DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 35

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 33 Die tweede paar gordels, ooreenstemmend met ons aarde 1. Hierdie twee naburige gordels is eweneens van die twee vorige geskei deur 'n onoorklimbare hoë ring van berge. Vanaf hierdie hoë bergreeks loop daar in die beskrewe gordels uitlopers in alle rigtings, wat selfs hier en daar in verbinding staan met die volgende ring van berge, wat die derde gordel van hierdie tweede skei. 2. Hierdie tweede ring of landgordel is aansienlik smaller as die twee voriges, maar daarenteen stem beide die noordelike sowel as die suidelike ook slegs met één enkele planeet ooreen. 3. Daar is in hierdie twee gordels nêrens 'n ononderbroke deurlopende see nie, maar daar is redelik baie groot, uitgestrekte mere, sowel as groot en kleiner riviere. Veral die suidelike gordel is waterryker as die noordelike. Hiermee het ons dus al 'n algemene beeld van beide hierdie lande. 4. By beide die vorige gordels het ons gehoor en gesien dat hulle met die planete Mercurius en Venus ooreenstem, maar met watter planeet stem beide hierdie gordels nou ooreen? 5. Om in hierdie planeet julle aarde te herken, het julle geen sterk kykinstrumente nodig nie, want julle sit met die neus bo-op, omdat dit die aarde is wat julle dra. Dus is julle aarde die toepaslike planeet vir hierdie twee gordels, en wel die noordelike vir die noordelike halfrond, en die suidelike vir die suidelike halfrond. 6. As julle nou die inrigting van beide hierdie gordels met één blik wil oorsien, dra dan maar net alle omstandighede van julle aarde in staatkundige en persoonlike opsig oor op hierdie twee gordels, en dan sal julle as’t ware tuis op eie bodem wees. Julle moet dit slegs op die deel van julle aarde neem wat op die korrekte wyse bewerk is en dit van beide die noordelike, sowel as die Suidelike Halfrond, op ons twee songordels oordra, dan sal julle heeltemal tuis wees. Want heidense volkere met hul hele huishouding ontbreek daar, asook die negers en verskeie ander donker¬kleurige soorte mense, en derhalwe ook al hul huislike, politieke en godsdienstige inrigtings. 7. Dit lyk egter oral soos wat dit vroeër op aarde in die goeie Christelike tye onder die ware Christene gelyk het en soos dit was by die Israelitiese volk toe dit nog onder bevel van Joshua* gestaan het en wel op die noordelike gordel soos by die goeie Christendom op aarde, en op die suidelike gordel as ten tyde van Joshua by die Israeliete. *die eerste rigter van die Israeliete 8. Noudat julle dit weet, sal ons ook gou klaar wees met ons twee gordels van die tweede ring, want wanneer julle alles daar in dieselfde orde vind soos op julle aarde, hoef ons dus niks anders meer te doen as om maar net oral die karakteristieke eienskappe van die son te noem nie, dan het ons alles wat ons nodig het om hierdie twee gordels presies te ken. 9. Waaruit bestaan hierdie karakteristieke van die son dan eintlik, vergeleke met dit van die toepaslike planeet? 10. Dit karakteristieke van die son bestaan ten eerste uit die groter volmaaktheid van alles wat julle maar op aarde, onder die twee gegewe voorwaardes, kan sien. 11. Ten tweede is die verskil, dat daar op beide hierdie gordels absoluut geen sogenaamde amfibieë voorkom nie, nóg in die water, nóg op die land en ook geen roofdiere nie. Daar is wel diere wat uiterlik soos roofdiere lyk, maar hulle is edeler en sagter van karakter. Daarom val hulle mekaar ook nie aan soos op aarde nie. Hulle het as't ware die geaardheid van 'n lam, en voed hulleself met gras en wortels. 12. Ten derde bestaan daar verskille in plantegroei. Weliswaar kan julle al meer as twee honderdduisend soorte grasse, plante en struike daar aantref wat op julle aarde voorkom, maar hulle is daar, net soos op die ander gordels, saadloos en groei oral op plekke wat vir hulle geskik is, vry uit die grond op, ongeveer soos die mos, verskillende swamme en ook enkele plante op julle aarde, veral in die omgewing van die ewenaar. Tog kan alle plante en bome op beide hierdie gordels nie alleen deur steggies van takke voortgeplant word nie, maar ook deur die vrugte self, wat op sigself weliswaar heeltemal geen sade het nie, net soos 'n druif in die Môreland, wat eweneens pitloos is. As daar egter een of ander ryp vrug in die grond geplaas word, dan groei daaruit weldra weer net so 'n plant of boom daaruit. 13. Kyk, dit is in hoofsaak die eintlike verskil en die karak¬teristieke op die son. 14. Wat die mense en hul instellings nou aanbetref, beide staatkundige, huishoudelike, sowel as in godsdienstig opsig, stem hulle volkome ooreen met dit wat al hiervoor gesê is. 15. Julle vra: Glo hulle in Christus, die Gekruisigde? Ek sê vir julle: Op die hele noordelike gordel ken niemand 'n ander God as alleen Christus, die Gekruisigde nie! Want dieselfde apostels wat Hom hier op aarde verkondig het, het Hom ook daar verkondig. Julle moet egter nie die Christendom daar met kerklike, hiërargiese oë bekyk nie en julle moet nie dink dat daar ook gebedshuise (kerke) en allerlei nuttelose, onbeduidende kloosters is nie, want die hele gordel is één Christelike gemeente wat maar één evangelie het en een en dieselfde Christendom getrou en waaragtig in die gees en alle waarheid erken. 16. Die godsdiens op die suidelike gordel onderskei hom van die noordelike slegs daarin, dat die inwoners op die suidelike gordel, naas die Nuwe, ewigdurende Testament, ook die Ou Testament baie goed ken, terwyl die inwoners van die noordelike ring ook goed daarvan op die hoogte is, maar hulle sê: Ons eer en waardeer weliswaar alles, wat ook maar enigsins betrekking het op ons Heer, maar as ons Homself het, laat ons al die ander wat daarvoor was en hou ons aan Hom vas! Daarom is die inwoners van hierdie noordelike gordel ook veel wyser as die van die suidelike, want die eersgenoemde bevind hulself in hul wesenlike self, terwyl die ander hulself daaromheen beweeg, - óf hulle is in die tempel en is nog in die voorhof, óf hulle is in die liefde en van daaruit in alle wysheid, of hulle is in die wysheid, en van daaruit eers in die liefde. 17. Julle sou graag wil weet of die mense hier ook in staat is om te sondig en of daar ook 'n doop tot wedergeboorte is en derhalwe ook 'n verlossing uit die dood tot die verkryging van die ewige lewe? Alle mense op alle sterre is in staat om te sondig, dus ook hier, want waar daar ook maar wesens in absolute vryheid bestaan, daar bestaan natuurlik ook tydelike of vir altyd bestaande wette, waardeur die vrye wesens immers eers in staat gestel word om hul vryheid te herken. Vryheid bestaan immers enkel en alleen uit die feit dat 'n vry lewende wese deur 'n gegewe wet insien dat hy dit as gevolg van sy vrye wil kan opvolg, al dan nie. As daar egter, waar dan ook, vrye wesens bestaan waarvan die wil gebonde is deur een of ander vrye of morele wet, wat dan nie opgevolg kan word nie, dan spreek dit tog vanself dat die sonde, oftewel die oortreding van die wet, oral waar wesens bestaan wat so vryheidsproef moet ondergaan, moontlik is. 18. So moet ’n mens dit ook by ons gordel opneem. As gevolg van die erns van hierdie sonbewoners, is 'n sonde teen die wet van die liefde byna nog seldsamer as die volkome opvolging van hierdie wet by julle. 19. As daar egter desondanks hier en daar tog nog sondaars is, moet daar immers ook vergifnis van sondes en derhalwe doop en verlossing wees. Die verlossing, die doop en die boetedoening is daar egter één, want elke sondaar wat na die wet van die liefde terugkeer en berou het oor sy foute en Christus in sy hart insluit en tot lewe bring, het onmiddellik deel aan die verlossing, word gedoop deur die gees en verkry die wedergeboorte tot die ewige lewe. 20. Dit is ook die geval op die suidelike gordel, maar daar kom, as gevolg van die groter weelderigheid van die land, die sonde ietwat meer dikwels voor en is die mense sinneliker as op die noordelike gordel. Kyk, dit is dus weer iets wat, veral in hierdie tyd, 'n groot ooreenkoms vorm met die aarde. 21. Vir die res is alles net soos op julle planeet. Daar is selfs stede en dorpe en ook afsonderlik wonende groepe geesgenote. Julle sou julleself hoogstens verbaas oor die pragtige wingerde en die hoër gebergtes, wat met allerlei bebossing toegegroei is tot by die hoogte waar, ten gevolge van die suiwere lug, niks meer kan floreer nie. Ja, selfs die ploeg en die sekel sou julle nie misloop nie. Julle moet egter net alles in 'n veel volmaakter toestand voorstel as op julle planeet. 22. Die mense self is nie veel groter as op die planeet aarde nie, maar hulle is baie mooier en volmaakter. Hul klere is heel eenvoudig, ongeveer soos wat die Israelitiese volk vroeër geklee was. 23. Hulle maatskaplike inrigting is suiwer patriargaal*, en in groter, staatkundige verband teokraties*. Daarom staan hulle ook voortdurend met die hemele in verbinding en het voortdurend sigbare geestelike kontakte. Ja, Ek self verblyf herhaaldelik onder diegene wat die suiwerste en volmaakste in die liefde en deemoed is! *aartsvaderlik; 'n ou wyse man het die leiding *God se heerskappy; die opperste gesagsdraer is God 24. Oor hul huwelike kan gesê word dat hierdie waarlik in die hemel gesluit word, dit wil sê in suiwer liefde tot My, en hulle word deur die ouers en die engele in My Naam geseën. 25. Die voortplanting van die menslike geslag gebeur weliswaar deur die byslaap, maar dit is daar 'n handeling wat tot die mees godsdienstige, plegtige en geestelike behoort. 26. Die sterwe is gewoonlik 'n vrywillige uittrede uit die liggaam, wat na die uittrede op 'n spesiaal daarvoor bestemde akker begrawe word. Die ontbinding vind uiters vinnig plaas en word altyd vergesel van 'n aangename geur, waardeur alle gemoedere bly en versterk word, omdat hy hulle, in 'n sekere sin, 'n voorsmakie van die suiwer hemelse lug bied. 27. Ook hierdie mense het geen rusdae en geen tydrekening nie en hulle bekommer hulle ook baie min oor welke geheime daar in die natuur van die dinge verborge lê. Hul hoogste wysheid kom enkel en alleen tot uiting deurdat hulle sê: As ons Christus het, het ons alles, maar sonder Hom is alle dinge in die oneindige, ewige ruimte niks anders as 'n leë dop nie! 28. Wanneer julle egter oor die een of ander onderwerp tog nog nadere uitleg van hulle sou wil hê, dan sou hulle vanuit hul diepste wese tog in staat wees om dit aan julle te gee, hoewel hulle heeltemal geen skole het nie. Want Christus is hul enigste skool en julle kan daarvan verseker wees dat die grootste geleerdes uit hierdie skool voortkom. 29. Julle sal miskien dink dat daar tog wel 'n groot aantal treurige en mismoedige mense hier rondloop, wat skaars durf om hul blik omhoog te rig. Inteendeel! Ek sê vir julle: Sulke vrolike, opgewekte en gesellige mense soos hier, vind julle nêrens op die hele aarde nie! Hulle het selfs musiek en teaters, asook groot konserte, maar dit is natuurlik wel met 'n ander betekenis as gewoonlik by julle. By al hierdie vermaak is die Heer die stralende middelpunt waarom alles draai, terwyl Hy by julle op aarde, selfs onder die beste omstandighede, tuis gelaat word, om maar nie eers van ander omstandighede te praat nie! 30. Nou het ons dus ook heel in die kort hierdie twee gordels volledig bekyk. Dat ook die klimaatstoestande op hierdie gordel egter feitlik dieselfde is as op die ander gordels, kan julle immers maklik aflei uit die feit dat hulle, sowel as die ander, tot die sonnewêreld behoort. 31. Dat hierdie gordels dus ook ryk is aan die mees uiteen¬lopende en dikwels wonderbaarlike groot natuurverskynsels, wat egter nooit verwoestend van aard is nie, hoef nouliks vermeld te word. En daarom het ons ook niks meer besonder gedenk¬waardig om oor hierdie twee gordels te vertel nie. 32. Miskien sou in julle die vraag kan opkom, of die maan van julle aarde nie ook met beide hierdie gordels die een of ander ooreenstemming het nie? Wat dit betref, kan julle onthou dat alle mane van die planete beslis geen ooreenkoms met die son het nie, want mane het slegs ooreenkomste met die planete waaraan hulle behoort. 33. Maar nou is ons ook heeltemal klaar met beide ons gordels, en daarom sal ons ook die volgende keer dadelik tot die volgende, derde gordel wend. En dus genoeg vir vandag!

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205