DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 38

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 36 Die vierde paar songordels, ooreenstemmend met die planeet Jupiter. Die mense daar. 1. Ek het julle al tevore gesê dat hierdie vierde gordel, beide aan die noordelike, sowel as die suidelike kant, met die planeet Jupiter ooreenstem. Julle weet dat hierdie planeet die grootste van al die planete is, en dat hy met inbegrip van alle mane en die hele atmosfeer wel so vierduisend maal groter is as julle aarde. Eweneens is ook die toepaslike gordels die grootste en pragtigste, op die middelgordel na, wat op sigself die eintlike sonnewêreld uitmaak en met alle ander gordels van die son ooreenkomste het. 2. Hoe groot is dan wel die vierde, met die planeet Jupiter ooreenstemmende gordel, dit wil sê, die noordelike en die suidelike bymekaar? Beide gordels saam het ongeveer ’n breedte van twintigduisend myl en die lengte is so twee maal honderdduisend myl. Uit hierdie afmetings blyk goed dat hierdie vierde gordel dus ook baie reusagtige dinge moet bevat, aangesien hy so enorm uitgestrek is. 3. Ook hierdie gordel is van die vorige deur 'n besonder hoë bergreeks geskei. Die buitengewoon hoë gebergte bestaan merendeels uit baie harde, wit marmer, wat selfs by die allergrootste hitte nie kan smelt nie. Die hoogste toppe, wat sekerlik tot in die hoogste lig-atmosfeer van die son reik, lyk weliswaar asof hulle voortdurend witgloeiend is, maar dit is absoluut nie die geval nie. Hulle lyk so glansend omdat hul hoogste pieke vir julle onbegryplik wit voorkom, waardeur alle strale wat daarop val, waar hulle ookal vandaan kom, volkome teruggekaats word. 4. Die taamlik eweredig deurlopende wande van hierdie hoë gebergte word aan die onderkant weer deur 'n meer as tweeduisend myl breë, ringvormige see omgewe. Die water loop egter nie heeltemal ononderbroke deur nie, maar het op baie plekke groot eilande en nog groter skiereilande, en al hierdie lande word deur die mense van hierdie gordel bewoon. 5. Die land self is egter meer vlak as bergagtig, en die berge wat op die land voorkom, is by verre nie so hoog soos die berge van ander gordels wat reeds aan ons bekend is nie. Tog is hulle veel hoër (bo die seevlak van die son) as die hoogste berge op julle aarde, maar hulle is nie so steil en onbeklimbaar soos die van julle nie. Die land self het ook 'n groot aantal mere, groot en klein riviere, spruite en fonteine en is as sodanig dus buitengewoon geseënd en vrugbaar. 6. Die diere is hier buitengewoon talryk en die land is deurgaans digbevolk met mense. 7. Nou weet ons hoe dit met die land gesteld is en daarom wil ons onsself soos gewoonlik dadelik met die mense van hierdie land besighou. Hoe lyk hulle? Wat se maatskaplike inrigting en godsdiens het hulle en in welke verhouding staan dit tot alle ander dinge? Dit sal ons eerstens in die algemeen beantwoord, en daarna eers tot die besonderhede oorgaan. 8. Die mense is liggaamlik buitengewoon groot, hul gestalte is besonder welgevormd en wat hul karakter aanbetref is hulle die allersagmoedigste en allerbeste mense van die hele son. 9. Hul staatsinrigting is uitgesproke patriargaal, en in wese ook teokraties en sorg in alle opsigte vir die algemene welsyn. 10. Hul godsdiens is uiters eenvoudig en sonder enige seremonie. Die opvoeding van hul kinders is ook op niks anders gefokus as slegs op die volkome eenwording met die hemele en met die Heer nie. 11. So het ons dus in die algemeen die belangrikste omstandighede van die mense van hierdie gordel beskryf; vervolgens sal ons tot 'n beskouing in die besonderhede daarvan oorgaan. 12. Wat die grootte van die man betref, kan gesê word dat hy dikwels van voet tot kop honderd vadem, volgens julle mate, groot is. Wat is sy velkleur? Sagte wit, wat ietwat oorgaan na rooiagtige blou, ongeveer soos die kleur van ametis, maar dan natuurlik veel ligter. Hier en daar kom hierdie velkleur selfs op julle aarde voor, en wel by die bergvolke van die Kaukasus in Asië, waar ook besonder teer gevormde vroue 'n soortgelyke kleur het, veral in die tyd wat die algemene gletserlug oor hulle heen waai. Dit is dus die velkleur van die inwoners van hierdie vierde gordel. 13. Hoe is hul gesigte gevorm? Hul gesigte is absoluut manlik, dit wil sê sonder die gryns wat ’n mens dikwels by die manne op aarde sien, maar is vir die res ronder en sagter van vorm as by die manlike geslag op julle aarde. Die lippe is prominent, sowel as die mondhoeke. Die ken steek taamlik kragtig vooruit, is egter nie skerp afgemerk nie, maar ietwat rond en gewoonlik baardloos. Die hare van die kop is weelderig en lank en is donkerbruin van kleur; ook die wenkbroue en ooglede het hierdie kleur. Die voorkop is hoog en na die hare toe uitgesproke wit. Die ore, sowel as die neus, staan in goeie verhouding tot die res van die gesig. 14. Die nek is welgevorm, lank en rond, die skouers is baie breed en die arms het, ten opsigte van die skouers, die regte verhoudings. Slegs die palms is in verhouding tot die res van die hand, 'n vyfde deel groter as by julle. Die naels aan die vingers het dieselfde kleur as die liggaam, slegs aan die einde daarvan word hulle aansienlik ligter van kleur en hulle is buitengewoon sterk. 15. Verder het die orige deel van die liggaam tot aan die heupe die regte verhouding. Die sitvlak steek egter ietwat meer uit as wat dit by die mense op julle aarde die geval is. Die gevolg daarvan is dat die man altyd 'n mooi reguit houding het, veral as hy staan, maar nie as hy loop nie. Dit is omdat hy al van kleins af gewoond is om sterk vooruit gebukkend te loop. 16. Die voete het die korrekte verhoudings, net soos die geslagsdele. Die voetholte is net weer na verhouding ietwat groter as by julle. 17. Hoe is die man geklee? Die klere van die man en ook van die vrou bestaan slegs uit 'n voorskoot om die geslagsdele te bedek; die res is kaal. Desondanks heers daar byna nêrens 'n groter kuisheid as by hierdie gordelbewoners nie. So is dit met die man gestel. 18. Die vrou is 'n kop kleiner as die man en al haar dele is mooi rond van vorm. Haar vel is nog veel fyner, maar desondanks op sigself tog dikker as die van die man. So het byvoorbeeld die vel van die man gemiddeld 'n dikte van ongeveer anderhalf span, maar van die vrou is dit ruim twee span dik; daarby egter veel sagter as die vel van die man (ook baie sagter en meer elasties as die vel van die vroue op julle aarde) en oral buitengewoon vol fyn porieë. 19. Die borste van die vrou is volkome rond en sit aan die borskas as twee groot halwe bolle, wat daar as die allermooiste beskou word. 20. Ook die gesig is besonder aantreklik, vriendelik en mooi. Die hare van die vroue reik tot ruim oor die knieë en is baie weelderig. Die kleur van die hare is egter ietwat ligter as by die man. 21. Oor die algemeen is die vrou op feitlik geen enkele planeet so mooi gevorm as hier nie. En die manne heg behoorlik baie waarde aan die liggaamlike skoonheid van die vrou, want hulle sê: Wanneer die vrou 'n goeie hart en derhalwe 'n goeie gees besit, dan moet ook haar liggaam in goeie harmonie wees. Het haar liggaam egter nie hierdie harmonie nie, dan moet daar 'n rede wees waarom die vrou se liggaam nie volledig tot sy reg gekom het nie. Die hart kom eers volledig tot sy reg as sy voortdurend vervul is van liefde vir die Heer en dit is die voeding van die gees vir die ewige lewe. Die gees is egter die werkmeester van die liggaam; kwyn hy deur 'n sekere mate van disharmonie van die hart, dan moet tog sekerlik ook sy werk verskrompeld lyk. Of die disharmonie afhanklik is van die ouers of van die kinders, moet ondersoek word. As dit afhanklik is van die ouers, dan is die kinders vry van skuld en moet ons hulle hul verskrompeling nie aanreken nie. As die basis van die disharmonie egter in hul eie hart lê, dan is dit ons plig om hulle te help om hul hart in orde te bring om daardeur, as dit nog moontlik is, ook weer die harmonie van die liggaam te herstel. As die laaste ewenwel nie meer uitvoerbaar sou wees nie, dan is dit ons plig om ten minste die hart self op 'n sodanige manier in orde te bring, sodat die gees voortaan die toepaslike voeding daaruit kan kry. 22. Kyk, om hierdie rede heg die inwoners van hierdie gordel groot waarde aan 'n volmaakte liggaamlike skoonheid, in die besonder, soos reeds gesê, by die vroue, en hulle het hulle buitengewoon lief wanneer hulle aan hul ordening beantwoord. 'n Onordelike vrou word egter geminag en indien sy nie weer in haar ordening terugkeer nie, word sy baie gou aan 'n onaangename skoling onderwerp. 23. Dit is nou wat daar alles oor die gestalte van die mense op hierdie gordel aan besonderhede vermeld kan word. Die volgende keer sal ons hul huishouding in oënskou neem. Genoeg dus vir vandag!

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205