle op hierdie gordel byna twee keer so groot is as julle, tog veel ligter, omdat hul liggame veel meer eteries óf fynstofliker is as dié van julle. Bowendien kom dit die voetgangers op die son nog heel goed te pas, deurdat hulle deur hul kragtige wil buitengewoon sterk is en hulle as gevolg van die krag te voet veel vinniger van die een na die ander plek kan beweeg as die vinnigste vlieënde voëls by julle op aarde. Daarom is dit vir 'n sonbewoner baie maklik om in twee, drie tot vier minute 'n berg te klim, wat volgens julle maatstawwe verskeie ure hoog is. 15. Noudat julle dit weet, kan julle ook baie goed verstaan hoe so opper dienaar maklik herhaaldelike kere deur sy distrik kan reis om, oral waar ’n mens hom nodig het, behulpsaam te wees. 16. Kyk, so is die verhouding tussen die huisheer en die dienaar, want op die son het elke huisvader uitsluitlik een bediende nodig vir sy geestelike behoefte. 17. Sy grond bewerk hy immers tog al heel maklik met sy wil. Sy vrou en enige dogters, wanneer hulle die skool verlaat en nog ongetroud is, kan maklik die min skape melk, wat reeds aan julle bekend is, op vasgestelde tye hul ryklike wol afskeer en dit spin en hul heel eenvoudige skorte daarvan maak. 18. Al die ander egter, soos byvoorbeeld die geboue en alle afsonderlike inrigtings daarvan, asook die materiaal vir alles wat 'n woning benodig, word vir die oorgrote deel tog al deur die bou vaklui versorg. En so hoef die werklike son boer niks anders te doen as om sy grond in orde te kry en voortdurend van die ryp vrugte daarvan te geniet nie. 19. Daarom praat die sonmense ook die heel meeste met mekaar oor die groei van hul gees, hulle besoek mekaar graag oor en weer en hulle bewonder oral die geestelike kragte wat anders tot uiting gekom het in die sigbare, pragtigste voortbrengsels van die menslike wil. 20. Om hierdie rede het die sonbewoners ook geen ander wette en gedragsreëls onder mekaar as die van 'n gasvrye en sosiale lewe nie, wat daaruit bestaan dat hulle mekaar steeds meer stig, sodoende God ook steeds meer leer ken en daardeur ook die doel waarvoor Hy hulle geskape het. 21. Verder gaan die sonbewoners ook steeds in die grootste liefde en voorkomendheid met mekaar om. Van enige twis is daar nooit sprake nie, wel egter van 'n wedywering in hoe die een die ander die meeste van diens kan wees. Dit is in ’n sekere sin 'n ongeskrewe sosiale wet, wat egter nie voortspruit uit 'n bestaande wet nie, maar eerder uit die vrye wil, as gevolg van die ken van God en daaruit die ken van die doel van die mensdom. 22. Daar is almal broers en susters! Selfs die leraars en leerlinge sal mekaar nie anders bejeën as as innige, werklike broederlike vriende nie. 23. Maar hoe is die morele lewe gereël? Dit mag julle dadelik alreeds vooraf weet, dat daar nêrens sprake is van ontug nie, want ten eerste vind ook hier die voortplanting nie plaas op die manier soos by julle op aarde nie, maar deur 'n gesamentlike gebed en deur die daaropvolgende gesamentlike liefdevolle wil, wat eintlik net die vereniging van al die goeie en ware is, óf 'n vereniging van die lig met die warmte, waarby die verwekker te vergelyk is met die lig en die mede-verwekster met die warmte. 24. By so vereniging ervaar die egpaar die grootste geluksaligheid, wat egter nie dieselfde is as julle sinlike wellus nie, maar slegs gelyk is aan 'n toestand waarby twee gelykgestemde siele mekaar in een en dieselfde graad van die goeie en ware vind. Maar julle moet daarby vir julle egter wel 'n buitengewone hoë graad van so ’n gemoedstoestand voorstel. 25. Dit is dus die verwekkingsdaad by die mense op die son, veral op hierdie gordel. Daarom kom daar ook nêrens ’n dwase toestand voor soos die verliefdheid by julle wat die moreel so verderf nie, maar die geneentheid vir mekaar berus slegs op die goeie en ware. 26. Hoewel die vroulike geslag op die son oor die algemeen 'n groot skoonheid besit, en wel sodanig dat ’n mens vir hom onmoontlik 'n voorstelling daarvan kan maak, het die skoonheid op sigself tog nie soveel waarde vir die man indien dit nie volkome ooreenstem met sy insigte ten opsigte van die goeie en ware nie. Daar beskou niemand egter die vorm op sigself as iets aantrekliks nie, ewemin as wat julle afsonderlike letters van 'n boek of miskien ook afsonderlike note van 'n musiekboek as iets aantrekliks beskou, want julle kyk tog ook net na dit wat die letters of die note weergee. As dit geesryk en verhewe is, sal julle die tekens waardeer wat die inhoud weergee. As dit wat as geheel deur hierdie karakters voorgestel word egter smaaklose, waardelose, waterige rommel is, dan sal julle tog vir die karakters waaruit hierdie werk opgebou is, sekerlik ook geen geneentheid of liefde koester nie. 27. Kyk, presies so beskou die sonmens die vorm. As dit ooreenstem met sy insigte omtrent die goeie en die ware, dan het dit vir hom op sigself ook 'n deurslaggewende waarde. As die vorm, hoe mooi dit ookal mag wees, egter nie met sy insigte ooreenstem nie, dan is dit vir hom niks meer as 'n onnosele advertensie bladsy in een of ander tydskrif vir julle nie, waarin huise in 'n stad in China dalk geadverteer word. Al sou so advertensie bladsy met die mooiste letters gedruk wees, dan sou ’n hoe ookal swak geskryfde Psalm van Dawid, as hy maar leesbaar is, sekerlik vir julle kosbaarder wees as so ’n prageksemplaar van 'n advertensie bladsy. 28. Kyk, so is op die son alles wat die uiterlike aanbetref, slegs 'n skrif, en hierdie skrif kry eers waarde wanneer die betekenis daarvan volmaak is. Vroeër was dat op aarde ook so, maar daardie tye is lankal verby. Daarom gee Ek dit nou vir julle, sodat die mense, wanneer hulle daarvan kennis geneem het, hulle hulleself langsamerhand daarvolgens kan rig, as hulle werklik gelukkig wil wees, beide hier en in die hiernamaals. 29. As julle wil weet hoe die huwelike in die hemel gesluit word, kan julle die huwelike op die son as voorbeeld neem. Sulke huwelike op die son duur dan ook ewig, terwyl julle huwelike, wat dikwels baie sleg is, omdat hulle niks anders is as louter uiterlikhede nie en dus in my oë gruwelike dinge as basis het, hoogstens tot aan die graf duur, en soms nie eers nie. 30. Want neem dit van My aan: Die veragtelikste huwelik wat op aarde gesluit kan word, is 'n huwelik op die basis van geld of goedere; want val die basis weg, dan is dit ook met so huwelik vir altyd gedaan. So is ook die huwelike wat slegs gebaseer is op sinlikheid en wedersydse liggaamlike aantrekkingskrag, nie minder verderflik en veragtelik nie, want ook hierdie slegte basis vergaan geleidelik. Van dieselfde orde is politieke huwelike; ook dit duur nie langer as hul basis nie. So is dit ook gesteld met die te vroeg gesluite jeug huwelike, want ook hulle vergaan, asook hul basis. Eweneens die huwelike uit praalsug wat ook vergaan, net soos hul verderflike basis. 31. Slegs huwelike wat My as basis het, sal ewig bestaan, omdat die basis daarvan ewig is! 32. Daarom het Ek dit ook aan julle gegee, sodat julle daaruit kan leer om te verstaan hoe ware huwelike gesluit moet word, van welke aard dit moet wees en watter basis dit moet hê. 33. Sê julle nie self dat op 'n slegte bodem geen edele vrugte kan groei nie, maar slegs onkruid en distels? Wanneer julle dus al die slegte op aarde kan raaksien en vra: Waar kom dit vandaan? Dan sê Ek vir julle: Kyk na die bodem waarop die vrugte gegroei het en oordeel dan of daar in sodanige moerasse en vleie wel edele wingerdstokke kan groei! Julle plaas die wingerde tog ook op die berge sodat hulle daar die suiwer sappe kan opsuig en goeie lug kan inasem en dan sê julle: Dit is die beste grond vir die wingerdstok. 34. Kyk, so moet ook die lewende vrugte van die mensegeslag as die alleredelste plant van die aarde in die beste grond gesaai word! Verbaas julle dus nie oor die slegte vrugte, wanneer hulle in poele, riole, moerasse en vleie gekweek word nie! Sulke gronde is julle wêreldse huwelike en daarom is die vrugte ook soos wat die grond is! Werklik buitengewoon smerige akkers vir die saai van die lewende saad vir 'n vrug wat ewig moet bestaan! 35. Maar genoeg oor alles wat vir My 'n geweldige doring in die oog is! Laat ons daarom terugkeer na ons beter sonbodem en daar van die inwoners van die son nog baie dinge leer wat ook op die aarde so moet bestaan soos op die son. Dit sal merendeels uit die godsdienstige kultuur bestaan wat heel in die begin bespreek is, soos die uiterlike en innerlike by die sonbewoners, wat veral op die songordel, wat reeds aan ons bekend is, gebruiklik is. 36. Maar dit ons sal eers die volgende keer bespreek. Vir vandag laat ons dit hierby.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205